Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning
OMSENDSKRYWE 4/2008
AAN ALLE MUNISIPALITEITE IN DIE WESKAAP
WYSIGING VAN DIE DELEGASIE BETREFFENDE DIE VASSTELLING VAN STYDIGHEIDSHEFFINGS
Op 21 September 1993 het die Administrateur sekere bevoegdhede delegeer aan Plaaslike Owerhede en Streekdiensterade in die destydse Kaapprovinsie. In die betrokke omsendskrywe GOK/LDC 5/1993, is die bedrag wat bepaal kan word by die kapitalisering van strydigheidsheffings ingevolge artikel 40 van die Ordonnansie op Grondgebruikbeplanning, 1985 (Ordonnansie 15 van 1985) beperk tot 'n gekapitaliseerde bedrag van R5 000.
'n Lang tydperk het sedertdien verloop en daar was verskeie versoeke van verskillende Munisipaliteite dat die bedrag aansienlik verhoog moet word aangesien die bedrag nie tred gehou het met inflasie of ontwikkelingskostes nie. Die praktyk het ook gewys dat oortreders van die wet verkies om liewer die strydigheidsheffing te betaal as om die normale voorgeskrewe prosedure te volg.
Na deeglike oorweging is besluit dat dit raadsaam is om weg te doen met die vasstelling van 'n maksimum bedrag wat Munisipaliteite kan vasstel. Dit word voorgestel dat die gekapitaliseerde bedrag bereken moet word teen 'n koers van 20% van die werklike boukoste. Die volgende aspekte moet egter nog steeds in ag geneem word:
Die berekening van die bedrag moet net van toepassing gemaak word op die gedeelte van die gebou wat oorskry en nie die hele struktuur nie.
Die applikant moet gewys word op sy/haar reg tot appèl.
Daar is gevind dat alle Munisipaliteite nie ten alle tye die korrekte prosedure volg by die oorweging van aansoeke of die bepaling van strydigheidsheffings nie en hierdie aspekte sal hieronder in meer detail bespreek word.
Indien 'n strydigheid plaasvind en die oortreding is van so 'n aard dat regstelling, dus afbreek/verwydering, nie nodig geag word nie, beskik die
Raad oor twee statutêre metodes om die strydigheid te formaliseer, naamlik:
eerstens deur 'n aansoek vir 'n afwyking ingevolge artikel 15 van die Ordonnansie op Grondgebruikbeplanning, of ii tweedens deur 'n aansoek om strydigheidsheffing ingevolge artikel 40 van die Ordonnansie.
Die Munisipaliteit kan die eienaar dus gelas om aansoek te doen om 'n strydigheidsheffing, welke heffing as 'n tipe boete dien ter kondonering van die strydigheid. Die Raad het egter ook die vermoë om te gelas dat die eienaar bloot ingevolge artikel 15 om 'n afwyking aansoek doen, in welke geval letterlike regstelling van die strydigheid of betaling van 'n strydigheidsheffing nie vereis word nie.
Dit word gevind dat sekere Munisipaliteite die oortreder versoek om 'n aansoek vir 'n afwyking in te dien en nadat die aansoek ingevolge die normale wenslikheidsbeginsels soos uiteengesit in artikel 36 van die Ordonnansie beoordeel is, word 'n voorwaarde ingevolge Artikel 42 neerlê dat 'n strydigheidsheffing betaal moet word. In ander gevalle word dit aan die eienaar self oorgelaat om te besluit watter roete gevolg moet word. Sonder om in die fynste besonderhede in te gaan, word hierdie twee aspekte verder hieronder bespreek.
Artikel 40 (a) van die Ordonnansie bepaal:
Indien 'n gebou of enige deel daarvan opgerig is in stryd met artikel 39 (a), moet die plaaslike owerheid 'n lasgewing (hierna die lasgewing genoem) aan die betrokke eienaar beteken -
om sodanige strydigheid reg te stel voor 'n datum in die lasgewing aangewys wat nie later as ses maande na die datum van die lasgewing sal wees nie of, na die keuse van genoemde Raad, ii om aansoek te doen om die vasstelling van 'n strydigheidsheffing of, ingevolge artikel 15, om 'n afwyking voor 'n datum in die lasgewing aangewys wat nie later as dertig dae na die datum van die lasgewing sal wees nie".
Ingevolge wetgewing is Munisipaliteite dus belas om die regstelling van strydighede te beheer en om ingevolge artikel artikel 39 van die Ordonnansie, die bepalings van die Ordonnansie af te dwing. Ingevolge artikel 40 word daar geen keuse aan die eienaar oorgelaat om te besluit of hy of sy 'n aansoek ingevolge artikel 15 (afwyking) òf ingevolge artikel 40 (strydigheidsheffing) in te dien nie. In dié verband is dit belangrik om daarop te let dat in artikel 40 (a)(ii) die afwykingsopsie aan 'n uitvoeringsdatum gekoppel word, wat in lasgewing vermeld moet word. Nie alleen is dit duidelik dat die Munisipaliteit die proses van regstelling en wettiging moet beheer en verseker dat bevoegde persone dit doen nie, maar is dit belangrik dat die Munisipaliteit moet besluit watter tipe aansoek ingedien moet word.
Alhoewel Munisipaliteite ingevolge artikel 42 gemagtig is om voorwaardes by die goedkeuring van 'n aansoek neer te lê, is daar 'n duidelike onderskeid tussen artikel 15 en 40. In eersgenoemde geval kan die aansoek dus goedgekeur word (sonder strydigheidsheffing) en in laasgenoemde geval 'n strydigheidsheffing met die geïmplieerde goedkeuring van die afwyking. Dit is dus nie moontlik om 'n aansoek vir 'n afwyking ingevolge artikel 15 goed te keur met 'n voorwaarde dat 'n strydigheidheffing betaal moet word nie.
Alle vorige omsendskrywes wat te doen het met die bepalings van strydigheidsheffings word hiermee teruggetrek.
Daar word vertrou dat bogenoemde inligting enige onduidelikheid uit die weg sal ruim.
HOOF VAN DEPARTEMENT
Ns Die vorige Omsendskrywe 3/2008 "Verhouding tussen die Ordonnansie op Grondgebruikbeplanning, die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Gidsplanne in die prosessering van ontwikkelingsaansoeke" is gestuur aan alle Munisipaliteite.
