Behandeling van Kindermishandeling
Behandeling van Kindermishandeling
Die diens is daarop gemik om kinders van geboorte tot 14 jaar oud wat fisies, seksueel of emosioneel mishandel en verwaarloos is, te identifiseer en te behandel. Kinders wat vermoedelik mishandel is, kan na 'n primêregesondheidsorgkliniek geneem word waar hulle gediagnoseer sal word en berading sal ontvang. Die klinieksuster of -dokter sal 'n volledige fisiese ondersoek doen en sal ook die kind se geskiedenis aanteken. Dit is noodsaaklik dat die mishandelde kind so gou moontlik na 'n gesondheidsfasiliteit geneem sal word. Hoe langer uitgestel word, hoe groter is die waarskynlikheid dat die kind erge emosionele en sielkundige trauma sal ervaar. Hou in gedagte dat sommige kinders oor baie jare mishandel is en hulle het dalk nie 'n fisiese ondersoek met die eerste besoek nodig nie, of hulle kan emosioneel mishandel wees en nie seksueel nie, in welke geval hulle berading sal ontvang en dienooreenkomstig behandel sal word.
Seksuele uitbuiting van kinders
Organisasies wat kindermishandeling teenwerk
Die plig om kindermishandeling aan te meld
Nuttige kontakte
SEKSUELE UITBUITING VAN KINDERS
In die geval waar die kind seksueel mishandel is, moet spesiale ondersoeke uitgevoer word, soos monsters wat geneem word vir forensiese bewyslewering. Die kind kon blootgestel gewees het aan seksueel oordraagbare infeksies (SOI's) en MIV/Vigs. Behandeling vir SOI's word gewoonlik gegee wanneer die uitslae van die toetse wys dat die kind 'n infeksie het.
Ouers of versorgers behoort voorligting te kry oor die potensiële risiko dat die kind met die MI-virus geïnfekteer kan wees. Die versorger sal gevra word om sy/haar toestemming te gee dat 'n MIV-toets op die kind uitgevoer kan word.
n Middel teen Vigs (Zidovudine) sal die kind aangebied word indien hy/sy binne 72 uur ná die seksuele mishandeling na die gesondheidsfasiliteit gebring word. Die middel het GEEN impak op die voorkoming van MIV-oordrag nie indien die kind later as 72 uur ná die mishandeling eers na die fasiliteit gebring word. Kinders wat deur 'n mediese fonds gedek word, behoort 'n voorraad AZT vir drie dae te ontvang en 'n voorskrif vir die oorblywende 25 dae. Dié wat nie deur 'n mediese fonds gedek word nie, behoort 'n voorraad vir 'n week te ontvang en 'n datum een week later vir herassessering. Alle kinders moet ná een week aanmeld vir 'n opvolg- assessering om die uitslae van alle toetse te kry. Die res van die AZT behoort tydens daardie besoek gegee te word (die voorraad sal genoeg wees vir drie weke). AZT is beskikbaar by die 52 fasiliteite in die provinsie waar slagoffers van kindermishandeling behandel word.
In gevalle waar dit bekend is dat kinders MIV-positief is, behoort AZT nie gegee te word nie. Sodanige kinders behoort berading te kry en moet na 'n geskikte gesondheidsfasiliteit verwys te word vir langtermynhantering van hulle MIV-status.
Tienermeisies wat al begin menstrueer het en wat verkrag is, behoort 'n swangerskapstoets te ondergaan om 'n bestaande swangerskap voor die verkragting uit te sluit. Indien hulle binne 72 uur ná die verkragting na die gesondheidsfasiliteit kom, sal hulle berading ontvang en noodkontrasepsie sal toegedien word.
ORGANISASIES WAT KINDERMISHANDELING TEENWERK
Die gesondheidsdienste werk met die polisie, gemeenskapsveiligheid, maatskaplike dienste en NRO's saam ten einde te probeer om die onaanvaarbare hoë vlakke in kindermishandeling in die Wes-Kaap te bestry.
Maatskaplike werkers speel 'n essensiële rol daarin om die kind te help om ná die mishandeling te herstel. Die maatskaplike werker sal opvoeding, inligting en berading aanbied. Indien die maatskaplike werker glo dat die kind ná ontslag uit 'n gesondheidsfasiliteit die risiko loop van verdere mishandeling en dat dringende beskerming nodig is, kan hy/sy 'n Vorm 4-aanhoudingsbevel uitreik om die kind na 'n veiligheidsplek te neem.
Verder, indien 'n kind se geestelike toestand meer gespesialiseerde/psigiatriese intervensies vereis, kan die kind na die geskikte gesondheidsfasiliteit verwys word.
DIE PLIG OM KINDERMISHANDELING AAN TE MELD
Daar is twee wette wat fisiese/seksuele mishandeling en verwaarlosing van kinders dek. Artikel 15 van die Wysigingswet op Kindersorg sê dat enige persoon wat enigiets te doen het met die versorging van kinders - byvoorbeeld opvoeders, maatskaplike werkers en dokters - en wat vermoed dat 'n kind mishandel is, dit aan die Departement van Maatskaplike Dienste moet rapporteer. Die Wet op die Voorkoming van Gesinsgeweld, Wet 133 van 1993 (Artikel 4), bepaal dat gevalle waar kindermishandeling vermoed word, aan 'n polisiebeampte of 'n kinderwelsynsbeampte of maatskaplike werker gerapporteer moet word.
NUTTIGE KONTAKTE
Verskeie organisasies kan help met gevalle van kindermishandeling:
Rapcan - voorkoming van kindermishandeling: tel. 021 448 9034 en faks 021 448 9042
Kinderlyn Suidelike Afrika: 24-uur tolvrye hulplyn - 0800 055 555.
Daar is 52 gesondheidsorgfasiliteite in die provinsie wat verbind is tot die hantering van kinders en volwassenes wat mishandel is. Indien u nie na een van hierdie fasiliteite kan gaan nie, gaan na u naaste gesondheidsorgfasiliteit.As u vermoed dat 'n kind mishandel is, kan u die kind direk na 'n primêregesondheidsorgkliniek neem. Mishandelde kinders kan deur die Kinderbeskermingseenheid, 'n polisiebeampte of maatskaplike werkers na 'n kliniek verwys word.
