AGTERBLAD
n Leeskring ervaring
Almal wat my ken, weet dat ek meer begaan is oor waar die plaaslike biblioteek is, as waar die winkels geleë is.
Almal vir wie boeke 'n passie is, sal ook verstaan dat ek elke keer die afgelope dertig jaar, as ek getrek het, eers uitgevind het waar die plaaslike biblioteek is, voordat ek geweet het waar om brood en melk te koop.
As laerskoolkind in 'n klein plattelandse skooltjie, was ek die enigste kind in my klas wat vrywillig boeke uitgeneem het, tot die irritasie van die personeellid wat die biblioteek spesiaal vir my moes gaan oopsluit. In die hoërskool het ek minder belang gestel in die skoolbiblioteek, maar veel eerder die dorpsbiblioteek se bibli­otekaresse oortuig dat my ma nie omgee as ek liefdesverhale lees nie. Vroeg ryp, vroeg vrot, het my ouma afkeurend gewaarsku.
Toe die keuse van 'n aftreeplek 'n werk­likheid begin word, het ek net een vereiste gehad, enige dorp by die see is goed, solank daar 'n biblioteek is. My man het darem aan 'n paar praktiese dinge ook gedink, maar uiteindelik het ons die perfekte dorp ontdek, naamlik Kleinmond.
Die meeste afgetrede persone sal vir jou sê dat die lekkerste deel van aftrede die feit is dat jy nou skielik tyd het vir al daardie dinge wat jy nog altyd graag wou doen, maar nie kon nie. Miskien het jy gewerk, miskien het die kinders en hulle dinge jou te besig gehou. Party vroue moes werk én kinders én 'n huishouding hanteer!
Een van die dinge wat ek altyd graag wou doen, maar nooit kon nie, was om aktief by 'n leeskring betrokke te wees. Vir lees het ek altyd tyd gemáák, knyptydjies op die bus, 'n hoofstuk of twee gedurende etenstyd, laaste ding in die aand voor ek gaan slaap. Maar tyd vir 'n leeskring? Nooit!
Nou net mooi drie jaar gelede, het ons op Kleinmond kom aftree, en die heel eerste klub of organisasie wat ek gekontak het, was ons plaaslike leeskring.
Sommer met die eerste byeenkoms wat ek bygewoon het, het daar 'n klip in my maag gaan lê. Dit was glád nie wat ek my voorgestel het nie. Ek was voorbereid op 'n lekker lewendige bespreking van die boek, Raaiselkind, van Annelie Botes. Almal sit dan net en luister doodstil wat die (baie bekwame) vrou wat die bespreking lei, sê. Niemand rep 'n woord, of kry die geleentheid om hulle mening te lug nie. Almal luister geduldig hoe sy dit sien.
Die eerste geleentheid wat ek gekry het, het ek dalk met effens te veel vuur gevra: 'Maar dink jy nie dis moontlik dat sy die kind vermoor het nie?'
n Hoorbare intrek van vele asems het gevolg. Ek het my eie asem ingehou. Het ek 'n ongeskrewe reël oortree, of wat? Hoekom kyk hulle my dan so snaaks aan? Dít is tog 'n bespreking, dan nie? En so 'n grootse boek verdien dan juis om bespréék te word!
Dit het later geblyk dat dit nou nie juis gedoen word om die persoon wat die be­spreking lei, se mening in twyfel te trek nie, sy het hard gewerk daaraan, baie resensies gelees en navorsing gedoen oor die boek en die skrywer.
Om my mond nou weer toe te kry, veral as ek nie kan saamstem met 'n siening nie, was maar moeilik. Ek het gestaan by my punt, en skielik het nog iemand effens huiwerig gesê dat sy self gedink het dat dit moontlik is. Die gevolg was uiteindelik 'n lewendige bespreking, almal in twee kampe - het sy, of het sy nie?
Noudat ons mekaar gevind het, is die maandelikse leeskring-vergaderings beslis 'n hoogtepunt in my dagboek. Ons vergader in die biblioteeksaal, so voor en na die tyd sien jy mede-leeskringlede met armsvol boeke.
Ons biblioteek is natuurlik gaaf genoeg om vooraf 'n klomp van die boeke wat bespreek word van ander biblioteke aan te vra, en hulle hou ook 'n wakende oog oor die regverdige verspreiding van die boeke onder lede.
Die persoon wat die bespreking lei, het voorwaar 'n taak op hande, om die standaard wat deur voriges gestel is, te handhaaf. Alle uitknipsels van resensies word sorgvuldig bewaar, inligting word aangevra van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), en die Internet word ingespan. Dis 'n uitdaging om aan jou bespreking te werk met so 'n uitgelese, intellektuele groep mense!
Soms is ons ook bevoorreg genoeg dat die skrywer van die betrokke boek ons self kom toespreek, so het ons, onder andere, hierdie jaar die kleurryke Johan Bakkes ontmoet.
Kleinmond Leeskring is sowaar 'n heerlike manier om die breinselle aktief te hou!
Nota: Sien 'n leeskringbespreking van Raaiselkind in KB, N/D 2003, p.27.
