ALGEMENE KENNISGEWING
KENNISGEWING VAN 2009
DEPARTEMENT VAN JUSTISIE EN STAATKUNDIGE ONTWIKKELING
PUBLIKASIE VAN DIE WETSONTWERP OP DIE BESKERMING TEEN TEISTERING
Die Minister van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling nooi belanghebbende partye uit om enige kommentaar wat hulle mag hê op die Wetsontwerp op die Beskerming teen Teistering soos uiteengesit hieronder, te lewer. Enige persoon wat kommentaar op die Wetsontwerp wens te lewer word uitgenooi om skriftelike kommentaar voor of op 15 Junie 2009 aan die Minister van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling te lewer. Kommentaar moet gemerk word vir die aandag van S J Robbertse en -
a indien dit per pos aangestuur word, as volg geadresseer word:
Die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling
Privaatsak X81
PRETORIA
b indien dit per hand afgelewer word, dit afgelewer word by -
Momentum Gebou
PRETORIA
c indien dit per E-pos aangestuur word, dit aangestuur word na srobbertse@justice.gov.za d indien dit gefaks word, dit gefaks word na 086 648 3326.
Die volgende agtergrondsinligting word verskaf:
Die Wetsontwerp spruit voort uit 'n ondersoek deur die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie (SAR) oor agtervolgingsgedrag. Die SAR se verslag oor die aangeleentheid bevat wetgewende voostelle (Projek 130). Volgens die SAR mag die huidige siviele reg-raamwerk, naamlik 'n interdik, en die strafreg-raamwerk, naamlik die bestraffing van teisterende optrede as 'n misdryf of die verbieding daarvan deur middel van 'n oplegging van verpligting om vrede te bewaar kragtens artikel 384 van die Strafproseswet, 1955 (Wet No. 56 van 1955), nie voldoende toevlug bied aan slagoffers van agtervolgings wat nie in 'n gesinsverhouding is nie. Die SAR is daarom van mening dat wetgewing verorden behoort te word om spesifiek vir 'n remedie teen agtervolging voorsiening te maak. Die Wetsonterp wat deur die SAR voorgestel word, beoog primêr om hierdie soort optrede aan te spreek deur middel van 'n hofbevel, waarvolgens die teisteraar verbied word om met die teisterende handeling voort te gaan, en indien dit oortree sou word, dit strafbaar sou wees as 'n misdryf.
Die Wetsontwerp wat deur die SAR voorgestel is, is aangepas om dit in lyn te bring met wetsopstellingsnorme en -standaarde. Behalwe hierdie tegniese wysigings, word 'n aantal substantiewe wysigings voorgestel. Hulle word hieronder behandel:
i Klousule 12 maak dit duidelik dat alhoewel 'n klaer `n remedie teen teistering of agtervolging kragtens die Wet op Gesinsgeweld, 1998, kan verkry, niks sodanige persoon verhoed om beskerming teen teistering kragtens hierdie Wetsontwerp aansoek te doen nie.
ii Klousule 33a en 4 en 65 vereis van 'n hof, wanneer 'n beskermingsbevel uitgereik word, om die persoon te identifiseer wat die bevel aan die respondent moet beteken en om dié persoon te beveel om dienooreenkomstig te handel. Nie-nakoming kan aanleiding gee dat die persoon aan minagting van die hof skuldig bevind kan word, soos voor voorsiening gemaak word in klousule 152. Die rede vir hierdie benadering is om die werklike uitdagings wat ondervind word in die toepassing van die Wet op Gesinsgeweld, 1998, waar beskermingsbevele uitgereik kragtens daardie Wet dikwels nie die respondent bereik nie, en grootliks daartoe bydra dat die toepassing van dié Wet by baie geleenthede oneffektief is, aan te spreek.
iii Klousule 4 voeg bepalings in wat 'n meganisme daar sal stel waarkragtens getuies gedagvaar kan word om hofverrigtinge by te woon. Aangesien daar geen soortgelyke bepalings in die Wet op Gesinsgeweld, 1998, is nie, maak die Bylae by die Wetsontwerp 'n soortgelyke invoeging in daardie Wet.
iv Klousule 5 voeg 'n bepaling in wat die hof 'n diskresie gee om verrigtinge in camera te hou as dit nodig sou wees. Die Wet op Gesinsgeweld, 1998, vereis dat alle verrigtinge kragtens daardie Wet in camera gehou moet word omdat dit handel met partye wat in 'n gesinsverhouding is. Soos reeds aangedui, beoog die Wetsontwerp om primêr te handel met partye wat nie noodwendig in 'n gesinsverhouding is nie, en die universeel aanvaarde beginsel dat ope hof-verrigtinge van toepassing behoort te wees, tensy die hof anders beveel in die belang van regspleging.
v Die Wetsontwerp van die SAR bevat 'n bepaling waarkragtens die hof die bevoegdheid verleen word om te beveel dat 'n respondent waargeneem en, indien nodig, onderwerp kan word aan psigiatriese of sielkundige behandeling of rehabilitasie soos die hof goeddink, op Staatsonkoste. Hierdie bepaling is weggelaat as gevolg van die finansiële implikasies wat dit vir die Staat inhou. Nie die Wet op Gesinsgeweld, 1998, of die Wysigingswet op die Strafreg Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede, 2007, bevat 'n soortgelyke bepaling nie.
vi Klousule 72 verleen aan 'n hof die bevoegdheid, bykomend by die voorwaardes wat dit kan oplê kragtens klousule 72a en b, om te gelas dat 'n teisteringsgeval deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens ondersoek word met die oogmerk om moontlike strafregtelike vervolging in te stel.
vii Wysigings aan artikel 384 van die Strafproseswet, 1955 die voorganger van die huidige Starfproseswet, 1977, word voorgestel. Slegs 'n paar artikels van hierdie 1955- Wet is nog van krag, ondermeer, artikel 384 wat handel oor 'n oplegging van 'n verpligting om die vrede te bewaar. Daar was kommentare gedurende die ondersoek van die SAR oor agtervolging oor hierdie bepaling, ondermeer dat dit dienstig mag wees om die bepaling se doeltreffendheid uit te brei deur middel van 'n paar kleinere wysigings. Die doel is om kommentaar uit te lok oor die wysigings wat aan hierdie bepaling deur die Departement voorgestel word en wat vervat is in die Bylae by die Wetsontwerp.
Benewens kommentaar op die Wetsontwerp voorgestel deur die SAR, sal spesifieke kommentaar op die aangeleenthede geïdentifiseer in paragrawe (i) tot (vii), hierbo, ook waardeer word.
WETSONTWERP OP DIE BESKERMING TEEN TEISTERING
Soos goedgekeur en aanbeveel deur die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie en aangepas deur die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling
Die Engelse teks is die offisiële teks van die Wetsontwerp
MINISTER VAN JUSTISIE EN STAATKUNDIGE ONTWIKKELING
WETSONTWERP
Om voorsiening te maak vir die uitreiking van beskermingsbevele teen teistering; om die Strafproseswet, 1955, te wysig ten einde voorsiening te maak vir die verhoging van die bedrag wat deur 'n landdros vasgestel kan word ten opsigte van 'n verpligting om die vrede te bewaar; om gevolgswysigings aan die Strafproseswet, 1977, aan te bring; om die Wet op die Voorkoming van Gesinsgeweld, 1998, te wysig ten einde voorsiening te maak vir 'n meganisme om getuies te dagvaar om verrigtinge kragtens daardie Wet by te woon; om gevolgswysigings aan die Wet op Beheer van Vuurwapens, 2000, aan te bring; en om voorsiening te maak vir aangeleenthede wat daarmee in verband staan.
AANHEF
NADEMAAL die Handves van Regte in die Grondwet van die Republiek van Suid Afrika, 1996, die regte van alle mense in die Republiek van Suid Afrika verskans, met inbegrip van die reg op gelykheid, die reg op privaatheid, die reg op menswaardigheid, die reg op vryheid en sekerheid van persoon wat die reg om vry te wees van alle vorme van geweld van of publieke of private bronne insluit, en die reg van kinders om hulle beste belange as van deurslaggewende belang oorweeg te laat word;
IS DIT DIE DOEL van hierdie Wet om slagoffers van teisterende optrede van 'n effektiewe remedie kragtens siviele reg te voorsien en om maatreëls in te stel wat streef om die betrokke staatsorgane in staat te stel om ten volle gevolg te gee aan die bepalings van hierdie Wet.
DAAR WORD BEPAAL deur die Parlement van die Republiek van Suid-Afrika, soos volg:--
Woordomskrywing
 In hierdie Wet, tensy uit die samehang anders blyk, beteken--
i "balju" 'n balju ingevolge artikel 21 van die Wet op Balju's, 1986 Wet No. 90 van 1986, aangestel, of 'n waarnemende balju ingevolge artikel 51 van daardie Wet aangestel;
ii "gevaarlike wapen" enige wapen soos omskryf in artikel 1 van die Wet op Gevaarlike Wapens, 1968 Wet No. 71 van 1968;
iii "hierdie Wet" ook die regulasies;
iv "hof" 'n hof bedoel in die Wet op Landdroshowe, 1944 Wet No. 32 van 1944;
v "kind" iemand onder die ouderdom van18 jaar;
vi "klaer" enigiemand wat beweer dat hy of sy aan teistering onderwerp word;
vii "klerk van die hof" 'n klerk van die hof ingevolge artikel 13 van die Wet op Landdroshowe, 1944 Wet No. 32 van 1944, aangestel, met inbegrip van 'n assistent-klerk van die hof aldus aangestel;
viii "leed" geestelike, psigologiese of fisiese leed of beskadiging van eiendom;
ix "lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens" enige lid soos omskryf in artikel 1 van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens, 1995 Wet No. 68 van 1995;
x "respondent" enigiemand teen wie verrigtinge kragtens hierdie Wet ingestel is;
xi "teistering" die regstreekse of onregstreekse meedoen aan gedrag wat leed veroorsaak of 'n redelike geloof inboesem dat leed veroorsaak kan word aan die klaer of 'n verwante persoon deur die onredelike--
a agtervolging, dophou, najaging of lastigvalling van die klaer of 'n verwante persoon, of rondslenter buite of naby die gebou of plek waar die klaer of verwante persoon woon, werk, besigheid bedryf, studeer of hom of haar bevind;
b meedoen aan verbale, elektroniese of enige ander kommunikasie wat aan die klaer of 'n verwante persoon gerig is op enige wyse, ongeag of 'n gesprek daaruit voortvloei of nie; of c stuur, aflewering of reël van aflewering van briewe, telegramme, pakkette, faksimilees, elektroniese pos of ander voorwerpe aan die klaer of verwante persoon of te laat waar dit gevind kan word deur, gegee kan word aan of tot die aandag van die klaer of verwante persoon gebring kan word;
xii "verwante persoon" enige lid van die familie of huishouding van die klaer, of enige ander persoon in 'n noue verwantskap tot die klaer;
xiii "voorskryf" by 'n regulasie kragtens artikel 16 van hierdie Wet voorskryf;
xiv "vredesbeampte" 'n vredesbeampte soos omskryf in artikel 1 van die Strafproseswet, 1977 Wet No. 51 van 1977; en xv "wapen" enige vuurwapen of enige handwapen of 'n windgeweer of ammunisie soos omskryf in artikel 11 van die Wet op Beheer van Vuurwapens, 2000 Wet No. 60 van 2000.
Niks in hierdie Wet belet iemand wat aansoek kan doen om regshulp teen teistering of agtervolging ingevolge die Wet op Gesinsgeweld, 1998 Wet No. 116 van 1998, om vir regshulp ingevolge hierdie Wet aansoek te doen nie.
Aansoek om beskermingsbevel
 'n Klaer kan op die voorgeskrewe wyse by die hof om 'n beskermingsbevel teen teistering aansoek doen.
Indien die klaer of iemand bedoel in subartikel 3, nie deur 'n regsverteenwoordiger verteenwoordig word nie, moet die klerk van die hof die klaer of persoon op die voorgeskrewe wyse inlig van--
a die regshulp wat ingevolge hierdie Wet beskikbaar is; en b die reg om ook 'n kriminele aanklag teen die respondent van crimen injuria, aanranding, betreding, afpersing of enige ander misdryf wat verband hou met die persona of eiendom van die klaer aanhangig te maak.
a Ondanks die bepalings van enige ander wet, kan die aansoek vir 'n beskermingsbevel, behoudens paragraaf b, ten behoewe van die klaer gebring word deur enige ander persoon wat 'n wesenlike belang in die welstand van die klaer of verwante persoon het.
b 'n Aansoek bedoel in paragraaf a moet met die skriftelike toestemming van die klaer gebring word, behalwe in omstandighede waar die klaer iemand is wat, volgens die mening van die hof, nie in staat is om dit te doen nie.
Ondanks die bepalings van enige ander wet, kan 'n minderjarige, of iemand ten behoewe van 'n minderjarige, sonder die bystand van 'n ouer, voog of enige ander persoon by die hof om 'n beskermingsbevel aansoek doen.
Die aansoek in subartikel 1 bedoel, kan buite gewone hof-ure of op 'n dag wat nie 'n gewone hofdag is nie gedoen word, indien die hof oortuig is dat die klaer of verwante persoon leed aangedoen word of aangedoen kan word indien die aansoek nie onmiddellik gehanteer word nie.
Ondersteunende beëdigde verklarings deur persone wat kennis van die betrokke geval dra, kan die aansoek vergesel.
Die aansoek en beëdigde verklarings moet by die klerk van die hof ingedien word, wat die aansoek en beëdigde verklarings onverwyld aan die hof moet voorlê.
Oorweging van aansoek en uitreiking van tussentydse beskermingsbevel
 Die hof moet 'n aansoek wat ingevolge artikel 2 aan hom voorgelê is so gou as wat redelikerwys moontlik is, oorweeg en kan, vir daardie doel, enige bykomende getuienis wat hy goeddink, oorweeg, met inbegrip van mondelinge getuienis of getuienis by wyse van beëdigde verklaring, wat deel moet uitmaak van die oorkonde van die verrigtinge.
Indien die hof tevrede is dat daar prima facie-bewys is dat--
a die respondent aan teistering meedoen of meegedoen het;
b die klaer of verwante persoon leed ly of kan ly as gevolg van daardie gedrag indien 'n beskermingsbevel nie onmiddellik uitgereik word nie; en c die beskerming wat verleen moet word deur die beskermingsbevel waarskynlik nie verwesenlik sal word indien voorafgaande kennisgewing van die aansoek aan die respondent gegee word nie, moet die hof, ondanks die feit dat die respondent nie kennis van die verrigtinge in subartikel bedoel, gegee is nie, 'n tussentydse beskermingsbevel teen die respondent uitreik op die voorgeskrewe wyse.
a By die uitreiking van 'n tussentydse beskermingsbevel moet die hof gelas dat die tussentydse beskermingsbevel op die voorgeskrewe wyse aan die respondent beteken word deur die klerk van die hof, balju of vredesbeampte geïdentifiseer deur die hof.
b 'n Afskrif van die aansoek in artikel 21 bedoel en die oorkonde van enige getuienis ingevolge subartikel 1 genotuleer, moet tesame met die tussentydse beskermingsbevel aan die respondent beteken word.
c Die tussentydse beskermingsbevel bedoel in paragraaf a moet die respondent aansê om op die keerdatum in die bevel gespesifiseer, redes aan te voer waarom 'n finale beskermingsbevel nie uitgereik moet word nie.
Indien die hof nie 'n tussentydse beskermingsbevel ingevolge subartikel 2 uitreik nie, moet die hof gelas dat gewaarmerkte afskrifte van die betrokke aansoek en enige ondersteunende beëdigde verklarings op die voorgeskrewe wyse aan die respondent beteken word deur die klerk van die hof, 'n balju of 'n vredesbeampte geïdentifiseer deur die hof, tesame met 'n voorgeskrewe kennisgewing waarin die respondent aangesê word om op die keerdatum in die kennisgewing vermeld, redes aan te voer waarom 'n beskermingsbevel nie uitgereik moet word nie.
Die keerdatums in subartikels 3a en 4 bedoel, mag nie minder wees nie as 10 dae nadat betekening aan die respondent plaasgevind het: Met dien verstande dat die keerdatum in subartikel 3a bedoel deur die respondent by kennisgewing van minstens 24 uur aan die klaer en die betrokke hof vervroeg kan word.
'n Tussentydse beskermingsbevel het nie regskrag nie totdat dit aan die respondent beteken is.
By betekening of by ontvangs van 'n relaas van betekening van 'n tussentydse beskermingsbevel, moet die klerk van die hof onverwyld--
a 'n gesertifiseerde afskrif van die tussentydse beskermingsbevel; en b die oorspronklike lasbrief vir inhegtenisname in artikel 81a bedoel, op die klaer laat beteken.
Bywoning van getuies
 Die hof kan, op die voorgeskrewe wyse en op enige stadium van verrigtinge kragtens hierdie Wet, enigiemand laat dagvaar as 'n getuie by daardie verrigtinge, indien dit vir die hof blyk dat die getuienis van daardie persoon noodsaaklik is vir die regverdige beregting van die saak.
'n Getuie wat gedagvaar is soos bepaal in subartikel 1, moet die verrigtinge bywoon en teenwoordig bly by die verrigtinge, en iemand wat teenwoordig is by enige verrigtinge kragtens hierdie Wet, wat nie gedagvaar is as 'n getuie nie, en wat deur die hof gewaarsku word om teenwoordig te bly by die verrigtinge, moet teenwoordig bly by die verrigtinge, tensy hy of sy deur die hof verskoon word.
Enigiemand wat gedagvaar word om verrigtinge by te woon soos bepaal in subartikel 1 en wat versuim om die verrigtinge by te woon of om teenwoordig te bly en enige persoon wat deur die hof gewaarsku is om teenwoordig te bly by daardie verrigtinge en wat versuim om teenwoordig te bly en enigiemand wat aldus gedagvaar of gewaarsku word wat versuim om te verskyn by die plek en op die datum en die tyd waarna die betrokke verrigtinge verdaag mag word of wat versuim om teenwoordig te bly by daardie verrigtinge wat aldus verdaag is, is skuldig aan 'n misdryf en is by skuldigbevinding strafbaar met 'n boete of met gevangenisstraf van hoogstens drie maande.
Omstandighede waaronder verrigtinge nie in ope hof mag plaasvind nie en publikasie van inligting
 Die hof kan, uit eie beweging of op versoek van die klaer of verwante persoon, indien hy van mening is dat dit in belang van die regspleging is dat die betrokke verrigtinge agter geslote deure plaasvind, gelas dat--
a die publiek of enige klas daarvan nie teenwoordig mag wees by daardie verrigtinge of enige gedeelte daarvan nie;
b die identiteit of adres van enigiemand nie openbaar gemaak mag word nie; en c geen inligting aangaande die verrigtinge op watter wyse ookal gepubliseer mag word nie.
Waar 'n getuie in verrigtinge kragtens hierdie Wet `n kind is, kan die hof beveel dat niemand behalwe die getuie en sy of haar ouer of voog of iemand in loco parentis, by die verrigtinge teenwoordig mag wees nie, tensy sodanige persoon se teenwoordigheid noodsaaklik is in verband met die verrigtinge of deur die hof gemagtig is om teenwoordig te mag wees.
Niks in hierdie artikel beperk enige bevoegdheid van die hof om verrigtinge in camera aan te hoor of om enige persoon uit te sluit van bywoning van die verrigtinge nie.
Uitreiking van finale beskermingsbevel
 Indien die respondent nie op 'n keerdatum in artikel 3 of bedoel, verskyn nie, en indien die hof tevrede is dat--
a behoorlike betekening aan die respondent plaasgevind het; en b die aansoek prima facie-bewys bevat dat die respondent aan teistering meegedoen het of daaraan meedoen, moet die hof 'n finale beskermingsbevel uitreik in die voorgeskrewe vorm.
Indien die respondent op die keerdatum verskyn ten einde die uitreiking van 'n finale beskermingsbevel teen te staan, moet die hof voortgaan om die aangeleentheid te verhoor en--
a enige getuienis wat voorheen ingevolge artikel 31 ontvang is, oorweeg; en b die verdere beëdigde verklarings of mondelinge getuienis wat hy gelas, oorweeg, wat deel van die oorkonde van die verrigtinge moet uitmaak.
Die hof kan, uit eie beweging of op versoek van die klaer of verwante persoon, indien hy van oordeel is dat dit vereis word in die geval van 'n getuie wat blootgestel mag word aan onredelike geestesspanning of -lyding, gelas dat by die ondervraging van daardie getuies, met inbegrip van die klaer of verwante persoon, 'n respondent wat nie verteenwoordig is deur 'n regsverteenwoordiger nie--
a nie geregtig is om iemand direk te kruisondervra wat hy of sy na bewering geteister het nie; en b enige vraag aan die persoon moet stel deur die vraag aan die hof te stel en die hof moet die vraag akkuraat aan die persoon oordra.
Die hof moet, na 'n verhoor soos bepaal in subartikel 2, 'n finale beskermingsbevel in die voorgeskrewe vorm uitreik indien hy, op 'n oorwig van waarskynlikhede, bevind dat die respondent aan teistering meegedoen het of meedoen..
By die uitreiking van 'n finale beskermingsbevel moet die hof gelas dat--
a die oorspronklike van die bevel aan die respondent beteken word; en b 'n gesertifiseerde afskrif van die bevel, en die oorspronklike lasbrief tot inhegtenisname in artikel 81a bedoel, aan die klaer beteken word, deur die klerk van die hof, die balju of 'n vredesbeampte geïdentifiseer deur die hof.
Die klerk van die hof moet onverwyld, op die voorgeskrewe wyse, gesertifiseerde afskrifte van 'n finale beskermingsbevel en van die lasbrief tot inhegtenisname in artikel 81a bedoel, aan die polisiekantoor van die klaer se keuse stuur.
Behoudens die bepalings van artikel 74, bly 'n finale beskermingsbevel ingevolge hierdie artikel uitgereik, van krag totdat dit tersyde gestel word, en die uitvoering van so 'n bevel word nie outomaties opgeskort hangende die aantekening van 'n appèl nie.
Bevoegdhede van hof ten opsigte van beskermingsbevel
 Die hof kan, deur middel van 'n beskermingsbevel in artikels 3 en 6 bedoel, 'n respondent verbied om--
a aan teistering mee te doen of te probeer meedoen;
b die hulp van iemand anders te verkry om teistering te doen; of c enige ander daad in die beskermingsbevel vermeld, te pleeg.
Die hof kan enige bykomende voorwaardes wat dit redelikerwys nodig ag, oplê ten einde die veiligheid of welstand van die klaer of verwante persoon te beskerm of om daarvoor voorsiening te maak, met inbegrip van 'n bevel--
a om beslag te lê op enige wapen of gevaarlike wapen in die besit of onder die beheer van die respondent, soos in artikel 9 bepaal;
b dat 'n vredesbeampte die klaer of verwante persoon na 'n spesifieke plek moet vergesel om hulp te verleen met reëlings betreffende die afhaal van persoonlike eiendom; of c gerig aan die stasiebevelvoerder van die betrokke polisiekantoor dat die aangeleentheid ondersoek moet word met die oog op die instel van moontlike strafregtelike vervolging teen die respondent en om skriftelik aan die hof terug te rapporteer aangaande die resultaat van die ondersoek.
a Die fisiese-, huis- en werksadres van die klaer of verwante persoon moet uit die beskermingsbevel weggelaat word, tensy die aard van die bevel se bepalings die insluiting van sodanige adres noodsaak.
b Die hof kan enige lasgewings uitreik ten einde te verseker dat die klaer of verwante persoon se fisiese adres nie geopenbaar word op 'n wyse wat die veiligheid of welstand van die klaer of verwante persoon in gevaar kan stel nie.
a Op voorwaarde dat die klaer nie in besit is van of nie in die proses is om aansoek te doen om 'n beskermingsbevel teen teistering of agtervolging nie soos bepaal in die Wet op Gesinsgeweld, 1998 Wet No. 116 of 1998, mag die hof nie weier--
i om 'n beskermingsbevel uit te reik; of ii om enige voorwaarde op te lê of enige bevel te maak, wat dit bevoeg is om op te lê of te maak kragtens hierdie artikel, bloot op grond daarvan dat ander regsmiddele aan die klaer beskikbaar is nie.
b Indien die hof van mening is dat enige bepaling van 'n beskermingsbevel 'n aangeleentheid hanteer wat, in die belang van geregtigheid, ingevolge enige ander relevante regsbepaling verder gehanteer behoort te word, moet die hof beveel dat so 'n bepaling vir die beperkte tydperk wat die hof bepaal van krag bly, ten einde die betrokke party die geleentheid te bied om gepaste regshulp ingevolge so 'n regsbepaling te bekom.
Lasbrief tot inhegtenisname by uitreiking van beskermingsbevel
 Wanneer 'n hof ookal 'n beskermingsbevel uitreik, moet die hof 'n bevel maak--
a waarby die uitreiking van 'n lasbrief, in die voorgeskrewe vorm, vir die inhegtenisname van die respondent gemagtig word; en b waarby die uitvoering van so 'n lasbrief opgeskort word, onderworpe aan die nakoming van enige verbod, voorwaarde, verpligting of bevel ingevolge artikel 7 opgelê.
Die lasbrief bedoel in subartikel 1a bly van krag, tensy die beskermingsbevel tersyde gestel word, of dit na uitvoering gekanselleer word.
Die hof kan 'n tweede of verdere lasbrief tot inhegtenisname aan die klaer uitreik, indien die klaer 'n beëdigde verklaring in die voorgeskrewe vorm liasseer waarin vermeld word dat die klaer so 'n lasbrief vir haar of sy beskerming nodig het en dat die bestaande lasbrief tot inhegtenisname--
a uitgevoer en gekanselleer is; of b verlore of vernietig is.
a 'n Klaer kan die lasbrief tot inhegtenisname, tesame met 'n beëdigde verklaring in die voorgeskrewe vorm waarin vermeld word dat die respondent 'n verbod, voorwaarde, verpligting of bevel in 'n beskermingsbevel vervat, oortree het, aan enige lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens oorhandig.
b Indien dit vir die betrokke lid blyk, behoudens subartikel 5, dat daar redelike gronde is om te vermoed dat die klaer of verwante persoon aan dreigende leed blootstaan of mag blootstaan as gevolg van die beweerde verbreking van die beskermingsbevel deur die respondent, moet die lid onverwyld die respondent arresteer vir die beweerde pleging van die misdryf in artikel 151a bedoel.
c Indien die betrokke lid van oordeel is dat daar nie voldoende gronde is om die respondent ingevolge paragraaf b te arresteer nie, moet hy of sy onverwyld 'n skriftelike kennisgewing in die voorgeskrewe vorm aan die respondent oorhandig, wat--
i die naam, die woon- en werksadres en die beroep of status van die respondent vermeld;
ii die respondent aansê om op 'n datum en tyd in die kennisgewing vermeld voor `n hof te verskyn, op 'n aanklag dat hy of sy die misdryf in artikel 151a bedoel, gepleeg het; en iii 'n deur die betrokke lid ondertekende sertifikaat bevat dat hy of sy die oorspronklike kennisgewing aan die respondent oorhandig het en dat hy of sy die betekenis daarvan aan die respondent verduidelik het.
d Die lid moet onverwyld 'n duplikaat-oorspronklike van die kennisgewing in paragraaf c bedoel, aanstuur aan die klerk van die betrokke hof, en die blote voorlegging aan die hof van so 'n duplikaat-oorspronklike is prima facie-bewys dat die oorspronklike daarvan aan die respondent daarin vermeld, oorhandig is.
By die oorweging of 'n klaer of verwante persoon aan dreigende leed blootstaan of mag blootstaan, soos in subartikel 4b bepaal, moet die lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in ag neem--
a die risiko vir die veiligheid of welstand van die klaer of verwante persoon;
b die erns van die gedrag wat 'n beweerde verbreking van die beskermingsbevel uitmaak; en c die tydsduur sedert die beweerde verbreking plaasgevind het.
Wanneer ookal 'n lasbrief vir inhegtenisname ingevolge subartikel 4a aan 'n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens oorhandig word, moet die lid die klaer inlig van sy of haar reg om terselfdertyd 'n kriminele aanklag teen die respondent te lê, indien van toepassing, en aan die klaer verduidelik hoe om so 'n aanklag te lê.
Beslaglegging op wapens en gevaarlike wapens
Die hof kan 'n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens beveel om beslag te lê op enige wapen of gevaarlike wapen wat in die respondent se besit of onder sy of haar beheer is en die klerk van die hof gelas om 'n afskrif van die oorkonde van die betrokke verrigtinge aan die Nasionale Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens te stuur vir oorweging ingevolge die Wet op Beheer van Vuurwapens, 2000 (Wet No. 60 van 2000).
Wysiging of tersydestelling van beskermingsbevel
 'n Klaer of 'n respondent kan, by skriftelike kennisgewing aan die ander party en die betrokke hof, aansoek doen om die wysiging of tersydestelling van 'n beskermingsbevel in artikel 6 bedoel op die voorgeskrewe wyse.
Indien die hof tevrede is dat omstandighede wesenlik verander het vanaf die toestaan van die oorspronklike beskermingsbevel en goeie redes aangetoon is vir die wysiging of tersydestelling van die beskermingsbevel, kan die hof 'n bevel uitreik wat daaraan gevolg gee: Met dien verstande dat die hof nie so 'n aansoek aan die klaer mag toestaan nie, tensy die hof oortuig is dat die aansoek ongedwonge en uit vrye wil gedoen is.
Die klerk van die hof moet 'n kennisgewing soos voorgeskryf aan die klaer en die respondent stuur indien die beskermingsbevel gewysig of tersyde gestel word soos in subartikel 1 bepaal.
Regsbevoegdheid
 Enige hof binne die gebied waarin--
a die klaer permanent of tydelik woon, besigheid bedryf of in diens is;
b die respondent permanent of tydelik woon, besigheid bedryf of in diens is; of c die eisoorsaak ontstaan het, het regsbevoegdheid om 'n beskermingsbevel soos in hierdie Wet bepaal, uit te reik.
Geen spesifieke minimum tydperk word met betrekking tot subartikel 1a vereis nie.
'n Beskermingsbevel is in die hele Republiek afdwingbaar.
Betekening van dokumente
Die betekening van enige dokument ingevolge hierdie Wet word onverwyld op die voorgeskrewe wyse uitgevoer deur die klerk van die hof, die balju of 'n vredesbeampte--
a soos deur die hof ingevolge artikel 33a of 4 of artikel 65 gelas; of b soos deur die klerk van die hof ingevolge artikel 37 besluit word.
Koste
Die hof kan slegs 'n kostebevel teen 'n party maak indien hy tevrede is dat so 'n party op 'n beuselagtige, kwelsugtige of onredelike wyse opgetree het.
Die bepalings ten opsigte van appèlle en hersienings soos in die Wet op Landdroshowe, 1944 (Wet No. 32 van 1944), en die Wet op die Hooggeregshof, 1959 (Wet No. 59 van 1959), bepaal, is op enige verrigtinge ingevolge hierdie Wet van toepassing.
Misdrywe
 Ondanks die bepalings van enige ander wet, is iemand wat--
a enige verbod, voorwaarde, verpligting of bevel ingevolge artikel 7 opgelê, oortree; of b in 'n beëdigde verklaring in artikel 84a bedoel, opsetlik 'n valse verklaring in 'n wesenlike opsig maak, aan 'n misdryf skuldig en by skuldigbevinding strafbaar, in die geval van 'n oortreding in paragraaf (a) bedoel, met 'n boete of met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens vyf jaar, en in die geval van 'n oortreding in paragraaf (b) bedoel, met 'n boete of met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens twee jaar.
Enigiemand wat opsetlik 'n lasgewing wat deur die hof verleen word soos bepaal in artikels 33a of 4 of 65 verontagsaam, is skuldig aan minagting van die hof en is, by skuldigbevinding, strafbaar met 'n boete of gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens ses maande.
Enigiemand wat die identiteit of adres van enigiemand strydig met artikel 51b openbaar of wat enige inligting strydig met artikel 51c publiseer, is aan 'n misdryf skuldig en by skuldigbevinding strafbaar met 'n boete of gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens twee jaar.
Regulasies
 Die lid van die Kabinet verantwoordelik vir die regspleging kan regulasies uitvaardig betreffende--
a enige vorm wat vereis word ingevolge hierdie Wet voorgeskryf te word;
b enige aangeleentheid wat vereis word ingevolge hierdie Wet voorgeskryf te word;
en c enige ander aangeleentheid wat die lid van die Kabinet noodsaaklik of dienstig ag om voor te skryf ten einde die oogmerke van hierdie Wet te verwesenlik.
'n Regulasie kragtens subartikel 1 uitgevaardig--
a moet aan die Parlement voorgelê word alvorens dit in die Staatskoerant gepubliseer word;
b wat uitgawes vir die Staat kan meebring, moet in oorleg met die Minister van Finansies uitgevaardig word; en c kan bepaal dat iemand wat 'n bepaling daarvan oortree of versuim om daaraan te voldoen aan 'n misdryf skuldig is en by skuldigbevinding strafbaar is met 'n boete of met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens een jaar.
Beleidsvoorskrifte
 (a) Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings bedoel in artikel 10 van die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag, 1998 (Wet No. 32 van 1998), moet in oorleg met die lid van die Kabinet verantwoordelik vir die regspleging en na oorleg met die Direkteure van Openbare Vervolgings bedoel in artikel 13 van daardie Wet, voorskrifte uitreik betreffende die instelling van vervolgings ten opsigte van enige misdryf wat uit hierdie Wet voortspruit.
b Die lid van die Kabinet verantwoordelik vir die regspleging moet enige voorskrifte wat kragtens paragraaf a uitgevaardig is aan die Parlement voorlê voordat sodanige voorskrifte in werking tree, en die eerste voorskrifte aldus uitgevaardig, moet aan die Parlement voorgelê word binne ses maande van die inwerkingtreding van hierdie Wet.
a Die Nasionale Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens bedoel in artikel 6 van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens, 1995 Wet No. 68 van 1995, moet nasionale instruksies uitreik soos bepaal in artikel 25 van daardie Wet, wat deur sy lede by die uitvoering van hulle werksaamhede ingevolge hierdie Wet nagekom moet word, en enige instruksies aldus uitgereik, moet in die Staatskoerant gepubliseer word.
b Die lid van die Kabinet verantwoordelik vir veiligheid en sekuriteit moet enige nasionale instruksies wat ingevolge paragraaf a uitgevaardig is aan die Parlement voorlê voordat sodanige instruksies in werking tree, en die eerste instruksies aldus uitgevaardig, moet aan die Parlement voorgelê word binne ses maande van die inwerkingtreding van hierdie Wet.
Die voorskrifte en instruksies in hierdie artikel bedoel, moet voorsiening maak dat voldoende dissiplinêre stappe gedoen sal word teen 'n aanklaer of polisiebeampte wat versuim om aan enige voorskrif of instruksie, na gelang van die geval, te voldoen.
Enige voorskrif of instruksie wat kragtens hierdie artikel uitgereik, word, kan op soortgelyke wyse gewysig of ingetrek word.
Wysiging van wette
Die wette in die Bylae genoem, word hierby herroep of gewysig in die mate uiteengesit in die derde kolom van die Bylae.
Kort titel en inwerkingtreding
Hierdie Wet heet die Wet op die Beskerming teen Teistering, 2009, en tree in werking op 'n datum deur die President by proklamasie in die Staatskoerant bepaal.
BYLAE
Artikel 18
Kort titel
Omvang van wysiging
Strafproseswet, 1955
Wysiging van artikel 384 deur--
a die vervanging van subartikel 1 deur die volgende subartikel:
Wanneer daar by 'n magistraat 'n klagte onder eed ingedien word dat iemand geweld teenoor 'n ander gebruik, of dreig om hom of haar liggaamlike letsel toe te dien of om sy of haar eiendom te beskadig, of dat hy of sy teenoor 'n ander taal gebesig het, of homself of haarself teenoor 'n ander gedra het op 'n wyse wat waarskynlik 'n vredebreuk of aanranding tot gevolg sal hê, dan [kan] moet die magistraat, hetsy sodanige gedrag of taal plaasgevind het of gebesig is of sodanige dreigemente geuit is in 'n openbare of 'n private plek, daardie persoon gelas om voor hom of haar te verskyn en indien nodig hom of haar in hegtenis laat neem en voor hom of haar laat bring, en die magistraat moet dan omtrent daardie klagte ondersoek instel en daaroor beslis, en kan die partye of enige getuies daarby betrokke die eed oplê en [kan] moet die persoon teen wie die klagte ingedien is, [na goeddunke] indien hy of sy bevind, op 'n oorwig van waarskynlikhede, dat die persoon teen wie die klagte ingedien is, opgetree het soos in die klagte beweer is, gelas om 'n borgakte, met of sonder borge, ten bedrae van hoogstens [R2 000] die bedrag wat deur die lid van die Kabinet wat verantwoordelik is vir die regspleging van tyd tot tyd by kennisgewing in die Staatskoerant bepaal word en ten opsigte van 'n tydperk van hoogstens ses maande aan te gaan as sekerheid dat hy of sy die vrede sal bewaar teenoor die klaer, en hom of haar sal weerhou van die toediening van liggaamlike letsel aan die klaer of dreigemente te dien effekte, of die beskadiging van sy of haar eiendom of dreigemente te dien effekte.";
b die vervanging van subartikel 2 deur die volgende subartikel:
By so 'n ondersoek kan die magistraat [die persoon teen wie die klagte ingedien is of die klaer gelas om die koste van en verbonde aan die ondersoek te betaal] 'n bevel maak ten opsigte van koste teen enige party as hy of sy tevrede is dat 'n party op 'n beuselagtige, kwelsugtige of onredelike wyse opgetree het."; en c die byvoeging van die volgende subartikel:
a Die magistraat kan, op die voorgeskrewe wyse en op enige stadium van die verrigtinge kragtens hierdie artikel, enigiemand laat dagvaar as 'n getuie by die verrigtinge, indien dit vir die magistraat blyk dat die getuienis van daardie persoon noodsaaklik is vir die verrigtinge.
b 'n Getuie wat gedagvaar is soos in paragraaf a bepaal, moet die verrigtinge bywoon en teenwoordig bly by die verrigtinge, en iemand wat teenwoordig is by enige verrigtinge kragtens hierdie artikel, wat nie gedagvaar is as 'n getuie nie, en wat deur die hof gewaarsku word om teenwoordig te bly by die verrigtinge, moet teenwoordig bly by die verrigtinge, tensy hy of sy deur die magistraat verskoon word.
c Enigiemand wat gedagvaar word om verrigtinge by te woon soos in paragraaf (a) bepaal en wat versuim om die verrigtinge by te woon of om teenwoordig te bly en enigiemand wat deur die hof gewaarsku is om teenwoordig te bly by daardie verrigtinge en wat versuim om teenwoordig te bly, en enigiemand wat aldus gedagvaar of gewaarsku word wat versuim om te verskyn by die plek en op die datum of die tyd waarna die betrokke verrigtinge verdaag mag word of wat versuim om teenwoordig te bly by daardie verrigtinge wat aldus verdaag is, is skuldig aan 'n misdryf en is by skuldigbevinding strafbaar met 'n boete of met gevangenisstraf van hoogstens drie maande.".
Strafproseswet, 1977
Wysiging van artikel 60 deur--
a na paragraaf g van subartikel 7 die volgende paragraaf in te voeg:
gA die siening van enigiemand teen wie n misdryf na bewering gepleeg is ten opsigte van sy of haar veiligheid.";
b die vervanging van subartikel 1 deur die volgende subartikel:
Ondanks die feit dat die vervolging nie die verlening van borgtog teenstaan nie, het die hof die verpligting, beoog in subartikel 9, om die persoonlike belange van die beskuldigde teen die belang van geregtigheid op te weeg: Met dien verstande dat die belang van geregtigheid geïnterpreteer moet word, maar nie daartoe beperk moet word nie om die veiligheid van enigiemand teen wie 'n misdryf na bewering gepleeg is, in te sluit"; en c die vervanging van subartikel 12 deur die volgende subartikel:
Die hof kan die vrylating van 'n beskuldigde op borgtog onderworpe stel aan voorwaardes wat na die oordeel van die hof in die belang van geregtigheid is: Met dien verstande dat die belang van geregtigheid geïnterpreteer moet word, maar nie daartoe beperk moet word nie, om die veiligheid van enigiemand teen wie 'n misdryf na bewering gepleeg is, in te sluit.".
Wet op Gesinsgeweld, 1998
Invoeging van die volgende artikel na artikel 4:
Bywoning van getuies
A. Die hof kan, op die voorgeskrewe wyse en op enige stadium van die verrigtinge kragtens hierdie Wet, enigiemand laat dagvaar as 'n getuie by daardie verrigtinge, indien dit vir die hof blyk dat die getuienis van daardie persoon noodsaaklik is vir die regverdige beregting van die saak.
'n Getuie wat gedagvaar is soos in subartikel 1 bepaal, moet die verrigtinge bywoon en teenwoordig bly by die verrigtinge, en iemand wat teenwoordig is by enige verrigtinge kragtens hierdie Wet, wat nie gedagvaar is as 'n getuie nie, en wat gewaarsku word deur die hof om teenwoordig te bly by die verrigtinge, moet teenwoordig bly by die verrigtinge, tensy hy of sy deur die hof verskoon word.
Enigiemand wat gedagvaar word om verrigtinge by te woon soos in subartikel 1 bepaal en wat versuim om die verrigtinge by te woon of om teenwoordig te bly en enigiemand wat deur die hof gewaarsku is om teenwoordig te bly by daardie verrigtinge en wat versuim om teenwoordig te bly en enigiemand wat aldus gedagvaar of gewaarsku word wat versuim om te verskyn by die plek en op die datum en op die tyd waarna die betrokke verrigtinge verdaag mag word of wat versuim om teenwoordig te bly by daardie verrigtinge wat aldus verdaag is, is skuldig aan 'n misdryf en is by skuldigbevinding strafbaar met 'n boete of met gevangenisstraf van hoogstens drie maande.".
Wet op Beheer van Vuurwapens, 2000
Wysiging van artikel 102 deur die invoeging na paragraaf (a) van subartikel van die volgende paragraaf:
aA 'n finale beskermingsbevel teen sodanige persoon uitgereik is kragtens die Wet op die Beskerming teen
Teistering, 2009 Wet
Wysiging van Bylae 2 deur die invoeging na paragraaf (d) van Item 7 van die volgende paragraaf:
e ingevolge die Wet op die beskerming teen
Teistering, 2009 Wet
