WATERBRONBESTUURHEFFING
Waterversekeringspolis' wat aan jou die reg tot beskermde waterhulpbronne verleen.
Die Departement gee saam met jou om vir waterbronbestuur - die lewenslyn van alle bedrywighede
Gedurende Desember 2002 word die eerste rekening - met die Waterbronbestuurheffing ingesluit - uitgereik. Dit volg op samesprekings met die georganiseerde landbou en landbouunies.
Wat is Waterbronbestuur?
Waterbronbestuur is noodsaaklik om deurlopende voorsiening van water vir boere en ander waterverbruikers te verseker Waterbronbestuur sluit in:
beheer oor onttrekking van water om te verseker dat elkeen sy regmatige hoeveelheid water kry, monitering en beheer van besoedeling om ons riviere in stand te hou, beplanning vir die ontwikkeling van nuwe skemas en uitbreiding of vergroting van bestaande skemas, uitroei van uitheemse indringerplante wat die beskikbare water drasties verminder.
Alle beduidende waterverbruikers in 'n opvanggebied is - hetsy dit 'n nywerheid, myn, munisipaliteit of besproeier is - moet die Waterbronbestuurheffing betaal.
Hoekom moet ek betaal?
Die Waterbestuurheffing word vervat in die Nasionale Waterwet, (Wet no 36 van 1998) -Rouwater Prysbepalingstrategie wat in 1999 gepubliseer is, ná konsultasie met al die betrokke rolspelers. Sedert 1 April 2002 het 'n Waterbronbestuurheffing in werking getree om van die waterbestuuruitgawes te dek. Die geld wat ingevorder word, sal die Departement asook elke Opvanggebiedbestuuragentskap (OBA) in staat stel om water optimaal te benut sodat genoeg water beskikbaar is. Die betaal van die Waterbronbestuurheffing is verbruikers se verantwoordelikheid en verseker hulle van die reg op beskermde waterhulpbronne.
Betalers word regstreeks bevoordeel
Elkeen wat die tarief betaal, sal daarby baat vind omdat dit die reg tot beskermde waterbronne waarborg. Die geld wat in elke Waterbestuurgebied (WBG) ingevorder word, sal in daardie besondere gebied bestee word (behalwe waar water van een bestuurgebied na 'n ander oorgedra word, waar die bevoordeeldes vir die voorreg moet betaal). Op hierdie wyse sal die geld wat 'n waterverbruiker betaal, regstreeks tot sy eie voordeel bestee word.
Om meer inligting, skakel die plaaslike kantoor van die Departement van Waterwese en Bosbou
