U &gt Die Bestuur van 'n Kleinsake-Onderneming : Sakebeplanning
Die Bestuur van 'n Kleinsake-Onderneming : Sakebeplanning
BASIESE BEGINSELS VAN SAKEBEPLANNING
Dit is uiters belangrik dat jy die toekoms van jou onderneming moet beplan.
As jy nie daarop voorbereid is nie, kan dinge gebeur wat jy dalk nie sal kan hanteer nie. As dit gebeur, reageer jy net op probleme, in plaas daarvan om uitdagings kalm te hanteer. Die meeste sakeprobleme kan opgelos word as jy so beplan dat dit nie as verrassings op jou afkom nie.
As jy net op probleme reageer, in plaas van 'n algemene plan vooraf te hê, kan dit swak sakebesluite tot gevolg het wat jou onderneming oor die langtermyn skade kan berokken. In enige sakesituasie wil jy graag in 'n posisie wees om voordeel uit geleenthede te trek, en nie net besig wees met die oplos van ou probleme wat met versigtige sakebeplanning voorkom kon gewees het nie.
VRAE WAT DIKWELS GEVRA WORD:
Hoe dikwels moet sakebeplanning gedoen word?
Algemeen gesproke is sakebeplanning 'n aanhoudende proses. Dit behoort voor die begin van elke maandelike siklus gedoen te word.
Hoe stel mens 'n sakeplan op?
Stel jou verkoopsdoelwitte en enige ander doelwitte wat jy moet bereik om die onderneming te laat groei, op skrif.
As jy 'n lys het, kan jy aan die einde van die maand kyk of jy die verkope en ander doelwitte bereik het.
Hoe bly ek op die hoogte van my bedryf, selfs as ek 'n kleinsakeonderneming besit?
Afgesien van hoe klein jou onderneming is, is dit 'n goeie idee om ingelig te bly deur 'n jaarlikse oorsig te doen van die ontwikkelings in jou bedryf. Jy moet vasstel hoe suksesvol jou onderneming van jaar tot jaar is, wat gewerk het en waaraan aanpassings gemaak moet word.
Dit kan veranderings aan die personeel wees, of 'n raadgewer wat op jou onderneming se gebied spesialiseer. Om insigte uit alle dele van die bedryf in te win is 'n goeie idee, en is 'n ideale manier om toekomstige idees vir jou onderneming in te samel wat miskien nie in die alledaagse bedrywighede na vore kom nie. Dit is harde werk wat in die meeste gevalle geleenthede skep. Dit is veral van toepassing as jy jou onderneming wil uitbrei, of internasionale ontwikkelings beplan.
BELANGRIKE GEBIEDE VIR SAKEBEPLANNING:
Indiensneming
Voorbeeld: 'Wat sal jou personeelbehoeftes in die toekoms wees?'
Hier is dit uiters belangrik om te beplan. As jou sleutelpersoneel siek word of bedank, sal jou onderneming kan voortbestaan as niemand daardie rol speel nie? Hoe lank sal dit ook neem om die regte vaardighede vir die pos in die hande te kry? Dit is veral van belang as jy hoogs-gespesialiseerde personeel het.
Jy moet ook weet wanneer jy dit kan bekostig om nog personeel in diens te neem en wat jy kan bekostig om hulle te betaal.
Kontantvloei
Dit is hoeveel geld jy in die onderneming beskikbaar het om die aankoop van goedere moontlik te maak wat jy nodig mag hê om die projek te kan voortsit, wat eers betaal mag word wanneer die werk afgehandel is. In sommige ondernemings, veral kleinsakeondernemings, is dit belangrik om oor verdeelde betalings te onderhandel. Een betaling moet gedoen word wanneer die werk aanvaar word sodat jy die kontantvloei sal hê vir die lopende koste van die werk wat jy moet doen.
Verkope
Jy moet weet wanneer jou onderneming nie baie flink sake sal doen nie. Vir sommige ondernemings kan dit in die wintermaande wees, maar vir ander kan die winter die besigste tyd wees. Om seker te maak dat jy van jaar tot jaar oorleef - en floreer - moet jy die verkooppatrone oor die hele jaar ken, sodat jy voorsiening kan maak vir tye wanneer dieselfde hoeveelheid geld nie deur verkope ingebring word nie - of verkoopskommelings. As daar nie goed daarvoor beplan word nie, sal die onderneming se rekenings nie betaal kan word nie en sal die voortbestaan bedreig word. As jy seker maak dat daarvoor beplan word, sal jy geld vir die maer maande hê.
Terug na
Die Bestuur van 'n Kleinsake-Onderneming.
