Taalbeleid
ALLE AFDELINGSKOMMISSARISSE
ALLE PROVINSIALE KOMMISSARISSE
Alle Hoofde
HOOFKANTOOR
Alle Bevelvoerders
Alle Seksiehoofde
HOOFKANTOOR
ALLE ADJUNK NASIONALE KOMMISSARISSE
Die Stafhoof
MINISTERIE VIR VEILIGHEID EN SEKURITEIT
Die Sekretaris
NASIONALE SEKRETARIAAT VIR VEILIGHEID EN SEKURITEIT
TAALBELEID VAN DIE SUID-AFRIKAANSE POLISIEDIENS
A. - E. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ontwikkel tans 'n nuwe taalbeleid wat op die beginsel van doeltreffende kommunikasie binne die raamwerk van veeltaligheid, taalgelykheid en taalregte geskoei is.
Op grond van die Kabinet se goedkeuring van 'n Nasionale Taalbeleidsraamwerk (NTBR) vir Suid-Afrika in Februarie 2003 kan die SAPD se taalbeleid nou afgehandel word.
Die ontwikkeling van die nuwe taalbeleid is op nasionale vlak reeds in 'n gevorderde stadium. 'n Taalbeleidstaakspan wat bestaan uit verteenwoordigers van elke afdeling en komponent by Hoofkantoor, het 'n konseptaalbeleid bespreek en die implikasies van die konsepbeleid vir die verskillende omgewings by Hoofkantoor oorweeg. Dit het aanleiding gegee tot die verslag waarin terugvoering oor die voorgestelde taalbeleid vervat is.
Beraadslagings het plaasgevind in verband met die insette wat van elke afdeling en komponent ontvang is wat weer aanleiding sal gee tot 'n konsep nasionale instruksie oor 'n nuwe taalbeleid vir die SAPD.
Weens die diverse aard van taalgebruik in die land en dan per implikasie ook in die SAPD, sal die konseptaalbeleid van Hoofkantoor aangepas moet word om in elke provinsie se unieke behoeftes te voorsien. Om dit te kan doen, moet daar by wyse van werkswinkels op provinsiale, area- en stasievlak regdeur die land oor die konseptaalbeleid beraadslaag word. Hierdie werkswinkels sal na verwagting tussen November 2003 en Februarie 2004 plaasvind.
Om hierdie proses te vergemaklik, word die volgende vereis:
Alle tussentydse reëlings oor taalbeleid en taalgebruik wat afwyk van Staande Order (Algemeen) 201, moet onmiddellik ingetrek word. Dit sluit in die gebruik van Engels as die enigste medium van kommunikasie in gevalle waar hierdie benadering nie doeltreffende kommunikasie aanhelp nie. SO (A) 201 wat tans nog van krag is, moet nagekom word totdat die nuwe taalbeleid in werking gestel is. Probleme om SO (A) 201 uit te voer en enige afwykings van SO (A) 201 moet skriftelik by die taalbeplanner van die SAPD, sr supt (dr) Calteaux, by calteauxk@saps.org.za of per faks by 393-5002/5425 aangemeld word. Tree in verbinding met sr supt Calteaux indien u duidelikheid wil hê oor die huidige taalbeleid en opsoek is na werkbare oplossings vir taalprobleme.
Elke provinsiale kantoor, areakantoor en stasie moet fasiliteerders vir die taalbeleid aanwys wat elkeen van hierdie kantore of stasies tydens die konsultasieproses kan verteenwoordig. Daar word voorgestel dat hierdie lede, indien moontlik, uit die kommunikasiestrukture op die verskillende vlakke getrek word. Hierdie persone moet, indien moontlik, 'n belangstelling in of agtergrond van taal, kommunikasie en transformasie hê.
Die name en kontakbesonderhede van die lede wat as taalbeleidsfasiliteerders sal optree, moet voor 31 Oktober 2003 aan sr supt Calteaux gestuur word. 'n Pro forma opgawe is aangeheg om die proses te vergemaklik.
Maak asseblief seker dat hierdie omsendskrywe dringend onder alle lede van die SAPD se aandag gebring word.
Meer inligting oor die NTBR en afskrifte van die konseptaalbeleid vir die SAPD kan by sr supt Calteaux aangevra word. U kan u navrae in hierdie verband stuur na die e-posadres en faksnommer wat in par 6.1 gegee is. Telefoniese navrae kan gerig word by 393-5421 of 082 778 9627.
F-H Vir u inligting.
NASIONALE KOMMISSARIS: SUID-AFRIKAANSE POLISIEDIENS
