






TUISBLAD|JOU LEWE|ONDERWERPE|PUBLIKASIES |GIDSE |JOU REGERING|TENDERS|WERKGELEENTHEDE





English
|
isiXhosa
|
Aangaande
|
Kontak
|
Hulp
|
Gevorderde Soektog  |



 





Tuisblad > Publikasies > Openbare Inligting > B &gt Bestorwe Boedels: Testamente

Bestorwe Boedels: Testamente





Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling (Die Regering van Suid-Afrika)





Di opsomming is nie 'n volledige gids oor testamente nie. 'n Testament is in gespesialiseerde dokument, wat verkieslik opgestel moet word deur 'n kenner soos 'n prokureur of 'n trustmaatskappy. Die inligting is bloot bedoel om mense in te lig oor 'n paar basiese aspekte van testamente.


* Wie is bevoeg om 'n testament op te stel?
* Wie is bevoeg om as getuie by die opstel van 'n testament op te tree?
* Wat is die vereistes van 'n geldige testament?
* Wat is die vereistes van 'n geldige testament as ek nie my naam kan teken nie?
* Wat is 'n kodisil?
* Hoe verander ek my testament?
* Moet ek my testament na 'n egskeiding wysig?
* Wat gebeur as ek nie 'n testament nalaat nie?


WIE IS BEVOEG OM 'N TESTAMENT OP TE STEL?

Enigeen wat 15 jaar en ouer is, behalwe as hulle met die opstel van die testament geestelik nie in staat is om te besef wat die gevolge van hulle dade is nie.

WIE IS BEVOEG OM AS GETUIE TOT DIE OPSTEL VAN 'N TESTAMENT OP TE TREE?

Enigeen wat 14 jaar en ouer is en wat wanneer hulle die testament onderteken in staat is om in 'n hof te getuig.

'n Bevoordeelde in 'n testament behoort nie as getuie te teken nie, omdat hulle dan nie enige voordeel uit die testament sal kan ontvang nie. Daar is uitsonderings op die rel. Vra jou regsverteenwoordiger vir meer inligting hieroor.

WAT IS DIE VEREISTES VIR 'N GELDIGE TESTAMENT?


* Van 1 Januarie 1954 af moet alle testamente op skrif wees. Dit kan met die hand geskryf, getik of gedruk wees.
* Die testateur (die persoon wat die testament opstel) moet aan die einde van die laaste bladsy van die testament teken.
* Die testateur moet al die ander bladsye van die testament op enige plek op die bladsy teken.
* Die testateur moet die testament in die teenwoordigheid van twee of meer bevoegde getuies teken.
* Die getuies moet die testament in die teenwoordigheid van die testateur en mekaar staaf en teken.


WAT IS DIE VEREISTES VIR 'N GELDIGE TESTAMENT AS EK NIE MY NAAM KAN TEKEN NIE?

Jy kan iemand vra om die testament namens jou te teken of jy kan die testament teken deur 'n merk (byvoorbeeld 'n duimafdruk of 'n kruisie) te maak. As jy 'n merk maak, of iemand kry om namens jou te teken, moet dit aan die volgende vereistes voldoen:
* As dit na 1 Januarie 1954 opgestel is, moet die testament op skrif wees. Dit kan met die hand geskryf, getik of gedruk wees.
* Die testateur moet die testament aan die einde van die laaste bladsy onderteken deur 'n merk te maak, of as iemand namens hom of haar teken, moet die ander persoon aan die einde van die laaste bladsy in die teenwoordigheid van en in opdrag van die testateur teken.
* Die merk of handtekening van die ander persoon wat namens die testateur teken moet in die teenwoordigheid van twee of meer bevoegde getuies en 'n kommissaris van ede gemaak word.
* Die getuies moet die testament in die teenwoordigheid van die testateur en van mekaar staaf en onderteken. As die testament deur 'n ander persoon geteken word, moet dit ook in die teenwoordigheid van daardie persoon en 'n kommissaris van ede gedoen word.
* As die testament uit meer as een bladsy bestaan, moet elke bladsy behalwe die laaste een deur die testateur of deur die persoon wat namens hom of haar teken, op enige plek op die bladsy geteken word.
* 'n Kommissaris van ede moet sertifiseer dat hy of sy tevrede is met die identiteit van die testateur en dat die testament die wense van die testateur is.
* Die kommissaris van ede moet 'n sertifikaat onderteken en op elke bladsy van die testament, op enige plek op die bladsy, teken.


WAT IS 'N KODISIL?

'n Kodisil is 'n bylae of 'n aanhegsel tot 'n bestaande testament, wat opgestel word om iets by 'n bestaande testament te voeg of te verander. 'n Kodisil moet voldoen aan dieselfde vereistes as 'n geldige testament, soos hierbo uiteengesit.

'n Kodisil hoef nie deur dieselfde getuies as die oorspronklike testament onderteken te word nie.

HOE VERANDER EK MY TESTAMENT?

Veranderings kan net aangebring word wanneer 'n testament uitgevoer word of na die datum van die uitvoering van die testament. Wysigings aan 'n testament moet voldoen aan dieselfde vereistes as di vir 'n geldige testament, soos hierbo aangedui.

Wanneer 'n testament gewysig word is dit nie nodig dat dieselfde getuies wat die oorspronklike testament onderteken het, die gewysigde testament ook moet teken nie.

MOET EK MY TESTAMENT NA 'N EGSKEIDING WYSIG?

'n Nalatenskap aan jou voormalige eggenoot in jou testament, wat voor jou egskeiding opgestel is, val nie noodwendig na die egskeiding weg nie.

Die Wet op Testamente bepaal dat, tensy jy spesifiek vir iets anders voorsiening maak, 'n nalatenskap aan die eggenoot van wie jy geskei het gekanselleer sal word as jy binne drie maande na die egskeiding sou sterf.

Dit gee die geskeide persoon drie maande na die egskeiding tyd om sy of haar testament te verander.

As jy nie jou testament binne drie maande na jou egskeiding verander nie, sal jou geskeide eggenoot volgens die testament bevoordeel word.

WAT GEBEUR AS EK NIE 'N TESTAMENT NALAAT NIE?

As jy sterf sonder om 'n geldige testament na te laat, sal jou boedel volgens die Wet op Intestate Erfreg, nommer 81 van 1987, verdeel word.

Die boedels van mense wat intestaat sterf en wie se boedels deur die beginsels van gewoontereg beheer word, moet aangemeld word by die landdros van die gebied waarin die persoon ten tye van sy of haar dood gewoon het. Die plaaslike landdros moet geraadpleeg word oor hoe 'n boedel wat onderworpe is aan gewoontereg hanteer sal word.





This content also available in English | Le nkcazelo iyafumaneka nangesi Xhosa

VERWANTE INLIGTING

* Die Opstel van 'n Testament (Diens)



Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 13 Julie 2004 hersien



Onbekende staatstaal of akroniem? Kyk in die WOORDELYS.



| VRAE? Vra vir ons: questions@capegateway.gov.za



Gebruiksvoorwaardes | Privaatheidsbeleid | Kopiereg







Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering





