Vrywillige Toetsing en Berading
Vrywillige Toetsing en Berading
n Persoon wat wil vasstel of hulle met MIV geïnfekteer is, kan na 'n kliniek of enige openbare gesondheidsfasiliteit gaan vir Vrywillige Toetsing en Berading (VTB). "Vrywillig" beteken dat die persoon self besluit om die toets te ondergaan. Niemand kan gedwing word om 'n MIV-toets te ondergaan nie.
Die drie hoofstappe wat gevolg word, is voortoetsberading, toetsing en natoetsberading.
Voortoetsberading
Toetsing
Natoetsberading
Nuttige kontaknommers
VOORTOETSBERADING
Voortoetsberading word voor die MIV-toets deur 'n dokter, verpleegsuster of opgeleide lekeberader gegee om seker te maak dat die persoon genoeg weet om 'n ingeligte besluit oor 'n MIV-toets te neem. Die gesprek is privaat en vertroulik en sluit inligting oor MIV-vigs en die toets in. Die persoon kan ná voortoetsberading nog steeds die MIV-toets weier. Indien die persoon besluit om die toets te ondergaan, moet hy of sy 'n toestemmingsvorm onderteken.
Toestemming kan ook deur volmag gegee word. Dit beteken dat een persoon wetlik geregtig is om namens 'n ander persoon toestemming te gee. 'n Ouer of voog van 'n kind jonger as 14 jaar kan byvoorbeeld toestemming gee vir 'n MIV-toets op die kind. Kinders wat 14 jaar of ouer is en toestemming gegee het vir 'n MIV-toets, moet self hulle toetsuitslae ontvang. Die inligting mag nie sonder hulle toestemming aan hulle ouers verskaf word nie.
TOETSING
MIV-toetsing vir 'n werknemer by die werkplek word verbied tensy dit deur 'n bevel van die Arbeidshof ooreenkomstig die Wet op Diensbillikheid, Wet 55 van 1988 Artikel 72 geregverdig word.
Die MIV-toets is 'n akkurate wetenskaplike toets wat aantoon of 'n persoon met MIV geïnfekteer is en word gewoonlik op 'n bloedmonster van die persoon uitgevoer. Die meeste klinieke gebruik 'n sneltoets, wat beteken dat die resultate binne sowat 20 minute beskikbaar is.
NATOETSBERADING
Die sneltoetsresultate word tydens die natoetsberading aan die persoon gegee. Die sessie is vertroulik en dit is onwettig vir enige gesondheidswerker of berader om 'n negatiewe of positiewe toetsresultaat sonder die toestemming van die persoon wat getoets is aan enige ander persoon bekend te maak. 'n Persoon wat MIV-negatief is, sal berading kry oor die gevare van riskante seksuele gedrag en ingelig word oor veilige sekspraktyke, soos die gebruik van kondome.
n Persoon wat MIV-positief is, sal berading kry oor hoe om die nuus te verwerk, en ook inligting oor veilige sekspraktyke en voeding. Die persoon mag deurlopende berading kry of na 'n ondersteuningsgroep of organisasie verwys word. 'n Swanger vrou wat positief getoets word, sal die opsie kry om by die Program vir die Voorkoming van Moeder-na-kind-oordrag aan te sluit.
NUTTIGE KONTAKNOMMERS
Indien u enige vrae oor MIV-vigs het, skakel die gratis 24-uur-vigshulplyn by 0800 012 322.
Die volgende kontaknommers kan ook van nut wees:
Vrywillige toetsing en berading is by die meeste klinieke en gemeenskapsgesondheidsentrums beskikbaar. Indien 'n gesondheidsfasiliteit nie hierdie diens kan lewer nie, moet die persoon verwys word na 'n beradingsagentskap of ander fasiliteit met die vermoë om voor- en natoetsberading te verskaf.Indien u 'n nuwe besoeker aan die kliniek of gemeenskapsgesondheidsentrum is, sal u gevra word om 'n vorm in te vul en sal 'n lêer sal vir u oopgemaak word. Bring u ID-boek saam.
