M 
Neem Mense met Gestremdhede in Diens
Neem Mense met Gestremdhede in Diens
Dié publiksie gee inligting oor die indiensneming van mense met gestremdhede vir werkgewers en werknemers.
Dis tyd om mense met gestremdhede 'n gelyke geleentheid te gee"
Inleiding
Oogmerk van die Kode
Definisie van "Mense met Gestremdhede"
Voldoen Redelikerwys aan die Behoeftes van Mense met Gestremdhede
Werwing en Keuring van Mense met Gestremdhede
Mediese en Sielkundige Toetse
Opleiding en Loopbaanvordering
Behou Mense met Gestremdhede
Vergoeding vir Mense met Gestremdhede
Vertroulikheid
Voordele vir Personeellede
Beplanning van Indiensnemingsbillikheid
Opvoeding en Bewustheid
Inligting
INLEIDING
Baie struikelblokke soos algemene onkunde, vrees en stereotipes het veroorsaak dat daar onregverdige diskriminasie in die gemeenskap en indiensneming is teen mense met gestremdhede. Daarom is hulle 'n aangewese groep kragtens die Wet op Gelyke Indiensneming van 1998.
Die Minister van Arbeid het derhalwe 'n Goeie Gedragskode vir die Indiensneming van Mense met Gestremdhede goedgekeur kragtens die Wet op Gelyke Indiensneming van 1998.
OOGMERK VAN DIE KODE
Die Kode is 'n riglyn vir werkgewers en werkers om gelyke geleenthede en regverdige behandeling aan te moedig van mense met gestremdhede kragtens die Wet.
Die doel met die Kode is om werkgewers en werkers op te voed en in te lig om hulle regte en verpligtinge te verstaan en sekerheid te bevorder en geskille te verminder sodat mense met gestremdhede doeltreffend hulle regte by die werk kan geniet en uitoefen.
Die Kode het ten doel om bewustheid te help skep van die bydraes wat mense met gestremdhede kan maak en om werkgewers aan te moedig om die vaardighede van sulke mense ten volle te gebruik.
DEFINISIE VAN "MENSE MET GESTREMDHEDE"
Kragtens die Wet is die klem op die uitwerking van 'n gestremdheid op die persoon wat die werksomgewing betref, en nie op die diagnose of die gestremdheid nie.
Mense word beskou as "Mense met Gestremdhede" as hulle voldoen aan die volgende kriteria in die definisie:
as hulle 'n fisiese of geestelike gestremdheid het wat langtermyn is of herhalend voorkom, en wat hulle vooruitsigte op toegang tot of vordeing in indiensneming aansienlik beperk.
VOLDOEN REDELIKERWYS AAN DIE BEHOEFTES VAN MENSE MET GESTREMDHEDE
Werkgewers moet die mees koste-doeltreffende maatreëls instel wat betref die doeltreffende verwydering van struikelblokke in die uitvoering van die werk, en wat gelyke toegang tot die voordele en geleenthede van indiensneming verseker. Redelike tegemoetkoming is van toepassing op aansoekers en personeellede met gestremdhede wat paslik gekwalifiseerd is vir die werk en wat vereis mag word:
tydens die werwings- en keuringsproses in die werksomgewing in die manier waarop die werk gewoonlik gedoen, beoordeel en vergoed word in die voordele en voorregte van indiensneming.
WERWING EN KEURING VAN MENSE MET GESTREMDHEDE
Werkgewers moet posadvertensies toeganklik maak vir mense met gestremdhede deur die inherente vereistes van die werk uit te ken, die vaardighede en vermoëns wat vereis word duidelik te omskryf en redelike kriteria vir keuring te stel.
MEDIESE EN SIELKUNDIGE TOETSE
Toetse moet voldoen aan die vereistes van die werk en moet relevant en van toepassing wees op die werk waarvoor die persoon getoets word. Werkgewers moet seker maak dat die toetse nie onregverdig voorwaardes uitsluit nie en moet nie bevooroordeeld wees oor hoe en wanneer hulle toegepas, beoordeel en geïnterpreteer word nie.
Toetse om die gesondheidstatus van die persoon vas te stel moet eers uitgevoer word nadat die werkgewer vasgestel het dat die persoon inderwaarheid geskik is om die kernwerksfunksies of -pligte uit te voer en nadat die werksaanbod gedoen is.
OPLEIDING EN LOOPBAANVORDERING
Mense met gestremdhede behoort geraadpleeg te word oor hulle loopbaanvordering en moontlike behoeftes en geriewe en materiaal vir opleiding behoort vir hulle toeganklik te wees. Beoordeling van werksprestasie behoort duidelik uitgeken te word en die uitvoer van die kernfunksies van die werk behoort regverdig gemeet en beloon te word.
BEHOU MENSE MET GESTREMDHEDE
Werkers wat gestremd raak terwyl hulle werk behoort, waar redelikerwys moontlik, herintegreer te word in die werksmag. As dit redelik is, behoort werkgewers die moontlikheid te ontgin om ander werk, afgeskaalde werk of buigbare werkplasing aan te bied, sodat werkers nie gedwing of aangemoedig word om hulle indiensneming te beëindig nie.
VERGOEDING VIR MENSE MET GESTREMDHEDE
Wanneer werkers gestremd raak weens werksverwante siekte of ongelukke, behoort die werkgewer die werker by te staan om die relevante bystand te kry kragtens die Wet op Vergoeding vir Werksbeserings en -Siektes van die Vergoedingsfonds en om die gepaste voordele te kry kragtens die Werkloosheidsversekeringswet.
VERTROULIKHEID
Werkgewers moet die vertroulikheid beskerm van inligting wat bekend gemaak is deur 'n werker of posaansoeker met 'n gestremdheid. Hulle moet sorg dat aantekeninge oor private inligting oor die gestremdheid vertroulik en apart van algemene personeelbesonderhede gehou word.
Werkgewers mag nie enige inligting bekend maak wat verband hou met 'n persoon se gestremdheid sonder die geskrewe toestemming van die betrokke persoon nie, behalwe as dit deur die wet vereis word.
VOORDELE VIR PERSONEELLEDE
Werkgewers wat werksversekering of ander voordele vir werkers verskaf of reël moet seker maak dat die voordele nie onregverdig direk of indirek diskrimineer teen mense met gestremdhede nie.
BEPLANNING VAN INDIENSNEMINGSBILLIKHEID
As mense met gestremdhede onderverteenwoordig is op alle werksvlakke en kategorië in die werkplek, moet die werkgewer leiding kry van organisasies wat mense met gestremdhede verteenwoordig of relevante kenners, byvoorbeeld in arbeidsrehabilitasie en arbeidsterapie, om die vakante poste onder die aandag te bring van moontlike werksoekers met gestremdhede.
OPVOEDING EN BEWUSTHEID
Werkgewers, werkgewersorganisasies en vakbonde moet die Kode insluit in oriënterings-, opvoedings- en opleidingsprogramme van werkers.
INLIGTING
Raadpleeg vir meer inligting die Wet op Gelyke Indiensneming van 1998 en die Goeie Gedragskode oor die Indiensneming van Mense met Gestremdhede op die webwerf van die Departement van Arbeid by www.labour.gov.za of skakel die CCMA-hulplyn by 0861 161616 of die naaste kantoor van die Departement van Arbeid.
