Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning
OMSENDSKRYWE 8/2008
AAN ALLE MUNISIPALE BESTUURDERS IN DIE WESKAAP
WYSIGING VAN SONERINGSKEMAS / DORPSBEPLANNINGSKEMAS VAN TOEPASSING IN DIE WESKAAP OM VOORSIENING TE MAAK VIR TELEKOMMUNIKASIEFASILTEITE
Alhoewel sekere Munisipaliteite tans besig is om geïntegreerde soneringskemas vir hul gebiede van jurisdiksie op te stel, bestaan daar 'n probleem wat dringend aangespreek moet word. Weinig van die huidige soneringskemas in die Weskaap maak voorsiening vir óf 'n sone óf 'n gedefinieerde gebruik wat telekommunikasie­fasilteite, insluitend selfoonmaste, akkommodeer. Die meeste soneringskemas maak wel voorsiening vir die oprigting van telekommunikasiefasiliteite in die Owerheid-of dergelike gebruiksones, maar dit blyk algemene gebruik te wees vir die meeste Munisipaliteite om veral selfoonmaste as afwykings te oorweeg en goed te keur.
Daar betaan twee basiese foute in hierdie verband:
Gebruike wat permanent van aard is, mag nie as 'n afwyking goedgekeur word nie. Selfoonmaste is permanente strukture en kan dus nie as afwykings hanteer word nie.
'n Afwyking mag nie van 'n definisie gegee word nie en die definisie van "Owerheid" kan dus nie by wyse van afwyking gebruik word om voorsiening te maak vir die bou van telekommunikasiefasilteite nie.
Sedert die selfoonbedryf tot stand gekom het, is die telekommunikasiebedryf nie net meer in die hande van die owerheid nie en is bogenoemde algemene gebruik nog meer problematies.
Die situasie is nog meer kompliseerd ingevolge die Dorpsbeplanningskemas goedgekeur ingevolge Artikel 36 (a) van die Wet op die Ontwikkeling van Swart Gemeenskappe, 1984 (Wet 4 of 1984), wat, alhoewel die Wet herroep is, voortbestaan ingevolge Provinsiale Kennisgewing 733/1989, gedateer 22 September 1989. Ingevolge hierdie Dorpsbeplanningskemas word voorsiening gemaak vir 'n
Dienstesone, wat voorsiening maak vir 'n publiekediensbedryf. Dit is baie moeilik om te bepaal of 'n telekommunikasiefasiliteit, byvoorbeeld 'n selfoonmas, inpas by diè definisie en die wetsposisie is waarskynlik dat dit nie daaronder ingelees kan word nie. Hierbenewens is die goedkeuring van tydelike grondgebruikafwykings nie toelaatbaar ingevolge Proklamasie 73/1989 nie en verbied Artikel 4.10.1 van die dorpsbeplanning­regulasies enige deelsonerings op dieselfde erf.
Die Departement vind dit dus noodsaaklik om die huidige soneringskemas en dorpsbeplanningskemas te wysig deur voorsiening te maak vir die insluiting van 'n definisie vir die term telekommunikasiefasiliteite en vir voorsiening daarvoor as vergunningsgebruike binne sekere sones.
Die voorstel is geadverteer in die Provinsiale Gazette op 17 November 2008 en in The Argus en Die Burger op 14 November 2008. Aangeheg vind 'n kopie van die kennisgewing en dit sal waardeer word indien enige kommentaar of voorstelle by die Departement ingedien kan word nie later as 6 Februarie 2008 nie.
HOOF VAN DEPARTEMENT
Ns Die vorige Omsendskrywe 7/2008 "Voorgestelde wysiging van skemaregulasies en algemene struktuurplan ingevolge die Ordonnansie op Grondgebruikbeplanning, 1985 (Ordonnansie 15 van 1985) om vir ontwikkelingspakkette voorsiening te maak" is uitgestuur aan alle Munisipaliteite.
ORDONNANSIE OP GRONDGEBRUIKBEPLANNING, 1985
ORDONNANSIE 15 VAN 1985 EN
PROVINSIALE KENNISGEWING 733/1989
Die Minister van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning is van voorneme om -
ingevolge artikel 9 van die Ordonnansie op Grondgebruikbeplanning, 1985 -
die Skemaregulasies afgekondig in terme van artikel 8 van die voorgenoemde Ordonnansie en gepubliseer in Provinsiale Kennisgewing 353 van 20 Junie 1986 en 1048 van 5 Desember 1988, en alle Skemaregulasies wat deel is van soneringskemas wat ingevolge artikel 7 van voorgenoemde Ordonnansie as sodanig geag is, en ingevolge Provinsiale Kennisgewing 733/1989 alle Dorpsbeplanningskemas goedgekeur in terme van artikel 36 (a) van die Wet op Ontwikkeling van Swart Gemeenskappe, 1984, te wysig deur:
i voorsiening te maak vir 'n omskrywing van die terme "dak-basisstasie" en "transmissietoring" op die toepaslike plek in die Woordbepaling/Definisies:
dak-basisstasie" beteken 'n selfoon-basisstasie waar antennas vas is aan die dak of kant van 'n bestaande gebou; met dien verstande dat enige antenna-steunpunt of toerustingkamer wat nie deel van die gebou is nie, nie meer as 2.5m in hoogte bokant die top van die gebou mag uitsteek nie, en transmissietoring" beteken enige steunstruktuur en verbandhoudende infrastruktuur van meer as 3m in hoogte, wat gebruik word vir die transmissie en/of ontvangs van elektromagnetiese golwe, en sluit telekommunikasie-, sellulêre telekommunikasie-, radio-, televisie-en satelliet-transmissie in;
ii die invoeging, in die skemaregulasies soos beoog by paragraaf 1a hierbo, van "dak-basisstasie" as 'n primêre reg in die Landbousone II, Sakesone I tot V, Nywerheidsone 1 tot III, Institusionele sone II en III, Oopruimtesone I en II, Vervoersone I en III en Owerheidsone;
iii die invoeging, in die skemaregulasies soos beoog by paragraaf 1a hierbo, van "dak-basisstasie" as 'n vergunningsgebruik in die Landbousone I, Residensiële sone IV en V, Oordsone I en II, Institusionele sone I, Oopruimtesone III en Spesiale sone;
die invoeging, in die skemaregulasies soos beoog by paragraaf 1(a) hierbo, van "transmissietoring" as 'n vergunningsgebruik in die Landbousone I, Sakesone I tot V, Institusionele sone I tot III, Oopruimtesone I tot III en Spesiale sone;
vi die invoeging, in alle skemaregulasies soos beoog by paragraaf 1(b) hierbo, van "dak-basisstasie" as 'n primêre reg in alle ooreenstemmende sones as dié gemeld in paragraaf (ii) hierbo;
vii die invoeging, in alle skemaregulasies soos beoog by paragraaf 1b hierbo, van "dak-basisstasie" as 'n vergunningsgebruik in alle ooreenstemmende sones as dié gemeld in paragraaf iii hierbo;
viii die invoeging, in alle skemaregulasies soos beoog by paragraaf 1b hierbo, van "transmissietoring" as 'n primêre reg in alle ooreenstemmende sones as dié gemeld in paragraaf iv hierbo;
ix die invoeging, in alle skemaregulasies soos beoog by paragraaf 1(b) hierbo, van "transmissietoring" as 'n vergunningsgebruik in alle ooreenstemmende sones as dié gemeld in paragraaf (v) hierbo;
die invoeging, in alle skemaregulasies soos beoog by paragraaf 2 hierbo, van "dak-basisstasie" as 'n primêre reg in die Sakesone, Nywerheidsone, Institisionele sone II en III en Parkeringsone;
xi die invoeging, in alle skemaregulasies soos beoog by paragraaf 2 hierbo, van "dak-basisstasie" as 'n vergunningsgebruik in die Residensiële sone I en II, Institisionele sone I, Dienstesone, Oopruimtesone I en II en Spesiale sone;
xii die invoeging, in alle skemaregulasies soos beoog by paragraaf 2 hierbo, van "transmissietoring" as 'n primêre reg in die Sakesone, Nywerheidsone, Institisionele sone III, Dienstesone en Oopruimtesone II, en xiii die invoeging, in alle skemaregulasies soos beoog by paragraaf 2 hierbo, van "transmissietoring" as 'n vergunningsgebruik in die Institusionele sone I en II, Oopruimtesone I en II, Parkeringsone en Spesiale sone.
Enige kommentaar moet skriftelik ingedien word by die kantoor van die Hoofdirekteur: Omgewings-en Grondbestuur by Privaatsak X9086, Kaapstad of by Dorpstraat 1, Kaapstad voor of op 6 Februarie 2009. Kommentaar kan ook gefaks word na 483 4185.
