BOEK
hulpelose uitgelewerdheid aan die blinde gang van die natuur en oor sy onvermoë om homself of sy geliefdes teen die katastrofe van menswees te beskerm.
Die omslagontwerp - deur die skrywer self - is die stemvurk vir die roman. Soos die onbeholpe, kinderlike skrif van die titel oorvloei op die strak natuurtoneel met sy duidelike ('n mens sou kon sê onverbidde­like) omlynings, so word die personasies in die roman getoon in hul patetiese pogings om nee te sê aan die onafwendbare gang van die natuur.
Sagie het sy letterkundige broers in die Afrikaanse letterkunde. 'n Mens dink aan Jochem van Bruggen se Ampie (in die Ampie-trilogie) en aan CM van den Heever se Freek in Op die plaas. Stilisties en psigologies vind ek hierdie roman egter veel suiwerder en indringender as die genoemde werke. Is Sagie het - mét sy keuse van ver­haalstof - die 'gemoedelik-lokaal-realistiese' ver verbygestreef.
Met Is Sagie het Jan van Tonder vir hom 'n plek in die voorste ry van Afrikaanse skrywers oopgeskryf
Aandenking vir 'n vry man
In Jan van Tonder se debuutnovelle, Wit vis, het ek nogal 'n renons gehad: dit was so 'n tydskrifferige, sentimentele, melodramatiese en bowenal manlikchauvinistiese aanbied­ing van 'n lesbiese verhouding dat die blote drakerigheid mens laat gru het.
Daarom is sy tweede publikasie, die kortverhaalbundel Aandenking vir 'n vry man wat pas by HAUM-Literêr verskyn het, des te meer van 'n verrassing: en dis sekerlik 'n uitmuntende voorteken van wat mens voortaan van dié uitgewery se nuwe literêre program kan verwag. Drie-en-twintig ver-hale uit en oor die tronkbestaan word hierin gebundel, die meeste héél kort ('n hele paar skaars 'n enkele bladsy lank), en byna almal vanuit die ervaringshoek van gevangenes vertel.
Trouens, die leser word die meeste geruk deur die understatement, die Iseriaanse 'oop plekke' wat gelaat word, die uiterste beheersing - in so 'n mate dat die taal dik­wels selfs houterig, onwennig voorkom (nog 'n opsig waarin Van Tonder aan 'n Van Melle herinner).
Epiphanies' dit is die meeste van dié gedronge klein tekste inderdaad: intense momente waarin nietige situasies oopgeruk word om die mens te openbaar.
Daar was instansies wat ná onthullings oor ons gevangenisdiens deur gevangenes dié openbarings afgemaak het as die sensas­ionele oordrywings van mense wat agterna wou wraak neem. Van Tonder was nie 'n gevangene nie.
Dat dit egter veel méér as joernalistieke onthulling is - dat dit van die mees gelade kortkuns is wat ons in der-jare in Afrikaans te lese gekry het - maak van Aandenking vir 'n vry man iets memorabels.
Bronne
Reeds met die openingsreël in Roepman sê Timus se pa vir hom: 'Die lewe is nie 'n storie nie, Timus...' Ook op die skudblad staan daar: ''n Storie is nie die lewe nie.' Dit word dan duidelik dat ons as lesers saam met die roman gaan beweeg tussen syn en skyn, en nie altyd onderskeid sal kan tref tus­sen die werklikheid en die verdigsel nie.
Van die begin is dit opmerklik dat daar 'n ooreenkoms is met Van Tonder se eie grootwordjare. Inderdaad stel hy dit dan ook so aan Sonja Loots in 'n onderhoud oor Roepman: 'Dit is seker die naaste wat ek ooit aan 'n outobiogra.e sal kom... Ek het baie bygelieg, baie weggesteek, maar ook baie behou.' (Rapport, 17 Oktober 2004, p.4.)
Soos Timus was Van Tonder die jongste van sewe kinders, en het gedurende die sestigerjare in 'n Durbanse spoorwegwoon­buurt grootgeword. Sy ma was 'n huisvrou, en sy pa 'n stootskraperoperateur asook 'n baggerbootman. Op Human en Rousseau se webwerf verskyn 'n baie interessante CV wat Van Tonder oor sy wyduiteenlopende loopbaan geskryf het. Aanvanklik het hy vir predikant gestudeer, daarna volg 'n BA graad met Afrikaans, Sielkunde en Kriminologie as hoofvakke. Verskeie beroepe volg, onder an­dere, die Gevangenisdiens, nywerheids-oplei­dingsbeampte, joernalis by verskeie koerante en by die SAUK, asook omroeper. Deuren­tyd het Van Tonder sy loopbaan onderbreek om te skryf. So verskyn 'n kortverhaalbun­del, Aandenking vir 'n vry man, en daarna twee romans, Is Sagie en Die kind.
Elkeen is vir verskeie pryse benoem, en Die kind ontvang die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV) en Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) Prosa Prys. Na 'n stilte van vyftien jaar verskyn Roepman, en word ook op die kortlys geplaas vir die ATKV Prys.
In Roepman ontmoet ons die uitgebreide Rademan-gesin: Timus se pa Abram as hoof van sy streng en nougesette patriargale gesin; sy ma Ada wat met haar lewenslus en energie die groot gesin bymekaar probeer hou; die oudste tweeling Braam en Martina, wat albei werk (Braam is die enigste broer en 'n bo-baas storieverteller en leesgierige); die tweelinge Mara en Rykie, wat 'n groot 21ste party beplan (al wat in die pad van die party staan is die feit dat Rykie swanger is, en dat pa Abram weier dat daar gedans mag word!); die jongste tweeling Bella en Erika met hul onderskeie intense verhoudings met Boytjie, Gladys se seuntjie, en Salmon, die oulike jongman; Ouma Makkie wat by die gesin kom woon na Oupa se afsterwe, en die seuns moet hulle kamer opoffer (Braam slaap in die gang op 'n opvoubare bed, en Timus by sy ouers in die kamer); Timus self, die dromer, die a.oerder en a.uisteraar, die leser se oë en ore wat met sy onuitputbare bron van nuuskierigheid alles wat gebeur, oorvertel.
Voorts leer ons al die ander onvergeetlike karakters ken: daar is oom Gouws met sy vliegduiwe, maar ook sy bossie carnations en 'n bottel in 'n bruinsak op payday op pad na Goolshan se kaya; sy dogter Melinda wat net rooi panties dra; haar sussie June wat polio gehad het; die aggressiewe Zane wat saans vlermuise met 'n draad doodslaan; sy mooi meisie Helen met die blink bikini; die buurseun Hein met sy vuilbek; die weeskind Ruben met sy duistere agtergrond; en die huishulp Gladys en haar seuntjie Boytjie, wat te groot word vir die agterplaas.
Die verhaal skarnier natuurlik om Joon, die roepman, wat almal betyds moet wakker maak vir hulle skofte. Ook sy ma, ant Rosie, wat elke dag klippe optel. Joon se rol in die verhaal is egter meer as roepman wees; hy verteenwoordig die stryd tussen goed en kwaad, tussen reg en verkeerd. Hy besit 'n soort magiese krag om altyd op die regte plek op die regte tyd te wees, en om met bomenslike insigte in te gryp waar nodig. So spaar Joon, byvoorbeeld, vir Timus van erge verleentheid nadat hy sy broek natgepiepie het deur hom heeltemal nat te spuit met die tuinslang: 'Nou sal niemand meer kan sien nie...' (p.107). Joon weet instinktief dat Timus bang is vir Ruben se sinistere neigings na die tragies-komiese uitstappie na die walvisstasie (en veral die angstige maar skreeusnaakse bunny-chow insident, p.143).
Van Tonder vestig al die verhaalelemente vroeg in die roman, en brei dit uit saam met die loop van die verhaal. Sodanig word die tydlyn duidelik in die sestigerjare geplaas met dr HF Verwoerd se portret in die sitkamer, die aanvalle op sy lewe, en die uiteindelike aanslag en begrafnis. Die politieke milieu van dié era word raak geskets, met, onder andere, die spanning en kon.ik tussen die twee hoofstroom partye, naamlik die Natte en Sappe. Daarmee gepaard die konserwatiewe en besonder moralistiese godsdienssiening, asook die rassistiese ver­houdings, opvattings en optredes wat in dié politieke klimaat gedy het. Ons lees hoe die verskillende karakters reageer wanneer Elias vir Beauty slaan, die algemene houding wat teenoor die polisie heers, en ouma Makkie se menslikheid en wysheid wat tydelike verligting bring (pp.61-64).
Van Tonder slaag myns insiens ook daarin om diepte te verleen deur middel van kontraste; Pa Abram se dominerende rol in die gesin berus op die eng, versmorende Calvinistiese en patriargale sisteem, en terselfdertyd word daar verwys na '...sy rein gewete...' (p.7). Dit bereik 'n hoogtepunt waar Abram vir Salmon forseer om 'n keuse te maak tussen sy liefde vir Erika en sy geloof, die ou Apostoliese. Die onverbid­delikheid van Abram se tonnelvisie word skreiend openbaar.
Al die tragiese elemente word egter versag en vermenslik met 'n goeie dosis humor wat in die roman teenwoordig is. Juis as gevolg van sy kinderlike onskuld beland Timus in komiese situasies, en verwoord dit boonop in nog meer humoristiese belewenisse. Reg aan die begin van die roman hoor ons Timus het sy arm gebreek nadat hy uit 'n boom geval het waar hy die Bantoes afgeloer het. Ter verduideliking voer hy aan: 'Maar ek het nie gejok nie: dit wás 'n Bantoe wat my arm gebreek het' (p.19). Timus breek sy ander arm deur van die dak af te val waar hy probeer het 'om skuim te piepie'. Ter verduideliking voer hy aan: 'Ek het hom afgepie' (p.74). Terwyl Timus sy ma en Hannie se gesprek oor al die tweelinge (dubbeldore) a.uister, redeneer hy as volg: 'Dubbeldoor. Dis 'n ding wat ek nog nooit kon uitgewerk kry nie, al het ek vyf susters en twee ore en twee oë... Ek loer hulle so uit die hoek van my oog, en ek het nog nie 'n eier van 'n uur oud aan een van hulle gesien nie' (p.15).
Van Tonder maak ook gebruik van die sim­boliese rol van water wat sterk spuit. Reeds aan die begin van die roman vind ons Abram wat met die tuinslang in die hand die gras natspuit terwyl Timus in die badkamer wag vir sy pak slae. Die aandag word gevestig op die sterkte van die stroom as gevolg van die hoogte van die watertoring, en die dik pype wat die water onder die pad na die huise vervoer. Telkemale lees ons Abram neem die tuinslang om die gras nat te maak, of sommer net te spuit. Hierdie simboliese gebruik van waterspuit stapel op totdat die klimaks bereik word waar die pyp in die pad oopbars, en die water in 'n sterk fontein opspuit. Die hele verhaal het opgebou na hierdie hoogtepunt toe. Dit is die aand van Mara en Rykie se twenty-.rst, maar as gevolg van Verwoerd se begrafnis geld die toegewing om te mag jive nie meer nie. Die partytjie is 'n totale mislukking. Wanneer die pyp bars, lok dit almal soontoe. Eers daag Joon op, dan Mara en Rykie, en dan ouma Makkie in die rolstoel. Mettertyd volg al die buurt se mense en staan verwonderd onder die sterk water van die fontein. Daar is ooms en tannies en seuns en meisies. Melinda trek eerste haar klere uit totdat sy net haar rooi pantie aanhet, en kort voor lank volg almal haar voorbeeld. Al die kaal, nat en blink lywe dans op oom Gouws se musiek onder die vallende water. Hierdie heerlike en oproerige dans ontwikkel in 'n fantastiese en magiese gebeurtenis waarin almal 'n soort reiniging ondergaan. Meer nog, almal is kaal, almal is nat, almal dans saam, almal is nou gelyk. 'Die mense kyk op. Kop agteroor staan hulle. Almal lyk skielik vir my soos Joon' (p.184).
Van Tonder gebruik al hierdie verskillende elemente in sy roman om veelvlakkigheid en tekstuur te verleen aan die 'coming of age' verhaal van Timus se grootwordproses. Terwyl die storielyn meedoënloos voort­spoed na die tragiese eindpunt waar Joon tussen twee trokke vasgestamp word, verlig die skrywer die patos deur, onder andere, Timus se seksuele ontwakenings. Daar is Timus se beheptheid om manlike proporsies aan te neem met sy lyfhare, sy 'peester', en veral om soos 'n regte man te kan skuim piepie. Daar is die onskuld en verwondering in die vroulike .guur en misterie as Timus vir Gladys a.oer terwyl sy bad. En daar is Timus se teer en pynlike gevoelens jeens Elsie in sy eerste verliefde ervaring.
In sy resensie oor Roepman noem Philip John dat die perspektief van die roman ''n skerp lens van onskuld' is waarmee Timus die volwasse wêreld met al sy waansin, humor, tekortkominge, hartseer, gewoonheid en lyding a.oer en a.uister. (Die Burger, 3 Januarie 2005, p.9.) Hierdie beelde en tekens word onverbloem aan die leser oor-gedra sonder om 'n onderskeid te tref tus­sen reg en verkeerd, goed en kwaad, en selfs tussen werklikheid en verdigsel, syn en skyn.
Die verhaal beweeg dus naatloos tussen hierdie twee pole, en sorg vir die nodige spanning. Aan die een kant is die lewe van gewone mense in 'n alledaagse werkers-klas omgewing, en aan die ander kant die magiese kragte van bomenslikheid en ver­beeldingsvlugte. Daar word ook gekontras­teer tussen die konserwatiewe, patriargale sisteem van die man (Abram), teenoor die lewenslustige energie van die vroue (Ada en die susters). Dit is veral die jong susters wat uiteindelik weier om verder onderdruk te word deur die eng en versmorende beperkinge van hulle vader, en van hulle breek dan inderdaad vry en verskuif hulle grense letterlik en .guurlik.
Aan die einde van die roman is daar 'n vinnige opeenstapeling van tragiese mo­mente; Joon word vasgestamp tussen die twee trokke en is dood, sy ma ant Rosie verdwyn en vaar op na die hemel, en laat net haar sak klippe agter, en ouma Makkie sterf stil in haar slaap. Dit beteken ook die einde van 'n era: Abram word bevorder en die Rademans verhuis na Stanger, en die gesin breek uitmekaar. Dit beteken ook die einde van 'n era by die Spoorweë: 'Daar het nie 'n roepman in Joon se plek gekom nie. Die Spoorweë sê die tyd van wakker maak is verby, mense weet goed genoeg hulle moet opstaan om te gaan werk' (p.197). Selfs die trokke word sonder vrag heen en weer gerangeer. Ook Timus het grootgeword. Sy fokus en aandag verskuif: 'Ek pie nooit meer buite nie. En in die lêwwetrie mik ek na die kant van die bak' (p.198).
Ten slotte glo ek Jan van Tonder het uitstekend geslaag om 'n roman te skryf met geloofwaardigheid in sy milieu, sy karakters, en sy storielyn. Die gewone, alledaagse mense se lewe word belig met al sy fasette, asook die magiese elemente. Die roepman wek nie net die mense om betyds te wees nie, dit dien as 'n wekroep vir elkeen om die basiese goedheid in elke mens te laat ontwaak.
Ek het met groot vreugde en deernis hierdie lankverwagte roman van Jan van Tonder geniet, en hoop dat hy vinnig 'n volgende werk die lig sal laat sien.
Die lewe is nie 'n storie nie
Al die tragiese elemente word egter versag en vermenslik met n goeie dosis humor
