TUISBLAD
JOU LEWE
ONDERWERPE
PUBLIKASIES
GIDSE
JOU REGERING
WERKGELEENTHEDE
Aangaande
Kontak
Hulp
Gevorderde Soektog
Tuisblad
Publikasies
Openbare Inligting
Plekke in die Wes-Kaap ter Nagedagtenis aan die Slawe 
Kaapstad en Omgewing
Kaapstad is deur slawe gebou en is 'n slawehartland uit eie reg. Hierdie relatief onbekende feit beklemtoon die onbeduidendheid van wat vandag van ons slawe-erfenis oorgebly het. Die stad was eens oorlopensvol slawe - hulle was ambagsmanne, bouers, kuipers, bakkers, skoonmakers, vrugte- en visverkopers, waterdraers, grafgrawers, pottebakkers, houtversamelaars, tuiniers en soogvrouens. Volgens berekening is 63 000 slawe tussen die middel van die 17de eeu en die vroeë 19de eeu uit Indonesië, Indië, Ceylon, Zanzibar, Madagaskar, Angola en Mosambiek ingevoer.
Vind meer uit oor dié interessante plekke:
Die Slawelosie
Slaweboomgedenkplaat en die Geselpaal
Die Kompanjiestuin
Groentemarkplein en die Ou Stadhuis
Platteklip spruit teen Tafelberg
Palmboom Moskee
Ongemerkte grafte
Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika
Aktekantoor
Kliek hier vir 'n kaart van Kaapstad en Omgewing.
Die Parade (Darlingstraat) Van Riebeeck se Fort de Goede Hoop was geleë waar die Parade vandag is. Dit is waar slawe aanvanklik gehuisves is
Die Slawelosie (Adderleystraat 49) In 1679 is 'n vensterlose baksteenstruktuur gebou om die slawe van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) te huisves. Daar is deur die hele 18de eeu na die bouvallige en smerige toestand van die gebou verwys. Die slawe het as arbeidsmag vir die Kompanjie gedien, maar het ook in die aangrensende tuine en in die hospitaal oorkant die slawelosie gewerk.
Tel: 021 460 8242
Slaweboomgedenkplaat
Die Slawelosie
Slaweboomgedenkplaat (Spinstraat) Hierdie gedenkplaat op die middeleiland dui die plek aan waar die Slaweboom - die plek waar slawe opgeveil is - eenmaal gestaan het.
Justitie plaats en die Geselpaal Die suidwestelike hoek van Darling- en Buitenkantstraat was vroeër 'n plek van marteling en teregstelling. Daar was 'n paal waaraan slawe en veroordeeldes vasgemaak was terwyl hulle lyfstraf moes verduur.
Die Kompanjiestuin Een van die vele tuine wat die Kompanjieslawe bewerk het, is aan die bopunt van Adderleystraat geleë. Die ander is by Rustenburg, Groote Schuur, Nuweland, Vishoek en Simonstad. Teen 1782 was byna twee derdes van die inwoners van die buiteposte (waarvan die tuine deel gevorm het) slawe. Daar is 'n simboliese slaweklok (nie van dié tydperk nie) in die Kompanjiestuin. Sulke klokke is op plase gebruik om slawe na hul werk te roep.
Die Kompanjiestuin
Groentemarkplein
Groentemarkplein en die Ou Stadhuis Vars produkte, soos vrugte en groente wat in die tuine van die Tafelvallei gekweek is, asook produkte wat deur boere van afgeleë distrikte ingebring is, is hier deur slawe verkoop wat sodoende hul "coolie money" (neerhalende term om slaweverdienste aan te dui) verdien het. Die slawe het by 'n taverne langs die Ou Stadhuis gedrink en gedobbel. Daar was ook 'n fontein op die plein waarvandaan slawe water kon gaan haal.
Slaweveiling Prysvasstelling
Jaar
Verkooppryse vir volwasse manlike slawe in riksdaalders
konsessieprys
Belangrike kennisgewings en proklamasies is van die balkon van die Stadhuis af voorgelees. Die slawekode - een van die geskrifte - het soos volg gelui:
Slawe moet kaalvoet loop en moet passe dra.
Enige slaaf wat in die straat stop om met ander slawe te praat, kan lyfstraf ontvang.
Geen ontmoeting in kroeë, of koop van alkohol, of groepe op openbare vakansiedae nie.
Geen samedromming naby kerkdeure tydens 'n diens nie.
Enige slaaf wat na donker buitenshuis is, moet 'n lantern dra.
Die aandklokreël - slawe moet binnenshuis wees teen 22:00.
Geen gesing, gefluit of geraas saans nie.
Slawe word nie toegelaat om 'n vuurwapen te besit of te dra nie.
n Loesing en boeie vir die belediging van 'n vry man of die maak van valse beskuldigings.
Enige slaaf wat dit waag om 'n slawe-eienaar te slaan, moet tereggestel word.
Vrye swart vroue word nie toegelaat om so goed aan te trek as die vrouens van fatsoenlike burgers nie en hulle moet passe dra.
Platteklip Spruit
Leeuwenhof (Hofstraat) By die amptelike woning van die Premier van die Wes-Kaap is daar 'n buitegebou uit die 18de eeu wat as 'n slawehuis gebruik is. Ander wonings in die bo-Tafelvallei het ook huise gehad waarin die slawe kon bly wat hulle kommersiële tuine bewerk het, maar nie een van hierdie huise het die toets van die tyd deurstaan nie. Leeuwenhof se slawehuis huisves nou 'n uitstalling oor die geskiedenis van die landgoed, wat per afspraak oop is vir die publiek.
Tel: 021 483 4705
Platteklip Spruit teen Tafelberg Dit is waar huishoudelike slawe die wasgoed kom was het.
Ou Slawekerk, SA Sendingmuseum (Langstraat 40) Die Suid-Afrikaanse Sendinggenootskap, 'n uitvloeisel van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, is in 1799 deur eerwaarde Vos van Tulbagh gestig om die Christendom onder die slawe bekend te ste. Hierdie kerk, wat argitektonies enig in sy soort is, is in 1804 gebou. Vandag is dit 'n museum wat die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Christelike sendingwerk uitbeeld. Ander sending- en na-emansipasie-terreine met slaweverbintenisse is St Stephen's Kerk op Riebeeckplein, die kerk in Kapelstraat en die Berlynse Sending in Searlestraat, Distrik Ses. Baie doopplegtighede en huweliksluitings van gewese slawe het ook in die Lutherse Kerk in Strandstraat plaasgevind. Op 1 Desember 1838, die dag van die emansipasie, is 'n dankseggingsdiens in die St Andrew's Presbiteriaansekerk (Somersetweg) gehou. Die komponent van voormalige slawe van die gemeente is by St Andrew's geakkommodeer totdat hulle na die St Stephens Kerk (toe die Ou Teater) verskuif het.
Tel: 021 423 6755
Die St Stephens-kerk (Riebeeckplein) Die gebou dateer terug na 1801. Dit was oorspronklik 'n teater wat oop was vir alle rasse, maar in 1829 is slawe en vry swartes nie langer toegelaat om geleenthede by te woon nie. Ironies genoeg is die teater later gebruik as 'n sendingkerk vir vrygelate slawe. Dit het tot openbare verset gelei en die vensters van die kerk is gebreek deur klipgooiende oud-teatergangers. As gevolg hiervan is die kerk vernoem na die martelaar St Stephen, wat gestenig is. Dit is buitengewoon vir 'n Nederduits-Gereformeerde Kerk-gemeente om na 'n martelaar vernoem te word.
Auwal Moskee (Dorpstraat 39) Die Moslem-geloof is na Suid-Afrika gebring deur slawe wat uit die Ooste ingevoer is. Hierdie moskee se geskiedenis strek sover terug as 1794. Die eiendom was in besit van 'n vrygestelde slaaf, Salie Coridon van Ceylon. Sy dogter het met Achmat van Bengale getrou, wat later die eiendom geërf het en dit daarna aan die Moslem-gemeenskap beskikbaar gestel het om as 'n moskee te gebruik. Dit is die oudste moskee in die land.
Palmboom Moskee (Langstraat) Dit is in die 1780-erjare as 'n huis met 'n gebedskamer op die boonste verdieping en die Imam se huis onder gebou. Die Moslem-gemeente van die Palmboom Moskee het 'n mondelinge oorlewering waarvolgens die huis deur die Imam se skoonseun, Jan Boekies, as 'n moskee aan hom gegee is.
Ongemerkte grafte (Somersetweg, Groenpunt) Slawe en armlastiges is in 'n ongemerkte begraafplaas by die laer deel van Seinheuwel (waar die Groenpuntse Verkeersafdeling vandag is), asook in die Coburnstraat-omgewing begrawe.
Bo-Kaap en Tana Baru Begraafplaas Die Bo-Kaap word hoofsaaklik bewoon deur afstammelinge van slawe wat in die vroeë dae van die nedersetting deur die VOC hierheen gebring is. Smal keisteenstraatjies en moskees is kenmerkend van dié wyk. Baie van die platdakhuise dateer uit die 18de eeu. Die Bo-Kaap Museum (Waalstraat 71) is soos 'n 19de-eeuse Moslem-huis gemeubileer. Baie slawe was Moslems en is bokant die Bo-Kaap begrawe. Die begraafplaas bied 'n pragtige uitsig oor die stad.
Tel: 021 481 39393
Die Hurling-swaaipomp (Prinsstraat) Daar was nie aangelegde water in Kaapstad nie en die slawe is gestuur om water by openbare fonteine of putte, soos hierdie een, te gaan haal.
Palmboom Moskee
Bo-Kaap
Die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika (Kompanjiestuin), Kaapstadse Argiefbewaarplek (Roelandstraat 72), Aktekantoor (Pleinstraat 90) en die Nederduitse Gereformeerde Kerk se Argief (bopunt van Koningin Victoriastraat) bevat 'n rykdom aan argiefmateriaal in verband met slawerny aan die Kaap, asook genealogiese inligting oor slaweherkoms.
Die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika ,
Tel: 021 424 6320
Tel: 021 462 4050
Aktekantoor ,
Tel: 021 465 7600
Nederduitse Gereformeerde Kerk se inligtingskantoor
Tel: 021 423 2853
Tel: 021 795 5140
Ou Residensie, Simonstad Museum (Hofstraat) Die museum het noue verbintenisse met 'n paar van die families in die omgewing wat genealogiese navorsing oor hulle slawevoorouers gedoen het, van wie baie Moslems was. Party families het kitaabs of dagboeke wat tot die slawetyd terugdateer. In die kelderverdieping van die voormalige Residensie is daar selle waar misdadigers en slawe opgesluit is. Daar is ook 'n Moslem-erfenismuseum in Koning Georgeweg.
Tel: 021 786 3046 of 021 786 2303
Anna de Koning
Vergelegen (Lourensfordweg, Somerset-Wes) Dit is 'n werkende wynlandgoed met 'n ou huis, buitegeboue en 'n slawehuis. Willen Adriaan van der Stel het in omtrent 1700 'n buitegebou opgerig wat soos 'n 17de-eeuse Europese hallehuis gelyk het - 'n groot skuuragtige struktuur met drie vleuels en 'n strooidak wat byna tot by die grond gestrek het. Die slawehuis kon tot 200 slawe gelyk huisves. Die slawe by Vergelegen het as meubelmakers, kleremakers, kokke, messelaars en arbeiders gewerk. Die slawehuis is in 1989 met befondsing deur die Opvoedkundige Trust van Anglo-American De Beers opgegrawe. Die stoflike oorskot van 'n slawevrou is onder die vloer van die terrein ontdek. Sy is in 'n gemerkte graf op die plaas herbegrawe en die graf kan besoek word. Daar is 'n verklaringsentrum op die plaas waar artefakte vertoon word wat tydens die argeologiese opgrawing ontdek is.
Tel: 021 847 1334
INHOUD
Vorige Afdeling
Volgende Afdeling
INHOUD: Plekke in die Wes-Kaap ter Nagedagtenis aan die Slawe
Inleiding en Inhoudsopgawe
Enkele Belangrike Datums in verband met Slawerny aan die Kaap
Wynland
Klein Karoo
Weskus
Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 30 November 2005 hersien
Onbekende staatstaal of akroniem? Kyk in die WOORDELYS.
Gebruiksvoorwaardes
Privaatheidsbeleid
Kopiereg
Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering
