100-dae Depositos: 'n Vooruitstrewende Tuiste vir Almal
-dae Depositos: 'n Vooruitstrewende Tuiste vir Almal
Ondernemerskap is in die eerste 100 dae aangewakker deur:
Bykomende finansiering vir die Ware Ondernemerskap Ontwikkelingsfonds (RED)
Die stigting van die ondernemerskap "Broeikas"-projek
Steun vir agrisake- en toerismeprojekte
DIE WARE ONDERNEMERSKAP ONTWIKKELINGSFONDS (RED)
Toegang tot finansiering is een van die grootste probleme waarmee kleinsake te doen kry. Finansiële instellings stel streng vereistes vir lenings, wat dikwels sekuriteit, soos vaste eiendom, insluit.
Tog het entrepreneurs en potensiële entrepreneurs dikwels min bronne en niks om as waarborg vir 'n lening aan te bied nie. Die gebrek aan finansiering is 'n groot struikelblok in die ontwikkeling van nuwe klein, medium en mikro-ondernemings (KMMO's).
Die Departement van Finansies, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme se mikpunt is dus om oor die volgende drie jaar elke jaar minstens R50 miljoen in te samel om 'n leningsfonds (wat as RED-finansiering bekend staan) daar te stel. Dit sal finansiering aan KMMO's verskaf wat nie voldoen aan die gewone maatstawwe vir lenings van hoofstroom banke en finansiële instellings nie, maar 'n lewensvatbare sakeplan het. Minister Lynne Brown het in die eerste 100 dae altesaam R35 miljoen vir die Red-finansieringsfonds ingesamel.
n Voorvereiste vir 'n lening van Red-finansiering is dat die begunstigdes moet deelneem aan 'n volledige mentorskap en vaardigheid-ontwikkelingsprogram wat vir nuwe ondernemings en entrepreneurs ontwikkel is. Dit sal die ondernemings wat finansier word help om volhoubaar te wees - en dus ook in staat te wees om hulle lenings terug te betaal.
Die Departement sal ook 'n intensiewe veldtog voer om finansiële instellings aan te moedig om hulle standaarde aan te pas sodat meer KMMO's toegang tot konvensionele lenings kan kry.
DIE ONDERNEMERSKAP "INKUBASIE"-PROJEK
Kenners beraam dat ongeveer sewe uit elke twaalf nuwe Suid-Afrikaanse ondernemings nie slaag nie. Hoewel dit deels toegeskryf kan word aan onvoldoende finansiering, kan 'n gebrek aan mentorskap en steun ook 'n belangrike rol speel.
Om iets aan die probleem te doen het verteenwoordigers van die Wes-Kaap se vier maatskaplike vennote, Gemeenskap, Arbeid, Sake en Regering, in November 2003 op die Provinsiale Groei- en Ontwikkelingspitsberaad besluit om met 'n proefprogram te begin om 100 bestaande klein, medium en mikro-ondernemings te help deur intensiewe mentorskap en steun - wat "inkubasie" genoem word.
Die loodsprogram is op 11 Augustus 2004 deur die Minister van Finansies, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Lynne Brown bekend gestel. Sowat 118 ondernemings uit alle dele van die provinsie is gekies om aan die projek deel te neem. Byna 'n derde van hulle word deur vroue, en 'n kwart deur jongmense, besit, terwyl 17% op die platteland is.
Die Departement sal R1,2 miljoen aan mentorskap en steun vir die ondernemings bestee. Elke onderneming sal vir 'n onbepaalde tydperk 'n sakementor kry. Die Nasionale Produktiwiteitsinstituut word ook aangestel om elke onderneming te ontleed. Die NPI sal dan 'n verslag opstel met 'n aanbeveling vir elke indiwiduele onderneming, en sal ook algemene behoeftes uitwys.
Die proses sal ongeveer twee maande duur. Die Departement sal dan tenders aan diensverskaffers toeken wat in staat is om aan die algemene behoeftes te voldoen.
STEUN VIR AGRISAKE EN TOERISMEPROJEKTE
Die Departement van Finansies, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme bestee R10 miljoen aan agrisakeprojekte oor die hele provinsie, soos die Premier belowe het. Byna R6 miljoen is ook aan 'n toerismeprojek toegeken.
Die agrisakeprojekte is vroegtydig uitgeken op grond van die maatstawwe van die Ikapa Agrisakefonds, wat die stig van nuwe en ekonomies-lewensvatbare agri-verwerkingsondernemings in benadeelde gemeenskappe ten doel het.
Aspersies (Sentrale Karoo)
Plattelandse Produkbemarkingsdienste
Streeksmoontlikhede Ondersoek
Waterkwekery Kruieplaas (Sentrale Karoo)
Fynbos Uitvoerinisiatief
Fynbos Sertifiseringsprojek
Rooibos Intellektuele Eiendomsregte
Projekte soos die ontwikkeling van die Marikultuur Instituut, die Fynbos
Uitvoerinisiatief, die Fynbos Sertifiseringsprojek, en Plattelandse
Produkbemarkingsdienste en die Streeksmoontlikhede Ondersoek is alles maniere waarop die ekonomiese grondslag van die Wes-Kaap verbreed sal word en wat die uitvoerpotensiaal van die landboubedryf sal verhoog.
Die Geïntegreerde Toerisme Entrepreneurskap Steunprogram (GTESP) gee volledige steun aan toerisme KMMO's, wat toegang tot kapitaal, vaardighede en markte insluit. Die doel met die program is om die uitdagings wat transformasie in toerisme in die wiele ry die hoof te bied en demografiese verspreiding van eienaarskap in die bedryf in die provinsie te bevorder.
n Bedrag van R4-miljoen is vir die 2004/2005 boekjaar begroot, en die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika (OBSA) het nog R1,85 miljoen aan die projek toegeken. Ongeveer 36 KMMO's sal voordeel uit die program trek en 22 van hulle is reeds aangewys.
Terug na 100 Dae Depositos: Rapport
