Toe het ek deurgegaan na die buitekant van Upper Ross, daar buitekant die motorhek, om die bewegings daar dop te hou, dit was baie stil gewees by ses-uur se kant en ek het nogal gespook met een van die mense wat saam met my is omdat ek nie sokker baie goed ken nie, dat ek langs hom gaan sit tydens die wedstryd sodat hy my meer kan inlig oor die reëls van sokker. Vandaar af, ek moet sê plus-minus hier net voor 19:00 is ons terug, toe het daar druk toegeneem by die hoof motorhek waar ons almal toe bymekaar gekom het, die hele span van ons het toe saamgetrek hier weer op na die hoof motorhek toe aan die binnekant van die stadion waar ons gestaan het en gehelp het met die motors en die publiek wat daar in beweeg het.
So u was op die terrein van Ellispark, deur aan die binnekant en weer daar uit na daardie hoofhek agter die westelike parkeergrond? - - - Ja, daar by die hoofhek het ons gestaan.
Ja? - - - Plus-minus 19:00, 19:15 het die mense by North Park Lane, dit is daardie buite hekke .. (tussenbei)
Dit is die hoofhek in die buite .. (tussenbei) - - - Aan die buite terrein soos wat hulle soort van sê. Toe het hulle op radio geroep dat ons moet kom help. Daar was alreeds, die hekwagte was alreeds by, ek dink dit is Stallion se hekwagte was al almal daar ontplooi en daar was ook twee Viper reaksiespanne ook daar ontplooi en daardie mense het gesê daar is probleme, ons moet kom help met daardie hek daar.
Hoe groot is 'n Viper reaksiespan? - - - Ek praat onder korreksie, ek dink daardie aand was ons tien swart mense en een wit ou wat die radio hanteer het.
Is dit een span, 11 mense? - - - Dit is een span, dit is korrek ja.
U was besig met een span het u gesê daar by Curreyweg en twee ander Viper spanne .. (tussenbei) - - - En twee ander spanne was daar gewees, dit is reg ja.
So dit is dan 33 as mens nou almal weer bymekaar kom? - - - Dit is reg ja.
Viper mense? - - - Dit is korrek ja.
Ja, het u toe soontoe beweeg? - - - Ek het toe beweeg af na daardie straat daar, in by hek 2, binne-in die stadion daar agter op die vloervlak het ek beweeg en tussen hek 4 en hek 5, daar by die drukgange, daar het ek uit beweeg direk op boontoe na North Park Lane buitehek.
U was met ander woorde in daardie binnegang? - - - In die binnegang.
In die binne verdieping? - - - Dit is korrek ja.
Agter die noordelike pawiljoen? - - - Dit is korrek.
Ek wil hê u moet kyk na foto 4 maar ons gaan vir u op die groot skerm plaas. Kan u uself oriënteer, dit is die agterkant van die noordelike pawiljoen. Die foto's daar voor u in die bundel wat gekleurde foto's is, is duideliker. As dit nodig is kyk na foto 4, dit is 1, 2, 3 en dan 4. - - - Dit is reg.
Kan u uself daar oriënteer en dan na aanleiding van 'n beter foto, die gekleurde, kan u net vir ons op die groot skerm by foto 4 verduidelik waar u was? - - - Daar is so 'n gazebo aan die buitekant van North Park Lane, dit is waar die hekke net omtrent, net as daardie gazebo ophou is dit waar jou buitehekke begin en dan loop hulle af tot omtrent by daar.
Dit is die hoofinganghekke aan die buitekant, op die buitedraad? - - - Dit is korrek.
Om by die binneplein, die binne area te kom? - - - Dit is korrek ja.
Hoe laat min of meer as u daar? - - - Ek praat onder korreksie, plus-minus 19:00, net na 19:00, 19:15. Ek kan rêrig nie presiese tyd onthou nie.
En u sou beweeg het vanaf 'n punt hier regs van die foto agter die westelike pawiljoen en dan so om om daar uit te kom, is dit korrek, agter die noordelike pawiljoen? - - - Ek het daar binne-in rondbeweeg, daar in daardie gang daar beweeg en toe hier uitgekom.
U is in ander woorde by hekke 2 en 3 op pad? - - - Dit is korrek ja. Ek dink ek is in by hek 2.
Wat was die situasie by hek 2 toe u daar in is? - - - Dit was redelik stil daardie tyd nog gewees. Ons het vinnig ingegaan, ons het nie, as mens voor hek 2 staan heel reg is daar 'n hek wat nie turnstiles het nie, ons is almal daar in.
Nou goed, u is ontbied na daardie hoofhek area, toe u daar kom verduidelik vir die kommissie wat was die situasie daar? - - - Toe ons daar kom toe het die ander reaksiespanne saam met Stallion se mense alreeds begin hekke toemaak. Daar was geweldige druk van buitekant af op daardie hekke daar gewees.
Kon u na buitekant sien hoe baie mense was daar buite daardie hoofhekke? - - - Ongelooflik baie mense, ek kan nie vir u sê hoeveel mense daar was nie, daar was .. (tussenbei)
Honderde of duisende? - - - Nee, daar was duisende gewees.
Duisende mense buitekant. Ja, hoekom is die hekke toegemaak? - - - Omrede daar mense daar was wat daar in wou kom sonder kaartjies. Daar is mense wat ook kaartjies gehad het, ek het nie 'n idee hoekom die hekke op daardie stadium toe was nie, ek neem aan dit was seker omdat hierdie drukking van buitekant was, daar was ongelooflik baie mense. Jy kon geen beheer daar op daardie hekke uitoefen nie.
Hoe besig, hoe druk was die verkeer op die binneplein, in ander woorde tussen die stadion self en die binnedraad? - - - Ek kan nie vir u, bedoel u vandaar hierdie kant toe?
Nee, van die hekke se kant af na die stadion se kant toe, op die binne area? - - - Ek weet nie, ek het nie daarna gekyk nie, ek was besig met die hekke, om die hekke toe te maak.
Wat presies het u toe daar gedoen by die hekke, wat was u en u kollegas se optrede? - - - Ons het al daardie hekke toegedruk, daar was ongelooflike druk daar gewees. Die hekke is geweldig toegedruk. As jy een toeskouer wat 'n kaartjie gehad het, die hekke vir hulle oopgemaak het, is dit asof daar honderde deurgedruk het - ek sal nou nie sê honderde nie maar asof daar geweldig baie mense deurgedruk het en jy een of twee wou toegelaat het om by die hekke in te kom. Daar was, jy kon nie die hekke oopmaak vir een of twee nie want sodra jy 'n klein gapinkie los het hulle almal deurgedruk.
Was daar pogings om enkeles deur te laat wat tot daardie effek gelei het? - - - Daar was pogings gewees aan die onderkant van daardie hekke ja.
En wat presies het u en u kollegas en die ander mense daar gedoen? - - - Ons het almal die hekke toegedruk. Ek het daar onder gestaan op 'n stadium en hekke toegedruk en van die toeskouers het bottels, blikke en kieries ons mee gegooi en geslaan omdat ons die hekke toegedruk het. Op 'n stadium het ek 'n redelike hoofpyn ontwikkel en ek het hier net anderkant die gazebo gaan staan en ek praat onder korreksie maar ek dink mnr Robbie Stainton was ook daar gewees. Toe vra ek vir hom hier by Upper Ross, hierso so, was 'n Njala voertuig gewees met draad agter op, ek dink dit is ses rolle veiligheidsdraad agterop gewees, of ons nie daardie voertuig kan kry om hier af te span en daar onderkant toe, na die swembad se kant toe te kan span sodat ons keer dat die mense deurkom nie want daar was massas mense in hierdie gedeelte hier gewees.
Ek wil net opsom, wou u dan gesien het dat die Njala se draad, doringdraad, gespan word aan die binnekant van die buiteheining? - - - Dit is korrek, hy was aan die binnekant van die buiteheining hier by Upper Ross geparkeer gewees.
Ja? - - - Op hierdie foto kan mens duideliker sien, aan die buitekant van Upper Ross is daar 'n toilet.
Ja. - - - Dan is dit aan die heining en net aan die binnekant van daardie heining het die Njala gestaan.
En u wou gesien het dat hulle nou daardie draad .. (tussenbei) - - - Daardie draad moes afgespan gewees het hierdie kant toe want daar is geen manier hoe ons mense die massa mense se druk kon hanteer op North Park Lane nie.
Nou sê vir my hoe baie sekuriteitsmense het u in daardie hele omgewing gesien, met ander woorde van die hekke se kant af tot daar min of meer by die Njala? - - - Ons was omtrent 33 van Viper gewees en ek kan nie sê hoeveel mense daar was van Stallion want daar was ook baie van hulle gewees.
Is enige van die Stallion mense bewapen? - - - Nie een van hulle sover my kennis strek nie, nee.
Goed, dit was u voorstel dat hulle nou die Njala se draad daar span. Wat is dan gedoen? - - - Toe vra ek vir Robbie waar is die drywer van die - dit is mnr Stainton, toe vra ek vir hom waar is die drywer van hierdie Njala, toe kon ons die drywer van die voertuig nie kry nie. Eventually het hy toe gekom en daardie draad is toe gespan af. Hy het net geëindig waar daardie eerste ingang by North Park Lane, die eerste boonste ingang, dit is waar hy gestop het, toe het sy heining opgeraak, toe was daar nie meer heining op die Njala, op die trekstang gewees nie.
So dit is ontplooi, kan ek net vasstel, was die deurgang daarso, die motor deurgang, kon dit ook gedek word deur die draad? - - - Ek kan nie presies onthou of die deurgang, ek glo nie die deurgang was toegemaak as gevolg van indien daar iemand nood moes uitgaan dan kan ons dit nie doen nie, ek dink dit het begin net anderkant hierso by Upper Ross, hierdie kant van die pad en toe afgetrek daardie kant toe tot teenaan, baie naby aan North Park Lane.
So dit is bloot daardie seksie van die heining wat vanaf die een motorhek tot by die hoofingangshekke vir die toeskouers .(tussenbei) - - - Dit is al wat ons heining op gehad het ja.
Is dit toe wel daar gespan? - - - Dit is toe wel daar gespan ja.
En wat het u opgemerk, wat is die mense wat op die buiteplein hier beweeg het buitekant die heining besig om te doen? - - - Ek het op 'n stadium op die trekstang, die sleepwa trekstang, gestaan en teruggekyk vanaf hier na Johannesburg Stadium se kant toe, diékant toe.
Ja? - - - En ek kon niks gras, teer, grond sien nie, ek het net 'n massa mense gesien wat toe so teen mekaar staan.
Dit is nou toeskouers? - - - Toeskouers wat wil inkom by die stadion ja.
En hoe het hulle nou opgetree daar buite en veral daar teen die heining? - - - Teeneen die heining was daar geweldige druk gewees. Op 'n stadium, ek weet nie of daar 'n foto is van die hekke nie, een van die klein hekkies tussen die spiraalhekke, ek sal sê dit is omtrent so 'n groot hek, het hulle met die massa mense van agter af so gedruk dat hy 10 meter vanwaar hy regop so gestaan het, plus-minus 10 meter verder tot stilstand gekom bloot van druk van agter af.
Sonder om grond te raak het hy so deur die lug getrek? - - - Hy het tot stilstand gekom, hy het geskiet en toe verder geskuur.
En nou is daar 'n gaping in daardie heining gebied? - - - Dit is reg ja en toe het daar mense daar ingestaan om te help.
Kon hulle keer dat mense daar kan inkom? - - - Ek dink daar was van die AIN mense ook, die mense wat die riots, die helmets en die skilde gehad het. Wat my opgeval is baie van daardie, nie baie nie, van hulle het hierdie elektriese "shock" apparate binne die skilde gehad.
Ja? - - - En van die mense het probeer bo-oor Park Lane klim en soos wat hulle geskok is, dit is asof die skok nie daardie mense geraak het nie, hulle het bo-oor geklim.
Nou as 'n mens die buite heining sou bestyg en daar oorklim sal u, as ek u reg verstaan, in daardie gebied wat ek nou vir u wil uitwys vanaf daar tot en met die hoofhekke, was daar die buitedraad. Dan was daar nou al klaar gespan hierdie rol draad van die Njala en daar staan nou AIN mense met hierdie elektriese skok .. (tussenbei)
Die mense staan net by die hekke.
O staan hulle by die hekke? - - - Net by die hekke.
Ja? - - - Hier het bitter min, omdat die veiligheidsheining hier was, die "razor wire" daar was, het daar nie mense hier deurgebreek wat ek kan onthou nie. Maar hier by die hekke het mense bo-oor die hekke geklim.
En u sê die skokke van die skilde het aan hulle niks gemaak nie? - - - Niks gedoen nie, hulle het bo-oor geklim asof dit hulle nie raak nie.
Is van daardie mense beweer wat die stadion wou binnekom? - - - Ek kan pertinent onthou een man het oorgeklim en bo-op North Park Lane is daar penne wat regop staan om mense seker te verhoed om bo-oor te klim. Een ou het oorgeklim en hy het sy hand gedruk en dié het redelik diep in, hy het 'n sakdoek of 'n lap gevat, oor sy hand gesit en ingegaan en gaan sokker kyk.
Het mense sover u kennis strek wel die stadion se binneplein area bereik sonder kaartjies? - - - Verseker ja. Toe die, net bietjie verder van hierdie af, ek dink net hierso begin die heining so en dan hardloop hy daardie kant af swembad toe.
Ja? - - - Daar is die heining een keer gebruik, ek dink hy is drie keer gebreek maar daar was nie mense nie, daar was nie SAP lede daar gewees nie, daar was nie draad gespan gewees om te verhoed dat hulle daardie heining nie plat stoot nie en daar het baie mense deur beweeg daar.
Waarheen het daardie mense dan beweeg, vanaf die buite gebied? - - - Almal daarvandaan af het in beweeg na hierdie hoek toe hierso.
Dit is die noord-oostelike hoek waar hekke 4 en 5 is? - - - Dit is waar al die mense die meeste bymekaar gekom het ja.
Van watter tyd praat ons nou, hoe laat is dit nou? - - - Ek kan rêrig nie sê tyd nie, plus-minus vanaf twintig voor, half, ek weet nie, ek kan nie vir u sê wanneer presies dit gebeur het nie.
Praat u nou van 19:30? - - - Voor half ja.
Het u polisielede, of hulle nou van die "visible" polisie of sigbare polisie is of van wat hulle noem POP, "public order" polisie, het u polisiemanne gesien in daardie area? - - - Saam met die Njala wat daar gestaan het was daar drie SAP lede wat gestaan het en die mense wat van bo-oor geklim het, om so nou en dan 'n ou wat onder deur die, soos die draad loop, waar hy opgaan na die sleepwa toe was daar omtrent 'n gapinkie van so, daar het van die mense daar onder in beweeg en daar het van die mense bo-oor beweeg en die drie SAP lede het met hulle knuppels het hulle van die mense bygekom en in die Njala ingesit ja.
So mense is gearresteer en in die Njala ingesit? - - - Of hulle gearresteer is weet ek nie, ek weet net daar is van hulle, die drie SAP lede het van hulle gevat en in die Njala ingesit.
Buiten dié drie polisielede, het u enige ander polisielede hoegenaamd gesien in daardie hele gebied? - - - Ek dink die berede polisie was hier op die gras gewees net buitekant sig so.
Buite die stadion daar by die swembad se kant? - - - Nee, binne-in die perimeter.
Binne in die gebied naby die swembad? - - - Dit kan ek onthou want toe hulle die eerste hek gebreek het het iemand seergekry en die paramedics was daar gewees. Hy het sy enkel seergemaak en dit was seker 5 meter van die berede SAP af gewees. Ek weet nie of dit SAP of Metro was nie, dit was polisiemense gewees.
Was al die sekuriteitsmense bygestaan deur die polisielede wat u daar gesien het, was hulle hoegenaamd in staat om te keer dat die toeskouers die stadion binnekom? - - - Onder geen omstandighede nie, nee.
Het u gesien wat gebeur het daar in die omgewing van die noord-oostelike hoek van die pawiljoen? - - - Glad nie, ons was te besig gewees om hierdie hek, om mense te keer dat ek nie tyd gehad het om agtertoe te kyk, om terug te kyk nie.
Weet u wanneer die hoofwedstryd begin het, kon u hoor? - - - Dit is moeilik om te sê want daar was redelik geraas daar met die beule en die trompette en daardie klas van dinge. Ek weet die wedstryd was veronderstel om 20:00 te begin. Ek kan nie vir u presies sê nie.
Dra die lede van AIN sover u kennis strek enige toerusting soos traangas of enige ander gas? - - - Nee, glad nie.
Het dié wat u daar gesien het enigiets sover u kan onthou by hulle gehad? - - - Nee.
Weet u van die gebruikmaking in die noord-oostelike deel van daardie pawiljoen van enige traangas daardie nag? - - - Glad nie.
Het u enige opdragte gegee dat traangas gebruik word? - - - Onder geen omstandighede nie.
Weet u van enige ander redelike bekende sekuriteitsfiguur wat met 'n oogklap diens gedoen het daardie dag? - - - Nee, glad nie.
Is u die enigste wat so .. (tussenbei) - - - Dit is korrek.
Hoeveel oogklappe het u? - - - Net die een en 'n spaar swarte by die huis.
Weet u van 'n wit oogklap wat u miskien op 'n stadium kon gedra het? - - - Nee, glad nie.
Besit u so iets? - - - Glad nie.
Was u op 'n stadium êrens elders .. (tussenbei)
VOORSITTER: Selfs in die aand gebruik u nie, u gebruik nie 'n wit een nie? - - - Glad nie.
MNR ATTWELL: Was u op 'n stadium op 'n ander plek as net daar tussen die noord-oostelike deel van die pawiljoen en die noordelike ingang hekke? - - - Plus-minus 20:00 het mnr Erwin Law ons kom haal .. (tussenbei)
Vir die rekord, wie is mnr Erwin Law? - - - Dit is 'n ou wat vir ons opdragte gee, een van die base van Stallion.
Van Stallion. - - - Toe het hy ons kom haal, omtrent hierso so op die teerpad, ek kan nou nie, ek kan nie presies nou sê nie, ek kan nie mooi sien nie, omtrent daar op die teerpad.
Aan die binnekant van die hoofhek? - - - Aan die binnekant van die hoofhek, is daar 'n 'boom' wat afkom om te keer vir North Park Lane parkering wat hier is en parkering aan die oostekant wat daar is. Daardie 'boom' op die teerpad het mnr Law ons bymekaar geroep. Hy het vir my span gesê ons moet ingaan binne-in die stadion na die westekant toe waar die pers bokse begin en losies wat beset is, losies wat deur hulle eienaars gebruik word. Daar is lede van die publiek wat van onder die stadion af kom en inbreuk maak op hulle sitplekke om van daardie losies leeg te maak wat beset is of wat in gebruik is deur die eienaars.
Wat doen u daaromtrent? - - - Ons het toe om beweeg hier om en ek is nie seker, ek dink ons het by hek 1 ingegaan, ek kan nie presies sê of dit hek 1 of hek 2 was nie.
Ja? - - - Ons het ingegaan, ons het ingestap tot by die persbanke want die persbanke maak die gang toe daar. Jy moet by die deur ingaan, daar gaan jy by die persbanke in en ons het daar by elke losie geklop, oopgemaak, ingegaan.
Is u nou agter die losie of is u nou binne-in die pawiljoen? - - - Nee, ons is van agter af in die gang.
In die gange waar die deure is? - - - Dit is korrek. Ons het plus-minus gekom tot waar hek 1 se ingang na die losies is waar die spiraaltrappe is.
Min of meer in die noord-westelike hoek van die .. (tussenbei) - - - Min of meer maar nog steeds aan die westelike kant.
Ja? - - - Het ons gekom toe daar op die radio gekom word, ek was die naaste aan die JOC, daar is mense wat inbreuk maak op die JOC van voor af, van die advertensieborde af, ek moet so gou as moontlik in die JOC kom om die JOC te beveilig.
U weet uiteraard waar die JOC is, het u u toe soontoe gehaas? - - - Al wat ek gedoen het, ek het met die gang net afgekom hierdie kant toe, die JOC ingang is plus-minus omtrent daar.
Ja, in die middel van die agterkant van die noordelike pawiljoen? - - - Die JOC deur was toe, ons kon hom nie oop kry nie. Andy het naderhand daar gekom, dit is 'n werknemer by Ellis Park. Ons het die deur begin skop. Van my spanlede het die deur begin skop. Mnr Coetzee het toe daar aangekom. Die JOC deur is oopgemaak. Ons is in die JOC kamer. Dit is die JOC kamer agter, dan die gang en dan die JOC deel voor.
Dit is heeltemal reg, u beweeg uit vorentoe, dan is hier agter wat hulle noem die draai deel van die advertensieborde? - - - Dit is korrek ja. Toe ek in die JOC kamer kom .. (tussenbei)
Voordat u verder gaan, kan u min of meer vir die Kommissie sê hoe laat dit nou was? Was die hoofwedstryd aan? - - - Die hoofwedstryd was aan, toe ek in die hoof JOC inkom toe sien ek die hoofwedstryd is aan ja.
U sê dit was mnr Coetzee, dit is nou mnr Chaka Coetzee, hy was toe daar? - - - Hy was toe ook daar gewees. Andy was ook daar gewees, ek en my span was daar gewees en ek kan nie onthou, ek dink mnr Stainton was ook daar gewees. Ons het toe in die JOC kamer ingegaan en ek het 8 SAP lede in uniform in die JOC kamer gekry in die agterkant. Ek is toe direk deur, deur die gang in die JOC om te kyk of alles in die JOC veilig is, of daar nie 'n probleem in die JOC self is wat uitkyk op die veld nie. In die gang was daar 'n lid van die publiek gewees en wat saam met ons probeer die JOC oopbreek het, was 'n man van die pers, ek kan nie presies sy naam onthou nie en ek het hulle twee uit die JOC kamer uitgehaal en vir die SAP gevra hoekom sit julle hier, ons het probleme buite, gaan uit en kyk of julle die probleme opgelos kan kry.
Wat was die gemoedstoestand as u weet van hierdie polisielede? - - - Dit het baie vinnig gebeur, ek het basies deurgehardloop JOC kamer toe, gekyk, alles was in die haak gewees, vir van my spanlede gesê om in daardie gangetjie waar die draai advertensieborde is te wees, om daar te staan en te keer dat lede van die publiek daar deur kom en ek is terug na die JOC kamer en gesê asseblief julle moet uitgaan, daar is probleme buitekant.
Het hulle enige rede verskaf, enige van hulle hoekom hulle daar is? - - - Ek het nie eers gevra nie.
Na u die JOC kamer na u bevrediging beveilig het en die mense is uit wat het u toe gedoen? - - - Mnr Coetzee het vir my gevra en Erwin het gevra ek moet in die JOC bly toe ek terugrapporteer dat dit veilig is en die JOC veilig hou en te keer dat lede van die publiek nie weer in die advertensieborde inkom nie. Toe het mev Rautenbach, 'n dame van rampbeheer, gevra ek moet van hulle mense in die 'spotters box', dit is die 'box' aan die anderkant van die groot skerm te gaan haal en ook in te bring na die JOC kamer toe, wat ek wel gedoen het. Daarna het ek mev Rautenbach in die gang op die tweede vlak afgelei deur die persbanke af na die veld toe, dit is toe waar ek gebly het saam met die res van die lede en daar was seker vier van my lede wat in die JOC gebly het.
Toe u later op die veld uiteindelik nou beweeg, was die wedstryd toe nog aan die gang? - - - Nee, hy was al klaar gestop gewees.
Daar is 'n derde kamer wat waarskynlik elke nou en dan gebruik word vir JOC doeleindes, een heel bo regs op die groot foto daarso, eintlik die noord-oostelike deel van die pawiljoen heel hoog maar op die noordelike pawiljoen? - - - Dit is korrek.
Tydens die inspeksie het ons wel besoek daar afgelê. Was u ooit in daardie vertrek gewees die nag? - - - Nee, glad nie.
Weet u of daardie vertrek beset was die aand? - - - Ek het nie 'n idee nie, ek was nie daar nie.
Geen verdere vrae nie, dankie, mnr die voorsitter.
VOORSITTER: Mnr Kruger, het julle op soek gegaan na die drywer van die Njala of was hy in die Njala self? - - - Daar was niemand in die Njala self gewees nie, ek en Robbie het daar bespiegel en ek kan nie vir u sê, ons het gesoek na die drywer van die Njala.
Vir hoe lank het julle na hom gesoek? - - - Seker omtrent vyf minute, ek kan nie vir u sê nie, ek het nie fisies gehelp soek na die drywer nie, ek het net gevra of daardie ding gespan kan word want die mense sou deurgebreek het.
Ek aanvaar jy het nog nooit met hom gepraat of hom by 'n sokkerwedstryd gesien nie? - - - Dit mag dalk wees dat ek hom by 'n vorige wedstryd gesien het maar ek kan dit nie herroep nie.
Dra u kennis van enige rede waarom mnr Molapo vir u sou uitwys as die persoon wat die order gegee het, die bevel gegee het om die traangas te gooi? - - - Ek het geen idee hoekom hy so iets sal doen nie.
Die verklaring is 'n bladsy lank? - - - Dit is korrek.
As ek u getuienis so pas reg verstaan het het u nie regtig betrokke geraak by die soeke van die Njala voertuig nie? - - - Nee, ons het, ek het gevra waar, hoekom word die Njala voertuig nie ontplooi nie want daar is baie mense. Ek en mnr Robbie Stainton het so daaroor gepraat.
Wie is dit? - - - Hy is een van die mense wat vir Ellis Park saam met mnr Coetzee werk by die sekuriteit van Ellispark.
Op 'n stadium as gevolg van wat u waarneem vra u onderling vir mekaar waarom word die dennertdraad nie gespan nie? - - - Dit is korrek.
Omdat dit 'n antwoord sou wees op die probleem van mense wat besig was om die buitedraad oor te spring? - - - Nie soseer die buitedraad as die hekke nie. Hulle sou die buitedraad platgestoot het.
VOORSITTER: Mnr Kruger, is dit nou 'n verwysing na hek 4, 5, 6 of watter hek? - - - Die buitenste hek van Upper Ross hierso deur tot hierso waar die Njala voertuig die dennertdraad gespan het. Die massa mense het omtrent van hier af so om die kaartjiekantore saam vergader, so aan die buitekant.
MNR WEPENER: Weet u dat dit van die begin af die gedagte was dat die Njala motor indien dit nodig sou word die dennertdraad aan die noordekant sou span? - - - Nee, ek het nie dit geweet nie.
Maar sonder dat u dit weet sal u seker weet dat daar baie plekke rondom die stadion is waar dennertdraad nie ontplooi kan word nie, al wil hulle ook? - - - Ek is bewus van die noordekant kan mens dennertdraad op twee plekke span waar mense nie draad sal kan breek nie.
Dit was nie my vraag nie. My vraag is daar is baie plekke waar mens nie dennertdraad kan gebruik nie? - - - Dit is korrek ja.
En inderdaad daar waar u die Njala waargeneem het is wel 'n plek waar dennertdraad behoorlik geëmplojeer kan word? - - - Dit is korrek ja.
En dit is daardie aand op 'n stadium gedoen nadat persone oor daardie draad gespring het? - - - Dit is korrek ja.
Vir die meeste mense was dit moeilik om spesifieke tye op gebeure die aand te plaas? - - - Dit is korrek.
En die manier van kommunikasie daar as nou gemeen het die dennertdraad moet ontplooi word, u kan nie opdrag gee nie, u kan net aanvaar dat dit dalk nodig is, nie waar nie? - - - Dit is korrek ja, mens kan op radio na die JOC toe en vra dat iemand dit net vir ons reël.
Hy moet iets daaraan doen? - - - Dit is korrek ja.
U is van mening dat die dennertdraad kan help weens 'n besondere probleem, u noem dit teenoor mnr Stainton, daarna sien u dit word ontplooi? - - - Dit was seker vyf, ses, sewe minute daarna toe word dit ontplooi ja.
Kom ons pas net op vir tyd, vyf, ses, sewe minute? - - - Ja, ekskuus, ek kan nie die tyd presies sê nie, ek vra om verskoning.
U het seker al gehoor dat ons die radio oorkondes van die openbare orde polisie laat tik het en ons kan sien wanneer die dinge gebeur het. U het seker gehoor? - - - Ja, ek het.
Ek wil u net kortliks meedeel wat in die oorkonde staan of het u dit dalk gesien? - - - Nee, glad nie.
En dat hy om 19:32 Sê dat hy in die Njala is, net daarna is die dennertdraad ontplooi. - - - As dit so is ja.
Kan u betwis dat kaptein Mkwanazi, toe hy bewus word van die probleem, die Njala bestuurder laat kom het om die dennertdraad te ontplooi, dat dit gedoen is die moment wat hulle daardie kennis gekry het? - - - Ek kan dit nie betwis nie, ek het nie daardie opdrag gehoor nie.
U kan ook nie betwis dat die Njala drywer nie die heeltyd net in die Njala sit nie maar ook dienste verrig en rondstap? - - - Ek kan nie betwis nie, ek het nie sy opdragte gesien nie.
Het u hom gesoek? - - - Ek het hom nie as sulks gesoek nie nee.
Hoekom sê u "he was nowhere to be found", ek lees pas vir u toe kaptein Mkwanazi hom roep toe is hy in die Njala. - - - Ons het nie 'n polisie radio by ons gehad om hom te kon roep nie, wat ons gesoek het by Upper North Park Lane, hy was nie daar naby gewees nie.
Hoe laat het u hom gesoek? - - - Ek kan nie rêrig vir u sê tyd nie, tussen plus-minus 19:30, 19:40, ek kan eerlikwaar nie sê nie.
Wel ons weet nou volgens die oorkonde om 19:32 is hy by die Njala? - - - Dit is wat u vir my gesê het ja.
U sal dit ook nie betwis nie? - - - Ek kan nie.
U weet wat kaptein Mkwanazi ook sê, hy weet te alle tye waar die drywer was, hy was in radio kontak met hom, toe hy hom roep om te kom toe kom hy want hy staan om die draai by wat hier beskryf word as die VIP entrance. - - - Ek het hom nie gesien daar nie, ek weet nie waar hy was nie.
Die indruk wat ek kry van u verklaring, mnr Kruger, is dat "we" wie onder andere nou hierdie drywer soek and "he was nowhere to be found" is 'n kritiek op die man omdat hy nie daar was om sy werk te doen nie. Is dit wat u wou doen? - - - As ons hom nie gekry het nie wat moes ons gedoen het?
U het hom nie gesoek nie? - - - Mnr Stainton was by en hy was nie naby die Njala gewees nie. U sê vir my hy was om die draai gewees.
Ek sê weer vir u die indruk wat u probeer skep op hierdie verklaring is dat u die man daar soek en dat u hom nie kan kry nie is verkeerd want u het nooit eers help soek nie? - - - As u so sê.
Nee, ek sê nie so nie, u het so gesê. U het hom nie gesoek nie? - - - Ek het daar vir mnr Stainton gevra, hy het opgegaan boontoe, hy het hom nie gekry nie en hy het teruggekom na my toe. En dit is as gevolg daarvan dat ek dit gesê het.
Is die regte manier nie om met die JOC in verbinding te kom en die boodskap te stuur nie? - - - Ek dink mnr Stainton het.
Die opdrag deur kaptein Mkwanazi dat die dennertdraad gegooi moet word is net na 19:30 nagekom? - - - As dit so is.
Het u gesien die dennertdraad word uitgelê, uitgegooi? - - - Dit is korrek ja, die Njala het by ons gestop.
En nou sal ek weer vir u uit die oorkonde lees daar waar die dennertdraad gegooi word en u kan aanvaar wat ek vir u gaan lees nie 'n polisieman is wat gedink het een dag gaan dit getik word en hy moet dit vir iemand vertel nie. Om 19:35 sê inspekteur Sitela wat daar aan die noorde diens gedoen het op die radio, sê hy aan sy bevelvoerder wat kaptein Mkwanazi is, dat "the fence is down". Hy sê ja India Bravo, India Bravo, kaptein Mkwanazi, the fence is down".
Punt nommer 1, ek kan nie sy rang onthou nie maar inspekteur Sitela is daar? - - - Dit is korrek ja.
Het u ook polisiemanne daar gesien? - - - Ek kan nie range onthou nie, daar was drie SAP lede gewees saam met die Njala.
Vergeet die persone wat saam met die Njala was, dit is 'n ander lot. Ek sê nou inspekteur, hy kan 'n ander rang hê, Sitela, het met sy eie manne gegaan daar waar die boodskap was, waar 'n probleem is. Het u hulle gesien? - - - Ek sê weereens ek het drie SAP lede gesien.
VISE-VOORSITTER: Het u waargeneem dat die probleem nou erger word? - - - Dit is korrek, dit is plus-minus op daardie tyd wat die hek plat gestoot was, een van daardie klein hekkies en daar is mense wat bo-oor North Park Lane perimeter die hekke geklim het op daardie stadium. Daar was ongelooflik baie druk daar. As die sekuriteitsmense daar sou weg is, ek weet nie hoeveel insidente sou ons nog gehad het nie want die druk van buite was ontsettend groot op daardie stadium gewees.
Is u om en by, naby die noord-ooste hoek as u dit waarneem? - - - Ek was daar, net daar by daardie hek daar gewees.
Dit is nou om en by 19:35? - - - Plus-minus ja, toe Njala ontplooi was was ek baie naby die Njala gewees.
Die verskil wat ek en u nou het is dat ek 'n oorkonde het met 'n polisieman wat praat en nie dink aan 'n kommissie eendag nie en vir iemand anders rapporteer dat daar 'n probleem by die hek is en dat die sekuriteitsmense weghardloop en u sê vir my dit is nie so nie? - - - Dit is korrek.
VISE-VOORSITTER: Dit is miskien nie kritiek aan u nie dat u weggehardloop het, dit is miskien ander sekuriteitsbeamptes? - - - Ons kon nie daardie hekke los nie, mnr die ondervoorsitter.
MNR WEPENER: Ek dink, mnr Kruger, as ek mnr Semenya reg verstaan, ek sê nie u het weggehardloop nie, ek het nie 'n idee wie dit is wat weggehardloop het nie? - - - Nee, glad nie, nie iemand het weggehardloop daar nie.
Dink u hierdie polisieman sal dit nou op die radio aan sy bevelvoerder rapporteer omdat hy dink dit is snaaks in daardie besondere omstandighede? - - - Ek kan nie vir 'n ander man antwoord nie.
Ek sal dit net so aan u stel, mnr Kruger. Ek wil aan u stel dat dit waarskynlik is dat die polisieman daar oor die radio sal rapporteer dit wat hy inderdaad sien? - - - Hy het dit nie gesien nie want daar het niemand weggehardloop nie, ek was daar by die Njala gewees.
VOORSITTER: Mnr Kruger, is u nie bereid om toe te gee dat dit is moontlik dat van die persone kon weggehardloop het maar ek het dit nie gesien nie. Is u nie eers bereid om so toe te gee nie? - - - As u gesien het die hoeveelheid mense wat aan die buitekant van daardie draad was en as iemand hulle poste daar gelos het om die publiek daar te laat instroom dan sou daar, ek kan nie vir u sê wat se skade daar sou gewees het dan daardie tyd nie.
Ek het u gevra of u nie eers bereid is om toe te gee dat dit kon wel so gewees het dat van die mense, die sekuriteitspersoneel mense, kon weggehardloop het? U is nie eers bereid om so toe te gee nie?
Nee, glad nie.
MNR WEPENER: As ek u ook so kan vra, in u verklaring het u ook, as u uself kan herinner, in die vierde laaste paragraaf verduidelik wat u vanaf 19:40 gedoen het en dat daar "extreme pressure from outside" was? - - - Dit is korrek.
U het verduidelik dat u drie polisiemanne daar sien, is dit reg? - - - Dit is reg.
Wat het u waargeneem? - - - Hulle was drie, die drie SAP lede was voor die Njala gewees en soos wat mense bo-oor North Park Lane, bo-oor die hekke gekom het, die lede van die publiek met knuppels bygekom het en hulle binne-in die Njala gesit het. So ook mense wat aan die agterkant van die trekstang van die draad, waar mense daar onder ook deurgekom het, soos ek vroeër gesê het, daardie mense ook binne die Njala gesit het. Ek kan nie sê almal nie, van hulle in die Njala gesit het.
Onhoorbaar, tolk praat mnr Wepener dood - - - Dit was ongelooflik besig, dit was net daardie drie daar gewees.
Ons almal weet dit was besig, "they were not able to summons backup", dit is wat u gesê het, hoekom maak u die stelling"? - - - Drie polisiemanne kon nie help met die situasie wat daar is nie, kon hulle nie meer mense gestuur het nie, dit is wat ek daar bedoel.
Watter pogings .. (tussenbei)
VOORSITTER: Ekskuus tog, as gevolg daarvan het u afgelei dat hulle kon nie vir meer hulp, hulle kon nie meer hulp kry nie, dit is die afleiding wat u gemaak het? - - - Dit is die afleiding wat ek gemaak het daarvan.
MNR WEPENER: Het u op enige stadium die polisiebeamptes gesien wat by hek 1, 2 of 3 van daardie gebied hulp verleen het? - - - Nee, glad nie.
U het nie gesien nie? - - - Glad nie.
U was vir die tydperk van ten minste 19:15 tot 20:10 in North Park Lane? - - - Dit is korrek ja, by die hekke buitekant.
Het u die berede polisiemanne in Noord Park Laan gesien? - - - Ek het voorheen getuig ek het hulle gesien aan die binnekant by die gras daar toe hulle een van daardie hekke gebreek het waar iemand seergekry het en die para-medici hulle kom help het.
Het u hulle weer daarna gesien? - - - Nee, ek het nie so opgelet nie.
Het u enige van die lede gesien wat ook aan die noord-oostelike kant gepatrolleer het? - - - Nee, ek het hulle nie gesien nie.
Kan u ontken dat hulle daar was? - - - Ek het hulle nie gesien nie, ek kan nie sê of hulle daar was of nie daar was nie.
Verstaan ek u verklaring korrek dat daardie paragraaf wat ek nou na verwys het waar u in die laaste twee sinne sê: "I observed the crowd forcing into the channels in the area of gate 4". Kan u dit onthou? - - - Die mense wat deurgebreek het hier het almal hierdie kant toe, na hierdie rigting hier beweeg en dit is omtrent waar hulle ingekom het daar van hek 4, 5; 4, die hek tussenin 5, het hulle omtrent daar ingegaan. Dit is die kant toe waarnatoe hulle beweeg het ja.
Nee, nee, ons praat nou van hek 4, u weet waar hek 4 is? - - - Dit is korrek ja.
Het u 'n afskrif van u verklaring? - - - Nie by my nie nee.
Kom ons kyk na die vierde laaste paragraaf, ons is nie nou by die buitehek nie, ons is nou in North Park Lane volgens u verklaring, daar waar u nou gesê het hulle kon nie ander mense roep nie. - - - Dit is reg ja.
Dit is reg.
So daar was 'n erger drukking toe daar van binne die stadium 'n gejuig was? - - - Dit is korrek ja.
En u sê in die volgende sin: "I believe that at this time that a goal was scored"? - - - Dit is wat ek, ek het dit gedink op daardie stadium. Ek weet nie, ek was nie binne-in die stadion nie, ek het dit maar net van buitekant af gehoor. Daar was 'n baie groot gejuig vanaf die binnekant van die stadium.
Dit kan later ook wees? - - - Nee, ek glo nie dit kan later wees nie.
U glo nie? - - - Ek glo nie so nie, ek het met mnr Law gepraat en mnr Law het gesê dit was omtrent 20:00 wat hy ons ontbied het van die hoofhek af.
U werk die tyd uit na aanleiding van u gesprek met mnr Law? - - - Dit is hy wat my die instruksie gegee het om die losies te gaan skoonmaak ja.
En as sy tye verkeerd is dan is u tye verkeerd? - - - Dit is korrek.
Goed, want ek sal hom wys as hy kom getuig hoe verkeerd sy tyd is. Nou namens u is daar aan mnr Molapo gestel dat u op daardie stadium glad nie meer in die "vicinity" van hek 4 was nie, u was nou binne-in die stadium om suites te gaan skoonmaak? - - - Ek was glad nie naby hek 4 gewees nie, die naaste wat ek aan hek 4 was was omtrent 30 meter.
VISE-VOORSITTER: Ek dink die stelling gaan verder, dit sê omtrent daardie tyd was u in die JOC gewees? - - - Ek was plus-minus daardie tyd, ek kan eerlikwaar nie vir u sê wat die tyd was nie, soos wat ek dit kan verstaan, soos wat ek later gehoor het het ek 20:00 opdrag gekry om deur te gaan en begin losies skoon te maak en toe kom die oproep van die JOC af en dit is toe waarna toe ek is. Ek weet nie hoe laat dit presies kan wees nie.
Wat ek kan nie verstaan is nou kan ons vasstel dat dit was nou om en by 19:35 toe u by die North Park Lane was? - - - Ja, ek was die heeltyd by North Park Lane daar in daardie omgewing, daar by daardie hekke gewees.
Wil u sê vanaf 19:15 tot om en by 20:10 was u daaromtrent gewees? - - - Dit is korrek ja, van hier af hier so, dit is korrek ja.
Dit is net later, om en by 20:15, wat u na die JOC gegaan het? - - - Omtrent 20:00 is ek geroep hier na die pad toe en toe gesê dat ek losies moet skoonmaak van hierdie kant af wat ek gedoen het. Ek was omtrent halfpad met daardie seksie daar gewees toe hulle op die radio roep dat ek moet deurgaan JOC toe. So dit kan so 20 minute, 25 minute, ek kan nie presies sê hoelank na die tyd nie.
Wat ek kan nie verstaan is mnr Molapo se getuienis was gewees dat omtrent 19:30 sou die traangas daar gegooi wees, dan sê die stelling deur mnr Louw dit kon nie gewees het dat u die opdrag gegee het nie want daardie tyd was u nie in daardie omgewing en inderdaad was u in die JOC gewees daardie tyd? - - - Ek weet nie, daar behoort 'n inskrywing te wees in een van die JOC se rekords hoe laat ek in die JOC ingekom het. Ek weet nie waar, want ek was in die JOC gewees. Ek weet nie of daar 'n inskrywing was daarvan nie.
Wat ek wil vasstel is was dit u se onderhoud met mnr Louw dat tydens die traangas insident was u nie daar nie, u was in die JOC gewees? - - - As dit daardie tyd is was ek glad nie daar by hek 4 gewees nie ja.
Nee, wat ek wil vasstel is het u aan mnr Louw gesê tydens die traangas insident wat om en by 19:30 sou gewees het u nie daar was maar wel in die JOC gewees het? - - - 19:30 nee, toe was ek by North Park Lane gewees, toe was ek daar gewees 19:30.
MNR WEPENER: Kan ek dit net een stap verder vat, op u geheue, u gedagte, of dit nou reg of verkeerd was, was u na die JOC toe geroep om 20:15, so enigsins na 20:15 was u nie meer in Noordparklaan nie? - - - Nee, onthou ek was in die losies op die tweede vlak, op die eerste vlak van die eerste losies gewees en omtrent 20:15 is ek van daar af geroep, so voor die tyd was ek besig om losies skoon te maak.
Voordat u geroep is? - - - Dit is korrek ja, plus-minus.
tolk en mnr Wepener praat saam, onhoorbaar op u eie geheue staat te maak? - - - Dit is korrek.
Was u van 20:10 die aand nie meer in Noordparklaan nie? - - - Dit is korrek.
Maar voor dit was u wel daar? - - - Dit is korrek.
Want anders kon u nie al die dinge van die polisie sê wat u wel sê nie? - - - Dit is korrek.
U is wel geroep en toe u by die losies kom was die spel aan?
Dit is korrek.
Meen u dat u geloof dat 'n doel aangeteken was terwyl u daar buite was reg was? - - - Soos ek voorheen gesê het ek weet nie, ek was nie binne-in die stadion om te weet of daar 'n doel was of nie. Ek het aangeneem dat dit 'n doel was, toe ons die losies ook skoongemaak het daar was nie tyd gewees om na die sokker te kyk nie.
U het geweet dat toe die eerste doel aangeteken is u nog buite was? - - - Ek het so gedink ja.
Ja. - - - Ek het nie 'n idee nie. Dit was omtrent 20:15.
