Die landbou sektor in Suid-Afrika is van uiterste belang vir die ekonomiese groei en welvaart vir al ons mense, maar daar is nog ongelooflik baie wat gedoen moet word om Landbou tot sy volle potensiaal te ontwikkel tot 'n bedryf waarin alle rolspelers hulle regmatige plek moet inneem.
Die geboorte van die nuwe Suid-Afrika 10 jaar gelede het ook vir landbou 'n nuwe uitdaging gebring. Dieselfde sektor wat vir jare deur 'n relatief klein groepie suksesvolle kommersiële boere oorheers is, het nou van hierdie boere gevra om betrokke te raak by vestiging, ondersteuning en bemagtiging van nuwe opkomende boere uit voorheen benadeelde gemeenskappe.
Die regering van die Wes kaap is daarop ingestel om op 'n doelgerigte manier die ongeregtighede van die verlede uit te wis.
IKAPA ELIHLUMAYO" en "'N TUISTE VIR ALMAL, is die twee begrippe wat die ooreenkoms wat die Wes-Kaapse regering met al die mense aangegaan het om op alle terreine te veg teen werkloosheid, armoede en sosiale verval,omsluit.
Waardigheid, billikheid en welvaart",is die pilare waarop IKAPA ELIHLUMAYO staan. Om 'n tuiste vir almal in die Wes-Kaap te skep, moet ons wegbeweeg van maatskaplike afhanklikheid na ekonomiese selfstandigheid,deur die groei van die ekonomie, toename in werksgeleenthede en uitbreiding van eienaarskap. In hierdie proses sal ons armoede bestry, ongelykhede uitwis en sodoende die kwaliteit van lewe van al die mense verbeter. Hierdie tuiste vir almal, beteken ook dat u wat by hierdie projek betrokke is op 'n waardige wyse ondersteun sal word om u regmatige plek binne die landbousektor te kan inneem.
Wanneer ons van hervorming binne Landbou praat, praat ons nie van handouts van grond of geld terwille van windowdressing nie, maar is ons ernstig oor die vestiging van projekte wat 'n verskil gaan maak aan die lewensomstandighede van voorheen benadeelde mense soos u. Dit is vir ons belangrik dat daar 'n vennootskap sal wees tussen ons en u waar ons aan u die nodige ondersteuning sal bied op verskeie terreine terwyl ons van u verwag om verantwoordelik op te tree en waardige toegewyde rentmeesters te wees van hierdie bydrae van die regering aan u.
