Oogsorg/Program vir Voorkoming van Blindheid
Oogsorg/Program vir Voorkoming van Blindheid
Die diens is daarop gerig om oogtoestande wat blindheid tot gevolg het, te voorkom en om mense te behandel wat sigprobleme het.
Oogtoetse, wat die gebruik van oogkaarte insluit, is op die vlak van primêregesondheidsorg (PGS) by klinieke beskikbaar en help om vir refraksiefoute soos bysiendheid, versiendheid, verwronge visie en "verouderende oë" te toets. Na die ouderdom van 40 word die lens van die oog meer onbuigsaam en dit word moeiliker vir sommige persone om van naby te lees.
Skoolverpleegkundiges en verpleegkundiges van primêregesondheidsorgklinieke kan kinders na skoolklinieke vir oogondersoeke verwys.
As jy 'n bril nodig het, sal jou naam vir tussen een tot agtien maande op 'n waglys geplaas word. Die kliniek-verpleegkundige sal vir jou 'n afspraak by 'n oogkundige reël wat die kliniek op 'n sessionele grondslag besoek. Gratis brille en ander hulpmiddels het 'n werklikheid geword en sal binnekort beskikbaar wees.
Katarakte, 'n degeneratiewe verdikking/dofheid van die lens, is die hoofoorsaak van blindheid. Dit is behandelbaar en kan maklik by PGS-klinieke en -sentrums geïdentifiseer word, sowel as deur tuisversorgers omdat dit so opmerklik is. Operasies om katarakte te verwyder word op die vlak van sekondêre hospitale uitgevoer. Daar is 'n waglys. Diabete behoort 'n jaarlikse oogtoets vir die vroeë vorming van katarakte te ondergaan. Daar kan ook 'n verandering in die retina plaasvind wat tot blindheid kan lei. In so 'n geval is dit nodig dat die kliënt na 'n hospitaal (sekondêre vlak) waar laserterapie gegee sal word, verwys word.
Primêre voorsorg sluit gesondheidsopvoeding, immunisering teen masels in kinders, moeder- en gesondheidsdienste en die bevordering van veiligheid in. Voorkoming van horingvliesbeskadiging weens wanvoeding, infeksie en besering/trauma is belangrik. Die tekort aan vitamien A is 'n hoofoorsaak van blindheid by kinders.
Chroniese gloukoom is die tweede belangrikste oorsaak van blindheid in Suid-Afrika. Oogkundige verpleegkundiges en oogkundiges ondersoek kliënte by hospitale (distriks- of sekondêre vlak). As chirurgie nodig is, sal die pasiënt na 'n tersiêre hospitaal verwys word.
Ander nuttige kontakte:
Buro vir die Voorkoming van Blindheid: tel. 012 452 3811 of skryf aan Posbus 11149, Hatfield, 0028 Pretoria
Basiese oogondersoeke is by alle PGS-klinieke en -sentrums beskikbaar. As dit nodig is, sal kliënte na sekondêre of tersiêre hospitale vir verdere toetsing en behandeling verwys word.Besoekers wat vir die eerste keer na die kliniek of sekondêre/tersiêre hospitaal gaan, sal gevra word om 'n vorm in te vul en 'n lêer sal vir die pasiënt oopgemaak word. Bring jou ID saam. 'n Verwysingsbrief van die kliniek sal vereis word as jy 'n hospitaal besoek. Hospitale sal jou vra vir jou mees onlangse betaalstrokie/belastingaanslag (IRP5). Bring jou hospitaalkaart saam as jy voorheen by die hospitaal geregistreer het.
Gratis op PGS-vlak. As jy na 'n hospitaal verwys word, is daar koste daaraan verbonde. Die bedrag sal afhang van jou inkomste en getal afhanklikes, volgens die hospitaal se tarieweskaal.
