Aansoek om die administrasie, likwidasie en deregistrasie van 'n vereniging, maatskappy of beslote korporasie
Beskrywing
Indien 'n vereniging, maatskappy of beslote korporasie nie sy skuld kan of wil betaal nie en ook nie sy verpligtinge kan nakom nie mag die Direkteur-generaal van Handel en Nywerheid 'n sakeonderneming onder administrasie plaas of laat likwideer.
n Vereniging of 'n voorlopige vereniging, enige lid van die vereniging of enige ander belanghebbende persoon mag by die hof aansoek doen dat die Direkteur-generaal die vereniging of voorlopige vereniging onder administrasie plaas of likwideer. Die hof wat hierdie aansoek aanhoor, moet 'n afdeling van die hooggeregshof of landdroshof wees wat regsbevoegdheid het in die gebied waar die vereniging gesetel is of sy aktiwiteite bedryf. Die howe kan ook so beslis indien dit die beste en regverdigste beslissing vir die gegewe situasie is.
Indien die hof beslis dat die Direkteur-generaal die vereniging of voorlopige vereniging onder administrasie moet plaas, sal hy of sy oor die nodige gesag beskik om die vereniging of voorlopige vereniging se sake ooreenkomstig die voorwaardes van die Maatskappywet, 1973 te administreer.
Indien die vereniging of voorlopige vereniging skriftelik by die Direkteur-generaal daarom aansoek doen, kan hy of sy die vereniging of voorlopige vereniging deregistreer indien hy of sy tevrede is dat n resolusie ten gunste van deregistrasie aanvaar is op 'n vergadering wat deur 'n beduidende getal lede van die vereniging of voorlopige vereniging bygewoon is;
die resolusie aanvaar is deur 'n meerderheid van die lede wat by die vergadering teenwoordig was of verteenwoordig is; en al die tersaaklike dinge wat redelikerwys voor deregistrasie bespreek moet word, insluitende hoe daar met die vereniging of voorlopige vereneniging se bates en laste gehandel moet word, wel bespreek is.
Indien die hof beslis dat die vereniging of voorlopige vereniging gelikwideer moet word, sal dit ook beslis hoe die vereniging of voorlopige vereniging se bates gelykop en regverdig verdeel moet word. In sy beslissing sal die hof enige moontlike aanbevelings deur die Direkteur-generaal oor die verdeling van bates in ag neem.
Indien die Direkteur-generaal, of 'n vereniging of voorlopige vereniging, of enige lid van die vereniging, of enige ander belanghebbende persoon aansoek doen dat 'n vereniging of voorlopige vereniging deur die Direkteur-generaal onder administrasie geplaas of gelikwideer moet word, kan die Minister beslis ingevolge watter prosedure die Direkteur-generaal die vereniging of voorlopige vereniging onder administrasie moet plaas of likwideer. Die Minister kan onder sulke omstandighede ook die magte en pligte van die Direkteur-generaal, die registrasiebeampte, die vereniging, die lede en belanghebbende partye uiteensit.
In die geval van 'n maatskappy of beslote korporasie kan enige belanghebbende party, direkteur of ouditeur van die maatskappy, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens of die Registrateur van Maatskappye om die deregistrasie van 'n maatskappy of BK aansoek doen.
Kry meer inligting by die kantoor vir die registrasie van maatskappye en intellektuele eiendom .
Stappe om te volg
Deregistrasie van n maatskappy, vereniging en BK:
Die geregistreerde maatskappy, vereniging of BK moet in 'n formele brief om deregistrasie aansoek doen.
Verstrek die redes vir die maatskappy of BK se aansoek om deregistrasie.
Verstrek, waar moontlik, die maatskappy of BK se belastingverwysingsnommer.
Indien 'n direkteur of lede vrywilliglik om deregistrasie aansoek doen, moet al die direkteure en lede van die maatskappy of BK die brief onderteken.
Regsraamwerk
Maatskappywet, 1973
Diensstandaard
Deregistrasie duur ongeveer ses maande.
Koste
Die diens is gratis.
Vorms om in te vul
Daar is geen vorms om in te vul nie.
Kontakbesonderhede
