Aansoek om 'n Mzansi-bankrekening te open
Beskrywing
Die Mzansi-rekening is 'n diens vir individue wat deur die Suid-Afrikaanse Poskantoor bedryf word. Dit bied 'n gerieflike manier om geld te ontvang, te onttrek, of betalings te maak. Jy is seker wees dat jou geld daar veilig is, en omdat daar nie maandelikse diensfooie is nie verdien jy rente op al die geld wat in jou rekening is. Daar is geen vasgestelde standaardfooie nie - jy betaal slegs vir die dienste wat jy gebruik. Jy het nie 'n betaalstrokie nodig om 'n Mzansi-rekening oop te maak nie omdat geen kwalifiserende maatstawwe soos minimum-inkomste vereis word nie. Transaksies kan landswyd by meer as 1 300 takke van die poskantoor en meer as 8 000 Saswitch outomatiese tellermasjiene gedoen word.
Alle deposito's wat oor die toonbank in die poskantoor gedoen word, is gratis.
Let wel: Minderjariges wat 'n rekening wil open, moet 'n ouer of wettige voog saambring.
Kry meer inligting by die Suid-Afrikaanse Poskantoor.
Stappe om te volg
Al wat jy moet doen om 'n rekening te open, is die volgende:
Gaan na die naaste poskantoor en vra die teller vir 'n aansoekvorm.
Vul die vorm in.
Toon jou identiteitsdokument.
Lewer bewys van jou woonadres, soos die Wet op Finansiële Intelligensiesentrum, 2001 bepaal. Jy kan byvoorbeeld 'n diensterekening toon waarop hierdie adres verskyn. As jy jou blyplek huur, moet jy 'n afskrif van die huurooreenkoms toon. As jy by jou ouers woon, moet jy 'n beëdigde verklaring indien wat dit bevestig.
Minderjariges wat 'n rekening wil open, moet hulle ouer of wettige voog saambring.
Betaal R10 as 'n deposito om die rekening te open.
Let wel: Jy kan transaksies doen by meer as 1 300 poskantore en meer as 8 000 Saswitch OTM's landswyd.
Regsraamwerk
Posdienstewet, 1998
Diensstandaard
Dit kan 10 tot 20 minute neem , afhangende van hoe besig die betrokke poskantoor is.
Koste
Jy moet ten minste R10 as deposito in die rekening inbetaal.
Vorms om in te vul
Aansoekvorms is by poskantore landwyd te kry.
Kontakbesonderhede
Helplyn: 0800 53 54 55
