Draadlose Internet
Assistentdirekteur: Steundienste
Tyd: Enige weeksoggend van enige jaar
Ek klap my nuwerwetse selfoontjie oop en druk die WAP knoppie. WAP staan vir Wireless Access Protocol. Ek moet eerstens my baas laat weet ek gaan laat wees en alhoewel ek weet ek kan 'n sms stuur, wil ek fancy wees en 'n e-pos stuur. En ook dan sommer van my werk e-pos adres! Ek tik in wcedmail.wcape.gov/servlet/webacc (geluk­kig het ek 'n goeie brein vir die onthou van Internetadresse) en siedaar, ek is in my werk se e-pos bediener en begin om die e-pos te stuur.
Die draadlose Internet is met ons. So terloops, die laaste keer toe ek die woord draadloos gehoor het, was toe my oorle oupa vir my net so oorlede ouma gesê het: 'Girl, sit die draadloos aan, die eenuur nuus gaan nou-nou begin', en dan dink ek ook aan my wetenskaponderwyser wat op skool gesê het, alles is in die lug, mens het net iets nodig om dit op te vang. En hier is ons vandag nou so gevorder met 'n draagbare telefoontjie waarmee jy kan bel, teks (sms) en multimedia (mms) ontvang en stuur, foto's, video's en klank kan opneem en ook die Internet surf. Maar, moet jy jouself afvra, kan mens dit moeiteloos doen en kan jy bruikbare inligting maklik en gerie.ik bekom?
Om terug te kom na my treinstorie, dit het my seker vyf minute geneem totdat ek gekonnekteer was en 'n e-pos kon stuur. 'n Sms sou vinniger gewees het, maar die voordeel was, ek kon solank in my inmandjie gekyk het watter e-pos wag vir my. En net die blote opgewondenheid om te dink, hier sit ek met 'n klein foontjie in my hand en die idee dat ek, draadloos, dieselfde kon doen as met my rekenaars by die huis en die kantoor, was genoeg om my tevrede te stel.
WAP toegang tot die Internet word moontlik gemaak deur General Packet Radio Service (GPRS) en mens moet 'n GPRS foon hê om dit te kan doen. Die GPRS tegnolo­gie is maar die afgelope 2/3 jaar in ons land en die meeste nuwe selfone is toegerus daarmee. In Suid-Afrika is daar baie mense sonder rekenaars by die huis of by die werk, maar amper almal het selfone (onlangse syfers toon daar is 19 miljoen selfoonge­bruikers). Soos die tegnologie verbeter en nuwe fone die oues vervang, sal Internettoe­gang vir almal 'n werklikheid kan word.
Gebruikers betaal vir WAP toegang deur GPRS, uitsluitlik op die hoeveelheid data wat ontvang word, maak nie saak hoeveel tyd die gebruiker op die Internet is nie. Diensver­skaffers kwoteer gewoonlik per 1 megabyte (MB). Dis gelykstaande aan omtrent twee honderd WAP bladsye of die ontvang en stuur van 300 teks e-posse.
Die spoed waarmee data deurgestuur word op GPRS is 53.6 kb/s en dis omtrent teen dieselfde spoed waarteen inligting wat deur 'n rekenaar gekoppel aan 'n vaste telefoonnetwerk, beweeg.
Daar bestaan natuurlik al duisende 'web-werwe' wat net vir die WAP mark geskep is, en bowenal is enige webwerf op die Internet natuurlik toeganklik met jou wapfoontjie. Selfs die befaamde soekenjin, Google, het ook 'n spesiaal-ontwerpte WAP blad.
Nadele van draadlose Internet
Daar is soveel verskillende selfoonfabrikate. Elke keer as jy 'n nuwe selfoon kry, moet jy eers uitwerk hoe die foon werk en watter knoppies jy moet druk.
Dit is ook moeilik om hulp te verleen aan jou vriende as hulle nie dieselfde foon as jy het nie. (Rekenaars is soveel makliker, want die meeste rekenaars lyk mos dieselfde en almal het Windows.)
Skermpies is piepklein, so jy kan nie dadelik dieselfde hoeveelheid data so gemaklik lees as met 'n rekenaar nie.
n Selfoon het nie 'n drukker nie (wel, nog nie), so mens moet maar nog steeds naby 'n drukker kom voordat jy iets kan laat uitdruk. Die nuwe selfone het bluetooth en/of infrarooi waarmee jy data na 'n ander foon of rekenaar kan stuur, maar dan moet jy eers by 'n vaste plek kan uitkom voordat jy data kan uitdruk.
Selfone kan tans nie so baie data soos 'n rekenaar stoor nie.
n Selfoon se battery raak pap.
n Mens weet nie altyd hoeveel dit gaan kos nie. My selfoonnetwerk sê dit kos soveel per megabyte, maar terwyl jy so lekker op die Internet rondkuier, is daar niks wat vir jou waarsku en sê: die volgende greep inligting bevat soveel kilobytes data teen so-en-so prys nie.
Voordele
Internettoegang is beskikbaar vanaf enige plek, maak nie saak waar jy jou bevind nie. Of jy nou op die trein sit, of in die bed lê, die wêreld van inligting is altyd aan jou sy. Met ander woorde, waar ook al 'n netwerkdekking is, kan jy jou wapfoontjie gebruik.
GPRS is altyd aan. Mens hoef net een keer aan te skakel en dan bly jy aan. En terwyl jy op die Internet is, kan jy nog steeds oproepe maak en ontvang.
Familiariteit. WAPbladsye werk op dieselfde Internet Protokol as op jou rekenaar. So die 'look en feel' is dieselfde op die selfoon. Dit het my nie lank geneem om te kliek waar ek moet kliek nie.
n Nuwe selfoon/e-pos apparaat is onlangs bekendgestel met die naam van BlackBerry. Hierdie foontjie is toegerus met 'n qwerty toetsbord, so die tikkery behoort vinniger te gaan (dit gaan nie meer nodig wees om die drie knoppie drie keer te druk vir 'n 'f' nie en ook nie om eers asem te skep as jy 'n 'e' na 'n 'd' wil intik nie). Wat lekker is van BlackBerry, is dat jy al jou huidige e-pos posbusse soontoe kan herlei en dan sonder te veel beslommernis jou boodskappe kan kry. Ook aanhangsels is maklik a.aaibaar. En die voordeel is, jy kan nie skadelike viruses optel nie (wel, nog nie).
Nuwer tegnologiese ontwikkelings behoort die lewe nog makliker te maak. 'n Vraag wat by my ontstaan, is of die selfoon nog een of ander tyd soos 'n boek gaan raak? Was een van die redes hoekom e-boeke nie juis populêr geraak het nie, nie die feit dat dit moeilik bekombaar was en 'n afsonderlike apparaat nodig gehad het nie? Met verbeterde tegnologie, vinniger toegang en groter! selfoonskerms is seker enige iets moontlik. (Snaaks hoe mens weer deesdae iemand met 'n groot selfoon met ontsag bejeën.)
