Toegang tot die kunste: Suidoosterfees maak van praat daad
Toegang tot die kunste: Suidoosterfees maak van praat daad
Om te sê almal moet toegang hê tot die kunste, is 'n ware uitdaging vir ons as regering. Om seker te maak, end-uit, dat almal in Suid-Afrika, en veral in die Wes-Kaap, kan deel in die vreugdes en opbou van die kunste, is deel van hierdie uitdaging. Om te sorg dat die vroutjie wat moeilik loop van die ouderdom, die familie met die min geld in die sak, en die gestremde kind en sy vriende, uiteindelik op 'n sitplek in die teatergehoor kan gaan sit en die wynrooi fluweelgordyne sien oopgaan, is die konkrete uitvoer van hierdie eerbare onderneming.
Tien jaar gelede het die regering en mense van Suid-Afrika gelyke toegang - tot regeringsdienste én die kunste - amptelik begin vooropstel. Ons vier vanjaar tien jaar van demokrasie, en oor hierdie dekade is reeds baie gedoen om die mense van die Wes-Kaap en die land toegang te gee tot basiese dienste en ontwikkelings- en groeimoontlikhede. Ons NNP/ANC-koalisieregering weet dat daar nog baie gedoen moet word oor die volgende tien jaar om voort te bou op hierdie suksesse, veral in gemeenskappe waar voortdurende menswaardigheid nog gevestig moet word. Die Wes-Kaapse Regering is veral trots op dit wat in die kunste bereik is. As 'n mens kyk na die verskeidenheid kuns- en kultuurfeeste wat ontpop het en bly gedy, is dit duidelik dat van praat daad gekom het.
n Mens wil dan vanjaar juis dié mense wat die meesterbreine agter kunstefeeste is en was, die ywerige voete en hande wat die uitvoerwerk doen, die instellings wat finansieel sorg dat die feeste realiteit word, die kunstenaars wat unieke kleur daaraan verleen en die media wat die boodskap deurgaans verder dra, salueer. Dit is dié mense en instellings wat - in vennootskap met die regering - sorg dat die konsep van toegang tot die kunste 'n werklikheid vir die mense van die Wes-Kaap en die land word.
Die Wes-Kaapse Regering is geëerd om te kan deel wees van 'n projek wat eerbare verbintenisse in ware belewenisse vir ons mense omskep. Ons is trots om betrokke te wees by die Suidoosterfees en vanaand 'n tjek van R500 000 aan die organiseerders te kan oorhandig. Ons het verlede jaar gesê dat ons die Suidoosterfees as 'n Afrikaanse kunstefees met 'n unieke Kaapse identiteit vir die volgende drie jaar gaan ondersteun en ons staan by ons belofte. Dit is vir ons meer as bloot 'n eerbare verbintenis - dit is 'n belegging in die groei- en ontwikkelingspotensiaal van ons kunste, ons mense en ons provinsie.
Die Suidoosterfees is by uitstek 'n voorbeeld van 'n kunstefees wat hom op gemeenskapsbetrokkenheid en -ontwikkeling toespits. Vanjaar sit die feesorganiseerders sy tradisie van ontwikkelingsprojekte voort met die Olifantsrivierprojek wat saam met die Vredendal Kunste-ontwikkelingsforum aangebied word.
Die Suidoosterfees neem ontwikkeling, en veral jeugontwikkeling, selfs verder met sy vlagskipproduksie, Poppie - die drama, wat tot drama verwerk uit is Die Swerfjare van Poppie Nongena. Die prysenswaardige inisiatief om seshonderd gratis eksemplare van Poppie - die drama in samewerking met Tafelberg-uitgewers aan skole in die Skiereiland uit te deel as deel van 'n spesiale projek om dié drama as voorgeskrewe boek in die klaskamer te laat herleef en 'n liefde vir drama as voorgeskrewe boek op skoolvlak aan te kweek, dra by tot die ontwikkeling en verryking van ons kinders in die Wes-Kaap. Dit sluit aan by die Wes-Kaapse Regering se strewe om wêreldklas-onderwys vir ons leerlinge te verseker. Die verdere inisiatief om die leerlinge wat die gratis eksemplare ontvang het, saam met ander leerlinge uit te nooi na drie spesiale gratis opvoerings van Poppie - die drama oor die dae voor die Suidoosterfees, is nog 'n voorbeeld van hoe om die kunste lewend te maak en toegang tot die kunste 'n werklikheid te maak.
Dit is met projekte soos dié, en wanneer 1200 toeskouers op 24 September in die Skiereilandse Technikon se Sportsaal kan kom sit vir die Distell Middaguurkonsert en hulle gratis kan inleef in die ongelooflike klanke van die Kaapse Filharmoniese Orkes, dat toegang tot die kunste lewe kry.
Verlede week het die Wes-Kaapse Regering ons provinsiale vieringe van tien jaar van vryheid amptelik bekendgestel. Ons sal vanjaar dít wat ons tot dusver saam bereik het, vier deur gebeurtenisse soos die Suidoosterfees, Klein Karoo Nasionale Kunstefees en Noordsee Jazzfees - geleenthede waarby al ons gemeenskappe betrek word. Daardeur illustreer ons dat die Wes-Kaap 'n tuiste vir almal is.
AGTERGROND OLIFANTSRIVIERPROJEK
Twintig jongmense van die Vredendal-omgewing met hope potensiaal en verbasende speeltalent gaan opgelei word om 'n volwaardige produksie te kan lewer wat twee keer by die Suidoosterfees opgevoer sal word. Verlede jaar het die fees-organiseerders dieselfde ding gedoen met 'n groep geesdriftige jongmense uit Hawston wat Perlemoen my Ghoen - 'n perlemoenstorie opgevoer het. Soos die regisseur van albei hierdie stukke, Anthony Wilson, sê: die projek leer mense dat drama ook storievertel op die verhoog is; dit gee mense kans om hul eie stuk geskiedenis op die verhoog uit te kap.
