TUISBLAD
JOU LEWE
ONDERWERPE
PUBLIKASIES
GIDSE
JOU REGERING
WERKGELEENTHEDE
Aangaande
Kontak
Hulp
Gevorderde Soektog
Tuisblad
Publikasies
Openbare Inligting
I 
Vrae wat Verhuurders Dikwels Vra
Vrae wat Verhuurders Dikwels Vra
Huurbehuisingstribunaal
OPSOMMING
Inligting oor die regte en verpligtinge van verhuurders wat residensiële eiendom aan huurders verhuur.
Moet ek 'n huurkontrak met die huurder onderteken?
Watter inligting moet op 'n geskrewe huurkontrak wees?
Hoe kan ek 'n moontlike huurder se agtergrond nagaan?
Behoort ek 'n deposito te vra?
Watter onderhoudswerk moet die huurder doen?
Kan ek die huur in die middel van 'n huurtydperk verhoog?
Met hoeveel kan ek die huur verhoog wanneer ek die huurkontrak hernu?
Wat kan ek doen as die huurder nie die huur betyds betaal nie?
Wat kan ek doen as huurders beweer dat hulle die huur betaal het, maar ek het dit nie ontvang nie?
Kan ek die huurder se besittings afneem as die huur agterstallig is?
Die huurder se kontrak het 'n paar maande gelede verstryk. Hoeveel kennis moet ek gee as ek wil hê die huurder moet uittrek?
Hoe kan ek die huurder uitsit?
Kan ek die eiendom binnegaan sonder die huurder se toestemming?
Kan ek die slotte verander en die huurder uitsluit?
Wat kan ek doen as die bure kla oor 'n huurder?
Wat behoort ek te doen as ek vermoed dat die huurder betrokke is by onwettige bedrywighede?
Wat kan ek doen as die huurder die eiendom beskadig het?
Onder watter wette val huurooreenkomste?
Wie kan my help as ek probleme het met die huurder?
Hoe gaan ek te werk om 'n klag in te dien by die Huurbehuisingstribunaal?
Hoe tree ek in verbinding met die Huurbehuisingstribunaal?
MOET EK 'N HUURKONTRAK MET DIE HUURDER ONDERTEKEN?
n Mondelingse ooreenkoms is net so bindend soos 'n geskrewe huurkontrak, maar as die huurder daarop aandring om iets op skrif te hê, moet jy daaraan voldoen. Dit is egter beter vir beide van julle om 'n ooreenkoms op skrif te hê wat die bepalinge en voorwaardes uiteensit waarop ooreengekom is. Dit sal baie help om later geskille te vermy, wanneer dit jou woord is teen dié van die huurder.
WATTER INLIGTING MOET IN 'N GESKREWE HUURKONTRAK WEES?
Jou naam
Die huurder se naam
Jou posadres
Die huurder se posadres
Die adres van die eiendom wat verhuur word
Die bedrag waarvoor jy dit verhuur
Die bedrag waarmee die huur verhoog sal word (byvoorbeeld, met 10 persent wanneer die huurkontrak hernu word)
Wanneer die huur verhoog sal word (byvoorbeeld, as daar 'n diensgeldverhoging is)
Hoe dikwels die huur betaal moet word (byvoorbeeld, maandeliks)
Hoeveel die deposito is, as daar een is
Jou en die huurder se verpligtinge (byvoorbeeld, wie verantwoordelik is vir onderhoud. Wie betaal die water-, elektrisiteit- en diensgeldrekenings? Gewoonlik betaal die huurder die uitgawes wat verband hou met verbruik, soos water en elektrisiteit, en die verhuurder betaal die koste wat verband hou met die eiendom, soos diensgeld.)
Die omstandighede waaronder óf jy, óf die huurder kennis kan gee van die kansellering van die kontrak (byvoorbeeld, as spesifieke onderhoud nie gedoen word nie, of as die huurder agterstallig is met die huur)
Die Huisreëls, geteken deur beide partye, moet aan die huurkontrak geheg word.
n Lys defekte, opgestel by 'n gesamentlike inspeksie wanneer die huurder intrek en deur altwee van julle onderteken, moet ook aan die huurkontrak geheg word.
HOE GAAN EK 'N MOONTLIKE HUURDER SE AGTERGROND NA?
Praat met die huurder se huidige verhuurder vir 'n verwysing. Dit is ook 'n goeie idee om met vorige verhuurders te praat, omdat die huidige verhuurder dalk 'n goeie verwysing sal gee om van 'n ongewensde huurder ontslae te raak, en om 'n brief van jou huurder se werkgewer te kry om seker te maak van haar of sy permanente pos en inkomste.
BEHOORT EK 'N DEPOSITO TE VRA?
