TUISBLAD
JOU LEWE
ONDERWERPE
PUBLIKASIES
GIDSE
JOU REGERING
WERKGELEENTHEDE
Aangaande
Kontak
Hulp
Gevorderde Soektog
Tuisblad
Publikasies
Openbare Inligting
Q 
Vrae en Antwoorde oor Masels- en Polio-inenting
Vrae en Antwoorde oor Masels- en Polio-inenting
OPSOMMING
Dié publikasie verskaf inligting aan ouers oor masels- en polio-inentings.
Stop Masels!
Ent In!
MASELS
Wat is Masels?
Masels is die gevaarlikste van alle kindersiektes. Die eerste teken is 'n hoë koors gevolg deur rooi uitslagkolle oor die hele lyf. Dit gaan gepaard met 'n hoes, 'n loopneus en rooi oë. Masels kan gevaarlike komplikasies hê, soos infeksie van die longe, blindheid en die dood.
Wat veroorsaak masels?
Masels word veroorsaak deur 'n baie klein kiem, genaamd die maselsvirus. Dit kan nie met die blote oog gesien word nie. Dit word versprei wanneer 'n kind met masels hoes of nies. Kinders wat aan masels gely het kan dit nie 'n tweede keer kry nie. Die meeste kinders wat ingeënt is teen masels op die regte ouderdom sal nie masels kry nie.
Hoekom is masels 'n gevaarlike siekte?
Jong kinders wat masels oorleef word deur die siekte verswak en kan later sterf aan wanvoeding of ander siektes. Masels is ook 'n belangrike oorsaak van verstandelike vertraging en blindheid. 'n Kwart van alle sterftes weens masels kom voor vóór die ouderdom van een jaar. Masels in ouer kinders kom gewoonlik voor as uitbrake, wanneer groot groepe kinders terselfdertyd masels kry.
Die risiko van 'n maselsuitbraak is hoër waar groepe kinders byeenkom, byvoorbeeld in crèches, dagsorgsentrums en by skole.
Is dit belangrik om kinders in te ent tydens die maselsveldtog?
Ja - Dit is BELANGRIK om kinders te bring vir die EKSTRA maselsinspuiting tydens die veldtog. Kinders wat die inentingsveldtog misloop kan dalk nie ten volle beskerm wees teen die maselsvirus nie.
Ek het gehoor dat die ouers of voogde van kinders 'n toestemmingsvorm moet onderteken voordat 'n kind die ekstra maselsinenting kan kry. Is dit waar?
As 'n kind ingeënt gaan word by 'n skool of crèche waar die ouer nie by is wanneer die inenting gegee word nie, sal 'n toestemmingsvorm vooraf gegee word aan ouers of voogde van kinders in crèches, dagsorgsentrums en skole. Dit gee 'n geleentheid om ouers of voogde in te lig oor die ekstra maselsinspuiting.
In dié geval, as jy instem tot die inenting, vul asseblief die vorm in en teken dit en stuur dit terug na die skool of crèche. Jou kind sal dan die inenting kry as toestemmingsvorms onderteken en betyds teruggestuur word!
As jy die kind na 'n inentingsentrum bring tydens die veldtog, is dit nie nodig dat jy 'n toestemmingsvorm invul nie.
Wat is Polio?
Polio is 'n verlammende siekte. Dit word veroorsaak deur 'n baie klein kiem wat die poliovirus genoem word. Polio kan lei tot permanente verlamming, gebreklikheid en selfs die dood. Weens die roetine inentings in die kinderjare is polio van 1989 af nie in Suid-Afrika gesien nie. Daar was egter uitbrake in buurlande.
Hoe sal ek agterkom dat 'n kind polio het?
Polio kan vermoed word wanneer daar 'n skielike swakhied in die been of arm of ander dele van die ligaam is. Die swakheid is nie teenwoordig met geboorte nie. As die persoon beseer is net voor die swakheid of die persoon 'n geskiedenis het van verstandelike gestremheid, dan is polio waarskynlik nie die oorsaak van die swakheid nie.
Meld asseblief enige skielike swakheid/verlamming aan in 'n kind onder 15 jaar (wat nie veroorsaak is deur 'n besering nie), by die naaste kliniek, hospitaal of dokter vir 'n ondersoek. Dit kan polio wees!
Hoekom het ons spesiale veldtogte om in te ent teen polio?
Om TWEE ekstra polio-inentings TERSELFDERTYD te gee aan soveel kinders as moontlik. Dit voorkom dat die poliovirus onder kinders versprei.
Mense praat oor die uitroei van polio. Wat beteken dit?
Suid-Afrika neem deel aan 'n poging om polio wêreldwyd uit te roei. Dit beteken dat die virus heeltemal uitgewis sal word op aarde. As die poliovirus nie meer bestaan nie, sal kinders nie meer polio-inentings hoef te kry nie.
Is dit belangrik om kinders in te ent tydens die eerste en tweede rondte van die polioveldtog?
Ja - Dit is BELANGRIK om kinders te bring vir die eerste EN tweede rondte van die polioveldtog - selfs as die kind op datum is met die roetine inentings. Om kinders te beskerm teen die poliovirus, moet poliodruppels TWEE keer gegee word. Kinders wat die tweede rondte misloop, sal nie ten volle beskerm wees teen die poliovirus nie.
Landwyd sal die begindatum vir die veldtog in 2004 die 26ste Julie (masels en polio); en die 30ste Augustus (net polio) wees. Die duur van die veldtogte verskil van provinsie tot provinsie.
Hoekom het ons Masels- en Polio-inentingsveldtogte?
Om masels- en polio-inentings TERSELFDERTYD te gee aan soveel kinders as moontlik. Dit keer dat die masels- en poliovirus onder kinders versprei.
Hoekom is die ekstra masels- en polio-inentings net vir sekere ouderdomsgroepe?
Die kinders onder die ouderdom van 5-jaar is die groep kinders wat die meeste siek word van masels en polio en die virus versprei.
Is die ekstra masels- en polio-inentings net vir kinders wat hulle roetine-inentings misgeloop het?
Nee! Alle kinders tussen die ouderdomme van 0-maande en 5-jaar moet die EKSTRA veldtoginentings kry.
Waarheen moet ek gaan om seker te maak dat my kind nie die ekstra inentings misloop nie?
Praat met jou kliniekverpleër, gemeenskapsleiers en werkgewers oor die veldtog. Hou jou oë oop vir inentingsplakkate en radio-aankondigings wat sal aandui waar die naaste inentingspunt is.
n Spesiale poging sal aangewend word om inentingspunte tydens die veldtog so na as moontlik te bring aan jou huis. Jy kan ook na jou naaste kliniek gaan. Inentingspanne sal dagsorgsentrums, crèches en skole tydens die veldtog besoek.
Moet ek my kind se inentingskaart saambring?
Ja, bring dit asseblief saam. Dit is altyd belangrik om die kind en jou eie inentingskaart saam te bring wanneer jy na 'n kliniek of 'n dokter toe gaan. Kaarte kan tydens een van die rondtes nagegaan word om te sien of die kind roetine-inentings nodig het. Maar selfs as jou kind haar of sy kaart verloor het of nooit 'n kaart gehad het nie, moet jy asseblief steeds jou kind bring om ingeënt te word.
Wat sal jy aantref by die inentingspunt?
Jy sal gevra word of die kind in die ouderdomsgroep is. Terwyl jou kind vasgehou word, sal 2 druppels aan die kind gegee word en dit sal weer gegee word as die kind dit sou uitspoeg. Die ekstra maselsinspuiting sal gegee word aan kinders van 9-maande tot onder 5-jaar, op dieselfde dag saam met die poliodruppels.
Kan 'n siek kind ingeënt word?
Ja, alle kinders kan ingeënt word selfs as hulle koors het of hoes, diarree het, wangevoed is of enige ander siekte het.
As jy graag wil help om masels uit te skakel en polio uit te wis in Suid-Afrika, is dit hoe jy kan help en betrokke kan raak.
Skakel jou naaste kliniek en praat met hulle. 'n Kliniekverpleër sal in beheer wees van die inentingspunt tydens die veldtog. Take sal opgelê word aan VRYWILLIGERS.
Vertel almal van die veldtog en dat hulle alle kinders moet bring.
Die masels- en polio-inentingsveldtogte is geleenthede om by te dra tot die welsyn van jou kinders en hulle toekoms!
VERWANTE INLIGTING
Massa Polio En Masels Immuniseringsveldtog Vir Alle Kinders Onder 5 Jaar (26 Jul - 3 Sep 2004) (Geleentheid)
Immunisering (Diens)
Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 15 Mei 2006 hersien
Onbekende staatstaal of akroniem? Kyk in die WOORDELYS.
Gebruiksvoorwaardes
Privaatheidsbeleid
Kopiereg
Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering
