TUISBLAD
JOU LEWE
ONDERWERPE
PUBLIKASIES
GIDSE
JOU REGERING
WERKGELEENTHEDE
Aangaande
Kontak
Hulp
Gevorderde Soektog
Tuisblad
Publikasies
Openbare Inligting
Y 
Wat om op 'n Ongelukstoneel te Doen
Wat om op 'n Ongelukstoneel te Doen
Padinfrastruktuur (Departement van Vervoer en Openbare Werke, Wes-Kaapse Provinsiale Regering)
OPSOMMING
Dié dokument bevat stapsgewyse inligting oor wat om te doen as jy by 'n voertuigongeluk betrokke is.
WAT OM OP 'N ONGELUKSTONEEL TE DOEN
As jy by 'n ongeluk betrokke is, moet jy:
Mense wat beseer is help.
Uitvind wat die omvang van die skade is.
Al die nodige inligting kry.
Die ongeluk by die polisie aanmeld.
Nie met die bewyse peuter nie.
Bewus wees van die regsgevolge.
Die polisie sal 'n ongeluksverslag voltooi wat óf by die SADP, die plaaslike munisipaliteit, óf die provinsiale Departement van Vervoer en Openbare Werke ingedien word. Waar dit ingedien word hang af van of 'n strafregtelike saak aanhangig gemaak is en of die ongeluk binne 'n plaaslike owerheid se gebied gebeur het. Alle ongeluksverslae vir ongelukke buite munisipale gebiede, waar geen strafregtelike saak ondersoek word nie, word by die Departement gehou.
As jy by 'n ongeluk betrokke is waarin iemand beseer of gedood is, of waarin eiendom beskadig of enige dier beseer word, vereis die wet dat jy jou voertuig tot stilstand moet bring.
Dit is 'n misdaad om nie na 'n ongeluk stil te hou nie, en jy kan met tot R36 000 beboet word, of vir tot 12 jaar tronk toe gestuur word, of beide.
Jy hoef nie stil te hou of 'n ongeluk aan te meld as jy in 'n boom vasry of jou eie motor beskadig en as jy self die enigste persoon is wat seergekry het nie. Maar as jy iemand anders se eiendom beskadig moet jy stilhou en dan die ongeluk by die naaste polisiekantoor aanmeld.
Wanneer jy stop, moet jy jou noodligte aanskakel om ander verkeer teen die ongeluk te waarsku.
HELP ENIGEEN WAT BESEER IS
Nadat jy stilgehou het, moet jy uitvind of enigeen beseer is en hulle soveel help soos wat jy kan. Jy moet ook die nooddienste ontbied. Die nasionale 24-uur noodnommer is 084124, of jy kan die SAPD by 10111 skakel.
As jy niks van noodhulp af weet nie, moet jy versigtig wees om nie iets te doen wat die besering erger sal maak nie.
As jy nie self hulp nodig het nie, moet jy op die toneel bly tot 'n polisielid sê jy kan vertrek. Jy kan strafregtelik aangekla word as jy nie iemand help wat in die ongeluk beseer is nie.
STEL VAS WAT DIE OMVANG VAN DIE SKADE IS
Jy sal moet uitvind hoeveel skade aan eiendom aangerig is.
Jy moet jou naam, adres en voertuigregistrasienommer gee aan enigeen wat dit nodig kan kry.
KRY AL DIE NODIGE INLIGTING
As jy by die ongeluk betrokke is, moet jy die volgende inligting probeer kry van al die partye wat betrokke is en ooggetuies:
volle name
ID-nommers adresse telefoonbesonderhede voertuigregistrasienommers.
Jy moet ook:
beskrywings van die voertuie kry besonderhede van die polisie, verkeersamptenare en ambulanspersoneel kry besonderhede van insleepdienspersoneel kry.
Die inligting sal help as jy 'n eis wil instel teen jou versekering of teen die Padongelukkefonds, of as jy die koste van die herstel van die ander party wil eis.
Op 'n later stadium kan jy of jou prokureur 'n afskrif van die ongeluksverslag wat deur die polisie ingevul is, nodig kry.
MELD DIE ONGELUK BY DIE POLISIE AAN
Die polisie hoef nie ontbied te word as niemand seergekry het nie, maar die ongeluk moet binne 24 uur deur beide bestuurders by 'n polisiekantoor of verkeersafdeling aangemeld word.
Jy moet jou naam, adres en voertuigregistrasienommer aan die polisie of verkeersbeampte gee. Dit moet op die toneel van die ongeluk gebeur of by 'n polisiekantoor of verkeersafdeling wanneer jy die ongeluk aanmeld. Jy moet ook jou rybewys toon.
As jy beseer is en nie onmiddellik die ongeluk kan aanmeld nie, moet jy dit so gou moontlik doen en verduidelik hoekom daar 'n vertraging was in die aanmelding van die ongeluk.
Dit is 'n oortreding om nie 'n ongeluk aan te meld waarin 'n ander persoon se eiendom beskadig is, of waarin 'n ander persoon beseer is nie, selfs as nie een van die twee bestuurders beplan om 'n regsgeding aanhangig te maak nie.
MOENIE MET DIE BEWYSSTUKKE PEUTER NIE
Jy moet NIE enige alkohol drink of enige dwelms neem wat 'n narkotiese uitwerking het nie, behalwe as 'n dokter dit aanbeveel.
As die polisie jou vra om 'n medikasie-ondersoek te ondergaan, moet jy nie voor die ondersoek of voor jy die ongeluk aangemeld het, enige alkohol drink of enige dwelms neem wat 'n narkotiese uitwerking kan hê nie.
As enigeen in die ongeluk beseer is, mag die voertuie nie verskuif word voordat die polisie of 'n verkeersbeampte aangekom het en gesê het dat die voertuie verskuif kan word nie.
As die ongeluk die verkeer belemmer, kan die voertuie genoeg verskuif word om toe te laat dat die verkeer vloei, maar eers nadat jy die voertuie se posisies behoorlik uitgemerk het (byvoorbeeld met kryt of spuitverf).
WEES BEWUS VAN DIE MOONTLIKE REGSGEVOLGE
Van die moontlike regsgevolge van 'n ongeluk is:
n strafregtelike aanklag van bestuur sonder 'n rybewys n strafregtelike aanklag van dronkbestuur n strafregtelike aanklagte van strafbare manslag n siviele eis van saakbeskadiging n siviele eis vir persoonlike besering.
Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 12 November 2004 hersien
Onbekende staatstaal of akroniem? Kyk in die WOORDELYS.
Gebruiksvoorwaardes
Privaatheidsbeleid
Kopiereg
Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering
