BOEK
Doktor Riana Scheepers is bekend as skrywer, digter, dosent en uitgewer. Sy het op 'n beesplaas buite Vryheid in Natal grootgeword en kan Zoeloe vlot praat. Op skool was een van haar vakke Landbou - dus was die plaas en landbou nog altyd deel van haar lewe.
Tans is Riana ook boervrou op die plaas, De Compagnie, buite Wellington. 'n Pragtige 300-jarige wynplaas met 'n ryke geskiedenis. Dié plaas was in sy 300-jarige bestaan hoofsaaklik deur vroue bestuur - meesal weduwees en alleenlopers (dus heel gepas aangesien Riana bekend daarvoor is dat sy graag oor vroue skryf!) Sy boer kliphard saam met haar man, Johann Loubser, en vorm deel van die vroue wat soggens vroeg reeds in die wingerde harde hande-arbeid verrig. Vir Riana is dit baie bevredigend om, soos sy dit noem, deel van die beskeie mag van vroue wat die nederigste werk op aarde doen, te wees. Sy is egter ook terselfdertyd plaasbestuurder en bemarker van die wyn en brandewyn wat self op die plaas gemaak word.
Benewens die bedrywighede op die plaas, hou Riana haar ook besig met restourasie-werk aan die huis, stalle en kelder. Sy is nie 'n halfpad-mens nie en kan werk - deeglik en met drif - en verkies om haar eie dinkwerk te doen.
Vir harde hande-arbeid skrik sy nie en het eiehandig haar vissershuisie op Paternoster help restoureer. 'n Plekkie waarheen sy graag vlug en eenvoudig lewe met vuur, kerse en die sterre.
Skryf is haar ander passie in die lewe waaraan sy haar hart en siel wy. Haar gunste-ling skryftyd is enige tyd van twee-uur tot ses-uur in die oggend en op enige plek waar sy haar bevind: stasies, vliegtuie, kof.ewinkels, die berge, boendoes en in parke.
Terwyl sy in 1999 op Stellenbosch skoolgehou het, het sy 'n Skool vir Skryfkuns en Kreatiewe denke begin. Hierdie skryfkur­susse bied sy steeds elke jaar in Oktober aan. (Sien bladsy 22 vir meer hieroor.) Tydens die skryfkursusse wil sy leerders se ore en oë oopmaak vir die wonderwêreld van woorde en sy moedig hulle aan om te skryf oor dít wat die naaste aan hulle is, wat vir hulle bekend is.
Riana beskou skryf as 'n ambag. Al wat be­langrik is, is dat die skryfwerk góéd moet wees, of jy nou 'n literêre werk, ontspanningverhaal of tydskrifartikel aanpak.
Haar werke
Soos reeds genoem, is Riana Scheepers bekend as skrywer wat oor vroue skryf en al haar boeke tot dusver gaan oor verskillende aspekte van die vrou.
Haar eerste boek, Die ding in die vuur, handel oor Zoeloeland, swart vroue en Afrika se kindersprokies. In Dulle Griet het sy Europese vroue onder die loep geneem en veral oor lelike en dapper vroue geskryf. Ná haar egskeiding het sy saam met haar twee seuns in Kaapstad in 'n halwe huis gebly en het 'n Huis met drie en 'n half stories verskyn. Hierin skryf sy oor haar eie familie, nonne, prostitute en sterk Bybelse vroue.
Die Heidendogters jubel het baie kritiek ontlok, maar Riana het geskryf oor 'n deel van die Weermag waarvan min mense bewus was, naamlik vroue wat in Weermagkampe as 'wippe' deur die soldate aangehou is. Dié verhaal het 'n leemte in die Afrikaanse Letterkunde gevul.
Die gewilde Katrina-stories is aanvanklik geskryf om te voorsien in die behoefte aan leesstof vir geletterdheidsklasse.
Terwyl sy in die Kaap gewerk het, het Riana begin taxi ry en was meegevoer deur die kleurryke gebruik van die Kaapse taal onder haar mede-passasiers. Dit het as in­spirasie gedien vir al Katrina se sêgoed. Die stories het ook verskyn in 'n tyd toe daar begin is met die oorbrugging van politieke verskille en die liefde tussen 'Katrienas' en 'mevroue' kon hiertoe bydra.
In Dogters van Afrika word vrouwees gevier. Dié verhaal handel oor vroue in Suid-Afrika en is deur mans en vroue geskryf. Dit word aanbeveel vir ure se leesgenot en lewensverryking.
Riana se doktorale proefskrif het gehandel oor Koos Prinsloo en sy geskryfdes. Dit het haar drie jaar ge­neem om Koos Prinsloo: die skrywer en sy geskryfdes in 1999 te voltooi. Prinsloo word deur Riana beskou as die skrywer oor wie die meeste gepraat is. Hy was radikaal, vreesloos, fassinerend en aan die voorpunt van alles wat in Afrikaans gebeur het. Hulle het reeds op skool (in graad tien) teenoor mekaar te staan gekom op 'n debatsaand toe Riana die wesenlikheid van sensuur moes verdedig en Koos die teenoorgestelde. Hulle het lank hierna nog gekorrespondeer.
Feeks is 'n bundel kortverhale waarin die begrip heks (fee + heks = feeks) en engele sentraal staan. (In elke verhaal is iets met vlerke.) Hierin ondersoek Scheepers boosheid - iets wat sy fassinerend vind. Baie outobiogra.ese gegewens kom in die verhale voor wat die geloofwaardigheid en trefkrag daarvan versterk. Bose sowel as goeie hekse kom ook hierin voor.
Terwyl Riana by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch skoolgehou het, het die leerders haar aangemoedig om 'n lekker avontuur-jeugverhaal te skryf, aangesien daar min sulke verhale beskikbaar was. Riana self wou weg­kom van jeugboeke met een of ander maat­skaplike probleem as tema. Blinde sambok, 'n outydse jeugroman vol avontuur het, danksy hierdie pleidooi, verskyn. Van die insidente in die verhaal is outobiogra.es omdat Riana op 'n plaas grootgeword het. Hoewel dit 'n outydse verhaal is, is die hoofkarakter dit beslis nie en die baie humor sorg vir heerlike vermaak. Riana het die boek in slegs vier dae geskryf, dit baie geniet en nie een negatiewe resensie gekry nie!
Met die taal van karmosyn is Riana se eerste digbundel. Volgens die woordeboek is karmosyn 'n hoogrooi, purper kleur. Die titel is ontleen aan 'n uitspraak van Robert Devriendt wat 'n metafories-erotiese tint aan die kleur karmosyn gegee het.
Die gedigte handel oor Afrika, die liefde, ouers, her-digtings van klassieke verse, gesprekke met die ou Griekse digkuns en reis­verse. Dit is toeganklike poësie, lig en speels.
Nadat Riana as rubriekskrywer by 'n tydskrif afgedank is, is sy gevra om 'n reeks rubrieke vir Die Beeld te skryf - 'n opdrag wat baie van 'n skrywer vra. Sy het gebid dat daar asseblief elke week iets oor haar pad moes kom waar-oor sy sou kon skryf - en toe kom daar elke dág iets oor haar pad! Hierdie reeks rubrieke is saamgevat in My voete loop na Wellington.
n Engel in my huis is ook 'n bundel wat verskyn het omdat sy haarself gedwing het om die wonderwerk, die engel, in klein onbenul­lige dinge te sien. Hierin skryf sy oor haar reise oor die wêreld heen - waar sy oral vir haar huise 'versamel' waarin sy graag sou wou bly. Gewone gebeure soos 'n verjaarsdag of ete word in lekker stories omskep - stories wat laat lag en 'n mens aangryp. Volgens een resensent: ''n Lekkerleesbundel wat jy net móét hê!'
In 2006 verskyn Riana se eerste kinderboek, #Die avonture van Wilde Willemientjie. 'n Boek in rymvorm geskryf en vol pret en plesier! Die musikale verwerking van die teks het tydens die Klein Karoo Nasionale Kunste-fees (KKNK) van 2006 die gesogte Kanna Prys gekry vir die beste Kinderproduksie op die fees en was binne die eerste maand ná sy verskyning aangewys as die nommer een op die Topverkoperslys van Afrikaanse boeke. (Volwasse boeke ingesluit!)
Die Melkweg het 'n ster laat val het so pas die lig gesien en verwesenlik Riana se begeerte om 'n bundel plaasstories - geskryf deur, onder meer, plaaswerkers - die lig te laat sien. Daar is op dié bundel besluit ter viering van De Compagnie se 300-jarige bestaan. Aanvanklik wou hulle sowat 50 verhale insluit, maar na die geweldige reaksie op dié kompetisie is ongeveer 500 verhale ontvang. (Sommige op stukkies papier!) Slegs 127 ver­hale is gekeur om in die bundel te verskyn.
Nicci Thabo, 'n werker op De Compagnie en ook opgeleide kindertuin-onderwyseres, het meegehelp om hierdie bundel saam te stel. Nicci het 'n kompetisie deur die Bloemfonteinse Skrywersvereniging gewen en het as deel van die prys 'n skrywerswerk­sessie by hulle gaan bywoon. Sy woon ook gereeld Riana Scheepers se jaarlikse skryfskole in Oktober by. Tydens die Boer van die Jaar Toekenning in 2006 ontvang Riana en Nicci 'n spesiale prys van die Departement van Land­bou vir die kulturele bydrae wat dié publikasie in die landbougemeenskap gelewer het - en dit nog voordat die boek verskyn het!
Die ding in die vuur - ATKV Prosa Prys en die FAK Prys. 
Blinde sambok - ATKV Kinderboek Prys. Die Nederlandse vertaling van hierdie boek,
Die avonture van Wilde Willemientjie - KKNK Prys vir die Beste Kinderproduksie. 
Katrina-bundels - Rapportryers se Erepenning..
Nota: In die proses van aankoop
Nota: Nie in Biblioteekdiensvoorraad
