TUISBLAD
JOU LEWE
ONDERWERPE
PUBLIKASIES
GIDSE
JOU REGERING
WERKGELEENTHEDE
Aangaande
Kontak
Hulp
Gevorderde Soektog
Tuisblad
Gidse
Dienste
Werk
Werkloosheidversekeringseise
Werkloosheidversekeringseise
BESKRYWING:
Wat is die Werkloosheidversekeringsfonds?
Hoe help die Fonds werknemers?
Hoeveel geld kan werkers eis?
Kan jy 'n verlenging kry as jy al jou voordele gebruik het?
WAT IS DIE WERKLOOSHEIDVERSEKERINGSFONDS?
Hierdie Fonds bied finansiële bystand op kort termyn aan werkers wat werkloos word of weens siekte, swangerskap of aannemingsverlof nie kan werk nie. Die Fonds help ook die afhanklikes van 'n bydraende werker wat gesterf het.
Alle werkers wat meer as 24 uur per maand werk (buiten staats-amptenare) moet tot die Werkloosheidversekeringsfonds bydra.
Werkers betaal elke maand 1% van hul salarisse. Hul werkgewers dra ook 1% by. Dit is die werkgewer se verantwoordelikheid om die werkers se bydraes van hul salarisse af te trek en saam met hul eie bydraes aan die Fonds te betaal.
Die werkgewer moet ook seker maak dat alle werknemers by die Fonds geregistreer is. As 'n werknemer geregistreer is, en al die bydraes betaal is, kan die werknemer van die Fonds eis. Werknemers het geen kaarte of ander bewyse nodig dat hulle tot die Fonds bygedra het nie.
HOE HELP DIE FONDS WERKNEMERS?
Werknemers wat by die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF) geregistreer is, en wat bydraes tot die Fonds betaal het, kan van die Fonds eis as hulle hul werk verloor, of nie kan werk nie.
Die WVF dek vyf soorte voordele:
werkloosheidvoordele siektevoordele kraamvoordele aannemingsvoordele doodsvoordele.
Jy kan werkloosheidvoordele eis as jy afgedank of uit diens gestel is, of as jou kontrak verval het. Jy kan nie eis as jy vrywillig uit jou pos bedank het nie.
Jy kan siektevoordele eis as jy twee weke lank weens siekte van jou werk afwesig is. Voordele word betaal vanaf die datum waarop jy ophou werk het.
Kraamvoordele kan geëis word as jy swanger is en kraamverlof neem. Jy kan kraamverlof te eniger tyd van vier weke voor die verwagte bevallingsdatum neem, en jy mag vir ses weke ná die bevalling nie werk nie.
Jy kan aannemingsvoordele eis as jy 'n kind van jonger as twee jaar oud wettig aanneem, en jy die werk verlaat om die kind te versorg. Net een van die aanneemouers kan om voordele aansoek doen.
Die vrou/man of minderjarige kind van iemand wat gesterf het, kan doodsvoordele eis as die oorledene bydraes tot die Fonds betaal het.
HOEVEEL GELD KAN WERKERS EIS?
As jy vier jaar of langer tot die Fonds bygedra het, kan jy vir tot 238 dae eis. As jy vir 'n korter tydperk bygedra het, kan jy 1 dag eis vir elke 6 dae wat jy gewerk het terwyl jy tot die Fonds bygedra het.
As jy kraamverlof neem, kan jy hoogstens 121 dae eis.
Die Fonds betaal 'n persentasie van die loon/salaris wat jy verdien het terwyl jy tot die Fonds bygedra het. Die hoogste bedrag wat betaal kan word, is 58% van wat jy per dag verdien het.
KAN JY 'n VERLENGING KRY AS JY AL JOU VOORDELE GEBRUIK HET?
As al jou voordele gebruik het en steeds werkloos of siek is, kan jy om 'n verlenging van die WVF-voordele aansoek doen.
As jy steeds werkloos is, moet jy vorm UF139 invul, met 'n lys van al die plekke waar jy werk probeer kry het. Jy moet diT lys by die Departement van Arbeid indien.
As jy nog siek is, moet jy vorm UF140 invul. Jou dokter moet die mediese sertifikaat invul wat deel van diT aansoekvorm uitmaak.
As die Departement van Arbeid dink daar is goeie redes waarom jy nog voordele moet kry, sal hulle die aansoek goedkeur, maar dit gebeur nie dikwels nie.
Dit help dalk as jy kan toon:
dat jy aktief probeer werk kry;
dat jy van die WVF-voordele afhanklik is vir noodsaaklikhede soos huurgeld, kos en water, en dat jy langer as vier jaar tot die Fonds bygedra het.
VOORSKRIFTE:
Daar is verskillende prosedures om die onderskeie beskikbare voordele te eis:
Werkloosheidvoordele
Siektevoordele
Kraamvoordele
Aannemingsvoordele
Doodsvoordele
WERKLOOSHEIDVOORDELE
As jy van die Fonds wil eis, moet jy na jou naaste Abeidsentrum gaan. Jy sal daar gevra word om die werkloosheidregister te teken. Jy sal hoor wanneer jy weer moet terugkom om die register te teken. Jy sal die register elke vier weke moet teken om te bewys dat jy die WVF-voordele steeds moet eis.
Jy moet dan na die kantoor toe teruggaan en die register op die regte datum teken. As jy siek is, moet jy 'n doktersertifikaat na die arbeidsentrum toe terugneem.
Jy sal 'n wit kaart kry wat die WVF-beampte elke keer sal teken wanneer jy die register teken.
As alles in orde is, behoort jy agt weke ná registrasie geld van die Fonds te begin kry. Die geld sal dan elke vier weke betaal word, totdat al die voordele opgebruik is.
As jy jou geld nie binne agt weke kry nie, moet jy die Arbeidsentrum bel en hulle vra om vas te stel waarom daar 'n vertraging is. Onthou om jou naam te noem en jou ID-nommer byderhand te hê.
Elke keer as jy geld kry, sal jy 'n strokie kry sodat jy kan sien hoeveel jy al gekry het, en hoeveel jy nog kan kry.
Om werkloosheidvoordele te eis, het jy die volgende nodig:
n kopie van jou 13-syfer-identiteitsdokument met staafkode kopieë van jou laaste ses salarisstrokies inligting wat jou werkgewer voorsien (UI19)
n dienssertifikaat van die werkgewer bewys van registrasie as 'n werksoeker n volledig ingevulde registrasievorm.
As jy werkloosheidvoordele wil kry, moet jy bereid wees om:
vir opleiding of loopbaanberading te gaan as die WVF-beamptes dit van jou vra;
vir werk beskikbaar te wees - as jy werk aangebied word, moet jy bereid wees om te werk, en na verskillende maatskappye te gaan om werk te vra. (Jy sal 'n vorm kry wat onderteken moet word om te wys dat jy werk gesoek het, maar dat geen werk beskikbaar was nie.)
Jy moet jou werkloosheidvoordele by die Arbeidsentrum gaan haal op die datum waarop die geld volgens hulle daar sal wees. Jy moet die geld self gaan haal, en jy moet jou wit kaart en ID-boek by jou hê.
SIEKTEVOORDELE
Om siektevoordele te eis, moet jy by jou naaste Abeidsentrum gaan registreer. As jy te siek is om self na die kantoor toe te gaan, kan 'n vriend of gesinslid die vorm by die kantoor kry en na jou toe bring sodat jy kan dit onderteken. Die ondertekende vorm moet dan na die Arbeidsentrum teruggeneem word.
Jy het die volgende nodig:
n kopie van jou identiteitdokument met die staafkode kopieë van jou laaste 6 salarisstrokies inligting wat jou werkgewer voorsien (UI19)
n dienssertifikaat van die werkgewer bewys van bankbesonderhede n staat van die bedrag wat jy in die tydperk van jou siekte van jou werkgewer gekry het n volledig ingevulde registrasievorm.
Jy moet ook 'n mediese sertifikaat (Vorm UF86) van jou dokter inlewer. Jy moet sorg dat jou dokter die betrokke afdeling van Vorm UF86 invul. Gee dit dan vir die WVF-beampte by die Arbeidsentrum. Die Departement van Arbeid sal die aansoek oorweeg en Vorm UF87 aan jou pos. Jy moet hierdie vorm invul, en jou dokter moet dit onderteken. Jy moet hierdie vorm dan ook aan die eisebeampte gee.
Voordele sal aan jou betaal word vir die tyd dat die dokter jou van die werk vrygestel het, maar nie vir die eerste 2 weke van die werk af nie. Jy sal ook net betaal word vir die tyd dat jy nie normale lone van jou werkgewer gekry het nie.
Siektevoordele sal per tjek betaal en aan jou gepos word.
Onthou, jy kan nie siektevoordele eis as jou siekte deur jou eie wangedrag veroorsaak is, of as jy behandeling onredelik weier, of versuim om jou dokter se voorskrifte te volg nie.
As jy jou werk verloor het, Tn te siek is om te werk, moet jy die eisebeampte hiervan inlig, want jy kan miskien ook werkloosheidvoordele eis vir die tydperk wat nie deur die siektevoordele gedek word nie.
KRAAMVOORDELE
Om kraamvoordele te eis, moet jy by die Arbeidskantoor registreer en 'n mediese sertifikaat op die korrekte vorm van jou dokter kry.
Om te registreer, het jy die volgende nodig:
n kopie van jou 13-syfer-identiteitsdokument met staafkode kopieë van jou laaste 6 salarisstrokies inligting wat jou werkgewer voorsien (UI19)
n dienssertifikaat van die werkgewer bewys van jou bankbesonderhede n staat van die bedrag wat jy tydens kraamverlof van die werkgewer gekry het n volledig ingevulde registrasievorm.
Wanneer jy registreer, sal jy Vorm UF92 kry. Jou dokter moet hierdie vorm invul. Jy moet hierdie vorm dan aan die WVF-eisebeampte by die Arbeidskantoor gee.
Die eis sal per tjek betaal en aan jou gepos word.
Om vir voordele aansoek te doen nadat die baba gebore is, moet jy Vorm UF95 invul met die hulp van die dokter wat die baba verlos het.
As jy ook werkloos is, moet jy die eisebeampte hiervan inlig.
AANNEMINGSVOORDELE
As jy aannemingsvoordele wil eis, moet jy by 'n eisebeampte by jou naaste Arbeidsentrum registreer. Jy sal die volgende nodig hê:
n kopie van jou identiteitsdokument kopieë van jou laaste 6 salarisstrokies jou werkgewer se besonderhede op vorm UI19
n dienssertifikaat deur jou werkgewer uitgereik die aannemingsbevel bewys van jou bankbesonderhede n staat van die bedrag wat jy tydens jou aannemingsverlof van jou werkgewer gekry het n kopie van jou aangenome kind se geboortesertifikaat.
Jy moet vir die voordele aansoek doen binne ses maande nadat die aannemingsbevel uitgereik is.
Aannemingsvoordele word per tjek deur die pos betaal. Daar sal 'n vorm saam met die betaling wees. Hierdie vorm moet ingevul en na die eisebeampte by die arbeidsentrum teruggestuur word.
DOODSVOORDELE
Die man of vrou van die oorlede werker, asook enige minderjarige kinders van die werker, kan doodsvoordele van die WVF eis.
Jy moet binne ses maande ná die dood van die werker om hierdie voordele aansoek doen.
As jy die oorlede werker se man of vrou is, moet jy na die Arbeidsentrum toe gaan en Vorm UF126 invul. Jy het die volgende nodig:
jou identiteitsdokument kopieë van die oorledene se laaste ses salarisstrokies die werkgewer se besonderhede in Vorm UI19
n gesertifiseerde afskrif van die doodsertifikaat n gesertifiseerde afskrif van jou huweliksertifikaat n dienssertifikaat van die werkgewer bewys van jou bankbesonderhede.
As jy die kind van die oorlede werker is, kan jy eis deur Vorm UF127 in te vul en dit by die Arbeidsentrum in te dien. Jy het die volgende nodig:
n kopie van jou identiteitsdokument kopieë van die oorledene se laaste ses salarisstrokies inligting wat die werkgewer in Vorm UI19 voorsien n dienssertifikaat van die werkgewer n kopie van jou (die kind se) geboortesertifikaat bewys van jou bankbesonderhede n gesertifiseerde afskrif van die doodsertifikaat bewys van voogdyskap bewys dat jy (die kind) 'n leerder is wat van die oorledene afhanklik was.
Die Arbeidskantoor sal jou Vorm UF128 gee, wat ingevul moet word deur die oorledene se laaste werkgewer, en wat dan by die Arbeidskantoor ingedien moet word.
Die doodsvoordeel is die bedrag wat die werker kon geëis het as hy werkloos was. Dit word as een betaling uitbetaal.
VERSKAF DEUR:
STAATSLIGGAAM:
Werkloosheidversekeringsfonds
VERWANTE INLIGTING
Huishulpe en die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF) (Diens)
Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 26 Oktober 2004 hersien
Onbekende staatstaal of akroniem? Kyk in die WOORDELYS.
Gebruiksvoorwaardes
Privaatheidsbeleid
Kopiereg
Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering
