W &gt Wat is Familiegroep Konferensies?
Wat is Familiegroep Konferensies?
Familiegroep konferensies is een van die talle herstellende regsmeganismes wat gebruik word om jong oortreders weer by die gemeenskap te laat inskakel. Dié kort artikel verduidelik wat familiegroep konferensies is en hoe dit werk.
WAT IS 'N FAMILIEGROEP KONFERENSIE?
Die familiegroep konferensie is 'n herstellende regsmeganisme waardeur families en gemeenskappe betrokke is by besluite oor kinders wat van misdade aangekla word. Die familiegroep konferensie streef onderhandelde skikkings vir konflik na. Dit is ontwerp om die skeuring in maatskaplike verhoudings wat deur misdaad veroorsaak word, te heel.
Die familiegroep konferensie het in die 1980's in Nieu-Seeland ontstaan toe hulle jeugregstelsel hervorm is. Dit is 'n vorm van herstellende geregtigheid wat ontwerp is na beraadslaging met die publiek oor die hele Nieu-Seeland, wat die Maoris en Stille Oseaan-mense insluit.
Die eerste stap is dat die kind verantwoordelikheid vir sy of haar optrede moet aanvaar. Die familiegroep konferensie self is 'n byeenkoms van al die mense wat 'n rol in die kind se lewe speel, sowel as die slagoffer en die mense wat die slagoffer steun. Die hoofdoel met die konferensie is om 'n plan uit te werk oor hoe wat verkeerd is, ten beste reggestel kan word. Al die partye stem in oor die uiteindelike uitkoms. Die partye mag byvoorbeeld besluit dat die kind om verskoning moet vra, of gesteelde goed moet teruggee.
Konferensies word veral as gepas vir jong oortreders beskou, omdat dit die geleentheid vir vroeë ingryping skep vir wat andersins 'n misdaadloopbaan kan word. Kinders kan ook meer vatbaar wees en beter reageer op die proses, wat hulle laat skaam voel op hulle optrede. Hulle persoonlikhede is nog besig om te ontwikkel en mense wat na aan hulle is, soos hulle ouers en families, is by die proses betrokke.
Australië, Kanada, Amerika en die Verenigde Koninkryk het almal een of ander vorm van familiegroep of gemeenskap konferensie as afwending- of vonnisoplegging-opsie van stapel gestuur.
In Suid-Afrika het NIMRO in 1992 die eerste keer die gedagte van afwending van kinders van die strafregstelsel, met die gebruik van herstellende geregtigheid, voorgestel. In 1995 het die Inter-Ministeriële Komitee oor Jongmense in Gevaar 'n loods-familiegroep konferensie in Pretoria ingestel.
Ander Suid-Afrikaanse voorlopers van familigroep konferensie is die Bousteneprojek in Port Elizabeth, die Durbanse Beoordeling, Ontvangs- en Verwysingsentrum, die Noordwes Provinsie se Departement van Maatskaplike Dienste, Kuns, Kultuur en Sport en die Herstellende Geregtigheidsentrum.
Die Wetsontwerp op Kindergeregtigheid maak daarvoor voorsiening dat familiegroep konferensies 'n vonnisoplegging keuse kan wees. In gevolge die Wetsontwerp kan 'n hof aanbevelings uit 'n familiegroep konferensie bevestig, vervang of wysig. As die hof nie die aanbeveling bevestig nie, moet redes gegee word. As 'n kind nie aan die aanbeveling wat deur die hof onderskryf is voldoen nie, moet die proefbeampte die hof in kennis stel en kan 'n lasbrief vir die kind se inhegtenisneming uitgereik word.
