TUISBLAD
JOU LEWE
ONDERWERPE
PUBLIKASIES
GIDSE
JOU REGERING
WERKGELEENTHEDE
Aangaande
Kontak
Hulp
Gevorderde Soektog
Tuisblad
Gidse
Dienste
Gesondheid
Reproduktiewe gesondheid
Voorbehoeding (Gesinsbeplanning)
Voorbehoeding (Gesinsbeplanning)
BESKRYWING:
Die diens sluit in advies oor en die verskaffing van 'n reeks veilige, doeltreffende en aanvaarbare voorbehoedmetodes waaruit vroue, mans en tieners vrylik kan kies om ongewenste swangerskappe te voorkom.
Inligting en Voorligting
Metodes van Geboortebeperking
Handige Kontakte.
INLIGTING EN VOORLIGTING
Inligting rakende die onderskeie voorbehoedmetodes word verskaf om individue te help om 'n ingeligte keuse te maak in ooreenstemming met hulle persoonlike geskiedenis en fisiese ondersoek. Indien 'n seksueel oordraagbare infeksie (SOI) bespeur word, sal dit met medikasie by die kliniek behandel word of 'n brief van verwysing na 'n gespesialiseerde kliniek kan uitgereik word.
Wanneer 'n voorbehoedmetode gekies is, word die kliënt tydens opvolgbesoeke aan die kliniek vir moontlike newe-effekte gemoniteer.
Enige meisie of vrou kan besluit of sy 'n voorbehoedmiddel wil gebruik. Sy het nie die toestemming van haar metgesel of ouers nodig nie. Baie klinieke beskik vandag oor 'n toegewyde jeugdiens sodat jong mense inligting oor gesinsbeplanning in 'n gemaklike omgewing kan verkry.
METODES VAN GEBOORTEBEPERKING
Die beskikbare voorbehoedmetodes is soos volg:
Mondelikse voorbehoedmiddels vir vroue: Pille kom in pakkies van 28 en moet een keer per dag op dieselfde tyd geneem word. Daar is twee hooftipes pille: Gekombineerde Mondelikse Voorbehoedmiddels en voorbehoedmiddels wat slegs progestoroon bevat. Hulle is gratis beskikbaar by klinieke en hospitale en kan ook sonder 'n voorskrif by apteke gekoop word. Hierdie vorm van geboortebeperking voorkom nie SOI's of MIV/vigs nie.
Intra-uteriene apparaat (IUA): 'n IUA is 'n klein apparaat wat deur 'n spesiaal opgeleide gesondheidswerker in die vrou se uterus (baarmoeder) geplaas word. 'n IUA kan swangerskap vir ten minste vyf jaar voorkom. Dit voorkom nie SOI's of MIV/vigs nie. Indien 'n vrou of haar metgesel veelvoudige seksmaats het, moet die IUA nie die eerste keuse wees nie tensy kondome ook gebruik word om beskerming teen SOI/MIV-oordrag te verleen.
Daar word van vroue verwag om ses weke nadat die IUA ingesit is 'n opvolgondersoek by die kliniek te ondergaan. Dit is ook raadsaam om elke jaar vir 'n roetine-ondersoek te gaan. Die IUA is beskikbaar by sommige klinieke, maar kan ook by apteke gekoop word.
Noodvoorbehoedmiddels: Hierdie metode kan deur vroue gebruik word om swangerskap te voorkom omdat hulle onbeskermde seks gehad het, verkrag is, of vermoed dat die voorbehoedmiddel wat hulle tydens seksuele omgang gebruik het, nie behoorlik gewerk het nie. Noodvoorbehoedpille kan 72 uur (drie dae) na onbeskermde seks gebruik word om 'n ongewenste swangerskap te voorkom, maar hoe gouer die pille geneem word, hoe meer doeltreffend is hul werking. Pille is gratis beskikbaar by klinieke en hospitale en kan ook sonder 'n voorskrif by apteke gekoop word.
n IUA kan ook vyf dae na onbeskermde seks ingesit word om 'n ongewenste swangerskap te voorkom. Indien dit te laat is om hierdie noodvoorbehoedmetodes te gebruik, en 'n ongewenste swangerskap word vermoed, is die beëindiging van swangerskap (BVS) as laaste uitweg beskikbaar. BVS is wettig in Suid-Afrika.
Kondome: Vroulike en manlike kondome is die enigste enkele metode wat dubbele beskerming teen sowel ongewenste swangerskappe as seksueel oordraagbare infeksies, insluitend MIV/vigs, bied. Manlike kondome is gratis beskikbaar by klinieke en sommige openbare plekke. Kondome word ook goedkoop by die meeste apteke en winkels verkoop. Vroulike kondome is gratis beskikbaar by 'n paar aangewese klinieke en is te koop by sommige apteke.
Sterilisasie: Dit is 'n permanente voorbehoedmetode vir beide vroue en mans. Enige persoon van 18 jaar of ouer wat in staat is om toestemming te verleen, mag op sy of haar versoek gesteriliseer word. Dié prosedure behoort deur berading voorafgegaan te word. Dit is 'n kort en eenvoudige operasie wat nie 'n mens se sekslewe beïnvloed nie, behalwe dat 'n mens gemoedsrus oor ongewenste swangerskappe het. 'n Bespreking vir sterilisasie kan by die plaaslike kliniek gemaak word. Berading word voorsien en 'n versoekvorm sal onderteken moet word. Die operasie is gratis by sommige gemeenskapgesondheidsentrums en hospitale op elke vlak (primêr, sekondêr en tersiêr) beskikbaar. Die dokter wat die operasie uitvoer, sal die pasiënt vra om 'n toestemmingsvorm te onderteken.
Die operasie vir vroue staan bekend as 'n buisafbinding. Die Fallopius-buise wat die eiers vanaf die eierstokke na die uterus (baarmoeder) dra, word gebind of geblokkeer. Daar word verhoed dat die eiers deur die sperm bevrug word en swangerskap word voorkom.
Die prosedure vir mans staan bekend as 'n vasektomie, wat gewoonlik uitgevoer word terwyl die man by sy bewussyn is deur óf plaaslike verdowing óf algemene narkose te gebruik. Een of twee baie klein openinkies word in die vel naby die testes gemaak. Die vas deferens (spermbuis) wat die sperm vanaf elke testis dra, word gesny of gebind. Die operasie is nie onmiddellik doeltreffend nie en dit is nodig om 'n ander voorbehoedmetode vir drie maande na die operasie te gebruik, of vir die volgende 15-20 maal wat die man seks het. 'n Bevestigende toets (spermtelling) is nodig om te verseker dat die sperm nie langer in die buise teenwoordig is nie.
Sterilisasie voorkom nie SOI's of MIV/vigs nie. Soos in die geval van alle voorbehoedmetodes, is daar 'n geringe risiko dat die prosedure kan misluk.
Geestesgestremde persone kan ooreenkomstig die Wet op Sterilisasie, 1998 (Wet No. 44 van 1998) gesteriliseer word. Die ouer, voog, kurator of eggenoot/eggenote van 'n persoon wat nie in staat is om weens 'n geestesgestremdheid in te stem nie, kan versoek dat die persoon gesteriliseer word. Aansoek moet gedoen word en na die toepaslike hospitaal gestuur word. 'n Afspraak sal gemaak word vir 'n paneel bestaande uit drie geestesgesondheidskundiges om die kliënt, wat deur die aansoeker vergesel moet word, se toestand te bepaal. Na gelang van omstandighede sal die paneel besluit of daar met die sterilisasie voortgegaan moet word of nie.
HANDIGE KONTAKTE
Die volgende private organisasies kan ook help:
Vereniging vir Vrywillige Sterilisasie van SA: tel. 021 531 1665 of 531 2291
VOORSKRIFTE:
Hierdie diens behoort by die meeste klinieke beskikbaar te wees. Indien die metode waarin u belangstel, nie beskikbaar is nie, vra om na 'n gesondheidsfasiliteit verwys te word wat wel die metode aanbied.Indien u 'n gesondheidsfasiliteit vir die eerste maal besoek, sal u gevra word om 'n vorm in te vul en 'n lêer sal oopgemaak word. Bring u verwysingsbrief (indien van toepassing), enige medikasie wat u gebruik, en u kliniek- of hospitaalkaart indien u vantevore by die fasiliteit geregistreer het.
VERSKAF BY:
Klinieke
VERSKAF DEUR:
STAATSLIGGAAM:
PRYS:
Dienste by primêregesondheidsorgfasiliteite is gratis en so ook is verdere verwysings. Ambulansdienste is gratis vir kliënte wat sterilisasie ondergaan.
VERWANTE INLIGTING
Manlike Reproduktiewe Gesondheid (Diens)
Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 1 Maart 2005 hersien
Onbekende staatstaal of akroniem? Kyk in die WOORDELYS.
Gebruiksvoorwaardes
Privaatheidsbeleid
Kopiereg
Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering
