DROOGTEHULP 2004/2005
Die Minister van Landbou van die Wes-Kaap Provinsie, behou die reg voor om te besluit of 'n persoon vir deelname aan die skema kwalifiseer aldan nie. Dit beteken dat sou u toestande verbeter tydens die droogtehulpprogram, u verdere hulp geweier mag word.
Die droogtehulpprogram strek vanaf u eerste bestelling wat geplaas word, nadat u geregistreer is. Vir dié fase is R8,0 miljoen (vir rabatte op veevoer en vervoer van veevoer) en R1,0 miljoen (vir waternood vir mens en dier) aan die Provinsie toegeken. Allokasies van fondse sal weer aan verskaffers gemaak word. Hulle is dus ten volle in beheer van die geallokeerde fondse. Sou die allokasie uitgeput wees by die verskaffer, mag beteken dat - al kwalifiseer u vir dié hulp - u nie betaal sal/kan word nie.
Die oorbrugging van seisoendroogtes wat inherent is aan die omgewing van die afgekondigde gebied moet deur die grondgebruiker as sy eie verantwoordelikheid aanvaar word. Maatreëls moet teen hierdie droogtes getref word en as 'n integrerende deel van alle boerdery bestuurspraktyke beskou word. Daar word ook van alle veeboere verwag om selfversorgend te wees tydens die aanvangsfase van rampdroogtes.
DOEL VAN DROOGTEHULPSKEMA
Om veeboere finansieel te ondersteun om die rampdroogte te oorbrug en om water te verskaf aan mens en dier in rampdroogte gebiede.
WIE KWALIFISEER
Alle grondgebruikers (Boere), hetsy voltyds, deeltyds of kommunaal in die gebied waar die rampdroogte verklaar is, kan aansoek doen. Hulp sal slegs verleen word aan grondgebruikers wie se eenhede, volgens die oordeel van die Minister, werklik as boerderyondernemings gevestig is en bedryf word.
VERVOER VAN VEEVOER EN VEEVOER
Hierdie hulpmaatreëls geld vanaf die eerste bestelling wat geplaas word, nadat u geregistreer is. Hulp word op 'n glyskaal toegeken aan grondgebruikers wie se registrasies goedgekeur is. Die hulp sal afhang van die aantal groot vee eenheid (GVE) wat die grondgebruiker mee boer en die rabat sal as volg toegeken word, naamlik vir dié wat:
en minder GVE het, ontvang 90% rabat;
tot 50 GVE het, ontvang 80% rabat; en en meer GVE het, ontvang 70% rabat.
Die maksimum aantal GVE waarop rabat betaal word, is 30 GVE. Die maksimum bedrag waarop 'n rabat betaal sal word, is R360,00 per GVE per maand. (Dws sou voer aangekoop word ter waarde van R360 of meer per GVE en u boer met 40 GVE, is die rabat 80% op R360 of te wel R288 per GVE tot 'n maksimum van R8 640 per maand.)
Rabat op vervoer van veevoer n Rabat van 90, 80 of 70% (dieselfde kwalifikasies geld soos uiteengesit in 3.) van die departementele tarief (tans R2,00 per km) vir vervoerkoste, tot 'n maksimum van ses ton per maand, sal betaal word vir die vervoer van goedgekeurde veevoere en lekke aan aanvaarbare karweiers. Die rabat word betaal op die vervoerkoste vanaf die naaste leweransier, waar die deelnemer die voer kan aankoop, tot by die naaste verspreidingspunt of plaas en terug. Ten einde vir die rabat te kwalifiseer moet fakture/bewyse van die vervoerkoste en van die veevoere en/of lekke die maandelikse eis vergesel. Geen rabat word op die vervoerkoste van vee betaal nie.
Let Wel: Eie vervoer word nie gesubsidieer nie!
Rabat op veevoerkoste n Rabat van 90, 80 of 70% (dieselfde kwalifikasies geld soos uiteengesit in 3.) van die departementele tarief van veevoerkoste (R360 per GVE) vir die onderhoud van vee:
Die staatsbydrae word betaal vanaf 'n minimum van 'n 0,5 grootvee eenheid (GVE) tot 'n maksimum van 30 GVE van die toelaatbare veegetal waarmee 'n deelnemer mag boer. Geen wild word in aggeneem vir die berekening van die aantal GVE nie.
Berekenings ten opsigte van die staatsbydrae word per omgerekende GVE gedoen. Uitbetalings is onderhewig aan die beskikbaarheid van Staatsfondse. Die Minister van Landbou sal die tarief per GVE van tyd tot tyd bekend maak.
HULP TEN TYE VAN WATERNOOD VIR MENS EN DIER
Slegs grondgebruikers wat vir droogtehulp geregistreer is, kwalifiseer vir dié hulpmaatreëls. Prioriteit sal gegee word aan diégene waar die nood die grootste is. Van u word verwag om die voorgeskrewe prosedures stiptelik te volg.
Vir volledige besonderhede en aansoekvorms rakende dié hulpmaatreëls, sien Bylae 1.
VOORWAARDES VAN DIE DROOGTEHULPSKEMA
Registrasievorms sal by Voorligtingskantore beskikbaar wees en die voltooide aansoeke moet aan die Voorligtingskantore terugbesorg word. Die amptenare kontroleer alle inligting voordat dit aan die Departementshoof, Privaatsak X1, Elsenburg, 7607 gepos word.
Registrasie is vrywillig en geen keerdatum ten opsigte daarvan word gestel nie. Elke boer besluit wanneer hy/sy wil registreer. Staatsbydrae sal egter slegs bereken word vanaf die maand waarin die deelnemer geregistreer het.
Benewens individuele boere sal boerderymaatskappye, vennootskappe, beslote korporasies en trusts ook vir deelname kwalifiseer.
As daar meer as een natuurlike persoon op een plaas en/of boerdery-onderneming 'n erkende, bewese, afsonderlike en onafhanklike boerdery vir eie rekening bedryf, kwalifiseer al die betrokke natuurlike persone op daardie onderneming. Stawende bewyse word vereis.
Huurders van plase in die gelyste droogtegebied sal tesame met eerste aansoeke 'n regsgeldige huurkontrak moet indien ten opsigte van eiendom(me) wat gehuur word en wat onder die rampdroogtehulpskema ingeskryf word. Die huurtermyn moet ten minste vir 1 jaar vanaf datum van deelname geldig wees.
Kommunale boere moet geregistreer wees by die Plaaslike Munisipaliteit of die verantwoordelike Beheerliggaam. Registrasie bewys van veegetalle moet met eerste aansoek ingedien word.
Vee-inventarisse moet maandeliks noukeurig bygehou word en by die maandelikse eisvorm aangeheg word. Geen wysiging kan na indiening aangebring word nie.
Die huidige telwyse soos voorgeskryf ingevolge die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne, (Wet 43 van 1983), word toegepas.
In die geval van kruisrasse moet applikante duidelik die rasse wat gekruis is op die vee-inventaris spesifiseer. Die omrekeninge tot grootvee-eenhede word as volg gemaak:
Beeste a Waar 'n grootraam met 'n mediumraam gekruis word, word die nageslag as 'n grootraam geklassifiseer.
b In die geval van 'n kruising van mediumraam met 'n kleinraam sal die nageslag as 'n mediumraam beskou word.
c In 'n kruising van grootraam met 'n kleinraam sal die nageslag as 'n mediumraam gereken word.
Kleinvee
In die geval van kleinvee word die grootste omrekeningsfaktor gebruik. As 'n Dorper byvoorbeeld met 'n Merino gekruis word, word die Dorper-omrekeningsfaktor vir die nageslag gebruik.
Perde, ponies, donkies en wild, varke, hoenders en koeie in melk
Let wel: AL bogenoemde kwalifiseer nie vir enige finansiële voordele onder hierdie skema nie.
In alle gevalle, ook by nie-kruisrasse, moet die ras aangedui word op die maandelikse vee-inventaris.
Waar 'n aansoek namens 'n maatskappy/vennootskap/beslote korporasie/trust ingedien word, moet 'n bewys dat die persoon wat die aansoek onderteken behoorlik daartoe gemagtig is, die eerste aansoek vergesel. 'n Uittreksel uit 'n notule van die vergadering waartydens die persoon gemagtig is, is aanvaarbaar.
BESONDERHEDE VAN AANSOEKER:
In die geval van 'n boerdery, vennootskap, maatskappy, beslote korporasie of trust moet 'n lys van die vennote/aandeelhouers/ trustees se name, identiteitsnommers en geboortedatums by die eerste aansoek aangeheg word, asook bewys dat die persoon wat die aansoek onderteken, behoorlik daartoe gemagtig is.
NB: Afskrifte van die volgende moet hierdie Registrasie vergesel:
Titelaktes of Huurkontrakte, Volmagte om names 'n Trust, Maatskappy, Beslote Korporasie, Vennootskap te mag handel, in die geval van kommunale boere die Registrasiebewys van die plaaslike Munisipaliteit, bewys van 'n regspersoon, die maandelikse Veeregister en Identiteitsdokument.
Afskrifte van die volgende moet die opeenvolgende eisvorms vir uitbetaling vergesel:
Veeregister met die volgende aantal handtekeninge: Aansoeker, Wyksbeampte van die Dept van Landbou, Landbou-vereniging voorsitter of uitvoerende beampte van Munisipaliteit.
VRAELYS
Die provinsie is tans besig om 'n opname te maak van werkers op plase in gebiede/areas waar daar rampdroogte toestande voor kom.
Die inligting wat verskaf word is van 'n vertroulike aard en dit sal sodanig hanteer word.
Die feit dat die Provinsie hierdie opname maak is geen aanduiding of moet nie gesien word dat daar noodwendig hulp verleen sal word nie.
Vir elke plaas moet daar 'n aparte vraelys voltooi word. Indien daar meer as tien wonings op die plaas is vir plaaswerkers en hul gesinne moet addsionele vraelyste voltooi word om alle plaaswerkers wooneenhede te dek.
