Departement Landbou Projek Kry Internasionale Erkenning
Departement Landbou Projek Kry Internasionale Erkenning uNovemba 2004
Die Wes-Kaapse Departement Landbou se Calitzdorp Riviererosie Beskermingswerke Projek het 'n Toekenning vir Goeie Praktyke ontvang van die organiseerders van 'n internasionale kompetisie waaraan meer as 700 projekte deelgeneem het. Die kompetisie, wat deur die Verenigde Nasies en die Dubai Munisipaliteit geïnisieer is, het ten doel om projekte en inisiatiewe waar vennootskappe, volhoubaarheid en positiewe impak op die omgewing 'n deurslaggewende rol speel, te vereer.
Gedurende Maart 2000 het die opvangsgebied van die Gamka Rivier buitengewone hoë reënval ervaar wat grootskaalse vloede en vloedskade veroorsaak het. Van besondere belang was die erosie wat naby Calitzdorp plaasgevind het. Meer as 'n 1000 meter langs die rivier is ernstig geërodeer, en boorde en wingerde op die rivieroewer is oor 'n breedte van meer as 120 meter vanaf die rivier weggespoel, insluitend die besproeiingsraad se kanaal.
Aangesien die besproeiingsraad nie die finansiële las van erosie beskermingswerke kon dra nie, moes befondsing elders bekom word. Die kanaal is dringend herstel om watertoevoer na die velde onder besproeiing te herstel, maar die ses meter hoë rivieroewer was steeds besonders kwesbaar vir erosie. 'n Aantal waterreflekteerders is ook in die rivier gebou om verdere erosie te verhoed en om die vestiging van natuurlike plantegroei stroomaf van die waterreflekteerders op die rivieroewer aan te moedig. ('n Waterreflekteerder is 'n wal gebou van draadmandjies, gevul met verskillende groottes klippe, geposisioneer teen 'n reghoek met die rivieroewer en uitsteek in die rivier.)
Die Provinsiale Regering van die Wes-Kaap het fondse vanuit hul Armoedeverligtingsbegroting bewillig, terwyl die Departement van Waterwese en Bosbou die balans uit hul Vloedverligtingsbegroting bygedra het om Departement Landbou in staat te stel om hierdie projek af te handel. Hierdie innoverende en waardevolle vennootskap tussen die nasionale en provinsiale regerings het 'n oplossing vir die probleem beteken.
Werkloosheid skep groot sosio-ekonomiese probleme en armoede in die Calitzdorp-omgewing. Die projek is dus ook ontwerp om optimaal gebruik te maak van hande-arbeid; gevolglik is aan gemiddeld 100 mense oor die periode van drie en 'n half maande werk verskaf. Die werklose gemeenskap is terselfdertyd bemagtig om deur die proses opleiding te ontvang in die basiese vaardighede om hierdie soort werk as subkontrakteurs te doen. Sommige persone van die groep is reeds intussen by soortgelyk projekte in die omgewing betrek.
Vir meer inligting: André Roux by 021 808 5340.
Kommunikasiebestuurder
Wes-Kaapse Departement Landbou tel +27 21 808 5008
faks +27 21 808 5000
sel 082 801 3841