Ja, dit is 'n goeie idee om dit in die huurkontrak te sit. Onthou dat die deposito in 'n rente-draende rekening inbetaal moet word vir die duur van die huurkontrak en teruggegee moet word aan die huurder, plus die rente wat dit verdien het, wanneer die huurder uittrek.
As die huurder jou egter geld skuld met die uittrek, of as die eiendom beskadig is waar dit normale slytasie oorskrei, kan jy die deposito gebruik om te betaal vir herstelwerk of om die geld te dek wat jy nog geskuld word.
Sien WAT KAN EK DOEN AS DIE HUURDER DIE EIENDOM BESKADIG HET? vir meer besonderhede oor depositos.
WATTER ONDERHOUDSWERK MOET DIE HUURDER DOEN?
Dit hang af wat die huurkontrak sê, gewoonlik hou die verhuurder die buitekant van die eiendom in stand en die huurder die binnekant.
KAN EK DIE HUUR IN DIE MIDDEL VAN 'N HUURTYDPERK VERHOOG?
Net mits die huurkontrak spesifiek sê dat jy kan. As jy wil kan jy 'n klousule by die aanvanklike ooreenkoms voeg wat die spesifieke redes uiteensit wat jou sal toelaat om die huur te verhoog (byvoorbeeld, as diensgeld verhoog word).
MET HOEVEEL KAN EK DIE HUUR VERHOOG WANNEER EK DIE HUURKONTRAK HERNU?
Dit hang af wat die kontrak sê. As die kontrak nie 'n redelike verhoging aandui nie, sal jy oor 'n aanvaarbare huur met die huurder moet onderhandel.
WAT KAN EK DOEN AS DIE HUURDER NIE DIE HUUR BETYDS BETAAL HET NIE?
Tegnies verbreek die huurder die kontrak. Verwys na die verbrekingsklousule in die kontrak (of, in die geval van 'n mondelingse ooreenkoms, die voorwaardes waaroor ooreengekom is vir beëindiging) en tree daarvolgens op.
As jy nie 'n kansellasieooreenkoms het nie, is dit goeie praktyk om 'n brief te skryf waarin jy die huurder sewe dae tyd gee om te betaal, en waarin jy sê dat jy die kontrak sal kanselleer as dit nie gebeur nie.
WAT KAN EK DOEN AS 'N HUURDER BEWEER DAT DIE HUUR BETAAL IS, MAAR EK DIT NIE ONTVANG HET NIE?
Dit is die huurder se verantwoordelikheid om seker te maak dat jy die huur ontvang, so die huurder moet bewys van betaling toon (byvoorbeeld, 'n bank-depositostrokie). As die huurder dit nie kan doen nie, kan jy haar of hom kennis gee kragtens die ooreenkoms en 'n hofbevel kry vir uitsetting.
As jy tevrede is dat die betaling wel gemaak is, is dit jou plig kragtens die Wet op Huurbehuising (wet 50 van 1999) om 'n kwitansie aan die huurder te gee.
n Kwitansie moet die volgende inligting bevat:
Die datum van uitreiking
Die adres van die eiendom waarvoor die betaling gemaak word
Die rede vir die betaling (of dit huur, agterstallige geld of 'n deposito is)
Die tydperk van die betaling (byvoorbeeld, die maand waarvoor die huur betaal word).
KAN EK DIE HUURDER SE BESITTINGS AFNEEM AS DIE HUUR AGTERSTALLIG IS?
Jy sal eers 'n hofbevel moet kry. Die Balju van die Hof sal dan beslag lê op die huurder se eiendom ter waarde van die geld wat aan jou geskuld word. As jy die huurder se besittings afneem sonder 'n hofbevel, is dit diefstal.
DIE HUURDER SE KONTRAK HET 'N PAAR MAANDE GELEDE VERSTRYK. HOEVEEL KENNIS MOET EK GEE AS EK WIL Hê DIE HUURDER MOET UITTREK?
Gaan jou vorige huurkontrak na vir 'n hernuwingskennisgewing wat uiteensit hoeveel kennis jy in so 'n situasie moet gee.
As daar nie so 'n klousule is nie, dan het een van julle twee, deur julle optrede, in werklikheid die vorige kontrak hernu, met dieselfde bepalings en voorwaardes, en vir die volle tydperk wat in die oorspronklike kontrak aangedui is. Dit beteken dat jy die kansellasieklousule van die oorspronklike kontrak, as daar een is, in werking sal moet stel om uit die ooreenkoms te kom.
Sonder 'n kansellasieklousule sou die beste manier gewees het om uit die kontrak te kom om die huurder een maand skriftelike kennis te gegee het voordat die huurkontrak verstryk het. (So as jy die einde van 'n 12-maande kontrak genader het, moes jy die huurder skriftelik laat weet het aan die einde van die elfde maand.)
HOE KAN EK DIE HUURDER UITSIT?
Jy kan nooit self 'n huurder uitsit nie. Jy kan net 'n hofbevel aanvra om die huurder uit te sit as die huurder die kontrak verbeek het.
Om uit te vind of die huurder die kontrak verbreek het moet jy die ooreenkoms nagaan. Daar behoort 'n klousule te wees wat sê wat op kontrakbreuk neerkom (byvoorbeeld, om nie die huur betyds te betaal nie) en wat jou regte sal wees in so 'n geval (met ander woorde, kanselleer die kontrak sonder verdere kennisgewing).
As die huurder die kontrak verbreek het, doen stappe om sterk by die huurder aan te dring dat die breuk herstel moet word. As dit nie werk nie, stel regstappe in - dien 'n klag in by die Huurbehuisingstribunaal of vra die hulp van 'n knap prokureur.
KAN EK DIE EIENDOM BINNEGAAN SONDER DIE HUURDER SE TOESTEMMING?
Jy het die reg om die eiendom binne te gaan om roetine-inspeksies en so aan te doen, maar net as jy met die huurder gereël het om dit op 'n redelike tyd te doen, en met redelike kennis. Die huurder het nie die reg om jou redelike toegang te weier nie.
KAN EK DIE SLOTTE VERANDER EN DIE HUURDER UITSLUIT?
Nee. Dit sal onwettige uitsetting wees. As jy die slotte verander, moet jy spaarsleutels aan die huurder gee.
WAT KAN EK DOEN AS DIE BURE OOR DIE HUURDER KLA?
Gaan na of die huurder se optrede in stryd is met die Huisreëls. Indien wel, sal jy dalk die huurkontrak se kansellasieklousule in werking kan stel en die huurder kennis gee. Hou skriftelike bewyse van klagtes en jou optrede.
WAT MOET EK DOEN AS EK DINK DIE HUURDER IS BETROKKE BY ONWETTIGE BEDRYWIGHEDE OP MY EIENDOM?
Meld jou vermoedens aan by die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Dit is ook 'n goeie idee om 'n klousule by jou huurkontrak te voeg dat geen onwettige bedrywighede op die eiendom mag plaasvind nie, wat jou gronde sal gee om die huurkontrak onmiddellik te beëindig.
WAT KAN EK DOEN AS DIE HUURDER DIE EIENDOM BESKADIG HET?
As jy 'n deposito gevra het, kan jy die geld gebruik om skade te herstel wat aan die huurder toegeskryf word, wat normale slytasie oorskrei, wanneer die huurder uittrek. Maak seker dat jy die volgende stappe doen:
Inspekteer die eiendom saam wanneer die huurder intrek en maak 'n skriftelike lys van enige bestaande defekte. Beide van julle moet dit teken en dit moet aan die huurooreenkoms geheg word.
Inspekteer die eiendom weer saam wanneer die huurder uittrek, verkieslik nie minder nie as drie dae voor die huurder uittrek. Vergelyk die nuwe lys defekte met die lys wat jy vroeër gemaak het.
Jy moet die huurder kans gee om die herstelwerk self te doen, of julle kan ooreenkom dat jy dit sal doen. Hou die kwitansies vir herstelwerk waarvoor uit die deposito betaal is. Jou voormalige huurder het die reg om dit te sien.
As die herstelwerk minder kos as die deposito plus die rente wat verdien is, sal jy die voormalige huurder met die verskil moet vergoed.
Skakel die Huurbehuisingstribunaal as jy probleme het.
ONDER WATTER WETTE VAL HUUROOREENKOMSTE?
Die Wet op Huurbehuising (Wet 50 van 1999)
Kontrakwette
Gemenereg
Grondwet
WIE KAN MY HELP AS EK PROBLEME HET MET DIE HUURDER?
Huurbehuisingstribunaal.
HOE GAAN EK TE WERK AS EK 'N KLAGTE WIL INDIEN BY DIE HUURBEHUISINGSTRIBUNAAL?
Vul die klagtevorm op die werf in en lewer dit per faks, pos of per hand by die Tribunaal af.
KONTAK MET DIE HUURBEHUISINGSTRIBUNAAL
Elke huurooreenkoms en huursituasie is verskillend. As jy hulp nodig het met die bestuur van die huurder, tree in verbinding met die Wes-Kaapse Huurbehuisingstribunaal of 'n bevoegde prokureur vir raad.
Die kantoorure is van 8.30 vm tot 4 nm, Maandag tot Vrydag.
Tel:
Faks:
Posadres:
Fisiese Adres:
Departement van Plaaslike Regering en Behuising
VERWANTE INLIGTING
Die bylê van geskille tussen huurders en eienaars (Diens)
Vrae wat Huurders Dikwels Vra (Openbare Inligting)
Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 25 Julie 2007 hersien
Onbekende staatstaal of akroniem? Kyk in die WOORDELYS.
Gebruiksvoorwaardes
Privaatheidsbeleid
Kopiereg
Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering
