BOEK
Met die eerste vlugtige lees van die roman dink 'n mens hierdie is net nog 'n Afrikaanse boek wat wil-wil herinner aan dié van 'n ander skryfster 'n paar dekades gelede. Die jong onder­wyseres kom op die plattelandse dorpie aan, bly in die losieshuis, ontmoet 'n jong, aantreklike boer by die tennis of die Kerk en 'n verhouding ontwikkel. Goeie, ontspan­ningsleesstof wat ons almal destyds gelees het. (Eleanor Baker het trouens onder die skuilnaam van Christene Ie Roux ook etlike liefdesverhale geskryf).
By die tweede, meer noukeurige lees, soos vir bespreking by 'n leeskring, byvoorbeeld, tref dit die leser dat die boek veel meer as net nog 'n verhaal bied. Die ander Marta vertel wat in die populêre leesstof verswyg word, naamlik die storie van die held en heldin meer as 30 jaar ná die troudag.
Hierdie boek het as tema die 'dienende Marta' wat met al haar verborge verlangens en vrese aanhou om haar rol gedienstig te vervul. Van die begin af oorheers Hendrik haar en sy laat hom begaan en betaal die prys.
Op 'n dag, toe alles te veel raak, los Marta vir Hendrik in die supermark, klim in haar motor en ry weg. By die koue Weskussee aangekom, probeer sy selfmoord pleeg, maar nie eens die seewater wil haar hê nie.
Hierdie gedeelte herinner 'n mens aan die onvergeetlike eerste paragrawe van Marita van der Vyver se Griet skryf 'n sprokie, maar nie met heeltemal dié impak nie. Vir meer as 50 bladsye word die verdrinkingspoging beskryf, soms frustrerend vir die leser, maar miskien 'n weerspieëling van die wisseling van Marta se gemoedstoestand. Ons word aan een Marta bekendgestel terwyl 'die ander Marta' iewers onder pyn, ontgogeling, onbegrip en vetrolletjies wag om los te kom. Om as't ware afgeskil te word, om te lééf.
Vrouekarakters wat ontvlugting uit emosioneel ontwrigtende situasies soek, is nie vreemd aan Eleanor Baker se oeuvre nie. Sy het reeds die tema benut in 'n Ou begin en In die middel van die Karoo.
Die ander Marta troon egter kop en skouers bo die ander tekste uit.
Marta was op die oog af 'n gewone plaasvrou wat konfyt gekook het, dorp toe gery het vir 'n hare-afspraak en tee gedrink het by die kafee terwyl sy die mense dopgehou het. (Maar sy dra ook 'n geheim in haar hart waarvan niemand weet nie, nie eens Hendrik nie. Sy maak 'n seun groot, maar haar hart verlang na 'n dogtertjie wat sy moes weggee.)
Marta is deel van 'n geslag vroue wat deur die samelewing geleer is om hul 'plek' te ken. In 'n 'opheffende' praatjie van die Vroue-Landbouvereniging (VLV) leer sy die deugde van 'n 'goeie' vrou, selfontkennend, altyd die mindere wat nooit argumenteer, rusie maak of haarself laat geld nie. Die vroue leer dat mans voor in die motor sit en vroue agter. Mans mag maar op hul vroue skreeu en met hulle praat asof hulle dom is. Dit is die vrou se plig om dit af te lag. 'n Mens sien dit baie duidelik as hulle, byvoorbeeld, saam dorp toe gaan of met 'n Wildtuinvakansie.
Dis ironies dat dit vroue is wat aan ander vroue sê hoe hulle moet lewe soos Marta se ma vir haar dit ingeprent her. Maar Marta het tog ander rolmodelle ook gehad soos haar vriendin Bertine en haar seun se vrou. Trouens, haar seun-hulle het mekaar ruimte gegee en wys dat die jonger geslag wel meer 'verlig' leef. Bertine se man het haar eerstens erken as mens en dan as sy vrou.
Dus kan ons sê dat Eleanor Baker in hierdie roman 'n paar onvergeetlike situasies en karakters geskep het. Sy stel die leser bloot aan die verskillende skakerings van menslike verhoudings. Die leser besef dat aan die wortel van hierdie verhoudings Iê die onvermoë om genoegsaam en toereikend te kommunikeer. Die emosionele verwaarlosing wat daarop volg, het nie net vir die vrou nie, maar ook vir haar huweliksmaat oneindige gevolge.
In haar matriekjaar ontmoet die skrander Marta 'n blonde, blouoog proefonderwyser, Marius Bouwer - wat meer as net 'n geestesgenootskap na-Iaat wanneer hy vertrek. Marta se onmiddellike toekoms verander ingrypend; want sy is swanger. Sy leer hoe om intense emosies soos liefde, pyn en woede weg te dink en weg te werk. 'Die doofproses het gemaak dat sy hoofpyn kry en kort-kort seerkeel soos die onuitgesproke woorde en gille haar stembande brand.' So is sy teen haar wil gebrei en wanneer sy later met Hendrik trou, het sy reeds geleer om haar gevoelens te verskans. Haar man met sy (o, so goedbedoelde) veroordelende, beterweterige en selfgenoegsame persoonlikheid, help mee dat sy haar net verder onttrek.
Haar selfmoordpoging misluk. Koster wag haar op die strand in en toe hy hoor wat sy wou doen, sê hy lakonies, 'Ma merrem het nie veel luck gehet nie!'
Arme Marta het teen hierdie stadium omtrent geen selfbeeld nie en is oortuig dat sy vir niks deug nie. Tog word sy moeiteloos deur die seegemeenskappie in hulle midde opgeneem waar sy met die moeisame afskilproses begin. 'n Mens kan byna die see ruik, die huisies sien, die vis proe, ook jou indink in die eerste maal se klere koop op die dorp. Die karakters wat Eleanor Baker skep, maak die boek 'n klein juweel: Koster, met sy sê-goed, sy ruim hart, sy nugterheid oor die lewe; Henk en Ounie van die padstal wat vir haar onvoorwaardelik aanvaar en werk gee vir leë dae; Frieda, met Cyril wat af en toe huis toe kom en die seuntjie vir wie Marta toonrympies leer; en laastens die sterwende Colin vir wie Marta liefdevol tot sy dood verpleeg. Hulle was soos skepe in die nag, maar sy het besluit om by hom te bly. So was hy ook deel van haar helingsproses ten spyte van sy ongeneeslike siekte.
Soos karakters in Eleanor Baker se tekste Die glasappel en Die kwart-voor-sewe lelie is Dead Ice (Marina, Hendrik se susterskind) een van haar kenmerkende, kleurryke persoonlikhede, heerlik verfrissend en geloofwaardig. Ook Raoul, haar vriend 'skyn 'n gawe kêreltjie te wees'. Hendrik leer hoe mans en vroue en jongmense se koppe 'deesdae' werk.
Dit bring sy sagte, weerlose kant na vore. Hy koop selfs 'n klein hondjie wat buite slaap. Ons lees dat wanneer Hendrik en Marta weer bymekaar uitkom dinge verander het. Nie net die kontoere van hul lywe nie, maar ook hul emosionele patrone en denkwyse het volwasse geword, die swaartepunte het verskuif en 'n mens het as't ware deernis met hulle.
Hendrik is opreg in sy soeke van vergiffenis, anders as na sy 'affair' met die wulpse Helga. Dis met 'n soort genoegdoening dat 'n mens lees van die strooipoppies met pruilbekkies wat Marta van raf.a maak vir Henk en Ounie se padstal, die ene Helga, 'wat Ounie dan die volgende dag verwurg' wanneer sy hulle aan konfytpotjies vasbind.
Hendrik se vrou 'niks meer en niks minder nie', word 'die ander Marta', 'n pion wat nie meer net rondgeskuif sal word nie. Vervolgens sal sy doelgerig onderhandel, haarself na waarde skat, want alles wat oortollig is, is afgeskud en weggegooi.
Ons sien hoe die eerste stuk van Marta se lewe sonder moeite begin loskom met haar paar uur lange selfmoordpoging. AI haar bitterheid kom uit die diepte na die oppervlak onder die sorgsaamheid van nuwe vriende soos Ounie en Colin wat haar nie veroordeel nie en onvoorwaardelik aanvaar soos sy is.
Eleanor Baker is 'n meester wat weet wanneer om haar leser te terg en wanneer om net te vertel. Dit is heerlik om die pad te loop saam met 'n jong Marta wie se lyf haar man se plesier is, maar 'n mens hou jou hart vas saam met die lewensmoë 50-jarige, oorgewig vrou, met die sakrokke wat net die pad vat. Teen die einde is dit met vreugde dat 'n mens 'die ander Marta' sien, emosioneel bevry en selfkoesterend, arms omhoog gegooi vir die lewe! Hierdie boek is werklik 'n nuwe kyk na ons oënskynlike ondramatiese klein bestaan, 'n ware hartsboek.
Dit is ongelukkig Eleanor Baker se laaste roman. Sy is op 1 Julie 2002 in die ouderdom van 57 jaar oorlede. (Sien artikel in KB Januarie/Februarie 2003 pp.14-15.) Dit is beslis die moeite werd om hierdie boek te lees.
Hierdie werk van Eleanor Baker is in verwerkte vorm as toneelstuk opgevoer by vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). Die toneelstuk het ontstaan nadat Celeste van Rooyen die roman gelees het. Noodwendig moes daar aan die verhaal gesny word en Colin .gureer glad nie. Tog volgens Krit en talle toeskouers het die storie van die 'wroegende Marta meegesleur'. Dit was die moeite werd om by te woon.
Besonder interessant was die oop verhoogtegniek. Daar was tegelyk verskillende scenarios waartussen die spelers gemaklik beweeg het en geen gordyn is getrek nie. Die essensie van die boek het steeds sterk deurgekom en 'n mens het die vertoning verlaat met die idee dat die nuwe, 'ander Marta' beheer oor haar eie lewe gekry het en eers haar selfopgelegde taak (van Koster verpleeg in die toneelstuk) gaan volvoer voor sy teruggaan na die plaas en haar man, om aan te gaan met haar nuwe, ryker lewe.
Die ander
