TUISBLAD
JOU LEWE
ONDERWERPE
PUBLIKASIES
GIDSE
JOU REGERING
WERKGELEENTHEDE
Aangaande
Kontak
Hulp
Gevorderde Soektog
Tuisblad
Publikasies
Nuus
Premier Verwelkom Beleggings van R2,13 Miljard in Kaapstad
Premier Verwelkom Beleggings van R2,13 Miljard in Kaapstad
BRON: Premier van die Wes-Kaap (Wes-Kaapse Provinsiale Regering)
Premier Ebrahim Rasool het vanaand om 19:30 in die Internasionale Konferensiesentrum die Icon-ontwikkeling verwelkom as nog 'n bewys van die groeiende beleggersvertroue in die Wes-Kaap en in Kaapstad.
Die Premier het by die nasionale bekendstelling van die ontwikkeling gesê: "Ons is trots daarop dat 'n stad soos Kaapstad sulke universele vertroue na sy sakekern lok. Van die beleggings in Kaapstad wat onlangs aangekondig is, is:
Rolprentateljee: R460 miljoen
Parlement se opknapping: R120 miljoen
TOTAAL: R2,13 miljard
Dit sluit nie aankope en transaksies, die kapitaalwaarde van nuwe huurkontrakte en die verbeterings aan bestaande geboue in nie.
Hierdie R2,13 miljard is 'n belangrike paaiement van die R5 miljard wat ons op verlede jaar se Groei-en-ontwikkelingsberaad belowe het om na ons provinsie te bring. As regering is ons daartoe verbind om ons deel te doen terwyl ons die Tuiste vir Almal bou.
Dit voel goed om die hyskrane teen die silhoeët van ons stad te sien as 'n seker teken van vooruitgang en vertroue. Die boubedryf is weer op dreef om die vaardighede van die Provinsie uit te bou en broodnodige werkgeleenthede te skep.
Vir die lang termyn is dit belangrik dat hierdie nuwe golf van ontwikkeling in die stad vier belangrike kenmerke toon: beginsels van gemengde gebruik, rasse- en sosiale integrasie, swart ekonomiese bemagtiging en argitektoniese vernuwing.
Kaapstad het 'n pynlike geskiedenis van skeiding wat steeds sigbaar is in woongebiede wat langs rasselyne verdeel is. Die rasse- en klasse-integrasie van ons fisieke ruimtes is noodsaaklik vir die oopstelling en uitbreiding van die Tuiste vir Almal. Dit is uiters bemoedigend dat die historiese stadskern 'n leidende rol speel om ons mense bymekaar te bring pleks van bloot 'n sentrum van gevestigde rykdom te wees.
Die ontwikkeling van die Icon deur COESSA, wat 100% in swart besit is, sal 'n mylpaal vir swart ekonomiese bemagtiging wees. Hierdie uiters moderne ontwikkeling van 20 verdiepings op grond wat in 1937 van die see herwin is, is een van die eerstes van hierdie omvang wat deur 'n swart maatskappy onderneem word.
Waaroor ons veral opgewonde is, is dat die naam Icon verwys na die 'Muur van Herinnering' binne-in die gebou. Hierdie uitbeelding sal tot eer strek van die leiers wat prestasies soos dié moontlik gemaak het in 'n vry Suid-Afrika. In die konteks van ons visie om 'n Tuiste vir Almal te word, is dit 'n besonder gepaste gebaar.
Die gebruik van kontemporêre argitektuur met Afrika-elemente sal die voorkoms van die stad help transformeer terwyl die argitektoniese skatte van die verlede sy aan sy staan met die nuwe as simbole van versoening, begrip en vooruitgang.
Tog is daar twee aspekte van hierdie belangrike ontwikkelings wat kommer wek:
Eerstens, dat die beweging van die sakekern in die rigting van die Waterfront in die weste deur ontwikkelings soos die Konferensiesentrum en die Icon gebalanseerd moet wees. Ons is verbind tot die ontwikkeling van die oostekant van die sakekern deur die restourasie en hernuwing van Distrik Ses, asook die ontwikkeling van die suidoostelike metropool deur nuwe projekte soos die rolprentateljee, die Mitchells Plain-promenade en Khayelitsha se sakekern.
Tweedens, dat pryse nie toegang moet verhinder tot 'n omgewing waar rykdom steeds aan ras gekoppel is nie. Ons as die Provinsiale Regering verwelkom die debat wat gevoer word oor die bewoning van Distrik Ses, die sosiale opheffing van gebiede soos die Bo-Kaap deur die skepping van 'n welvarende middelklas, en eiendomspryse terwyl ons soek na maniere om dit teen te werk."
NUUSARGIEF
Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 26 Mei 2005 hersien
Onbekende staatstaal of akroniem? Kyk in die WOORDELYS.
Gebruiksvoorwaardes
Privaatheidsbeleid
Kopiereg
Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering
