MIV en Vigs: Ken jou Regte en Verantwoordelikhede
Die dokument bevat inligting oor die bestuur van MIV en vigs in skole en die regte en verantwoordelikhede van leerders, opvoeders en ouers wat MIV en vigs betref. Antwoorde word verskaf op sommige van die algemene vrae soos of MIV-positiewe leerders by skole uitgesluit kan word, of skole leerders kan toets vir MIV en hoe skole die gevaar in MIV-oordrag in die skoolomgewing kan verhoed. Raad word ook gegee oor die opstel van 'n skool-MIV en vigsbeleid.
Oorspronklik in Oktober 1999 uitgegee deur die VIGS-regsnetwerk, met finansiering van die Europese Unie se Stigting vir Menseregte. Met goedgunstige toestemming deur die WKOD herdruk.
VRAE WAT DIKWELS GEVRA WORD
Kan MIV-positiewe leerders uitgesluit word by 'n skool?
Mag leerders met MIV anders behandel word as ander leerders?
Mag 'n skool inligting oor 'n leerder se MIV-status eis?
Kan skole gereeld leerders vir MIV toets?
Kan skole leerders sonder hulle toestemming vir MIV toets?
Hoe behoort skole die gevaar van MIV-oordrag in die skoolomgewing te voorkom?
Wat van die gevaar van MIV-oordrag deur kontaksport?
Het leerders 'n reg om opgevoed te word oor MIV en vigs?
Mag kondome by skole uitgedeel word?
Wat van onderwysers en ander personeel?
Wat behoort gedoen te word as daar 'n weiering is om saam met iemand met MIV te werk, studeer of onderrig te gee?
Wie behoort betrokke te wees by die opstel van 'n skoolbeleid?
Nog Kontakbesonderhede
DIE BESTUUR VAN MIV EN VIGS IN SKOLE
Miljoene mense het MIV onder lede en die getal styg geleidelik. Daarom is 'n toenemende aantal leerders en opvoeders wat MIV het deel van ons skole. Mense wat met MIV lewe het te doen met diskriminasie weens hulle MIV-positiewe status. Dit is daarom belangrik dat alle skole 'n MIV- en vigsbeleid moet hê om seker te maak dat:
die regte van alle leerders en opvoeders gerespekteer word leerders en onderwysers met MIV toepaslik bestuur word verdere MIV-besmetting voorkom word n nie-diskriminerende en versorgende omgewing geskep word.
n Nasionale beleid oor die bestuur van MIV en vigs in skole is deur die Departement van Onderwys opgestel vir openbare leerinstellings. Skole en beheerrade moes hulle eie beleid opstel en aanpas, in ooreenstemming met die nasionale beleid. As 'n skool nie 'n eie beleid het nie, sal dié een outomaties van toepassing wees.
Om te weet wat jou regte is as ouer, onderwyser en leerder en 'n begrip van die nasionale beleid, sowel as die Grondwet, sal jou help om MIV en vigs doeltreffend by jou skool te bestuur.
KAN MIV-POSITIEWE LEERDERS UITGESLUIT WORD BY 'N SKOOL?
Nee. Die Grondwet sê almal het 'n reg op gelykheid en dat kinders 'n reg het op basiese onderwys. Die nasionale beleid bepaal ook dat daar nie teen enige leerder onregverdig gediskrimineer mag word nie en dat hulle nie toegang tot 'n skool geweier mag word op grond van hulle MIV-status nie.
MAG LEERDERS MET MIV ANDERS BEHANDEL WORD AS ANDER LEERDERS?
Leerders met MIV behoort nie die geleentheid ontsê te word om hulle volle potensiaal te bereik nie. Hulle behoeftes behoort voor voorsiening gemaak te word sovêr dit redelik moontlik is binne die skoolomgewing, of deur tuisonderrig, indien nodig. Enige spesiale maatreëls wat getref word, moet regverdig, medies verantwoordvaar en na samesprekings met die leerder en die ouer ingestel word.
MAG 'N SKOOL INLIGTING EIS OOR 'N LEERDER SE MIV-STATUS?
Nee. Alle mediese inligting is vertroulik en nóg ouers, nóg leerders het 'n wetlike plig om die skoolowerhede in te lig oor 'n leerder se MIV-status. As die inligting vrywillig bekend gemaak word, moet dit vertroulik bly.
KAN SKOLE GEREELD LEERDERS VIR MIV TOETS?
Daar is geen mediese of wetenskaplike regverdiging vir gereelde MIV-toetse op leerders nie. Die toets van leerders vir MIV as 'n voorvereiste vir toelating of voorgesette bywoning word in die Nasionale Beleid verbied.
KAN SKOLE LEERDERS VIR MIV TOETS SONDER HULLE TOESTEMMING?
Niemand mag sonder sy of haar toestemming getoets te word nie.
HOE BEHOORT SKOLE DIE GEVAAR VAN DIE OORDRAG VAN MIV IN DIE SKOOLOMGEWING TE VERHOED?
MIV kan nie oorgedra word deur dag-tot-dag sosiale kontak nie. Hoewel die gevaar van MIV-oordrag in die skool onbeduidend is, behoort alle skole universele voorkomingsmaatreëls in te stel om die verspreiding te keer van alle besmettings wat oorgedra word deur bloed, waaronder MIV. Die maatreëls is onder meer:
Alle bloed en liggaamsvloeistowwe behoort mee gewerk te word asof dit besmet is met MIV en met uiterste sorg hanteer word.
Latekshandskoene moet deur almal gedra te word wat help by ongelukke waar bloed gestort is.
Alle wonde moet onmiddellik met water en 'n ontsmetmiddel skoongemaak word en met 'n waterdigte verband bedek word.
Oppervlaktes wat met bloed besmet is moet met 'n bleikmiddeloplossing skoongemaak word.
Alle skole moet 'n minimum van twee Noodhulpkissies beskikbaar en binne bereik hê.
Latekshandskoene behoort in elke klaskamer en by elke sportbyeenkoms beskikbaar te wees.
Alle leerders en opvoeders behoort inligting te kry oor hoe om bloedstortings te hanteer.
WAT VAN DIE GEVAAR VAN MIV-OORDRAG DEUR KONTAKSPORT?
Die gevaar dat MIV-oordrag deur kontaksport sal gebeur is onbeduidend. Maar as enige bloeding sou voorkom, moet die beseerde speler onmiddellik van die veld afgeneem en behandel te word. Die speler kan weer begin speel wanneer die wond deeglik bedek en vuil klere omgeruil is. Leerders en afrigters met MIV moet mediese berading kry voordat hulle aan kontaksport deelneem.
HET LEERDERS 'N REG OM ONDERRIG TE WORD OOR MIV EN VIGS?
Ja. Die Nasionale Beleid bepaal dat 'n voortgesette MIV- en vigs-opvoedingsprogram by alle skole ingestel behoort te word. Dit behoort ingeskakel te word by 'n Lewensvaardighedeprogram en behoort van pas en akkuraat te wees. Ouers behoort ingelig te word oor die program.
MAG KONDOME BY SKOLE UITGEREIK WORD?
Die Nasionale Beleid gee toe dat dit 'n ingewikkelde saak is en stel voor dat kwessies soos dié opgelos moet word met in aanmerking van die behoeftes en waardes van die spesifieke skoolgemeenskap.
WAT VAN ONDERWYSERS EN ANDER PERSONEEL?
Die Nasionale Beleid oor MIV en vigs is op beide leerders en onderwysers van toepassing. Dit beteken dat personeel in 'n opvoedkundige omgewing nie mag:
getoets word vir MIV sonder hulle toestemming nie.
getoets word vir MIV as 'n voorvereiste vir aanstelling of voortgesette diens nie.
gedwing word om hulle MIV-status te onthul nie.
afgedank of gedemoveer word weens hulle MIV-status nie.
op enige manier teen gediskrimineer te word weens hulle MIV-status nie.
Dit stem ooreen met die billike arbeidspraktyke wat uiteengesit word in die Wet op Arbeidsverhoudinge en die Wet op Billike Indiensneming.
WAT BEHOORT GEDOEN TE WORD AS IEMAND WEIER OM SAAM MET 'N PERSOON MET MIV TE WERK, STUDEER OF ONDERRIG TE GEE?
Akkurate inligting moet gegee word aan leerders, opvoeders en ouers. Dit behoort opgevolg te word met berading, indien nodig. Die situasie behoort deur die skoolhoof beredder te word, indien nodig met die hulp van die beheerraad.
Jou skool MIV- en vigsbeleid behoort riglyne in te sluit oor die volgende:
Nie-diskriminasie
Toelatingsbeleid
Bestuur van MIV en vigs
Weiering om saam met 'n persoon wat MIV het te studeer, werk of onderrig te word
WIE BEHOORT BETROKKE TE WEES BY DIE OPSTEL VAN 'N SKOOLBELEID?
Die beheerraad van die skool behoort hulle eie beleid op te stel en aan te pas, na samesprekings met die breër skoolgemeenskap. Dit kan gedoen word deur die stig van 'n Gesondheidsraadgewende Komitee vir die skool. Die beleid mag nie afwyk van die basiese beginsels in die Nasionale Beleid nie en behoort daarna te streef om 'n omgewing te skep waarin mense met MIV behandel sal word op 'n regverdige, menslike en lewens-bevestigende manier.
SKAKEL VIR MEER INLIGTING MET:
Tel: 021 467 2124
Besoek asseblief die Nasionale Departement van Onderwys se webwerf vir die MIV- en Vigsriglyne vir Opvoeders(in Engels, Afrikaans, isiXhosa) en die Nasionale Beleid oor MIV en Vigs (Wet 27 van 1996)
Ander nuttige webwerwe:
