Wat is Asma?
Wat is Asma?
Wat is die Simptome van Asma?
Hoe kan Asma my Lewe/Lewensgehalte Raak?
Wat Veroorsaak 'n Asma-Aanval?
Hoe Word Asma Behandel?
Waar Kan Ek Meer Inligting Oor Asma Kry?
WAT IS ASMA?
Dit is een van die algemeenste asemhalingsprobleme in die hedendaagse wêreld.
Dit tref ongeveer een uit elke tien kinders (10%) en een uit elke twintig volwassenes (5%).
Dit kan op enige tydstip vir die eerste keer voorkom, selfs by volwassenes.
Hoewel asma gewoonlik voor die ouderdom van vyf jaar begin, sal 'n paar kinders wat daardeur getref is dit in hul tienerjare ontgroei, maar gewoonlik duur dit voort as dit in volwassenheid opgedoen is.
Dit neig om in families oorgedra te word, net soos gepaardgaande allergieë soos hooikoors en ekseem.
Dit kan nog nie genees word nie, maar indien dit beheer word, kan diegene wat daardeur geraak word normale lewens lei en ten volle deelneem aan sport en alle ander aktiwiteite.
WAT IS DIE SIMPTOME VAN ASMA?
Hoes, gefluit in keel, benoude bors, kortasemigheid. Hierdie simptome vererger dikwels snags en na aktiwiteit/oefening.
HOE KAN ASMA MY LEWE/LEWENSGEHALTE RAAK?
Die nagsimptome versteur slaap.
Oefening word benadeel.
Werk- of skooldae word gemis. (Om 'n gesinslid of kind met asma te hê, lei ook tot afwesigheid van werk omdat daar na hierdie persone omgesien moet word.)
Akute aanvalle en simptome is lastig, potensieel gevaarlik en duur.
WAT VEROORSAAK 'N ASMA-AANVAL?
Die grootste tragedie van asma is dat dit soms nie herken en behandel word nie, in welke geval die pasiënt onnodig ly.
Die werklike oorsaak van die asmatiese proses word nie werklik begryp nie, maar daar word gemeen dat dit aan die gang gesit word deur 'n allergie of wanneer die longe deur iets in die lug geïrriteer word.
n Virale verkoue n Virale verkoue of griep kan asmasimptome tydelik vererger en hierdie uitwerking kan tot ses weke ná die siekte voortduur.
Asma-aanvalle word oor die algemeen veroorsaak deur 'n allergiese reaksie op deeltjies huisstofmiet, gras, boomstuifmeel, swamspore en stukkies vel van katte en honde. Sekere kossoorte en bymiddels kan (by uitsondering) ook asma aan die gang sit sodra dit ingeneem word.
Besoedeling
Besoedeling in die omgewing, veral sigaretrook, motoruitlaatgasse en sekere chemiese gasse kan 'n asma-aanval vererger. Selfs kinders sal geraak word as hulle die sigaretrook van hul ouers passief inasem.
Sport en oefening
Sport en oefening, veral in koue weer, kan 'n asma-aanval aan die gang sit. Met die regte behandeling kan asma egter goed beheer word en asmalyers moet dus nie sport en oefening vermy nie. Om die waarheid te sê, ly ongeveer 10% van die Olimpiese atlete aan asma.
Emosies
Emosies soos opgewondenheid, woede, vrees en 'n lagbui is alles faktore wat asma kan vererger.
Medikasie
Sekere medikasie soos aspirien en ander anti-inflammatoriese tablette wat algemeen gebruik word, kan asma aan die gang sit. Wees versigtig met die neem van betablokkeerder-bloeddruktablette en oogdruppels vir gloukoom omdat dit ook asma by volwassenes kan veroorsaak.
Omgewingsfaktore
Lugbesoedelende stowwe van gebiede met baie nywerhede, sigaretrook, motoruitlaatgasse, veranderde eetgewoontes (verfynde kosse) en veranderde brandstof vir verbranding (antrasiete en steenkool) dra skynbaar almal by tot die toenemende voorkoms van asma.
Beroepsgevaar
Langdurige blootstelling aan baie stowwe is skadelik vir die longe, en volgens wet kan jy vergoed word vir asma wat as gevolg van jou beroep veroorsaak is. Dit sluit in organiese stof (hout, graan, graanmeel, tabak), isosianate, formaldehied, dampe, walms (amiene), metale (platinum, nikkel, kobalt, vanadium), soldeerwerk- en sweiswerkdampe, epoksiehars en akrielsuur en akrielhars.
HOE WORD ASMA BEHANDEL?
Al sê wie ook wat, asma kan nie ten volle genees word nie, maar met die regte behandeling sal die meeste asmalyers heeltemal normale lewens lei. Die doelwit van die behandeling moet wees om die longe en asemhalingspype so normaal as moontlik te maak sodat die simptome minimaal is en daaglikse bedrywighede so min as moontlik ontwrig word.
WAAR KAN EK MEER INLIGTING OOR ASMA KRY?
Praat met jou dokter of apteker. Andersins kan jy die webwerf van die Allergievereniging van Suid-Afrika (ALLSA) of die Nasionale Asma-opvoedingsprogram (NAEP) besoek.
Voorkomssyfer
Sonder twyfel neem die aantal mense van alle rasse in Suid-Afrika wat aan asma ly, merkbaar toe. Oor die afgelope 25 jaar is daar 'n styging van 25 tot 200 meer hospitaaltoelatings vir asma in hospitale in Durban en Soweto aangeteken.
Veranderinge by etniese groepe
Vir dekades was allergiekwale seldsaam onder Afrikane. Gevolglik het onlangse studies 'n laer voorkoms van 'n familiegeskiedenis van allergie onder hulle aan die lig gebring. Baie meer Afrikane met 'n positiewe familiegeskiedenis van allergieë, ontwikkel egter allergiese siektes in vergelyking met ander rasse. Die vroeë blootstelling aan vreemde allergene van die nuutaangenome Westerse lewenstyl het tot die hoër mate van sensitiwiteit wat onder swart babas opgeteken is, aanleiding gegee. Hierdie faktore het aanleiding gegee tot die toenemende aantal swart kinders wat aan asma ly.
Risiko van stedelike lewenswyse
Studies wat gedoen is oor landelike inwoners van die voormalige Transkei het daarop gedui dat migrasie na stedelike en peri-stedelike nedersettings die risiko vir die ontwikkeling van asmasimptome 20 maal vergroot, maar asma is besig om in die platteland toe te neem.
In Kaapstad, Durban en die voormalige Transkei is allergieë teen gras, kokkerotte en katte onderskeidelik gesien as belangrike faktore wat asma veroorsaak.
