Rol van boeke
Ons het verlede jaar 'n buitengewone reënjaar gehad en dit was veral vir kinders en bejaardes moeilik om by die biblioteek uit te kom.
Ten spyte daarvan het kinders met plastiek oor die koppe en boeke onder die baadjie die weer trotseer en ver gehardloop om net weer ander boeke in die hande te kry. 'n Bejaarde bel en sê: 'Maak tog 'n plan dat ek ander boeke in die hande kry. Jy weet, mevrou, die boeke is my slaappille.'
Ek het weereens besef watter belangrike rol boeke in ons lewens speel, van jonk tot oud.
Met die maan gepla
Op 'n baie besige Woensdagmiddag, toe dit gegons het van navrae vir skooltemas, het 'n moedelose ma kom vra waar sy inligting kon kry oor groepe of volke by wie die maan 'n rol speel in hulle geloof of kultuur. Dit was nadat sy haar al moeg gesoek het na 'n gedig waarin ook na die maan verwys word.
Eerstens het ons toe boeke gesoek oor die Islamgeloof waar daar gewag word om die maan te sien voordat Ramadaan kan begin, maar die inligting was maar min. Daarna het ons ons gewend na die Boesmans wat baie waarde aan die maan heg. Terwyl die ma die inligting bestudeer, het ek intussen ander navrae hanteer en toe ek weer opkyk, staan dieselfde vrou weer voor my en vra baie moedeloos of daar nie meer inligting beskikbaar is nie. Ek antwoord haar toe ewe moedeloos dat ek al die 'boeslam'-boeke vir haar gegee het. Twee vlieë met een woord! So het daar 'n woord ontstaan wat ons na 'n besige dag gebruik...ons is boeslam gewerk!
Boekafdrukke?
n Seuntjie bring sy ma se boeke in. Sy het natuurlik gesê dat die boeke moet hernu word. Baie parmantig sê hy toe: 'Tannie, my ma wil van al die boeke afdrukke hê.' Ek was baie verstom en vra toe hoekom, waarop hy antwoord: 'Sy het nog niks gelees nie tannie, sy lê heeldag en televisie kyk.'
Boeke loop uit n Graadeenleerling wat vir die eerste keer boeke uitgeneem het, het nie haar boekies by die toonbank ingehandig toe sy dit terugbring nie. Sy het deurgestap en haar boekies in die rak teruggesit. Sy het vir haar twee ander boekies gevat en amper by die deur uitgestap as ons haar nie gekeer het nie!
Op 'n ander geleentheid het 'n tienermeisie op 'n dag haar ma se boeke ingebring en ander boeke geneem. Sy was so ingedagte dat sy by die deur uitgestap het sonder om die boeke te laat stempel. Ek was ook so bedrywig dat ek nie gesien het dat sy uitstap nie. Sy het eers halfpad huis toe ontdek dat sy nog met die rooi boekbonnetjies in haar hand loop en dat die boeke nie gestempel is nie. Sy moes net daar in haar spoor omdraai, baie verleë!
n Biblioteek is nie net 'n bymekaarkomplek waar boeke uitgeruil en kennis vir die samestelling van take verkry word nie. Dit het veel meer betekenis vir 'n groot gedeelte van die gemeenskap. Die biblioteek kan gesien word as 'n 'home from home' aangesien verskillende mense met verskillende probleme die biblioteek besoek en dan is dit die bibliotekaris se taak om elkeen te bedien volgens sy behoefte.
Daar is soveel behoeftes: die verstoteling wat nie welkom en tuis voel by sy huis nie, 'n hartseer persoon, 'n moedelose ouer van ongehoorsame kinders - almal kom soek hulp en leiding in die onderskeie boeke. So ook 'n werklose wat wil lees oor entrepreneurskap, 'n moeë persoon met .nansiële probleme tuis, 'n depressiewe persoon op die rand van sy afgrond, maar dan is daar ook die oumensie wie se huis leeg is en 'n behoefte aan 'n geselsie het.
Die persoon agter die toonbank plaas nie net 'n stempel op die boek nie, maar deel ook in die lief, leed en geluk van die besoekers, ontvang en gee liefde en opvoeding aan vrolike kinders, luister graag wanneer daar oorgeborrel word oor die suksesse, maar ook die hartseer van die kinders, kleinkinders, familie en vriende.
Die jarelange vriendskap en vertroue wat opgebou is tussen die leser en die bibliotekaris, maak van haar 'n vriendin wat altyd daar is wanneer sy nodig is. Sy bedien klein en groot met raad en kennis uit die boeke, maar ook uit die hart.
Navrae...
ADVERTENSIETARIEWE
Volblad
Kleur R2 200 Bloei (213mm x 286mm)
Swart-en-wit R1 100 Snypunte (210mm x 280mm)
Teks (180mm x 240mm)
Halfblad
Kleur R1 900 Horisontaal (80mm x 120mm)
Swart-en-wit R750 Vertikaal (85mm x 240mm)
¼ Blad
Kleur R1 200 (85mm x 120mm)
Los insetsels R1 100 per bladsy per uitgawe
Snypunte (205mm x 275mm)
