TUISBLAD
JOU LEWE
ONDERWERPE
PUBLIKASIES
GIDSE
JOU REGERING
WERKGELEENTHEDE
Aangaande
Kontak
Hulp
Gevorderde Soektog
Tuisblad
Gidse
Dienste
Gesondheid
Tuberkulose
BESKRYWING:
Die TB-Beheerprogram se doelstelling is om 80% van mense met TB te identifiseer en om hulle met die eerste poging te genees. Die program is ook 'n poging om die poel mense wat aansteeklik is, te identifiseer.
Nuttige kontakte
TB is 'n bakteriese siekte en is 'n ernstige probleem in Suid-Afrika, veral in die Wes-Kaap. TB is hoogs aansteeklik maar geneesbaar. Een uit elke tien mense ontwikkel die siekte. As dit nie behandel word nie, kan die aansteeklike persoon 20 of meer ander mense binne 'n jaar aansteek.
TB versprei wanneer geïnfekteerde mense met pulmonêre TB (of longtering), klein druppeltjies wat TB bevat in die lug in hoes, en ander dit inadem. Mense wat TB in ander dele van die liggaam het, is nie aansteeklik nie. 'n Hardnekkige gehoes van twee of meer weke is die hoofteken van TB; dus hoe gouer die kliënt na die kliniek vir 'n ondersoek gaan, hoe makliker is dit om te genees. Ernstiger tekens is die opspuug van bloed, nagsweet, gewigsverlies, en kortasemigheid.
Die kliënt word by 'n primêregesondheidsorgkliniek ondersoek en gevra om 'n sputummonster te gee en 'n tweede een die volgende dag. Hierdie monsters word na 'n laboratorium gestuur en binne 48 uur is die uitslae beskikbaar. Al is slegs een van die twee positief, dui dit reeds op TB-infeksie.
As die uitslag positief is, sal die kliënt berading ontvang en ingelig word oor die voordele van die TB-beheerprogram. As beide sputummonsters positief is, vind behandeling dadelik plaas. 'n X-straal kan ook gedoen word maar die sputumtoetse bevestig reeds die diagnose. As die TB-infeksie ernstig is, sal die kliënt na 'n gespesialiseerde TB-kliniek verwys word.
TB kan alleen genees word as die volle behandelingskursus, wat van ses tot agt maande kan duur, voltooi word. Mense wat die behandeling staak, loop die gevaar om multi-geneesmiddelweerstand op te bou, wat dit moeiliker maak om die TB te genees. Hierdie gevalle word by gespesialiseerde TB-klinieke behandel, bv. Brooklyn- Borshospitaal. TB kan tot die dood lei as dit nie behandel word nie.
Behandeling vind in twee fases plaas:
In die intensiewe fase word vier verskillende geneesmiddels in tabletvorm vir vyf dae 'n week vir twee tot drie maande lank geneem.
Die tweede fase is die voortsettingsfase, waar twee geneesmiddels vir vyf dae 'n week vir vier tot vyf maande lank geneem word. TB-kliënte wat vir die eerste keer behandel word, moet vir ses maande behandeling ontvang, terwyl kliënte wat voorheen TB gehad het, die TB-medisyne vir agt maande moet neem. As daar newe-effekte van die medikasie is, moet die kliënt na die kliniek terugkeer. Sputumtoetse word twee maande na die behandeling begin het, weer gedoen om die vordering te moniteer, en weer vyf of sewe maande later om te bevestig of die kliënt genees is.
Kinders met TB ontvang ander geneesmiddels en word slegs vir vier maande behandel. Om TB te probeer voorkom, behoort babas met die BCG-inentingstof geïmmuniseer te word wat gratis by alle primêregesondheidsorgklinieke beskikbaar is. TB-meningitis is 'n ernstige siekte by kinders en kan tot die dood lei. As daar so 'n vermoede is (simptome sluit 'n stywe nek in), moet die kind onmiddellik na die kliniek geneem word.
Die Departement van Gesondheid het die Wêreldgesondheidsorganisasie se DOTS-metode (direk waarneembare kortkursusbehandeling) aangeneem om te verseker dat pasiënte die behandeling volhou. DOTS word in die meeste klinieke in die Wes-Kaap toegepas. 'n Belangrike strategiese element is die bystand en aanmoediging wat aan TB-kliënte vir die hele behandelingsperiode van ses tot agt maande gegee word, waar kliënte direk waargeneem word terwyl hulle hul medikasie by die kliniek gebruik.
Op gemeenskapsvlak word DOTS onderneem deur nie-regeringsorganisasies (NRO's) wat vrywilligers gebruik as "behandelingsondersteuners". TB-NRO's werf en lei gemeenskapslede op om as behandelingsondersteuners vir TB-kliënte te funksioneer en hou toesig oor hulle. Ondersteuners verwys TB-kliënte na die kliniek waar nodig. Die Kaapse Technikon bied opleiding vir mense wat TB-ondersteuners wil wees. Skakel 460 3197 vir meer inligting.
Die MIV-epidemie het 'n geweldige vermeerdering in die getal TB-gevalle tot gevolg. TB, 'n opportunistiese infeksie, is verantwoordelik vir 'n derde van alle sterftes van MIV-geïnfekteerde persone. Mense met MIV is baie meer vatbaar vir TB-infeksie en is minder in staat om dit te beveg.
Die Departement van Gesondheid is besig om 'n geïntegreerde strategie teen TB en MIV/vigs te aanvaar. Tans word vrywillige berading en toetsing (VBT) aan TB-kliënte gebied, met die doel om vroeë sterftes en siekte te verminder. Cotrimoxazole profilakse (middels wat longontsteking behandel) word aan individue gegee wat beide infeksies het.
NUTTIGE KONTAKTE
Die volgende private organisasies kan ook hulp verskaf:
Santa Wes-Kaap: tel. 021 715 8901 vir meer inligting oor takke in die Wes-Kaap
VOORSKRIFTE:
Jy moet na jou plaaslike primêregesondheidsorgkliniek gaan.
VERSKAF BY:
Klinieke
VERSKAF DEUR:
STAATSLIGGAAM:
PRYS:
VERWANTE INLIGTING
Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 11 Januarie 2006 hersien
Onbekende staatstaal of akroniem? Kyk in die WOORDELYS.
Gebruiksvoorwaardes
Privaatheidsbeleid
Kopiereg
Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering
