Kinderbeskerming
Die onlangse mediaberigte oor die verdwyning van kinders in die Wes-Kaap oor die afgelope paar weke is uiters ontstellend.
In die afgelope twee weke:
het 'n pasgebore baba van Delft verdwyn, maar is later weer teruggevind. 'n Vyf-en-twintigjarige vrou is in hegtenis geneem;
het Veronique Solomons, 8 jaar oud en van Steenberg, vermis geraak en word daar gereken dat sy ontvoer is;
het Joey Josephs van Delft, 3 jaar oud, Woensdagaand verdwyn; en is die verkoolde liggaam van 'n meisie (ouderdom word op omtrent 8 jaar geraam) in die bosse in Zeekoevlei naby Grassy Park gevind.
Die onlangse voorvalle van geweld teen kinders in die Wes-Kaap het daartoe gelei dat die Departement van Maatskaplike Dienste en Armoedeverligting so gou moontlik 'n program van aksie in werking gaan stel om kinders - een van ons samelewing se mees kwesbare sektore - te beskerm.
Die Minister van Maatskaplike Dienste en Armoedeverligting het kinderbeskerming tydens haar onlangse interaksie met gemeenskappe in Delft en Worcester een van haar fokusareas gemaak.
Minister Mqulwana het ook gevra dat gemeenskappe hard daaraan moet werk om te sorg dat daar 'n veiligheidsnet in gemeenskappe is om na kinders om te sien. Sy het ook daarop aangedring dat gemeenskappe die beleid "Jou kind, is my kind" moet nastreef as deel van pogings om kinders te beveilig.
Sy het verder gevra dat gemeenskappe met die welsynsektor en gemeenskappolisiëringsforums moet saamwerk om hierdie doelwit te bereik en om programme te loods wat daarop gemik is om kinderbeskerming op te skerp.
By 'n onlangse Imbizo in Delft wat op kinderveiligheid gefokus het, het minister Mqulwana die gemeenskap daarop gewys dat die regering nie alleen verantwoordelik kan wees vir die versorging en veiligheid van kinders nie.
Gemeenskappe het ook 'n groot rol om te speel om toe te sien dat daar 'n veilige en stabiele omgewing geskep word waarin kinders hulleself kan uitleef.
Sy het ook daarop gewys dat die gemeenskap gebruik moet maak van Maatskaplike Dienste se 16 distrikskantore waar maatskaplike werkers aan diens is om leiding te gee oor kinderversorging.
Miinister Mqulwana het ook al 'n program rondom kleuterskole uitgerol wat daarop gemik is om om die welsyn en die ontwikkeling van jong kinders in 'n veilige opset te bevorder.
Die Departement van Maatskaplike Dienste en Armoedeverligting het verder ook 'n kinderbeskermingsplan van stapel gestuur wat begin November in werking sal tree, en wat daarop gemik is om kinders uit veral arm gebiede gedurende die skoolvakansie besig te hou.
Die program - deel van die Wes-Kaapse regering se Kersfeesveldtog - sal werkwinkels vir ouers insluit om hulle bewus te maak van die kwessie van kinderveiligheid.
Die program wat gemik is op kinders tussen die ouderdomme van 7 en 12 sal verder aktiwiteite bevat wat daarop gemik is om onder andere kinders van hulle regte bewus te maak; natuurbewaring, drama en sport te bevorder; oor kindermishandeling, drank- en alkoholmisbruik te waarsku; asook met basiese misdaadvoorkoming te help.
Die program hoop om gemeenskappe, waar misdaad en geweld hoogty vier in so 'n mate te versterk dat daar 'n groter veiligheidsnet vir kinders sal wees.
Die vier-weeklange program sal in 32 plekke regoor die Wes-Kaap uitgerol word, en stel dit ten doel om 10 000 kinders deel te maak van die inisiatief. Die kinders wat deel vorm van die program sal ook elke dag 'n maaltyd ontvang.
Die regering het die hulp en ondersteuning van ons gemeenskappe nodig om te verseker dat ons kinders hulleself in 'n stabiele en veilige omgewing kan uitleef en geniet."
