Wat Is Geestesgesondheid?
UMBHALI: Provinsiale Departement van Gesondheid
n Bondige en duidelike dokument oor wat geestesgesondheid en geestesongesteldheid is. Dit bevat 'n informele vraelys oor hoe om stres te hanteer en beantwoord vrae wat dikwels oor geestesgesondheid gevra word.
WAT IS GEESTESGESONDHEID?
Geestesgesondheid het nie net te doen met die afwesigheid van geestessiektes nie, maar eerder met die kweek van geestesgesondheid en -welstand. Geestesgesondheid draai om hoe jy oor jouself voel, hoe jy met ander mense oor die weg kom en hoe jy die geleenthede, probleme en uitdagings van die alledaagse lewe hanteer.
HOE KAN EK MY GEVOEL VAN GEESTELIKE WELSTAND TEN BESTE UITBOU EN VOLHOU?
Geestesgesondheid het te doen met 'n balans tussen die hanteer van die probleme wat die lewe inhou en die gebruik van die geleenthede wat die lewe vir verdere ontwikkeling bied. Leer ken jou Sterkpunte (werk daaraan om dit uit te bou) en Kwesbaarhede (werk daaraan om dit te oorkom of hulp daarmee te kry) en leer om te besef wanneer jy dit nie kan hanteer nie en wanneer die gevaar van ongesonde stres dreig.
DIE HANTERING VAN STRES
Ons voel dalk nie voortdurend geestesgesond en positief oor die lewe nie. Oor die algemeen kan ons sterkpunte of veerkrag, met ander mense se hulp, ons help om na 'n krisis of stresvolle situasie, waartydens dit nie voel asof ons balans in die lewe het nie, weer ons ou self te word. Sommige vorme van stres kan 'n uitdaging en lekker wees ('n nuwe werk, ander verantwoordelikhede). Ons moet sorg dat ons stresvlakke nie die punt bereik waar ons nie meer daagliks die lewe kan hanteer nie.
DIE STRES-TOETS
Toets jou stresvlak. Lees deur die vrae hieronder. Maak 'n regmerkie vir elke "ja"-antwoord.
Voel jy gedurig moeg?
Sukkel jy om te slaap?
Ly jy aan hoopfyne, maagsere of slegte spysvertering?
Sukkel jy om te konsentreer?
Sukkel jy om te ontspan?
Het jy belangstelling in seks verloor?
Stel jy nie meer belang is stokperdjies en ander bedrywighede wat jy geniet het nie?
Het jy jou eetlus verloor of eet jy meer as gewoonlik?
Kom jy altyd laat by die werk aan?
Vermy jy jou kollegas?
Is jy kwaad, geïrriteerd of terneergedruk?
Bring jy jou werkprobleme oornag of oor naweke huistoe?
Neem jy oorhaastige, impulsiewe besluite?
Sukkel jy om besluite te neem?
As jy jouself in die Strestoets herken, kan jy aan werkstres ly. Die meeste van ons voel vir kort tydperke in ons lewens so. Hoewel daar geen maklike en kits-oplossings vir sommige van ons probleme is nie, is dit goed om stappe te doen om stres by die werk te verlig om jou geestesgesondheid te herwin of te beskerm. Om die toestand te beheer kan jy:
Waar moontlik jou prioriteite herrangskik: Fokus op die dinge wat belangrik is.
Wees realisties: Deel projekte in hanteerbare take op. Besef wat jy kan en nie kan doen nie.
Wees eerlik met jou kollegas/baas. Stel praktiese verbeterings voor.
Gee aandag aan jou fisiese, geestelike en persoonlike lewe. Moenie vriende en familie verwaarloos nie.
Maak tyd om te ontspan. Leer om "nee" te sê. Moenie skuldig voel oor jou ontspantyd nie.
Kry steun: Ken mense uit met wie jy die probleem kan deel en oplossings kan uitwerk.
GEESTESONGESTELDHEID
n Belangrike deel van jou geestesgesondheid tuis en by die werk is om te weet wanneer jy gevaar die staan om geestelike probleme te ontwikkel of dit onder lede het. Inligting en, as dit nodig is, beoordeling en raad oor behandeling is by jou plaaslike gemeenskapgesondheid sentrum, huisdokter of arbeidsgesondheid verpleegster of kliniek beskikbaar. Private praktisyns soos psigiaters, kliniese sielkundiges en kliniese maatskaplike werkers kan help.
WAT IS 'N GEESTESGESONDHEIDPROBLEEM OF GEESTESONGESTELDHEID?
Geestesgesondheidprobleme strek oor 'n wye reeks toestande, van minder ernstige probleme wat kan baat by maklik-verkrygbare veranderings in lewenswyse en stresvlakke, tot ernstiger toestande wat hospitalisasie en voortgesette gereelde behandeling vereis om jou daaglikse lewe tuis en by die werk te kan hanteer. Sommige toestande kom meer dikwels op spesifieke tye voor. Nuwe ma's kan byvoorbeeld na-geboortelike depressie ondervind en daar kan geestelike agteruitgang (swaksinnigheid) by ouer mense wees. Ander vorme kan op enige stadium van die lewe voorkom.
HOE ERKEN MENS DIE TEKENS VAN GEESTESONGESTELDHEID?
Hier volg 'n lys van sommige van die tekens en simptome in drie kategorië binne die wye spektrum van moontlike geestesgesondheidprobleme wat ons kan ondervind, om jou te help om 'n kits-geestesgesondheid ondersoek te ondergaan! As dié simptome en ander gereelde patrone van optrede jou prestasie by die werk of jou studies, of jou en jou geliefdes se gesins- en sosiale lewe kortwiek, het jy moontlik 'n geestesgesondheidprobleem wat aandag moet kry.
Depressie
Angs
Psigose
Voel jy... voortdurend hartseer of kort-van-draad of beide (tranerig of byterig)?... 'n gebrek aan belangstelling of plesier in bedrywighede wat jy in die verlede geniet het?... hulpeloos, hopeloos, skuldig en waardeloos?... dat jy nie kan konsentreer of dinge onthou nie?... dat jy sukkel om besluite te neem?... dat jy aan die dood of selfmoord dink?... moeg en sonder energie?... dat jy gewig opgetel of verloor het (geen aptyt of kompulsiewe eetgewoontes)?... dat jy slaapprobleme ondervind (te min of te veel)? Voel jy nie uitgerus nie?... dat jy opgewerkte of stadige aktiwiteitsvlakke ondervind (die tyd gaan te vinnig verby)?
Ondervind jy...gevoelens van paniek, spanning of oormatige kommer?...vrese oor die dood of die verlies aan beheer?...angs dat jy nie uit plekke sal kan ontsnap nie en vermy jy plekke wat jy nie ken nie?...gevoelens van onwerklikheid?...vrese oor en vermy jy sosiale geleenthede?...tye van lighoofdigheid, gebrek aan asem of duiseligheid?...maagkrampe, hoofpyne, stywe spiere, gevoelloosheid of prikkeling?
Gebeur dit dat...jy stemme hoor, beelde sien of dinge voel of ruik wat ander mense blykbaar nie ondervind nie?...dit voel asof daar geen gedagtes in jou kop is nie, jou gedagtes vaag en onsamehangend is en moeilik georden word?...jy sterk oortuigings het wat ander nie kan verstaan nie, byvoorbeeld dat ander mense jou wil benadeel, of dat jy spesiale kragte en kennis het?...jy voel asof ander mense jou gedagtes kan lees, of jy hulle s'n?...jou emosionele toonaard vir ander mense "plat" of vreemd word?...jou vermoë om daaglikse persoonlike higiëne en take afneem?
HULP MET JOU GEESTESGESONDHEIDPROBLEEM
Mense kan die hantering van hulle geestesgesondheidprobleem vermy deur hulleself te probeer "dokter": Hulle kan dit doen deur algemeen-beskikbare of voorskrif medikasie, alkohol en ander middels te misbruik.
Hoewel dit die simptome tydelik kan verlig, kan dit ook verslawing veroorsaak sonder om die onderliggende probleem te hanteer. Jy kan hulp nodig hê om op te hou as jy dit reeds begin doen het. Mense met geestesgesondheidprobleme mag dalk nie die hulp wat hulle nodig het, soek nie, weens die geloof dat geestesprobleme 'n teken van swakheid, luiheid, maatskaplike onaanvaarbaarheid of "wensdenkery" is.
Die feite is onaanvegbaar: Geestesongesteldheid, soos fisiese siektes, kan enigeen raak. Geestesgesondheidprobleme is pynlik en kan net soveel as 'n fisiese besering seermaak, en dit is beter om vroeg hulp te soek om die beste moontlike herstel te bevorder. Hoe gouer jy hulp kry, hoe gouer sal jy beter voel. Die eerste stap na hulpverkryging is om te aanvaar dat om hulp te kry, die regte ding is om te doen.
Hulp of raad oor waar om met jou besondere geestesgesondheidprobleem aan te klop kan verkry word van jou:
skool- of godsdiens-raadgewer plaaslike dokter plaaslike gemeenskapgesondheidsentrum of mobiele kliniek werkerskliniek of gesondheidsuster maatskaplike werkers, psigiaters, sielkundiges en ander gesondheidpraktisyns.
Die geestesdienstegids kan geraadpleeg word oor ander sentrums wat hulp bied.
Dalk wil jy 'n plaaslike Blitslyn skakel om oor die probleem te praat.
Angs- en Depressiehulplyn
Kinderlyn
Alkoholiste Anoniem
Narkotika Anoniem
BRONNEGIDS
Privaatsak X46
Tel: 011 781 1852
Tel: 021 447 9040
Wes-Kaapse Forum vir Intellektuele Gestremdheid
Tel: 021 510 4686
Geestesgesondheid Inligtingsentrum
Posbus 19063 Sielkunde Departement
Tel: 021 938 9229
Die Kindersorg Inligtingsentrum
Moeder- en Kindergesondheid Inligting en Bronnesentrum
Tel: 021 689 1519
Die Kindergesondheid Eenheid
Tel: 021 685 4103
