Krediet en Lenings 
Wanneer kan die Krediteur my Goedere Herinbesitneen?
Wanneer kan die Krediteur my Goedere Herinbesitneen?
As jy op krediet koop, bly die krediteur gewoonlik die eienaar van die goed wat jy gekoop het totdat jy al die paaiemente afbetaal het.
Dit beteken as jy nie jou maandelikse paaiemente kan betaal nie, kan die krediteur die items herinbesitneem.
Die krediteur kan net met jou toestemming die item terugneem (dit staan as "vrywillige teruggawe" bekend), behalwe as hy 'n hofbevel het.
As die krediteure jou wil dwing om die items terug te gee, sal hulle 'n hofbevel nodig het. Voordat hulle so 'n bevel kan kry, moet die krediteure vir jou 'n geregistreerde brief stuur wat jou maan dat die paaiemente agterstallig is en dat die uitstaande bedrag binne 30 dae betaal moet word. As jy voorheen agterstallig geraak het met betaling en 'n eisbrief gekry het, en jy weer agterstallig raak, sal die krediteure 'n eisbrief stuur wat jou 14 dae tyd sal gee om die agterstallige paaiemente te betaal. As jy steeds nie betaal nie, kan die verkoper 'n hofbevel kry om die goed terug te neem.
As 'n dagvaarding op jou bedien word, sal jy 'n geskrewe pleitdooi by die hof moet indien, of 'n beëdigde verklaring wat dit teenstaan moet indien, waarin jy verduidelik waarom jy nie die bedrag betaal het nie (die krediteur kan byvoorbeeld meer van jou eis as wat jy in werklikheid skuld). Sake word gewoonlik sonder 'n hofsaak geskik, maar as dit nie geskik word nie en jy hof toe wil gaan om jouself te verdedig, moet jy 'n Kennisgewing van Voorneme om te Verdedig indien. As die saak verhoor word en jy nie jouself verdedig nie of as die hof dink dat jou optrede nie geregverdig is nie, kan die hof 'n bevel uitreik wat die krediteur die mag gee om die items terug te neem.
Die Balju van die hof is daarvoor verantwoordelik om die goedere herinbesit te neem. Dié amptenaar sal die hofbevel aan jou wys en kan dan die items wegneem. As die balju 'n hofbevel het, moet jy (of enigiemand anders wat op daardie tydstip in die huis woon) hulle toelaat om die huis in te kom en die goed weg te neem.
Partykeer wil die krediteure nie die items terug hê nie en sal hulle 'n dagvaarding teen jou uitreik om die geld terug te kry. In dié geval sal die krediteure moet verduidelik hoekom hulle nie die goed kan terugeis nie.
Sal die paaiemente wat jy reeds betaal het, terugbetaal word as die goed herinbesitgeneem word? Die waarde van die goed het waarskynlik verminder vandat jy dit gekoop het, omdat dit nie meer splinternuut is nie. Afhangende van die waarde van die herinbesitgenome goed, kan jy dalk 'n terugbetaling kry (as die waarde van die item plus die bedrag wat jy reeds betaal het meer is as wat jy oorspronklik geskuld het, sal die verskil aan jou uitbetaal word. Maar as die goedere minder werd is as die bedrag wat jy nog skuld, sal jy die krediteure nog geld skuld).
As iemand (soos 'n skuldherwinningsagent) gestuur is om skuld van jou te eis en onbehoorlik optree, kan jy 'n klagte lê by die Raad vir Skuldinvorderaars (alle skuldinvorderaars moet by die raad geregistreer wees).
Die Raad vir Skuldinvorderaars se kontakbesonderhede is:
Faks: 012 804 0744
Tel: 012 804 9808
Wat Is Krediet? Wat Is 'n Lening?
Wat Is 'n Kredietooreenkoms?
Wat Is 'n Kredietprofiel? En Wat Is 'n Swartlys?
Wanneer kan die Krediteur my Goedere Herinbesitneen?
Handige Terminologie
