TUISBLAD
JOU LEWE
ONDERWERPE
PUBLIKASIES
GIDSE
JOU REGERING
WERKGELEENTHEDE
Aangaande
Kontak
Hulp
Gevorderde Soektog
Tuisblad
Gidse
Dienste
Misdaad, Regte en Justisie
Vuurwapens
Beslaglegging op (afneem van) 'n vuurwapen
Beslaglegging op (afneem van) 'n vuurwapen
BESKRYWING:
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) mag 'n vuurwapen in die volgende omstandighede afneem:
Indien iemand in besit van 'n vuurwapen sonder 'n lisensie is, mag 'n lid van die SAPD die vuurwapen afneem en 'n kriminele klag teen die persoon lê.
Indien iemand 'n lisensie vir 'n vuurwapen het, maar 'n gevaar inhou, kan die SAPD die persoon ongeskik verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Iemand wat skuldig bevind word aan sekere oortredings, word as ongeskik beskou om 'n vuurwapen te besit, en mag nie 'n vuurwapen aanhou nie.
VOORSKRIFTE:
Onwettige besit van vuurwapens
Eienaars van gelisensieerde vuurwapens
Persone wat aan ander oortredings skuldig bevind is
ONWETTIGE BESIT VAN VUURWAPENS
Enigiemand wat 'n vuurwapen sonder 'n lisensie het, pleeg 'n oortreding. Indien jy daardie oortreding by die SAPD aanmeld, kan hulle die vuurwapen sonder 'n lasbrief soek en daarop beslag lê.
Lê 'n verklaring aan die SAPD by 'n polisiestasie af wat meld dat jy iemand ken wat 'n vuurwapen sonder 'n lisensie het. Vra die SAPD om 'n dossier oop te maak en die saak te ondersoek. Die SAPD sal die vuurwapen afneem en 'n kriminele saak sal volg.
EIENAARS VAN GELISENSIEERDE VUURWAPENS
As jy dink dat 'n eienaar van 'n gelisensieerde vuurwapen gevaarlik en ongeskik is om 'n vuurwapen te besit, lê 'n verklaring daaroor by die polisiestasie af. Vra die aangewese vuurwapenbeampte (AVB) om 'n 'Artikel 11-verhoor' te hou om die persoon ongeskik te verklaar om 'n vuurwapen te besit. Die SAPD kan so 'n verhoor hou indien die eienaar van die vuurwapen:
gedreig het om homself of haarself of enige ander persoon met die vuurwapen dood te maak of te beseer;
aan 'n geestestoestand ly, geneig is om gewelddadig te wees, of afhanklik van alkohol of dwelmmiddels is, of die vuurwapen nie behoorlik oppas om te verhoed dat iemand anders dit gebruik nie.
Die SAPD sal 'n skriftelike kennisgewing by die persoon aflewer om hom of haar in kennis te stel om die verhoor by te woon. Die SAPD kan terselfdertyd 'n lasbrief vir die vind van en beslaglegging op die vuurwapen uitreik. Die verhoor word gewoonlik deur 'n superintendent van die SAPD of iemand met 'n hoër rang gehou. 'n Prokureur kan die persoon by die verhoor verteenwoordig, hy of sy kan getuies roep (ook die persoon wat die verklaring teen hom of haar gemaak het) en hulle onder kruisverhoor neem.
Indien gevind word dat die persoon ongeskik is om 'n vuurwapen te besit, moet alle vuurwapens en lisensies aan die SAPD oorhandig word. 'n Verklaring van ongeskiktheid is gewoonlik vir 'n tydperk van minstens twee jaar geldig. Die Wes-Kaapse SAPD hou meer suksesvolle Artikel 11-verhore as enige ander provinsie in Suid-Afrika.
Ingevolge die Wet op Wapens en Ammunisie van 1969 is 'n persoon wat aan die volgende oortredings skuldig bevind word, outomaties ongeskik om 'n vuurwapen te besit:
Besit van 'n vuurwapen sonder 'n lisensie
Rig van 'n vuurwapen op 'n ander persoon
Nalating om 'n vuurwapen behoorlik weg te sluit
Nalatige verlies van 'n vuurwapen, wat diefstal as gevolg van nalating om dit behoorlik weg te sluit, insluit
Onregmatige vuur van 'n vuurwapen wat 'n ander persoon of iemand se eiendom in gevaar stel, of nalatige hantering van 'n vuurwapen
Enige oortreding waarin 'n vuurwapen gebruik is (tensy die persoon 'n boete ter erkenning van skuld betaal het).
Enigiemand wat skuldig bevind is aan enige van bogenoemde oortredings moet sy of haar vuurwapen aan die SAPD oorhandig. As jy iemand ken wat 'n vuurwapen het en aan 'n vuurwapenverwante oortreding skuldig is, lê 'n verklaring daaroor by 'n polisiestasie af. Vra die AVB om seker te maak dat die persoon die vuurwapen oorhandig.
PERSONE WAT AAN ANDER OORTREDINGS SKULDIG BEVIND IS
Howe het die diskresie om iemand ongeskik te verklaar om 'n vuurwapen te besit indien so 'n persoon skuldig bevind word aan sekere oortredings, veral as geweld daarby betrokke is. Indien u 'n slagoffer van 'n oortreding was waarin geweld betrokke was, is dit die moeite werd om die hof te vra vir 'n verklaring van ongeskiktheid. Die aanklaer moet dit doen nadat die persoon skuldig bevind is, en terwyl daar op die straf besluit word.
Mense wat aan die volgende misdade skuldig bevind word, kan ongeskik verklaar word om 'n vuurwapen te besit: hoogverraad; opstoking; terrorisme; subversie; sabotasie; openbare geweld; intimidasie; moord; kwaadwillige beskadiging van eiendom; verkragting; aanranding; diefstal; wilddiefstal; inbraak of betreding van enige perseel, hetsy onder die gemenereg of ingevolge 'n statutêre bepaling, met die bedoeling om 'n oortreding te begaan; ontvoering; kinderdiefstal; strafbare manslag; of enige sameswering, aanhitsing of poging om enige oortreding hierbo genoem te pleeg.
VERSKAF DEUR:
STAATSLIGGAAM:
VERWANTE INLIGTING
Die Verkryging van 'n Vuurwapenlisensie (Diens)
Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 4 Januarie 2005 hersien
Onbekende staatstaal of akroniem? Kyk in die WOORDELYS.
Gebruiksvoorwaardes
Privaatheidsbeleid
Kopiereg
Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering
