Aansoek om aanneming van 'n pleegkind
Beskrywing
Aanneming behels die aanvaarding van wettige voogskap oor 'n kind van ander biologiese ouers, in ooreenstemming met die formele regstappe. 'n Pleegkind is 'n kind wat uit die sorg van sy of haar ouers verwyder is en wettiglik in die sorg van pleegouers of in 'n pleeghuis/pleegsorgtehuis geplaas is.
Die kind mag aangeneem word deur n man en sy vrou gesamentlik;
n wewenaar of 'n weduwee;
n ongetroude of geskeide persoon;
n getroude persoon wie se gade die ouer van die kind is; of die biologiese vader van 'n kind wat buite die eg gebore is.
As jy 'n kind wil aanneem, moet jy aan die volgende vereistes voldoen:
Jy moet oor voldoende middele beskik om die kind te kan onderhou en om vir sy of haar onderrig te betaal.
Jy moet 'n goeie reputasie hê en 'n gepaste en geskikte persoon wees om beheer en toesig oor die kind aan toe te vertrou.
As die kind se biologiese ouer 'n Suid-Afrikaanse burger is, moet jy ook 'n Suid-Afrikaanse burger wees en in Suid-Afrika woon.
As jy nie 'n Suid-Afrikaanse burger is nie, moet jy of kwalifiseer vir burgerskap of reeds om burgerskap aansoek gedoen het.
Sogenaamde geheime aannemings, waar die ouers van die kind nie mag weet wie die voorgenome aannemende ouers is of waar die kind na die aanneming sal woon nie, word gereël deur artikel 18 van die Wet op Kindersorg, 1983 en kan slegs plaasvind as die kinderhof tevrede is dat dit in die kind se beste belang sal wees.
As die kinderhof bevind het dat 'n kind of kinders sorg en beskerming nodig het, sal die landdros van die kinderhof die kinders uitplaas in pleegsorg, 'n kinderhuis, 'n nywerheidskool of 'n veiligheidsplek/plek van veiligheid. Die kind of kinders kan egter onder die toesig van 'n maatskaplike werker teruggeplaas word in die sorg van 'n ouer, versorger of voog. In so 'n geval betaal die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling 'n pleegsorgsubsidie aan die pleegouers.
Die voorgenome aanneming moet in die beste belang van die kind wees en die kind se welstand bevorder.
Kry meer inligting by die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling:
Stappe om te volg
Gaan na die klerk van die kinderhof in die distrik waar die kind woon.
Vul vorm 11: Aansoek om aanneming van 'n kind in vir elke kind wat jy wil aanneem.
Stuur die aansoekvorm saam met die volgende dokumente in:
n Gewaarmerkte kopie van die identiteitsdokument van elke applikant en die oorspronklike geboortesertifikaat of oorspronklike identiteitsdokument van elke kind wat aangeneem gaan word
Vorm 12B, Aanneming van 'n pleegkind: verklaring deur pleegouer , wat 'n skriftelike verklaring van die kind se pleegouer bevat dat hy of sy nie die kind wil aanneem nie
Indien van toepassing, vorm 12, Toestemming van ouer of voog tot die aanneming van 'n kind , wat die ouers se skriftelike toestemming tot die aanneming bevat, asook vorm 13, Kind se toestemming tot aanneming , wat die kind se skriftelike toestemming bevat
Toestemming tot die aanneming moet verkry word van:
Albei ouers van 'n kind wat binne die eg gebore is
Die moeder van 'n kind wat buite die eg gebore is
Die kind self, as hy of sy ouer as 10 jaar is; en die hof moet oortuig wees dat die kind die aard en erns van sodanige toestemming verstaan
Die pleegouer in wie se sorg die kind is, as die pleegouer nie self aansoek gedoen het om die kind aan te neem nie. As die pleegouer egter sou versuim om sy toestemming tot die aanneming te verleen binne 'n maand vandat hy of sy deur 'n assistent van die kinderhof gevra is om dit te doen, kan die aannemingsproses sonder sy of haar vereiste toestemming voortgaan.
Onder die volgende omstandighede hoef geen toestemming verkry te word nie:
As die kind se ouers oorlede is en daar geen voog vir die kind aangestel is nie
As die ouer weens geestesongesteldheid nie bevoeg is om toestemming te verleen nie;
die kind verlaat het en dit nie bekend is waar hy of sy is nie;
die kind aangerand of mishandel het of toegelaat het dat die kind aangerand of mishandel word;
die seduksie, abduksie of prostitusie van die kind veroorsaak of aangehelp het, of veroorsaak het dat die kind onsedelike dade pleeg of die kind gehelp het om onsedelike dade te pleeg;
die ouer is van 'n kind wat, in terme van atrikel 16, in die beheer en toesig van 'n pleegouer geplaas is of 'n leerling van 'n kinderhuis of 'n nywerheidskool is; of sy of haar toestemming op onredelike wyse weerhou.
Regsraamwerk
Wet op Kindersorg, 1983
Diensstandaard
Die aannemingsproses neem gewoonlik baie lank, en kan selfs langer as normaalweg duur as die saak ingewikkeld is.
Koste
Kontak die aannemingsagentskappe, kinderhowe en kantore van Maatskaplike Ontwikkeling met enige navrae oor koste.
Vorms om in te vul
Vorm 11: Aansoek om aanneming van 'n kind
Vorm 12: Toestemming van ouer of voog tot die aanneming van 'n kind
Vorm 12A: Terugtrekking van toestemming tot aanneming deur ouer of voog van 'n kind
Vorm 12B: Aanneming van 'n pleegkind: verklaring deur pleegouer
Kontakbesonderhede
Lys van landdroshowe
