Die Voorkoming van Moeder-na-Kind Oordrag (VMNKO)
Die Voorkoming van Moeder-na-Kind Oordrag (VMNKO)
Moeder-na-kind-oordrag kom voor wanneer MIV, die virus wat vigs veroorsaak, tydens swangerskap, tydens geboorte of tydens borsvoeding van 'n moeder na haar baba oorgedra word.
Die VMNKO-program beoog om die risiko van oordrag van MIV van die ma na haar baba te verminder.
Wat is die VMNKO-program?
Voeding van babas
Die baba se gesondheid en ontwikkeling
Die moeder se gesondheid
Kontakte
WAT IS DIE VMNKO-PROGRAM?
Wanneer 'n moeder na 'n kliniek, 'n obstetriese eenheid met vroedvroue aan diens of 'n hospitaal gaan vir haar eerste voorgeboortelike besoek, kry sy voorligting en word sy gevra of sy 'n MIV-toets wil ondergaan. Die uitslag is vertroulik, wat beteken dat net die berader en gesondheidwerkers wat na die moeder omsien, die uitslae sal bespreek.
As die moeder die toets ondergaan en daar vasgestel word dat sy MIV-positief is, sal sy die keuse hê om haar gratis by die VMNKO-program aan te sluit. As deel van die program sal sy Nevirapine en Zidovudine, wat middels teen MIV is, kry.
Die ma moet die Zidovudine van die 34ste week van haar swangerskap af neem, en sal Nevirapine gegee word wanneer die geboortepyne begin en sy by die hospitaal of kliniek aanmeld. Hierdie medisyne, in die vorm van 'n stroop, sal binne 6 tot 72 uur ná geboorte ook aan die baba gegee word
Dit is belangrik om op die volgende te let:
Die medikasie verminder slegs die moontlikheid dat die virus in die moeder se liggaam tydens kraam na die baba oorgedra word. Oordrag tydens kraam is die faktor wat verantwoordelik is vir 60-85% van die oordrag van die virus van die moeder na haar baba.
Babas wat die virus kry terwyl die moeder swanger is of as gevolg van borsvoeding, sal nie deur die teen-retrovirale medisyne beskerm word nie.
Die medikasie word slegs gebruik om die baba te probeer beskerm. Dit kan nie die ma van MIV genees nie. Enige ma wat wil weet wat haar MIV-status is kan by enige voorgeboortelike gerief in die Wes-Kaap toegang tot MIV-toetse en -behandeling kry.
VOEDING VAN BABAS
Voorligting en raad oor voeding vir babas van MIV-positiewe moeders is beskikbaar. Ma's kry die keuse om óf vir vier tot ses maande uitsluitlik te borsvoed, óf om uitsluitlik te bottelvoed. Uitsluitlik borsvoed beteken dat die baba slegs borsmelk moet kry, en geen tee, geen water en geen sap nie. Dit verminder die moontlikheid dat die virus in die borsmelk na die baba oorgedra word. Moeders wat egter verkies om te bottelvoed sal vir ses maande gratis melkpoeier kry. Hulle sal by ontslag ná die geboorte twee blikkies melkpoeier kry en sal ook ag blikkies per maand by die plaaslike babakliniek kry.
DIE BABA SE GESONDHEID EN ONTWIKKELING
Die moeder moet gereeld na die nageboortelike kliniek gaan om die baba te laat weeg en te laat inent, om melkpoeier te kry en Co-trimoxazole, 'n medisyne wat longontsteking voorkom, te ontvang.
Babas word op 14 weke vir MIV getoets. As die toets negatief is, het die baba nie meer Co-trimoxazole nodig nie. As die baba positief toets, moet daar voortgegaan word met Co-trimoxazole. 'n Baba wat positief toets, sal vir die res van sy of haar lewe spesiale sorg nodig hê.
DIE MOEDER SE GESONDHEID
MIV kan vir 'n lang tyd (3 tot 10 jaar) in die liggaam leef, al voel die moeder fiks en gesond. Dit is waarom ma's aangemoedig word om gereeld na die kliniek te gaan om medisyne teen opportunistiese infeksies te kry sodat hulle langer gesond kan bly. Die ma word ook aangemoedig om sonder uitsondering 'n kondoom tydens seks te gebruik sodat sy haar en haar maat teen besmetting met die virus kan beskerm, of om te voorkom dat hulle meer van die virus kry as albei maats MIV-positief is.
Die moeder sal ook voorligting ontvang oor voorbehoeding keuses ná die geboorte. Die gesondheidwerker sal die ma aanmoedig om aan die pa van die baba te sê dat sy MIV-positief is sodat hy ook getoets kan word. Dit kan gedoen word met die hulp van die berader of gesondheidwerker. Dit is belangrik dat die moeder by 'n groep aansluit wat haar sal ondersteun en aan haar inligting sal gee oor voedsame kos en hoe om na haarself en die baba om te sien. Formele steungroepe is beskikbaar en die plaaslike kliniek het meer inligting daaroor.
Onthou dat seksueel oordraagbare siektes by die ma die risiko van MIV-oordrag verhoog.
Gaan na 'n obstetriese eenheid met vroedvroue aan diens in stedelike gebiede en na vaste of mobiele klinieke en primêregesondheidsorg sentrums. As jy verder verwys word, sal jy na stedelike of plattelandse streekhospitale of tersiêre hospitale gestuur word.
KONTAKTE
Vir meer inligting skakel asseblief:
Suid-Kaap/Karoo: Me. I. Reynierse 044 874 217 / 044 803 2700
Hoofkantoor: 021 483 5751
Iemand wat vir die eerste keer na die kliniek of sekondêre of tersiêre hospitaal gaan, sal gevra word om 'n vorm in te vul en 'n lêer sal vir die pasiënt begin word. Bring jou ID-boekie saam. 'n Verwysingsbrief van die kliniek word vereis wanneer 'n hospitaal besoek word.
Hierdie organisasies kan ook help:
Die Vigs-opleiding-, inligting- en beradingsentrum: tel 021 797 3327, faks 797 3356
Die Nasionale Vereniging van Mense wat met MIV/vigs saamleef (Napwa), tel 021 424 1106
Die Geslagsbewustheid Bevorderingprojek (GAP): tel 021 465 0197
