BEPLAN JOU
storie-uur
Daar is niks wat kinders so vinnig by die biblioteek kry soos 'n storie nie. Voeg 'n aktiwiteit by en dis 'n wenre­sep! Dit verg egter goeie beplanning vooraf.
Elke week word volgens 'n tema beplan, byvoorbeeld, ouma, oupa, hond, kat, spinnekop, see, kuier, ensovoorts.
Die lengte van die stories wissel van jaar tot jaar, afhangende van die ouderdomme van die kinders in die groep. Vanjaar se kinders wissel van een tot vyf jaar oud - Afrikaans-, Engels- en Xhosasprekende spruite.
Kies nie meer as drie boeke wat oor die­selfde onderwerp handel nie, byvoor­beeld, drie boeke waarin 'n jakkals is.
Boeke moet kleurvolle, eenvoudige illustrasies hê, baie prente op een bladsy werk nie, en moet ook nie te besig wees nie. Hoe eenvoudiger hoe beter.
Dit is belangrik dat stories vertel word en nie voorgelees word nie. Sit aksie by, maak die storie lewendig. As daar diere in die storie is, laat die kinders die diere se geluide maak. As iemand slaap in 'n storie laat hulle lê en maak of hulle slaap en laat hulle sommer lekker snork!
Een van die grootste probleme is laatkommers. Hulle kan 'n storie sy hele draad laat verloor. Ook groot groepe kinders wat opdaag sonder om te laat weet dat hulle kom. Daar moet immers vir die handwerk-deel voorberei word.
Dan is daar van die grootmense wat verwag dat 'n kind so stil soos 'n muis moet wees.
So nou en dan kan van die ouers ook maar betrek word by die storie-uur. As ons die slag speletjies speel, sing of dans, neem die mam­mas en oumas ook deel. Een van ons mam­mas ('n opgeleide instruktrise) het al vir ons aërobiese oefeninge laat doen. Met Paasfees het 'n ander mamma vir ons Paas-eiers gebring wat ons weggesteek het.
Die aktiwiteite ná die stories moet verband hou met jou tema, en van so 'n aard wees dat die kind die grootste gedeelte self kan doen. Hulle neem ook dan die item saam huis toe, sodat pappa/mamma, en­sovoorts, ook die storie agter die item kan hoor. Op hierdie manier word hulle luistervaardighede ook getoets.
Dis nie nodig om geld uit te gee nie. Maak net ou goed bymekaar en herwin.
Plaas 'n kennisgewing in die biblioteek van artikels wat benodig word, die publiek voor­sien graag as hulle weet dis vir hulle kinders. Vra vir afval soos geskenkpapier, ou tydskrifte, verjaarsdagkaartjies, toiletrolle en vetkryte. Ou koerante kan verkoop en die geld ge­bruik word om verf/karton, ensovoorts, mee aan te koop. Hou 'n poppekas en vra 'n klein toegangsfooi om geld in te samel.
Storie-uur kan 'n verskil aan kinders se lewens maak deur hulle aan stories met 'n verskeidenheid temas bloot te stel. Hulle leer handvaardighede waaraan baie dalk nie blootgestel word nie, soos inkleur, verf, knip, plak, pas en skeur.
Dis 'n groot voorreg om met kinders te kan werk en 'n deel van hulle lewens te wees. Hulle gee so baie terug, baie meer as die bietjie wat jy as storietannie vir hulle kan gee. Onthou altyd 'n kind wat storie-uur geniet, is 'n kind wat gaan lees en die biblioteek gaan gebruik en geniet tot hy oud is.
Bibliotekaris, Bonteheuwel Biblioteek
Sowat twaalf leerders van Laerskool Boundary het 'n onderwyser by die skool genader vir hulp met hul skryf-werk. Die groep het reeds heelwat op hul eie geskryf: gedigte en kortverhale.
Die onderwyser, Abdulgakiem Samodien, is na Julian Schroeder (bibliotekaris), wat op sy beurt vir Leonard Koza, 'n bekende skrywer en Susan Botha, skrywer/joernalis, genader het. Hy was bewus daarvan dat hulle reeds besig was met navorsing om 'n skryfprogram te ontwikkel.
Daar is besluit om te begin met 'n twee ure werkswinkel, gefasiliteer deur die Vriende van Bonteheuwel Biblioteek.
Doelwit
Om 'n liefde vir Afrikaans, Engels en skryf te ontwikkel en te bevorder.
Om die belangrikheid van lees en die biblioteek te bevorder.
Om die leerders se selfwaarde en selfvertroue te ontwikkel.
Om uiteindelik te kyk na moontlike loopbane binne die skryf/leesbedryf.
Werkswinkel n Werkswinkel van sowat twee en 'n half ure is gedurende die Septembervakansie aangebied as inleiding tot die skryfkuns. Die onderwyser het dit ook meegemaak.
Daar is gou besef dat die meeste van die leerders ernstig en baie entoesiasties is oor hul skryfwerk en dat 'n opvolgsessie(s) nodig sal wees. Die onderwyser het ook hierdie sessie bygewoon.
Die leerders het ook laat blyk dat skryf-werk en die kursus 'n uitlaatklep is vir die sosiale euwels waarmee hulle gekonfronteer word.
Die Vriende van die Biblioteek het gesorg vir versnaperinge en middagete.
Die pad vorentoe
Die groep (fasiliteerders, leerders en onderwyser) het besluit om 'n uur lange sessie een keer per maand te hou.
Die biblioteek gaan ook help om Internet-adresse vir die leerders te skep, waardeur hulle deurentyd in verbinding kan bly met die fasiliteerders.
Die vooruitsig van 'n skryfklub word ook ondersoek. Veral in die lig daarvan dat meeste van die leerders wat nou betrokke is, Graad 7-leerders is wat volgende jaar na verskillende sekondêre skole toe gaan.
Leerders van ander skole wat belangstel om hierdie sessies by te woon, word hartlik uitgenooi om die organiseerders te kontak by 021 694 4684.
Skryfprogram wat werk
