TUISBLAD
JOU LEWE
ONDERWERPE
PUBLIKASIES
GIDSE
JOU REGERING
WERKGELEENTHEDE
Aangaande
Kontak
Hulp
Gevorderde Soektog
Tuisblad
Publikasies
Toesprake
By die Feesgeleentheid vir Matrikulante van 2004 en die Pad Vorento
By die Feesgeleentheid vir Matrikulante van 2004 en die Pad Vorento
Die Premier en mev. Rasool
Kabinetskollegas
Burgemeesters en raadslede
Die SG en ander senior amptenare van my departement
Verteenwoordigers van onderwyser-, beheerliggaam- en studenteorganisasies
Ouers, ontvangers van die toekennings en gasteEk erken ook die aanwesigheid van die voormalige nasionale Minister van Onderwys, professor Kader Asmal, en my provinsiale voorganger, advokaat André Gaum.
Ek bedank graag die groot getal leerders en ouers wat op kort kennisgewing hierdie heuglike geleentheid bywoon. Ek is seker daarvan dat die ouers van die leerders wat gister deur die Departement geskakel is, baie in hulle skik moes gewees het toe hulle hoor dat hulle na die Premierswoning uitgenooi is.
Baie geluk aan al ons matrikulante wat geslaag het. Julle het ons almal trots gemaak - jul ouers en die gemeenskappe wat julle verteenwoordig.
Aan dié wat nie sukses behaal het nie, wil ons sê dat dit nie die einde van die wêreld is nie. Ek wil julle aanmoedig om voor 18 Januarie 2005 in te skryf vir die aanvullende eksamen. Gebruik elke dag wat jy het om jou vaardighede te verbeter.
Meld jou aan, werk deeltyds, lees, leer ander, leer en ontdek elke uur wat jy wakker is. 'n Nuwe dag breek vir ons aan, oor jou en oor Afrika. Môre sal beter wees as gister.
Vandag het ons in hierdie pragtige tuin van Leeuwenhof, waar slawe hard gewerk het vir hul meesters, die lig wat vir ons hoop gee. Ons sal nooit ons geskiedenis in die Wes-Kaap vergeet nie. Waar kom ons vandaan? Waar gaan ons heen? Ons beweeg voorwaarts. Ons sal nooit terugdraai nie.
Meneer die Premier, ek is trots daarop om bekend te maak dat ons vir die vierde agtereenvolgende keer 'n slaagsyfer van meer as 80% behaal het. Vanjaar is die Wes-Kaap se slaagsyfer 85%. My Ministerie is egter deeglik bewus daarvan dat die toppresteerders kom uit histories bevoordeelde gemeenskappe. Die Wes-Kaap is trots op hierdie leerders.
Voorts besef ons dat die slaagsyfer nie die hoë persentasie leerders weerspieël wat uitsak hoofsaaklik as gevolg van sosio-ekonomiese faktore voordat hulle matriek bereik nie. Elke jaar begin 80 000 leerders in ons provinsie in graad 1, maar net 40 000 haal matriek. Dit is ons grootste uitdaging.
In die toekoms gaan ons die skole vereer wat ons kinders in die skool hou, weg van tik, weg van bendes en 'n pad van wanhoop. Dié onderwysers gee ons kinders hoop. Hulle is die lig wat brand en nooit doodgaan nie. Hulle is die ware helde wat die Wes-Kaap gaan verander.
Ten einde die geweldige uitdagings waarvoor ons in die onderwys te staan kom, die hoof te bied, sal die Departement op die uitkyk wees na vennootskappe met arbeid, die sakesektor, plaaslike regering, NRO's en ander maatskaplike vennote. Ons besef dat skole nie in 'n lugleegte kan funksioneer nie en dat hulle beter, volgehoue ondersteuning nodig het.
Die nuwe Wes-Kaapse Onderwysstigting wat volgende jaar bekendgestel word, sal hierdie vennootskap saamsmee tot 'n ware instrument tot transformasie, billikheid en gehalte.
n Mens sou kon beweer dat die Wes-Kaapse Regering vir langer as ander provinsies gekwel is deur die spookbeeld van apartheid, wat meegebring het dat my Ministerie 'n diepgewortelde status quo moes uitdaag. Binne 'n baie kort tydsbestek het die Departement van Onderwys die volgende geïnisieer:
Die onderwysprofessie is gestabiliseer deur bykomende fondse van die Provinsiale Tesourie te bekom om 1 800 onderwysposte te red en aanstaande jaar 365 meer onderwysers aan te stel. Ek bedank graag die Premier, LUR Brown en my Minister, Minister Naledi Pandor, vir hul ondersteuning in hierdie moeilike tyd.
Die grondslag is gelê om die Wiskunde HG-slaagsyfer op te skuif van 4 000 vanjaar na 8 000 in 2009.
In opdrag van uself, Meneer die Premier, is 'n provinsiale mensehulpbronstrategie ontwikkel met die fokus op die jeug. Die strategie word tans geoperasionaliseer en gekoppel aan ons susterdepartement se rigtinggewende strategieë in 'n poging om vaartbelyn te werk te gaan.
Elke skool in ons provinsie is geëlektrifiseer. Daardeur is ons 100-daedoelwitte bereik.
n Grondoudit van onbenutte onderwyseiendom is geïnisieer met die oog op moontlike vervreemding ten einde die byeenbring van bykomende fondse vir die bou van die 65 skole wat ons nodig het, te versnel.
n Beleidsriglyn is ontwikkel ten opsigte van die optimale benutting van klaskamerruimte. Die beleid sal gefinaliseer word na uitgebreide raadpleging in 2005.
Voorts is die Wes-Kaapse Onderwysdepartement verbind tot beter prestasie en die verhoging van verantwoordingspligtigheid deur die volgende:
Daar sal seker gemaak word dat alle skole op 19 Januarie 2005, die dag waarop die skole heropen, daadwerklik met onderrig begin, en ons sal die gehalte van onderrig in blootgestelde skole deeglik dophou.
Ons sal sommige van ons distriks- en hoofkantoorpersoneellede, met inbegrip van kringbestuurders, herontplooi sodat hulle optimaal aangewend en verantwoordingspligtig gehou word.
Die uitslae van graad 8 tot 11 word hersien om deurgang te verseker en seker te maak dat die vakgebiede wiskunde, wetenskap en rekeningkunde geprioritiseer word.
Ons mensehulpbronstrategie word belyn sodat dit al die onderwysbane ondersteun en leerders help ontwikkel met kennis, vaardighede, waardes en gesindhede wat kan bydra tot die provinsie se ekonomie, armoede kan help bekamp en werk kan skep.
Daar word seker gemaak dat elke hoërskool teen die einde van volgende jaar 'n rekenaarlaboratorium sal hê, en elkeen van ons skole word in vennootskap met Multi-Choice toegerus met 'n satellietskottel, 'n televisiestel en 'n videokassetopnemer.
Vennootskappe word gesmee met die sakesektor, ander regeringsdepartemente, maatskaplike vennote en gemeenskappe. Ek het byvoorbeeld ons 30 munisipaliteite versoek om in die nuwe jaar hul plaaslike topleerders te vereer. Ek het elke burgemeester gevra om die toekenning van 'n beurs of kontantprys vir die beste algehele matrikulant in die betrokke munisipale gebied te oorweeg, asook vir die beste hoërgraadleerders van histories benadeelde skole in hul dorpe vir die vakke wiskunde, wetenskap en rekeningkunde. Ek bedank graag daardie burgemeesters wat reeds op my versoek gereageer het.
Daar is baie waaroor ons kan feesvier. 'n Betekenisvolle getal van ons skole het van 2003 na 2004 'n toename ervaar in die getal leerders wat die Senior Sertifikaat behaal het. In sommige skole het die getalle gestyg met meer as 30 leerders.
Vanjaar het nog meer leerders, te wete 38 896, hulle vir die Senior Sertifikaat-eksamen ingeskryf - 'n verbetering op die afgelope twee jaar.
Die verdere goeie nuus is dat, alhoewel ons slaagsyfer van 85% vir 2004 'n afname van 2,1% weerspieël vergeleke met 2003, is alle aanduidings daar dat die gehalte van ons onderwys voortdurend verbeter.
Die getal kandidate wat endossement verkry het, het toegeneem van 10 323 verlede jaar tot 10 524 vanjaar - 'n toename van 201 leerders.
Die getal kandidate wat met onderskeiding geslaag het, 'n totaal van meer as 80%, het toegeneem van 2 170 tot 2 202 - 'n toename van 23 leerders.
Premier, daar is ook goeie nuus wat betref die vakrigtings wiskunde en wetenskap. In 2003 het 3 938 kandidate wiskunde op hoër graad geslaag. Vanjaar het ons dit verhoog na 4 268, wat 'n toename is van 330 leerders.
In 2003 het 3 892 leerders fisiese wetenskappe op hoër graad geslaag. Vanjaar was daar 'n toename van 45 leerders en staan die syfer op 3 937.
Ek is besonder verheug daaroor dat 70% van ons 386 hoër skole 'n onderskeidingslaagsyfer van meer as 80% aangeteken het, en dat 157 van hierdie skole 'n slaagsyfer van 96% en meer toon.
Dit bevestig net dat die standaard van ons onderwys hoog is en weerlê die siening dat slegs 'n hulpbronryke skool in staat is tot gehalteonderwys.
Die skole wat bygedra het tot die toenames in getalle op die gehalteaanwysers, kom uit die volle spektrum skooltipes - voormalige model C-skole, voormalige skole van die Huis van Verteenwoordigers en voormalige DOO-skole.
In dié opsig het die getal endossemente van voormalige DOO-skole gestyg van 270 in 2003 tot 390 in 2004 en die getal hoërgraad-wiskunde-kandidate van 78 tot 136.
Mooi so, leerders! Hierdie getalle is klein en daar is aansienlik ruimte vir verbetering, maar is nietemin 'n aanduiding van die gestadige dog betekenisvolle groei waarna ons oor die volgende vyf jaar streef.
n Toenemende getal voormalige model C-skole het ook deur middel van toelatings hul deure geopen vir groot getalle kleurling- en swart leerders en het steeds uitstekende uitslae behaal. Hier wil ek graag Sans Souci Hoër Meisieskool noem, wat 'n endossementkoers van oor die 75% oor drie jaar gehandhaaf het.
Hierdie skool, wat later vereer sal word, het 46 kleurling-, 5 blanke, 18 swart en 12 Indiërmatrikulante. Sans Souci beteken vir my "sonder gelyke". Die geleentheid wat julle gebied het aan swart vroulike leerders is inderdaad navolgenswaardig. In dié verband wil ek ook die pogings noem van die Hoërskole Settlers en Pinelands.
Daarom vier ons vandag nie net die prestasies van die kandidate en skole nie, maar bring ons ook hulde aan die skoolhoofde, die onderwysers en al ons gemeenskappe vir hul bydrae tot die ontwikkeling van die Wes-Kaap as 'n lerende Tuiste vir Al Ons Kinders.
Premier, dit is 'n tasbare weergawe van die verbintenis van die WKOD en ons gemeenskappe op u oproep aan hierdie provinsie om 'n Tuiste vir Almal te wees.
Vanjaar het die WKOD verkies om verbeterde of bestendige prestasie te beloon terwyl Graad 12-inskrywingsvlakke gehandhaaf of verhoog word.
Aangesien dit ons oogmerk is om seker te maak dat leerders aanhou tot by Graad 12, sal leerdergetalle in Graad 8 tot 11 oor die vorige vier jaar nagespoor word. Alle skole, met inbegrip van onafhanklike skole, wat kandidate vir die WKOD se Senior Sertifikaat-eksamen ingeskryf het, het in aanmerking gekom vir toekennings.
Ons weet dat ons skole in baie verskillende maatskaplike werklikhede bestaan, en derhalwe het die Departement verskillende kategorieë ingestel wat hierdie verskille in ag neem en van toepassing maak op die driejaartermyn 2002 tot 2004. Mnr. Brian Schreuder van my departement sal dit alles aan u verduidelik.
Daarbenewens sal die SG 'n nuwe skool in Kraaifontein vereer wat werklik in die bestek van twee kort jare groot vordering gemaak het op die pad na gehalte. Ons studente in Khayelitsha het groot vordering getoon. Gehalte is nie langer die alleenbesit van enkele skole nie.
Ek moet ook meld dat die Presidensiële nodale area van Mitchells-plein en Khayelitsha by die Rocklands-burgersentrum in Mitchells-plein as gasheer optree by 'n geleentheid ter verering van hul toppresteerders. Soos reeds genoem het ek ons burgemeesters in die verskillende munisipaliteite gevra om in die nuwe jaar ook so te maak.
Ons vier fees om te beloon, maar ook om ons leerders aan te moedig om hul opvoeding voort te sit aan VOO-kolleges, -technikons of -universiteite.
Ek het daarom vooraanstaande korporatiewe burgers genader om behulpsaam te wees met regeringspogings tot die totstandbrenging van 'n lerende tuiste vir al ons kinders deur belowende matrikulante wat die terreine van die wetenskap, wiskunde en tegnologie wil betree, finansieel te ondersteun. SAICSA, ETV, Checkers Shoprite, MasterMaths en MECER-rekenaars is van dié wat op ons oproep gereageer het. Daarvoor bedank ons hulle.
Ek sien uit na die uitdagings van 2005 - om saam te werk met ons skole, onderwysers en ouers, regeringsliggame en vakbonde - om voort te bou aan die verbetering van die gehalte van onderwys in hierdie provinsie. Ons het die visie van 'n tuiste vir almal. Ons het 'n plan - iKapa eliHlumayo - en ons taak as Onderwysdepartment is om die mensehulpbronontwikkelingstrategie te ontwikkel om die plan in werking te stel en die visie te vervul.
Saam kan ons nie misluk nie. Swartmense, bruinmense, witmense en Indiërs, mans en vroue, Christene, Hindoes, Moslems en Jode - ons sal van hierdie provinsie 'n tuiste vir almal maak. Stedelike en plattelandse gebiede, diegene met leerhindernisse - ons gaan dit regkry.
Ten slotte, Meneer die Premier en geëerde gaste, die gladde verloop van die administrasie van die eksamens en die uitstekende uitslae is 'n weerspieëling van die toewyding, verbintenis en professionalisme van die amptenare van ons departement onder die leiding van Superintendent-generaal Ron Swartz, Adjunkdirekteur-generaal Brain Schreuder, Hoofdirekteur Penny Vinjevold, Direkteur van Kurrikulumontwikkeling Jenny Rault-Smith, Direkteur van Eksamens André Clausen, en talle ander direkteure en personeellede van ons Onderwysbestuurs- en Ontwikkelingsentrums. Ek bedank hulle vir al hul pogings en harde werk.
Die belangrikste mense wat ek wil bedank, is egter die 28 500 onderwysers en 8 000 staatsamptenare op wie ons staatmaak om onderwys aan ons leerders moontlik te maak.
Ons het goed gevaar. Ons het gehalte verbeter. Ons histories benadeelde skole doen hul deel. Al ons skole is vir ons prioriteit, veral dié waar armoede hoogty vier en waar mensepotensiaal dikwels onderdruk word. Maar daar is werk wat gedoen moet word.
Ons moet die dag gou laat breek. Laat ons die sterre van die hemel af neem. Duisternis, jou dae is nou getel, want ons hou saam die lig in ons hande.
Ek dank u.
Tel: 021 467 2523
Die Wes-Kaap - 'n Tuiste vir Almal
TOESPRAAK-ARGIEF
Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 8 Februarie 2005 hersien
Onbekende staatstaal of akroniem? Kyk in die WOORDELYS.
Gebruiksvoorwaardes
Privaatheidsbeleid
Kopiereg
Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering
