TUISBLAD
JOU LEWE
ONDERWERPE
PUBLIKASIES
GIDSE
JOU REGERING
WERKGELEENTHEDE
Aangaande
Kontak
Hulp
Gevorderde Soektog
Tuisblad
Publikasies
Toesprake
Toespraak Tydens die Opening van die Provinsiale Parlement
Toespraak Tydens die Opening van die Provinsiale Parlement
Kies die pad van eenheid vir 'n provinsie van wêreldgehalte
Inleiding
Ons het beslis rede om fees te vier. Daar was nog nooit 'n beter tyd om 'n Suid-Afrikaner te wees as nou nie, en daar is geen beter plek in Suid-Afrika om te bly as hier in die Wes-Kaap nie.
Dink 'n bietjie waar ons tans staan, en hoe vinnig ons beweeg het. Tien jaar is skaars genoeg tyd vir die veroudering van 'n goeie wyn; dis minder tyd as wat dit neem vir 'n kind se skoolloopbaan; dit verteenwoordig een tagtigste van die ouderdom van die reuse- outeniekwa-geelhout wat bokant die Tsitsikamma-woud uittoring. Nogtans het ons in die eerste tien jaar van Suid-Afrikaanse demokrasie meer gedoen om die menswaardigheid van miljoene mense te verbeter as wat in die voorafgaande tien dekades gedoen is.
Ons het aanskou hoedat gemeenskappe herenig is, hoedat hoop herstel is, en hoe nuwe krag gegenereer is uit ons vasbeslotenheid om ons toekoms saam te bou.
Die Wes-Kaap se krag lê in die karakter en inbors van sy mense. Deur die ontberings en suksesse in ons geskiedenis is ons mense gevorm om stamina te hê, 'n vasberadenheid om te oorleef en te leef, en met wortels wat hulle met diep lojaliteit in ons provinsie en land anker.
Eeue lank het diamante onder die waaisandduine by Kleinsee en Alexanderbaai begrawe gelê, verskuil vir geslagte mense wat geen benul gehad het van die rykdom onder hul voete nie. Soos daardie diamante het die verskuilde potensiaal van ons mense vir dekades onbenut gelê. Daar was opflikkeringe van hoop, en ook diegene wat van tyd tot tyd bokant hul beperkte geleenthede uitgestyg het. Dit was egter eers in die afgelope tien jaar van ware vryheid, en in die jongste twee jaar waarin ons koalisie oor al die gemeenskappe van die Wes-Kaap geregeer het, dat die potensiaal van ons mense werklik aan die lig gekom het. In ons verbintenis tot die bou van 'n provinsie van wêreldgehalte is ons besig om die glans van ruwe diamante in gemeenskappe en gebiede soos Khayelitsha, Mitchells Plain en die Karoo te ontdek en te ontsluit. Vir die eerste keer word die talente van al ons mense nou in hierdie bouproses ingespan, en dis 'n skat wat ons met groot sorg moet koester.
Speaker, die mense van die Karoo en Namakwaland verstaan die gevolge van droogte. Hulle weet ook dat net onderkant die oppervlak van die aarde daar saad lê waarin die sluimerende potensiaal van hul streek opgesluit lê. Met die eerste reën ontkiem hierdie saad, selfs na jare van droogte, en word hierdie wêreld wat so droog en sonder lewe was, 'n tuin van lewenskrag wat sorg vir sy mense.
En dit is hoe die mense van die Wes-Kaap is. Ons mense se karakter en inbors het hulle dor tye en ontberings laat deurleef. En met die eerste reëns het daardie potensiaal van ons mense en ons provinsie ontsluit in iets wat sterk groei, waarin almal deel het, en wat net nuwe hoogtes kan bereik. Maar dit is nog maar die begin van die bloeiseisoen, en noudat die reën begin val, moet ons sorg dat niks die oes bederf nie.
Die mense van die Karoo weet dat jy in daardie streek die agtdaegras kry. As dit vandag reën, kan jy weet agt dae later groei die agtdaegras welig. En die skape het weer hoop en hardloop hulle moeg agter die nuwe groenigheid aan. Maar die mense van die Karoo weet ook dit is 'n valse hoop, want hoewel die agtdaegras mooi lyk en groen is, is sy voedingswaarde maar min en is die gras is nie blywend nie.
Dan kry mens in die Kalahari die N'abbas. Dit is 'n Nama woord vir 'n sampioenagtige uitsoekkos. Hy bly verberg onder die grond terwyl hy wag vir die regte omstandighede om te groei en geoes te word. Anders verdwyn hy weer vir jare. As die N'abbas nie in Maart reën kry nie, breek sy lewenskragtigheid nooit deur die oppervlak nie. En as hy nie vroeg in die winter geoes word nie, ryp hy dood.
Dan is daar in die Karoo en Namakwaland ook die gannabos. Hierdie bos is rateltaai en het 'n hoë voedingswaarde. Die gannabos kan ook vergelyk word met die simbool van die Griekwavolk, die kanniedood - 'n simbool van hierdie volk se vermoë om te bly groei en sterker te word ten spyte van swaarkry. In die droogte lyk die bos verstok en dood, maar as die reën begin val, verdwyn die leweloosheid. In die tye van swaarkry verloor hy sy fleur, maar sy wortels is so stewig geanker in die aardbodem dat hy in die regte omstandighede jaar na jaar herrys.
In die Wes-Kaap is ons besig om soos die gannabos en die kanniedood ons karakter te wys. Noudat die reën begin val en die regte omstandighede daar is, is die pad wat ons kies nie die een wat vir ons mense net agtdaegras - dit wil sê tydelike verligting en valse hoop - sal bring nie. Ekonomiese groei sonder werkskepping en volhoubaarheid is nie vir ons mense goed genoeg nie. Deur die regte planne op die regte tyd in te stel en met dissipline te implementeer, sit ons vir ons mense N'abbas - die beste uitsoekkos - op die tafel. Ons planne is gemik op die skep van stabiliteit en volhoubaarheid - menswaardigheid vir al ons mense - geanker met lewenskragtige wortels soos dié van die gannabos en kanniedood.
Speaker, ons Regering verteenwoordig al die mense van die Wes-Kaap. Ons is nie langer verdeel nie. Vandag het ons 'n regering in die Wes-Kaap wat regeer vir al die mense van hierdie provinsie. Ons is besig om te wys dat bruin, wit, swart en Indiër-Suid-Afrikaners ten beste slaag wanneer hulle in vennootskap werk en bou aan ons gedeelde toekoms.
Die plig om te bewaar
Ek was vanoggend besonder geroer om deur soveel kinders uit elke gemeenskap van die Wes-Kaap ingewag te word - hul stemme verenig in sang, hul gesiggies verenig in hoop, en hul toekoms verenig in en deur Suid-Afrika. Op tien jaar is hulle ons vrygebore geslag - die mees konkrete en kragtige uitdrukking van hoe ver ons gekom het in die eerste dekade van Suid-Afrikaanse demokrasie.
Februarie verlede jaar het ek ons Regering daartoe verbind om 2003 'n jaar van toepassing en dienslewering te maak en so die grondslag te lê vir die vind van oplossings vir sowel ons korttermynuitdagings as hul langtermynoorsake. Ons het iKapa eliHlumayo bekend gestel om groei in die Kaap te bevorder sodat almal daarin kan deel - die beste instrument om ons beleid en ons optrede vir die volgende dekade te dryf. iKapa eliHlumayo is ons voertuig om elke gemeenskap saam met ons te neem op die pad om 'n provinsie van wêreldgehalte te wees. Dit is ons opdrag om te bewaar.
Gedurende die afgelope twee jaar het ons Koalisie van Hoop 'n stabiele platform in die Wes-Kaap geskep. Hierdie koalisie is 'n anker wat sekerheid vir buitelandse en plaaslike beleggers skep - beleggers wie se vennootskap ons besonder waardeer in die groei en ontwikkeling van ons ekonomie sodat ons werk vir ons mense kan skep.
Langtermynbeplannings-horison
Afgesien van stabiliteit en die afbreek van die skeidsmure tussen ons gemeenskappe was die grootste bydrae van hierdie Regering tot die toekomstige sukses van ons provinsie, die instelling van 'n langtermynbeplannings-horison - die opstel van 10- en 15-jaarplanne om aandag te gee aan die onderliggende oorsake van talle van ons ernstigste uitdagings.
Dit is gepas dat ons hier berig dat in die laaste twee jaar van die eerste dekade van demokrasie ons uitgeblink het met die lê van stewige fondamente vir die uitbreiding van ons dienslewering en die vestiging van blywende menswaardigheid in die volgende dekade.
Werkloosheid, migrasie en werkskepping
Om die toekoms vir die volgende geslagte te verseker, vereis dat ons ernstig en dringend aandag skenk aan die kwessies van werkloosheid en armoede. Ons provinsie se bevolking het toegeneem van net onder 4 miljoen in 1996 tot ver oor die 4,5 miljoen volgens Sensus 2001 - hoofsaaklik as gevolg van migrasie uit ander provinsies. Dit beteken dat ons provinsiale bevolking gegroei het met omtrent 2,9% per jaar, vergeleke by die nasionale bevolkingsgroei van sowat 2,1%. Wat egter belangriker is, is dat die ekonomies aktiewe bevolking in ons provinsie byna twee keer so vinnig aangewas het as in Suid-Afrika as geheel.
Onder die belangrikste kwessies waaraan by ons jongste Kabinetsbosberaad aandag gegee is, was die behoefte om met ons maatskaplike vennote ooreen te kom oor mikro-ekonomiese strategieë vir die provinsie om ons doelwitte te bereik. Binne vyf jaar gaan ons R5 miljard se nuwe beleggings en ten minste 100 000 nuwe werksgeleenthede verseker. Ons streef ook daarna om teen 2008 deur middel van uitgebreide openbarewerke-programme 120 000 werk- en opleidingsgeleenthede oor die kort termyn te skep.
n Diensleweringsgerigte mediumtermynbestedingsbegroting met fiskale dissipline
Geagte Speaker, Minister Rasool en sy departemente het ons voorsien van 'n gefokuste en prioriteitsgerigte begroting wat ons besteding konsentreer op die implementering van iKapa eliHlumayo. Ons begroting is gemik op sowel doelgerigte armoedeverligting as die ontwikkeling wat die Wes-Kaap nodig het vir volgehoue ekonomiese groei en werkskepping. Ons begroting is ingestel op werklike fiskale dissipline.
Ons sal nie die toekoms van ons vrygebore geslag verpand vir korttermynvoordele nie. By die wegruiming van die agterstande van die verlede het hierdie Regering in sy Mediumtermynbegrotings-beleidsverklaring die begrote tekort afgebring van meer as R434 miljoen in 2003/04 tot R366 miljoen in 2004/5.
Gesondheidsorg 2010
Onder die leiding van ons Provinsiale Minister van Gesondheid, Piet Meyer, is Gesondheidsorg 2010 verlede jaar in Maart deur die Provinsiale Kabinet goedgekeur. Gesondheidsorg 2010 is ontwerp om seker te maak dat die mense van die Wes-Kaap teen 2010 in plaas van R1 miljard se gesondheidstekort verbeterde dienste sal beleef. Die eindresultaat word weerspieël as 'n toename in ons vermoë by wyse van 'n bykomende 2 miljoen primêre gesondheidsbesoeke per jaar teen 2010.
Onder die vele ander suksesse op die gebied van gesondheidsorg oor die afgelope jaar was die beginselgoedkeuring van tot US$66 miljoen oor vyf jaar van die Wêreldfonds vir die Bekamping van MIV-vigs, en die bekendstelling van veldtog vir die voorkoming van moeder-na-kind-oordrag van vigs onder alle swanger vroue wat openbare gesondheidsklinieke bywoon.
Begrotingsdruk op die Maatskaplike veiligheidsnet, Gesondheid en die verskaffing van huise
Dit is belangrik, geagte Speaker, dat ons verstaan wat die omvang van die uitdagings en die begrotingsdruk is waarvoor Minister Meyer en Minister Fransman en hul departemente te staan kom. Dit is deels as gevolg van migrasie, deels vanweë die herstrukturering van gesondheidsorg, and deels vanweë die uitgebreide behoefte aan maatskaplike toelaes.
Die getal bevoordeeldes wat maatskaplike toelaes ontvang, het toegeneem van omtrent 362 000 in Desember 2001 tot meer as 502 000 hierdie maand - en daar word verwag dat die getal aanstaande jaar op 550 000 te staan sal kom. Die enkele grootste drywer van hierdie groei is die toename in kinderondersteunings-toelaes. Hierdie maand het ons alreeds 42 479 kinders tussen die ouderdomme van 8 en 9 wat hierdie toelaes ontvang. Dit is ons oortuiging dat daar teen die einde van die volgende boekjaar meer as 93 000 kinders oor die ouderdom van 7 sal wees wat uit hierdie toelaes voordeel sal trek.
Soortgelyke uitdagings word ondervind in ons lewering van gesondheidsdienste - terwyl migrasie na die provinsie alleen die oprigting van tot drie nuwe klinieke elke jaar noodsaak. Afgesien daarvan, en die feit dat 'n ontleding deur die Nasionale Departement van Gesondheid toon dat verhoogde finansiering - in die omgewing van R150 miljoen per jaar - vir die Wes-Kaap geregverdig is, sal die ál kleiner voorwaardelike toewysing vir tersiêre gesondheidsdienste waarskynlik uitloop op 'n tekort van omtrent R160 miljoen in reële terme.
Minister Hangana en haar Departement van Behuising staar ewe groot uitdagings in die gesig. Ten spyte daarvan dat ons die Behuisingsbegroting van R271 miljoen in 2001 tot R514 miljoen verlede jaar verhoog het, is ons nie in staat om tred te hou met die vraag nie. In die Stad Kaapstad alleen neem die vraag jaarliks toe met omtrent 20 000 eenhede. Hiervan is omtrent 9 000 die gevolg van die vorming van nuwe gesinne, terwyl 11 000 die gevolg is van migrasie uit ander provinsies.
Ons moet werk maak van die onderbesteding van ons Behuisingsbegroting. Dit is 'n landwye probleem vanweë nuwe nasionale wetgewing en regulasies, asook 'n gebrek aan vermoë op plaaslikeregeringsvlak, maar ons moet ook die situasie in die Departement van Behuising regstel sodat elkeen in dieselfde rigting trek.
Teen die agtergond van hierdie dringende begrotingskwessies sal die Wes-Kaapse Regering vanjaar op konstruktiewe wyse met die Nasionale Regering saamwerk aan die opstel van die billikeaandeel- formule, en die omvang van voorwaardelike toelaes wat uit nasionale beleid voortspruit.
Die nuwe konsepstrategie vir mensehulpbronne en vaardigheidsontwikkeling
Speaker, ons verstaan dat gehalte-onderwys die sleutel is tot werkskepping. In September verlede jaar het Minister Rasool en Minister Gaum 'n taakspan onder die voorsitterskap van dr. Franklin Sonn saamgestel om ons Regering van raad te bedien oor 'n strategie vir mensehulpbron-ontwikkeling en vaardigheidsopleiding ter ondersteuning van iKapa eliHlumayo, en om alle leeraktiwiteite in die provinsie te omvat. Die voortvloeiende verslag en aanbevelings, gekombineer met Minister Gaum en sy Departement se Visie 2020, sal ons help om die sogenaamde 'leer-silo's' af te takel en daardeur klem te laat val op 'n geïntegreerde benadering tot alle provinsiale onderwys, van voor Graad R, deur die formele skoolfase en tersiêre onderwys tot by indiensopleiding, Basiese Onderwys en Opleiding vir Volwassenes, en lewenslange opleiding.
Verlede jaar se styging in die matriekslaagsyfer vir die derde agtereenvolgende jaar tot 'n rekordsyfer van 87,1% is 'n aanduiding dat ons onderwys- en opleidingsinisiatiewe voortgaan om vrugte te dra.
Konferensie oor Swart Ekonomiese Bemagtiging en die Spitsberaad oor Provinsiale Groei en Ontwikkeling
Die Wes-Kaap het baanbrekerswerk gedoen deur in Mei verlede jaar die eerste provinsie te word om 'n konferensie oor swart ekonomiese bemagtiging aan te bied en so die toon aan te gee vir die inwerkingstelling van iKapa eliHlumayo. In die Wes-Kaap moet swart ekonomiese bemagtiging ook bruin ekonomiese bemagtiging insluit.
Die Konferensie oor Swart Ekonomiese Bemagtiging het ook werklike stukrag verleen aan die heel eerste Spitsberaad oor Provinsiale Groei en Ontwikkeling wat ons in November in vennootskap aangebied het. Deur die Regering, die sakesektor (met inbegrip van die landbou), die arbeidsektor en die gemeenskap (waaronder vroue, die jeug en mense met gestremdhede) so byeen te bring het ons nie alleen tot 'n raamwerkooreenkoms as die basis van 'n nuwe sosiale akkoord vir die provinsie gekom nie, maar ook konsensus bereik oor die makro-ekonomiese strategieë vir die provinsie.
Strategiese-infrastruktuurplan
Ons Regering besef dat ons groeistrategie gerugsteun moet word deur die nodige fisiese infrastruktuur. Dit is waarom Minister Essop en haar Departement nou die laaste afrondingswerk doen aan ons Strategiese-infrastruktuurplan om ons groeisektore te versterk en ons besteding allereers te rig op die mees kritieke infrastruktuur. Dit sal deur middel van konstruksiewerk ook oor die kort termyn vir werkgeleenthede en vir die oordrag van kennis in ons armste gemeenskappe sorg.
Ons sleutelmikpunt is om die investeringsvlakke in kritiek belangrike sosiale en ekonomiese infrastruktuur te verhoog van die huidige 1,1% van die BBP vir die streek tot 2,5% teen 2008. Ten einde die geraamde agterstand van R1,4 miljard in provinsiale padinfrastruktuur en -instandhouding uit te wis, sal ons ook in oorleg met die Nasionale Tesourie die instelling van 'n brandstofheffing in die Wes-Kaap oorweeg. Die uitvoerbaarheidsverslag is afgehandel en die Provinsie sal 'n proses van oorlegpleging met die nywerheid en belastingbetalers volg deur middel van openbare aanhoring voordat enige finale voorlegging aan die Nasionale Tesourie gemaak word.
Vermeerdering van die getal polisiebeamptes met 50%
Geagte Speaker, ons is tans besig om die getal polisiebeamptes in die Wes-Kaap te vermeerder van 12 000 tot 18 000. Toe ons koalisieregering laat in 2001 aan bewind gekom het, was daar 11 833 polisiebeamptes in ons provinsie. Verlede jaar ons aangekondig that 3 212 nuwe polisierekrute (64% van die nasionale inname) tot die getalle van die SAPD in ons provinsie gevoeg sou word. Daar is tans meer as 16 000 beamptes wat ons gemeenskappe beskerm en ons is goed op dreef met die versterking van hierdie getal tot 18 000 teen die einde van hierdie jaar - 'n toename van meer as 50% in net twee jaar. Aanstaande maand alleen word daar nog 1 700 nuwe rekrute in die provinsie verwag, en nog 900 in Mei. Dit het ons gedoen om die wurggreep wat misdadigers op sommige van ons woonbuurte uitoefen, te verbreek en die strate te beveilig vir ons geslagte wat in vryheid gebore is.
Dit is waarom ons die veiligste feesseisoen in 'n dekade beleef het. Ek wil graag vir Minister Ramatlakane, Provinsiale Polisiekommissaris Petros, die manne en vroue van die SAPD, ons MND en verkeerspersoneel, en elke vrywilliger wie se harde werk hierdie uitstaande prestasie moontlik gemaak het, gelukwens. Die moordsyfer het met 34% gedaal, roof met 24% en misdaad in die algemeen met 18,2%. Met ander polisiëringsinisiatiewe soos die ingebruikneming van 36 nuwe kringtelevisiekameras teen 'n koste van R11 miljoen in nuwe gebiede soos Mitchells Plain and Khayelitsha, die versterking van ons Kinderbeskermingseenhede oral in die provinsie, en ons planne om vanjaar buurtstraatkomitees op te lei, is ons besig om die stryd teen misdaad te wen.
Amptelike deurbraak deur die mikpunt van 1 miljoen buitelandse toeriste
Vir die eerste keer in die geskiedenis het daar verlede jaar meer as 1 miljoen buitelandse toeriste na ons provinsie gereis en sodoende aan ons plaaslike ekonomie 'n direkte inspuiting van ongeveer R17 miljard gegee. Dit is te danke aan die pogings van Minister Witbooi en haar Departement om toerismegroei oor die lang termyn te verseker. Met mylpale soos die opening van die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum, die suksesvolle aanbieding van die Krieket-wêreldbekeropeningseremonie en die Presidentsbeker-gholftoernooi, groter getalle direkte vlugte na Kaapstad, en ons planne om ons Wes-Kaapse Toeristegidsregistrasiestelsel binne die volgende twee weke van stapel te stuur, is toerisme in die provinsie aan die beweeg. Ons beplan ook om die nuwe Wes-Kaapse Toerismewet vanjaar deur te voer en om ons nuwe Bestemmingsbemarkingsorganisasie in die lewe te roep. Dit is duidelik dat toerisme, as een van ons belangrikste groeisektore, bestem is om in 2004 selfs groter hoogtes te bereik met 'n geprojekteerde groei van omtrent 6%. Ons bly steeds verbind aan ons doelwit om teen 2010 reeds 3 miljoen toeriste per jaar te lok.
Versnelde en volhoubare grondhervorming
Sedert Augustus 2001 is meer as 4 400 mense deur grondhervorming in die Wes-Kaap bevoordeel en ons is van plan om hierdie syfer oor die volgende paar jaar op te stoot na 7 000. Minister Gelderblom en sy Departement het, in vennootskap met die Nasionale Regering, ook daarin geslaag om te verseker dat 54% van hierdie bevoordeeldes vroue is en 40% jongmense, wat grondhervorming een van die belangrikste instrumente van direkte bemagtiging in ons provinsie maak. Om te verseker dat hierdie mense oor die lang termyn sukses behaal, het ons ook 'n nuwe landbou-opleidingsentrum op George geopen. Dit word gevolg deur die opening van 'n soortgelyke sentrum op Oudtshoorn vroeg vanjaar, en 'n derde op Vredendal aanstaande jaar.
Hernude fokus op stedelike en landelike ontwikkeling
Speaker, gelei deur Minister Dowry het die Provinsiale Kabinet nou die sakeplanne vir die voortgaande ontwikkeling van Mitchells Plain en Khayelitsha goedgekeur deur die Stedelike Hernuwingsprogram. In vennootskap met die Stad Kaapstad sal ons oor vyf jaar sentrale sakegebiede ter waarde van meer as R580 miljoen in hierdie twee groeipunte ontwikkel. Ons kyk ook met nuwe insigte na landelike ontwikkeling in gebiede soos die Sentrale Karoo om seker te maak dat ons provinsiale groei alle Wes-Kaapse gemeenskappe tot voordeel strek en nie net dié in stedelike gebiede nie. Ons het die afgelope jaar ook goeie vordering gemaak met die verstewiging van die samewerking en koördinering tussen ons Provinsiale Regering en die munisipaliteite van die Wes-Kaap.
Ons pogings tot ontwikkeling en beter geleenthede in gebiede waar dit die nodigste is, was ook die fokus van Minister McKenzie en sy Departement. Deur middel van groot byeenkomste soos die Krieketwêreldbeker-openingsgeleentheid en ook deur grondvlakinisiatiewe soos Sport se "Stepping Stones"-projek gaan ons voort om alle gemeenskappe op die pad na wêreldgehalte te bring.
Slotwoord
Ten slotte, geagte Speaker, trap baie van ons wat in die Wes-Kaap woon in die strik dat ons vergeet hoe wonderlik die lewe in ons provinsie eintlik is. Ons vergeet dat die invloei van mense uit alle dele van Suid-Afrika en van oor die wêreld dien as bewys van ons voortgaande sukses. Ons vergeet dat ons met reg trots kan wees op die Wes-Kaap en dat ons daarop trots moet wees om hier te leef en werk. Bygesê, ons moet altyd onthou dat daar nog baie werk voorlê aan die verbetering van die lewenspeil van duisende in ons armste gemeenskappe.
Ek wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om my persoonlike waardering te betuig teenoor die leier van ons koalisievennoot in die Regering, Minister Rasool. Nêrens het dit duideliker na vore gekom hoe positief hierdie koalisie vir die Wes-Kaap is nie as gedurende ons Provinsiale Imbizo-fokusweek en die Presidensiële Imbizo verlede jaar, toe die mense van die provinsie in groot getalle ons Regering onderskryf het en hul waardering uitgespreek het oor ons bereidheid om saam te werk in belang van hul gemeenskappe.
Ek is ook trots op die staatsdiens in ons provinsie onder die leierskap van ons Direkteur-generaal, dr. Gilbert Lawrence, en die onderskeie departementshoofde. Die mense van die Wes-Kaap kan daarop trots wees om ongeveer 68 000 uiters bekwame mans en vroue in ons staatsdiens hê, en namens die Regering en die mense van die provinsie dra ek ons dank aan hulle oor. Ons sal ook vanaand tydens 'n gala-dinee in die Paarl ons staatsdiensamptenare vir hul uitnemende diens tydens die eerste tien jaar van demokrasie vereer.
By geleentheid van ons eerste dekade van demokrasie en gedagtig aan ons eerste vrygebore geslag kinders moet ons ook in gedagte hou dat die uitdagings waarvoor ons nog te staan sal kom, te bowe gekom sal word deur dieselfde sterk vennootskappe wat ons tot hier toe gebring het.
In die woorde van een van die Wes-Kaap se mees gerespekteerde seuns, dr. Franklin Sonn: "Die beste lê nog voor."
Wanneer swart, wit en bruin mense hande vat en koppe bymekaarsit, het ons die beste kans op sukses met die verbetering van almal se lewens.
Laat ons hande vat om ons provinsie van wêreldgehalte te bou. Saam sal ons vir ons seuns en dogters in die Wes-Kaap 'n regverdige deel verseker.
TOESPRAAK-ARGIEF
Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 29 Maart 2004 hersien
Onbekende staatstaal of akroniem? Kyk in die WOORDELYS.
Gebruiksvoorwaardes
Privaatheidsbeleid
Kopiereg
Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering
