Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag Die Kommandostelsel
Die kommandostelsel is 'n vrywillige, deeltydse reserwemag van die SA Leër wat uitsluitlik vir die beskerming en beveiliging van 'n spesifieke gemeenskap (platteland of stedelik) verantwoordelikheid is. 'n Taak waarna meer algemeen as gebiedsbeskerming verwys word. Die gebiedsbeskermingstelsel sluit die hele gemeenskap in, en selfs die lid wat nie 'n kommandolid is nie, sal dus beveilig word, maar so iemand sal vanselfsprekend nie die voordele van lidmaatskap van die plaaslike Kommando geniet nie.
Die deelnemers aan die kommandostelsel is gebiedsgebonde en is vir die veiligheid en sekuriteit van hulle eie gemeenskappe verantwoordelik. Die deelnemers het geen militêre verpligtinge buite hierdie gebiede nie.
Die stelsel behels kortliks dat spesifieke gemeenskappe in kleiner en meer hanteerbare groepe of selle verdeel word. Elke sel bestaan uit 'n aantal boere/huishoudings, afhangende van die grootte van die gebied en die verspreiding van die inwoners in daardie spesifieke omgewing. Sellede is in verbinding met mekaar dmv telefone, asook 'n radiostelsel van een of ander aard wat as 'n bystandkommunikasiestelsel dien sou telefoonlyne buite werking wees. Alternatiewe kommunikasiestelsels is dus 'n onontbeerlike element van die beveiligingsplan van die spesifieke sel. Al die sellede is in verbinding met 'n selleier, wat deur die lede van die sel verkies is en wat op sy beurt met die plaaslike polisiestasie verbind is. Op hierdie wyse sal verseker word dat die Polisie vinnig sal reageer as daar 'n aanval is. Die selleier kan weer op sy beurt die plaaslike Kommando in kennis stel indien 'n sterker mag benodig word.
Hierdie kommunikasieproses is tydrowend en daarom behoort die sellede ook staat te maak op hul eie beveiligingsplan, sowel as die ondersteuning van bure en ander sellede om onmiddellike reaksie in tye van nood te verseker. Om dit moontlik te maak, is voorafbeplanning ten opsigte van sekere gebeurlikhede noodsaaklik. Die plaaslike Kommando kan hiermee van hulp wees.
Die belangrikste aspek van hierdie stelsel is die samewerking van elke lid van die betrokke sel. Raak dus betrokke - dit is tot u eie voordeel.
