Volgens Mnr Deelman is die sirkulasiesyfer 'n goeie aanduiding van die groot behoefte wat daar aan 'n biblioteekdiens was. Al­hoewel hy baie entoesiasties oor die projek is, is van sy grootste probleme tans 'n gebrek aan ruimte en die feit dat die boekevoorraad heeltemal onvoldoende vir die gemeenskap se behoeftes is. Hy voel baie sterk oor die oprigting van 'n biblioteekgebou vir die ge­meenskap sodat 'n volwaardige en meer uit­gebreide biblioteekdiens gelewer kan word.
Dienste word gelewer aan die hele ge­meenskap, kinders en volwassenes, en daar word ook spesiale tyd uitgesit vir leerders, wat in Atlantis en Malmesbury skoolgaan, om skoolprojekte te doen.
Statistiek
Ledetal: Kinders 275
Volwassenes 185
Voorraad: 1 745
Vry (slegs vir skoolprojekte) 14:00-15:30
Op 29 September het ek die voorreg gehad om Darling-Noord Biblioteek se vakansiepro­gram by te woon. Die tema vir die dag was heel gepas, 911 - Besker­mingsdag.
Die Darling-Noord Biblioteek reëlingskomitee bestaande uit die bibliotekaris, Anne Lategan, en vyf gemeenskapslede, het hulself oortref deur alle rolspelers in die gemeen­skap, vanaf die publiek tot die nood-, beskermings- en gesondheidsdienste vir die geleentheid te betrek. Die bywoning uit die gemeenskap was besonder goed en ongeveer 500 kinders en 40 volwas­senes het die verrigtinge bygewoon.
Die program het begin met 'n gebed en verwelkoming deur Raadslid Abe Johnson. Die munisipale polisie was eerste aan die beurt en het die kleinspan oor padveiligheid en kinder­beskerming ingelig.
Na 'n dansvertoning deur die plaaslike dans­groep, Darling Fokus, het die Atlantis Brandweer en Metro Ambulansdienste die kleinspan oor brandgevare, noodhulp en die gebruik van noodnommers ingelig.
Die hoogtepunt van die dag was 'n simulasie van 'n motorongeluk en die optrede van die nood- en beskermingsdienste in so 'n geval.
Die noodvoertuie en munisipale polisie het die 'ongelukstoneel' met loeiende si­renes genader en die gebied afgesper. Elke beampte het presies geweet wat om te doen en in 'n oogwink is die 'beseerdes' met meganiese kake (jaws of life) uit die motor­wrak gesny, op die toneel gestabiliseer en per ambulans weggeneem.
Met dié realistiese demonstrasie het die skare tot meer as 800 gegroei en dit was gevolg deur 'n demonstrasie van die brandweer waarin 'n brandende motorwrak geblus is.
Na 'n pouse waartydens broodrolletjies en lemoene aan die kinders uitgedeel is, het die program voortgegaan met praatjies oor kanker en vigs.
Captain Crime Stop het die .nale by­drae gelewer met 'n lewendige praatjie oor misdaad. Die seremoniemeester vir die dag, Cathleen Fortuin, het almal bedank en daarmee 'n baie geslaagde program afgesluit.
BESKERMINGSDAG
Heel bo: Chatsworth se entoesiastiese jong lesertjies besig om die genot van lees en boeke te ontdek
Regs bo: Simulasie van motor-ongeluk en optrede deur nood- en beskermingsdienste
Regs: Kinders uit die gemeenskap luister aandagtig na praatjies oor padveiligheid, brandgevare, noodhulp, kanker, vigs en kinder­beskerming
