F 
Vrae wat Huurders Dikwels Vra
Vrae wat Huurders Dikwels Vra uOktobha 2005
Inligting oor die regte en pligte van mense wat wooneiendom huur van 'n eienaar of verhuringsagent.
Moet ek 'n Huurkontrak Aangaan met die Verhuurder?
Watter Inligting moet op 'n Geskrewe Huurkontrak wees?
Moet ek 'n Deposito Betaal?
Wat gebeur met my Deposito terwyl ek in die Eiendom Woon?
Watter Onderhoudswerk moet die Verhuurder Doen?
Wat kan ek Doen as die Verhuurder Weier om die Instandhouding te Doen wat Beloof is?
Kan die Verhuurder die Eiendom Sonder my Toestemming Binnekom?
Kan die Verhuurder die Huur na Willekeur Verhoog?
Met hoeveel kan die verhuurder die huur verhoog wanneer ek die huurkontrak hernu?
Wat kan ek doen as die verhuurder sê ek het nie die huur betaal nie as ek het?
Kan die Verhuurder beslag lê op my besittings as ek agter raak met my huur?
Hoe ek kan my huurkontrak vroeg beëindig?
My huurkontrak het 'n paar maande gelede verstryk. Hoeveel kennis moet ek gee voordat ek kan uittrek?
Kan die verhuurder my uitsluit?
Kan die verhuurder weier om my deposito terug te gee?
Onder watter wette val huurooreenkomste?
Wie kan my help as ek probleme het met die verhuurder?
Hoe gaan ek te werk met die indien van 'n klagte by die Huurbehuisingstribunaal?
Hoe kan ek in verbinding tree met die Wes-Kaapse Huurbehuisingstribunaal?
MOET EK 'N HUURKONTRAK AANGAAN MET DIE VERHUURDER?
n Mondelingse ooreenkoms is net so bindend soos 'n geskrewe huurkontrak. Maar as 'n geskrewe huurkontrak vereis word voordat jy die eiendom kan betrek en jy weier om dit te onderteken, is daar geen ooreenkoms nie en kan jy nie wettig in die eiendom intrek nie.
As jy 'n eiendom 'n tyd lank op 'n mondelingse basis gehuur het en die verhuurder vra jou dan om 'n huurkontrak te reken, hoef jy nie 'n huurkontrak te teken wat voorwaardes bevat wat verskil van die mondelingse ooreenkoms nie. Die verhuurder sal eerder met jou oor nuwe voorwaardes moet onderhandel en jou sover moet kry om in te stem.
Onthou, dit is altyd beter vir beide van julle om 'n geskrewe ooreenkoms te hê, wat die bepalinge en voorwaardes van die ooreekoms uiteensit. Dit sal baie help om later geskille te voorkom.
WATTER INLIGTING MOET OP 'N GESKREWE HUURKONTRAK WEES?
Jou naam
Die verhuurder se naam
Jou posadres
Die verhuurder se posadres
Die adres van die eiendom wat verhuur word
Die bedrag waarvoor jy dit sal huur
Met hoeveel die huur sal styg (byvoorbeeld met 10 persent wanneer die huurkontrak hernu word)
Wanneer die huur verhoog sal word (byvoorbeeld as daar 'n diensgeldverhoging is)
Hoe dikwels die huur betaal moet word (byvoorbeeld maandeliks)
Hoeveel die deposito is, indien enige
Jou en die verhuurder se verpligtinge (Byvoorbeeld, wie is verantwoordelik vir onderhoud? Wie betaal die water-, elektrisiteit- en diensgeldrekeninge? Gewoonlik betaal die huurder die geld wat met verbruik verband hou, soos water en elektrisiteit, en die verhuurder betaal die geld wat verband hou met die eiendom, soos diensgeld)
Die voorwaardes waaronder of jy, of die verhuurder jou kennis kan gee om die kontrak te kanselleer (byvoorbeeld, as spesifieke onderhoudswerk nie gedoen word nie, of as die huurder agterstallig is met die huur)
Die Huisreëls, onderteken deur albei van julle, moet aangeheg wees aan die huurkontrak.
n Lys defekte, opgestel by 'n gesamentlike inspeksie wanneer jy intrek en deur altwee van julle onderteken, moet ook aan die huurkontrak geheg word.
MOET EK 'N DEPOSITO BETAAL?
Ja, as die verhuurder een vra en dit in die huurkontrak ingeskryf is. As die voorwaardes van jou oorspronklike ooreenkoms, of dit mondelings of geskrewe is, nie 'n deposito ingesluit het nie, hoef jy nie een te betaal as die verhuurder jou later vra om dit te doen nie. Veranderings aan 'n ooreenkoms is net geldig as beide jy en die verhuurder daartoe instem.
WAT GEBEUR MET MY DEPOSITO TERWYL EK IN DIE EIENDOM WOON?
Die verhuurder of sy agent moet die deposito inbetaal in 'n rekening wat rente verdien (of 'n trustrekening, in die geval van 'n agent) vir die tydperk wat jy in die eiendom woon. Die volle depositobedrag, plus die rente wat verdien is, moet dan aan jou terugbetaal word wanneer jy uittrek, minus die koste van skade wat deur jou aangerig is en enige geld wat jy dalk nog kragtens die kontrak aan die verhuurder skuld.
WATTER ONDERHOUDSWERK MOET DIE VERHUURDER DOEN?
Dit hang af wat jou kontrak bepaal. Gewoonlik hou die verhuurder die buitekant van 'n eiendom in stand en die verhuurder die binnekant..
WAT KAN EK DOEN AS DIE VERHUURDER WEIER OM DIE DINGE IN STAND TE HOU WAT BELOOF IS?
Dien 'n klag in by die Huurbehuisingstribunaal.
KAN DIE VERHUURDER DIE EIENDOM SONDER MY TOESTEMMING BINNEKOM?
Die verhuurder het die reg om die eiendom binne te kom om roetine-inspeksies en sulke dinge te doen, maar eers nadat jy betyds laat weet is en 'n tyd gereël is wat jou pas. Jy het nie die reg om redelike toegang te weier nie.
KAN DIE VERHUURDER DIE HUUR WILLEKEURIG VERHOOG?
Nee, die huurkontrak of mondelingse ooreenkoms bepaal wanneer en met hoeveel die huur verhoor kan word. As die ooreenkoms nie 'n bedrag of 'n datum vir 'n verhoging bepaal nie, moet die verhuurder oor die verhoging met jou onderhandel. Nie jy of die verhuurder kan veranderings aan die oorspronklike ooreenkoms aanbring sonder om dit eers met die ander party te bespreek nie.
MET HOEVEEL KAN DIE VERHUURDER DIE HUUR VERHOOG WANNEER EK DIE HUURKONTRAK HERNU?
Dit hang af van die hernuwingsvoorwaardes in die ooreenkoms. As die ooreenkoms nie 'n redelike verhoging bepaal nie, moet die verhuurder oor 'n aanvaarbare huur met jou onderhandel.
WAT KAN EK DOEN AS DIE VERHUURDER Sê EK HET NOG NIE DIE HUUR BETAAL NIE EN EK HET?
Dit is jou verantwoordelikheid om seker te maak dat die verhuurder die huur kry, so dit hang van jou af om seker te maak dat jy 'n bewys van betaling verskaf (byvoorbeeld, 'n bankdepositostrokie). As jy nie kan nie, sal die verhuurder jou kennis kan gee kragtens die ooreenkoms en 'n hofbevel kry vir uitsetting.
Dit is jou reg, kragtens die Huurbehuisingswet (Wet 50 van 1999), om aan te dring op 'n kwitansie vir alle betalings as die verhuurder nie outomaties vir jou een gee nie. 'n Kwitansie moet die volgende inligting bevat:
Die datum van uitreiking
Die adres van die eiendom waarvoor die betaling gemaak word
Die rede vir die betaling (of dit huur is, 'n agterstallige bedrag of 'n deposito)
Die tydperk van die betaling (byvoorbeeld, die maand waarvoor die huur betaal word). As die verhuurder weier om vir jou 'n kwitansie te gee, dien 'n klagte in by die Huurbehuisingstribunaal.
KAN DIE VERHUURDER BESLAG Lê OP MY BESITTINGS AS EK AGTER RAAK MET MY HUUR?
n Hofbevel moet eers verkry word. Dan sal die Balju van die Hof beslag lê op jou eiendom in ooreenstemming met die geld wat jy skuld. As die verhuurder beslag lê op jou besittings sonder 'n hofbevel is dit diefstal en moet jy met die Suid-Afrikaanse Polisiediens in verbinding tree en 'n klag indien by die Huurbehuisingstribunaal.
HOE KAN EK MY HUURKONTRAK VROEG BEëINDIG?
Dit hang af van die kansellasieklousule in jou ooreenkoms. As daar nie so 'n klousule is nie, is die enigste manier waarop jy jou huurkontrak vroeg kan beëindig sonder om kontrakbreuk te pleeg, as die verhuurder daartoe instem of as die verhuurder die kontrak wesenlik verbreek (deur byvoorbeeld nie die buitekant van die eiendom in stand te hou nie, soos ooreengekom in die kontrak, en dit dit vir jou onmoontlik maak om in die eiendom te bly. Maar jy sal dit egter moet bewys).
As die verhuurder voldoen het aan al die voorwaardes van die huurkontrak, kan jy steeds die huurkontrak vroeg beëindig, maar dan sal jy self die kontrak verbreek. Dit beteken dat die verhuurder die uitstaande bedrag wat jy vir die res van die huurtydperk skuld kan eis, en jy kan jou deposito verloor.
Praat met die verhuurder voordat jy iets doen: baie is gewillig om onderverhuring toe te laat of om die huurkontrak te beëindig na 'n paslike kennistydperk, mits jy 'n gepaste huurder kry om die kontrak oor te neem. As die verhuurder instem om die kontrak vroeg te beëindig, maak seker dat dit op skrif gestel word en dat die bepalings en voorwaardes van die beëindiging uitgespel word.
MY HUURKONTRAK HET 'N PAAR MAANDE GELEDE VERSTRYK. HOEVEEL KENNIS MOET EK GEE VOORDAT EK KAN UITTREK?
Gaan jou vorige huurkontrak na om te sien wat die hernuwingsklousule sê wat bepaal hoeveel kennis jy in sulke omstandighede moet gee.
As daar nie so 'n klousule is nie, het die twee van julle, deur julle optrede effektief die vorige huurkontrak verleng, met dieselfde bepalings en voorwaardes, en vir die volle tydperk wat in die oorspronklike ooreenkoms aangegee word. Dit beteken dat jy jou sal moet beroep op die kansellasieklousule in die oorspronklike huurkontrak, as daar een is, om uit die ooreenkoms te kom.
Sonder 'n kansellasieklousule sou die beste manier om uit die kontrak te kom gewees het om die verhuurder 'n maand se geskrewe kennis te gee voordat die huurkontrak verstryk het. (So, as jy die einde van 'n 12-maande huurkontrak nader, behoort jy aan die einde van die elfde maand die verhuurder skriftelik te laat weet.)
KAN DIE VERHUURDER MY UITSLUIT?
Nee. Die verhuurder moet onmiddellik vir jou 'n duplikaatsleutel gee as die slotte verander word weens slytasie of 'n ander redelike oorsaak.
KAN DIE VERHUURDER WEIER OM MY DEPOSITO TERUG TE GEE?
n Deposito dek enige geld wat jy dalk nog die verhuurder skuld, en/of die koste van herstelwerk weens enige skade aan die eiendom, wat normale slytasie oorskrei, wat jy veroorsaak het.
As die verhuurder jou deposito terughou en jou nie bewyse kan gee van die uitgawes wat aangegaan is nie, behoort jy 'n klagte in te dien by die Huurbehuisingstribunaal.
Om dit te verhoed, moet jy die volgende stappe doen:
Inspekteer wanneer jy intrek saam die eiendom en maak 'n geskrewe lys van enige bestaande defekte. Beide van julle moet die dokument onderteken en dit moet aangeheg word aan die huurkontrak.
Inspekteer wanneer jy uittrek weer die eiendom saam. Vergelyk die nuwe lys defekte met die lys wat vroeër gemaak is.
Jy kan die kans gegee word om die skade self te herstel, of jy kan instem dat die verhuurder dit sal doen. As die verhuurder die herstelwerk doen, het jy die reg om alle kwitansies te sien vir herstelwerk wat uit die deposito gedoen is.
As die herstelwerk minder kos as die deposito plus die rente wat verdien is, sal die verhuurder jou met die verskil moet vergoed.
Skakel die Huurbehuisingstribunaal as jy probleme het.
ONDER WATTER WETTE VAL HUUROOREENKOMSTE?
Huurbehuisingswet (Wet 50 van 1999)
Kontrakwette
Gemene Reg
Grondwet
WIE KAN MY HELP AS EK PROBLEME MET DIE VERHUURDER HET?
Die Huurbehuisingstribunaal.
HOE GAAN EK TE WERK MET DIE INDIEN VAN 'N KLAGTE BY DIE HUUBEHUISINGSTRIBUNAAL?
Vul die klagtevorm op die blad in en faks, pos of lewer dit per hand af by die Trubunaal.
HOE KAN EK IN VERBINDING TREE MET DIE WES-KAAPSE HUURBEHUISINGSTRIBUNAAL?
Elke huurooreenkoms en huursituasie is verskillend. As jy vermoed dat die verhuurder onwettig optree, raadpleeg die Wes-Kaapse Huurbehuisingstribunaal of 'n prokureur.
Tel:
Faks:
Posadres:
Fisiese Adres:
Departement van Plaaslike Regering en Behuising
