INHOUDSOPGAWE
DOEL VAN DIE MINIMUMSTANDAARDE 
INLEIDING 
DEEL I:
U REGTE AS 'N SLAGOFFER VAN MISDAAD 1
DEEL II:
DIE PROSESSE EN VERANTWOORDELIKHEDE VAN DIE
BETROKKE DEPARTEMENTELE ROLSPELERS BINNE DIE
STRAFREGSTELSEL 3
Wat sal gebeur -
As iemand 'n misdaad gepleeg het 3
Wanneer die saak aan die staatsaanklaer oorhandig word 3
As u as 'n getuie vir die vervolging geroep word 4
As u 'n getuie in die hof moet wees 5
By die verhoor 6
Na skuldigbevinding 7
Wanneer die vonnis uitgevoer word 8
As u bystand nodig het 9
DEEL III:
MINIMUMSTANDAARDE VIR DIENSTE VIR SLAGOFFERS
VAN MISDAAD 11
Die reg om met billikheid en met respek vir u waardigheid en privaatheid behandel te word 11
Die reg om inligting aan te bied 15
Die reg om inligting te ontvang 18
Die reg op beskerming 22
Die reg op bystand 25
Die reg op vergoeding 29
Die reg op herstel 31
DEEL IV:
MEGANISMES VIR KLAGTES 32
MEER INLIGTING 37
LYS VAN NUTTIGE ADRESSE 38
NOTAS 41
INHOUDSOPGAWE (Vervolg)
DOEL VAN DIE MINIMUMSTANDAARDE
Die Minimumstandaarde vir Dienste vir Slagoffers van Misdaad (die "Minimumstandaarde") is 'n inligtingsdokument wat ontwikkel is om u regte soos vervat in die Dienshandves vir Slagoffers van Misdaad in Suid-Afrika (die "Handves"), verder te verduidelik en om hierdie regte 'n werklikheid te maak. Die Slagoffershandves, saam met die Minimumstandaarde, het ten doel inligting te voorsien rakende die regering se verbintenis tot die verbetering van dienslewering aan slagoffers van misdaad. Die Minimumstandaarde poog om die minimumstandaarde vir dienste wat aan slagoffers van misdaad gelewer word, te verduidelik. Die Minimumstandaarde skets nie net basiese regte en beginsels nie, maar verstrek ook gedetailleerde inligting om u in staat te stel om u regte uit te oefen en om diensverskaffers in staat te stel om u regte te handhaaf soos in die Handves verduidelik. Dit kan geskied deur Minimum Standaarde uiteen te sit wat u van diensverskaffers verwag. Die Minimumstandaarde sal u help om almal wat by die strafregstelsel betrokke is, aanspreeklik te hou om te verseker dat u gepaste bystand en dienste ontvang.
INLEIDING
Wanneer u misdaad aanmeld en getuienis in die hof lewer, speel u 'n deurslaggewende rol om die strafregstelsel meer responsief te maak vir die behoeftes van die samelewing en om te verseker dat oortreders aan die man gebring word. In ruil daarvoor moet die strafregstelsel vinnig en hoflik reageer en u met respek vir u waardigheid en privaatheid behandel en in u behoeftes voorsien. Die Minimumstandaarde is 'n poging om te verseker dat dit gebeur, deur u te bemagtig en u met die nodige inligting in staat te stel om u regte af te dwing. Die Minimumstandaarde is in vier dele verdeel. Deel I verstrek bondige agtergrondinligting oor u regte en skets wie toegang tot die regte het. Deel II verduidelik kortliks die prosesse in die strafregstelsel en wat met u sal gebeur as u 'n slagoffer van misdaad is en die misdaad by die polisie aanmeld. Deel III bevat die minimumstandaarde vir dienste wat u van die verskillende rolspelers in die strafregstelsel kan verwag, met verwysing na elke reg wat in die Slagoffershandves verduidelik word. Dit is die belangrikste deel van die Minimumstandaarde, want dit poog om die regte wat in die Handves genoem word, 'n werklikheid vir u te maak. Dit is in hierdie afdeling dat u sal sien dat 'n aantal van die beginsels van Herstellende Geregtigheid beliggaam is binne die regsraamwerk wat in die Slagoffershandves en die Minimumstandaarde verduidelik word. Deel IV skets die prosedures vir klagtes.
Ofskoon die rolspelers in die strafregstelsel sal poog om te verseker dat die onaangename gevolge van die misdaad nie vererger word deur wat later gebeur nie en sal probeer om u billik en hoflik te behandel en goeie diens aan u te lewer, kan dinge soms skeefloop. U kan dalk voel dat die dienste wat u ontvang het, nie voldoen aan die standaarde wat u redelikerwys verwag het nie. Hierdie afdeling verduidelik hoe om 'n klagte aanhangig te maak en bevat ook 'n adreslys met belangrike kontaknommers.
Die Minimumstandaarde is bedoel om die monitering van dienslewering mak­liker te maak omdat dit minimumstandaarde uiteensit waaraan diens-lewering gemeet sal word. Tersaaklike instansies, agentskappe en departemente sal die toepassing van regte en standaarde van dienste wat in die Minimum­standaarde uiteengesit is, moniteer, en as deel van hulle eie monitering kan hierdie agentskappe met u oorleg pleeg. Sommige van die resultate van hierdie proses van monitering en oorlegpleging kan gepubliseer word.
As u 'n slagoffer of misdaad is, kan u verwag dat die rolspelers in die strafreg­stelsel sal verseker dat u regte, soos in die Slagoffershandves uiteengesit, af­gedwing word en dat die minimumstandaarde van dienste soos in hierdie dokument uiteengesit, geïmplementeer word.
Vir die doel van hierdie dokument, en in ooreenstemming met die definisie vervat in die Verenigde Nasies se Verklaring van die Basiese Beginsels van Geregtigheid vir Slagoffers van Misdaad en Magsmisbruik (GA/Res/40/30), waarvan Suid-Afrika 'n ondertekenaar is, word 'n slagoffer van misdaad omskryf as 'n persoon wat benadeel is, insluitende liggaamlike of geestelike benadeling, emosionele lyding; ekonomiese verlies; of substansiële benadeling van sy/haar fundamentele regte, deur dade of versuim wat strydig met ons strafreg is.
Waar van toepassing, sluit die term 'slagoffer' ook die onmiddellike familie of afhanklikes van die regstreekse slagoffer in. 'n Persoon kan as 'n slagoffer beskou word ongeag of die dader geïdentifiseer, aangehou, vervolg of skuldig bevind is, en ongeag die familieverwantskap tussen die dader en die slagoffer.
Die bepalings vervat in die Minimumstandaarde is van toepassing op alle slag­offers sonder benadeling van enige aard op grond van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal of geboorte, soos uiteengesit in artikel 9 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (Wet 108 van 1996).
Gedurende u kontak met die strafregstelsel sal die volgende regte, soos in die Slagoffershandves uiteengesit en in ooreenstemming met die Grondwet en toepaslike wetgewing, gehandhaaf word:
Die reg om met billikheid en met respek vir waardigheid en privaatheid behandel te word
Die reg om inligting aan te bied
Die reg om inligting te ontvang
Die reg op beskerming
Die reg op bystand
Die reg op vergoeding
Die reg op herstel
Wat sal gebeur?
As iemand 'n misdaad gepleeg het:
As 'n misdaad gepleeg is, sal die aanmelding daarvan by die SA Polisie­diens die strafregstelsel in werking stel. Die SA Polisiediens is daarvoor verantwoordelik om misdade te ondersoek en oortreders aan die man te bring. Sodra 'n aanklag aanhangig gemaak is, sal die polisie 'n dossier open en die aanklag ondersoek. As die polisie nie seker is of vervolging ingestel moet word nie, sal 'n formele aanklag nie onmiddellik ingebring word nie. Die polisie sal egter so 'n saak ondersoek en die polisiedossier aan die staatsaanklaer voorlê vir 'n beslissing.
Vanaf die oomblik dat 'n misdaad gepleeg en aangemeld is, is dit be­langrik dat al die beskikbare bewyse versamel en beskerm word op so 'n wyse dat dit sal help met die ondersoek van die saak en die daar­opvolgende verhoor. Beserings wat u opgedoen het of skade wat u gely het, kan u getuienis teen die beskuldigde staaf. 'n Mediese verslag moet opgestel en voorgelê word, waar van toepassing.
Wanneer iemand aangekla word, word die saak na die hof verwys, waar die staatsaanklaer verantwoordelikheid vir die vervolging in die saak aanvaar.
Wanneer die saak aan die staatsaanklaer oorhandig word:
Die staatsaanklaer sal die feite van elke saak deeglik oorweeg. Die aanklaer kan een van drie dinge doen:
Besluit dat daar voldoende bewyse vir vervolging is en met vervolging voortgaan.
Besluit dat meer inligting nodig is om 'n ingeligte besluit te neem en gevolglik die ondersoekbeampte gelas om die saak verder te onder­soek.
Om verskeie redes, soos openbare belang, besluit om die aanklag terug te trek.
Die aanklaer sal u belange in aanmerking neem by enige van hierdie besluite en kan ook besluit om die aanklagte te verander, afhangende van die feite van die saak.
U kan 'n spoedige en doeltreffende proses verwag, wat sal verseker dat die saak so gou moontlik voor die hof kom.
U kan verwag dat die aanklaer alle inligting rakende die borgverrigtinge van die ondersoekbeampte sal aanvra en dit aan die hof voorlê. Dit verseker dat die besluit om borg aan die beskuldigde toe te staan of te weier, met u beste belange en beskerming in gedagte, geneem word.
Voordat die aanklaer 'n pleit van skuldig aanvaar, sal hy/sy u belange, asook dié van u familie, in aanmerking neem.
As u as getuie vir die vervolging geroep word:
Die polisie sal u inlig indien u as getuie in die hof moet verskyn. Die meeste sake word in die landdroshowe hanteer, en die meer ernstige misdrywe gaan na die Streekhof of die Hooggeregshof.
Om 'n saak vir verhoor voor die hof te bring kan, ingewikkeld wees, veral as verskeie mense daarby betrokke is. Diegene wat die saak hanteer, sal hulle bes doen om seker te maak dat dit so gou moontlik voor die hof kom.
Die ondersoekbeampte, die senior staatsaanklaer of 'n verteenwoordiger van die Kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging sal seker maak (na 'n behoorlike eerste assessering en waar daar aan sekere vereistes voldoen word) dat u op 'n getuiebeskermingsprogram geplaas word indien daar 'n moontlikheid bestaan dat u geïntimideer sal word.
As u 'n getuie in die hof moet wees:
Om in 'n hof getuienis te lewer, kan spanningsvol wees. Die betrokke partye - die polisie, die aanklaer en hofpersoneel - sal u so ver moontlik ondersteun, voorberei en van inligting voorsien oor wat waarskynlik gaan gebeur.
'n Getuiedagvaarding sal aan u beteken word, wat inligting bevat oor wanneer en waar die verhoor sal plaasvind. In sekere gevalle sal die ge­tuiedagvaarding gepaard gaan met 'n pamflet wat verduidelik wat in die hof sal gebeur. Indien u na 'n landdroshof gaan en enige vrae het oor die hoffasiliteite, moet u in verbinding tree met die ondersoekbeampte in die saak of, waar beskikbaar, 'n slagofferassistent en voorbereidingsbeampte, wat u na die regte persoon sal verwys wat u met die hof in aanraking sal bring.
Wanneer u by die hof aankom, sal u dalk duidelike aanwysings kry wat u sal help. As daar nie duidelike aanwysings is nie en u nie weet waar die hof is nie, kan u navraag doen by die Hulp/Inligting/Adviestoonbank om uit te vind in watter hofsaal u getuienis aangehoor sal word of oor die fasiliteite by die hof. U kan ook lede van die vervolgingspersoneel nader, wat enige vrae wat u oor prosedures het, sal kan beantwoord. Die aanklaer wat aan u saak toegewys is, sal vir u kan sê min of meer hoe lank u sal moet wag voordat u getuienis moet lewer.
Die aanklaer sal sy of haar bes doen om seker te maak dat u so gou moontlik geroep word om te getuig. Die aanklaer wat aan u saak toegewys is, sal indien nodig met u oorleg pleeg voordat u geroep word om te getuig. Soms is daar egter vertragings. U moet seker maak dat u betyds by die hof kom. U moet die aanklaer laat weet as u gaan laat kom of as u nie die hof op die bepaalde datum sal kan bywoon nie.
By die verhoor:
As u moet getuig, kan u in sekere gevalle 'n vriend of ondersteuner vra om saam met u na die hof te gaan. Nadat u getuig het, sal u meegedeel word of u die hof kan verlaat. U kan die res van die verrigtinge bywoon as u wil.
Die wet maak vir die volgende voorsiening wanneer u getuienis lewer:
In sekere omstandighede kan u deur middel van 'n geslotebaan - televisi­estelsel getuig (dit beteken u is nie in die hof in teenwoordigheid van die beskuldigde nie maar in 'n ander vertrek).
U kan ook, as u jonger as 18 is en as die voorsittende beampte (d.i. die landdros of regter) van mening is dat u onredelike geestelike span­ning of lyding sal ondervind deur tydens die verhoor te getuig, deur 'n tussenganger bygestaan word en deur middel van geslotebaantelevisie getuienis lewer.
Indien u in die hof moet getuig, kan die verrigtinge in sekere omstan­dighede in camera (agter geslote deure) plaasvind.
'n Streng bewyslas word vereis voordat iemand skuldig bevind kan word. Die vervolging moet die beskuldigde se skuld bo redelike twyfel bewys. Dit kan beteken dat iemand wat na u mening skuldig is, onskuldig bevind word. Dit is nie 'n uitspraak oor u nie, maar berus op die sterkte van die vervolging se saak as geheel.
Die aanklaer sal in geskikte gevalle staatsgetuies roep om die saak teen die beskuldigde te versterk. 'n Tolk sal beskikbaar gestel word indien nodig. Die beskuldigde sal die geleentheid gebied word om u te ondervra (kruis-ondervraging), getuienis te lewer en getuies te roep. Nadat die hof al die getuienis vir die vervolging en die verdediging aangehoor het, sal die partye toegelaat word om die hof toe te spreek voordat uitspraak gelewer word.
Na skuldigbevinding:
Indien die beskuldigde skuldig bevind word, kan die vervolging en die verdediging getuienis aanvoer en die hof toespreek oor die vonnis wat opgelê moet word. Dit geskied deur middel van argumente ter verswaring (vir 'n swaarder vonnis) of versagting (vir 'n ligter vonnis) van die von­nis. Indien die betoog ter versagting van vonnis inligting insluit wat nie waar is nie, moet hierdie inligting aan die hof meegedeel word. In die vonnisopleggingstadium kan u vir vergoeding vra. As die hof vergoed­ing toestaan, word dit nie as 'n vonnis beskou nie, met die gevolg dat die toekenning gegee kan word benewens enige ander vorm van straf. 'n Hof kan ook 'n vonnis op sekere voorwaardes opskort, insluitende 'n voorwaarde dat die beskuldigde u moet vergoed. Waar toepaslik, kan die aanklaer 'n slagofferimpakverklaring voorlê of verdere getuienis lei met die oog op 'n gepaste vonnis.
Voordat die vonnis gevel word, kan die voorsittende beampte, die aanklaer of die verdediging versoek dat 'n proefbeampte of ander kundige persoon 'n verslag opstel oor u of die beskuldigde. Die verslag kan 'n evaluering insluit van die uitwerking wat die misdaad op u gehad het. Die inligting kan verkry word uit die verklaring wat u aan die polisie gemaak het, of die proefbeampte kan 'n persoonlike onderhoud met u voer of u kan versoek word om te getuig in die vonnisopleggingstadium.
Indien u van mening is dat die vonnis te toegeeflik is, kan u dit met die Senior of Beheeraanklaer bespreek, wat kan besluit om dit onder die aandag van die betrokke Direkteur van Openbare Vervolging te bring. Die Direkteur van Openbare Vervolging kan teen die vonnis appèlleer. Die appèl moet binne 'n vasgestelde tydperk aangeteken word.
'n Beskuldigde kan appelleer teen 'n skuldigbevinding/of die vonnis wat die hof opgelê het. Indien 'n appèl aangeteken word, kan u die aanklaer in die oorspronklike saak, of die staatsadvokaat wat die appèl hanteer, ver­soek om op hoogte gehou te word van verdere ontwikkelings in die saak, byvoorbeeld die datum wat bepaal is vir die appèlverhoor, of borgtog aan die beskuldigde toegestaan is, en die resultaat van die appèl.
Indien daar besorgdheid bestaan oor u veiligheid of dié van 'n staats­getuie, sal die polisie, die aanklaer of 'n verteenwoordiger van die Ge­tuiebeskermingseenheid u kan adviseer oor wat gedoen kan word vir beskerming. Hulle sal u so ver moontlik bystaan.
Wanneer die vonnis uitgevoer word:
Die Departement van Korrektiewe Dienste sal verseker dat vonnisse van gevangenisstraf in ooreenstemming met die wet uitgedien word. Wan­neer die vrylating van die beskuldigde oorweeg word, sal die Departe­ment van Korrektiewe Dienste deeglike oorweging skenk aan die toesig oor die beskuldigde persoon wat op parool vrygelaat word.
U kan versoek om die verhore van die Korrektiewe Toesig- en Paroolraad (die "Paroolraad") by te woon. As u dit wil bywoon, sal u in kennis gestel word van die datum van die verhoor, en die Paroolraad sal u besware in aanmerking neem wanneer die vrylating van die beskuldigde op parool oorweeg word.
In elke geval waar die beskuldigde op parool vrygelaat word, sal die Paroolraad voorwaardes aan die vrylating van die beskuldigde heg indien die Raad dit in u belang ag.
Indien die beskuldigde, na vrylating op parool, optree op 'n wyse wat daarop dui dat hy of sy 'n risiko vir die openbare veiligheid kan inhou, of enige voorwaardes wat aan sy of haar vrylating gekoppel is oortree, kan hy of sy in hegtenis geneem word om die res van die vonnis in die gevangenis uit te dien.
As u bystand nodig het:
Verskeie staatsdepartemente sal bystand aan u verleen. Die polisie sal help met krisisintervensie op die toneel; met verwysings vir mediese of sielkun­dige bystand; met die verduideliking van polisieprosedures; met die ver­skaffing van inligting oor u regte; met die verwysing na nieregerings- en gemeenskapsgebaseerde organisasies (NRO's en GGO's) of gemeenskaps­gebaseerde slagoffersteundienste; met die versekering van u veiligheid op die toneel van die misdaad; en met die verskaffing van advies aan u oor misdaadvoorkoming.
As daar enige verdere bedreiging is na die vonnis, moet die ondersoek­beampte of die aanklaer onmiddellik met die kantoor van die Getuiebesk­ermingseenheid in verbinding tree.
Die Departement van Maatskaplike Dienste en ander verskaffers van maatskaplike dienste sal, indien beskikbaar, emosionele en praktiese steundienste lewer, wat hofvoorbereidingsprogramme kan insluit.
Gesondheidsorgwerkers sal verseker dat u regte soos in die Handves van Pasiënte se Regte vervat, gehandhaaf word.
Die Departement van Onderwys sal verseker dat daar intervensieprogramme soos berading, verwysing en steunprosedures is vir slagoffers binne die onderwysstelsel.
DIE REG OM MET BILLIKHEID EN RESPEK VIR U WAARDIGHEID EN PRIVAATHEID BEHANDEL TE WORD
U kan verwag dat al die rolspelers in die strafregstelsel u billik, met respek vir u waardigheid en privaatheid en op 'n sensitiewe wyse sal behandel.
As 'n misdaad by die polisie aangemeld is, kan u verwag dat:
die misdaad ondersoek sal word;
as u die misdaad aangemeld het deur met die polisie te skakel, hulle so vinnig moontlik op u aanmelding sal reageer;
maatreëls getref sal word om enige ongerief vir u tot die minimum te beperk;
'n polisiebeampte u verklaring sal afneem en die nodige vorms sal invul om die misdaad te registreer;
u vir mediese aandag of berading verwys sal word indien nodig;
as u 'n slagoffer van seksuele geweld is, 'n lid van die polisie privaat met u 'n onderhoud sal voer;
die gesprek met u gevoer sal word in 'n taal wat u verstaan, en as die persoon wat met u praat nie 'n taal praat wat u verstaan nie, kan u vra dat 'n tolk verskaf word; en u kan vra dat die gesprek met u gevoer word deur 'n lid van die polisie wat van dieselfde geslag as u self is, en indien beskikbaar, sal u versoek toegestaan word.
As die saak hof toe gaan, kan u verwag dat:
Die voorsittende beampte -
sal verseker dat die verhoorverrigtinge plaasvind op 'n wyse wat nie u reg op billike behandeling en respek vir u waardigheid en privaatheid skend nie;
Die aanklaer -
stappe sal doen, veral in die geval van seksuele misdrywe en huishoudelike geweld, om te verseker dat, waar moontlik, die saak dwarsdeur die verrigtinge deur net een aanklaer hanteer word;
u so gou moontlik sal roep om te getuig, en as daar enige vertraging is, dat die aanklaer wat aan u saak toegewys is, u sal inlig waarom daar 'n vertraging is en hoe lank u waarskynlik sal moet wag; en u 'n geleentheid sal gee om u geheue te verfris, u verklaring te lees en, waar nodig, met u oorleg te pleeg;
Die hofpersoneel -
u sal inlig dat u geregtig is op die betaling van reis- en sekere ander koste vir die tyd wat u by die hof moet deurbring om getuienis te lewer, en ook inligting aan u sal verstrek en u sal bystaan om hierdie koste te eis;
hulle bes sal doen om u te beskerm teen verdere viktimisering of traumatisering deur wat in die hof gebeur;
waar beskikbaar, beskikbare personeel en opgeleide vrywilligers van Slagoffersteundienste sal aanwys om u en u familie by te staan by die hof voor, gedurende en na die verhoor;
op versoek en indien moontlik, u sal toelaat om 'n hofsaal te sien voor­dat die saak begin om u vertroud te maak met die hoffasiliteite, sodat u weet wat om te verwag wanneer u getuig;
'n steunpersoon ('n familielid of vriend) sal toelaat om saam met u na die hof te gaan; en u sal toelaat om, op versoek en indien fasiliteite beskikbaar is, afsonderlik van die beskuldigde of sy of haar getuies in die saak, te wag.
Van maatskaplikediensverskaffers en vrywilligers kan u verwag dat:
as 'n onderhoud met u gevoer word, dit privaat sal geskied, die gesprek as vertroulik behandel sal word en die onderhoud met u gevoer sal word in 'n taal wat u verstaan;
u nie die saak op u eie sal hoef te hanteer nie; as u die saak nog nie by die polisie aangemeld het nie, sal die maatskaplikediensverskaffer u help om dit te doen; en as u 'n slagoffer van 'n seksuele misdryf is, die polisie u klere as bewys­stukke sal wil hê, in welke geval u die maatskaplikediensverskaffer kan versoek om u te help om ander klere te kry.
Van gesondheidsorgwerkers kan u verwag dat:
'n volledige evaluering van u liggaamlike, emosionele en sielkundige toestand gedoen sal word;
u ondersoek sal word in 'n omgewing wat bevorderlik is vir vertroulik­heid, privaatheid en waardigheid en dat die konsultasie sal geskied in 'n taal wat u verstaan;
u versoek sal word om in te stem tot 'n mediese ondersoek of behandeling, maar dat u ingelig sal word dat u enige mediese aandag of sielkundige steun kan weier, in welke geval die gevolge daarvan aan u verduidelik sal word.
in die geval van 'n seksuele misdryf, op versoek en indien moontlik, 'n mediese praktisyn van dieselfde geslag as u die mediese ondersoek of behandeling sal doen;
hulle sal verseker dat alle mediese inligting in u saakrekords opgeneem word; en u so gou moontlik en met inagneming van u regte soos in die Handves van Pasiënte se Regte vervat, behandel sal word.
Van beamptes van Korrektiewe Dienste kan u verwag dat:
indien u versoek het om tydens 'n paroolverhoor teenwoordig te wees, die voorsitter van die Korrektiewe Toesig- en Paroolraad u voor die verhoor in 'n taal wat u verstaan, sal inlig oor die prosedures tydens die verhoor en wat van u verwag word;
indien u die Paroolraad-verhoor bywoon en 'n inset moet lewer, u enige persoon van u keuse kan vra om u na die verhoor te vergesel vir ondersteuning; en indien u die Paroolraad-verhoor bywoon, alles moontlik gedoen sal word om u teen verdere viktimisering en traumatisering gedurende die verhoor te beskerm.
DIE REG OM INLIGTING AAN TE BIED
Gedurende die ondersoek van die saak kan u verwag dat:
a. 'n polisiebeampte u verklaring sal afneem en u sal vra om dit te lees en die inhoud daarvan te bevestig deur dit te onderteken;
b. indien u nie kan lees nie, u die polisie moet laat weet, in welke geval die polisiebeampte die verklaring aan u sal voorlees en u sal vra om die inhoud daarvan te bevestig deur dit te onderteken of deur u duimafdruk daarop aan te bring;
c. indien 'n tolk beskikbaar is en u verlang dat u verklaring vir u voorgelees word in 'n taal wat u verstaan voordat u dit bevestig deur u handtekening of duimafdruk, 'n tolk vir dié doel gebruik sal word;
indien u besef dat u verklaring onvolledig of foutief is, u toegelaat sal word om u aanvanklike verklaring te verander of aan te vul of om 'n verdere verklaring af te lê;
u 'n geleentheid gegee sal word om in u verklaring te verduidelik hoe die misdaad u raak en, waar toepaslik, dat u belange in ag geneem sal word;
u ingelig sal word dat u 'n afskrif van u verklaring kan aanvra;
die polisie u sal vra vir besonderhede van u verlies, skade of besering en dat dit aangeteken sal word;
daar van u verlang sal word om die ondersoekbeampte in kennis te stel van u adres, kontakbesonderhede en verblyfplek totdat die ondersoek en die verhoor afgehandel is; en daar van u verlang sal word om die ondersoekbeampte in kennis te stel as die beskuldigde met die ondersoek van die saak inmeng of probeer om in te meng, as hy of sy nie die verhoor gaan bywoon nie of as u deur hom of haar gedreig word.
As die saak hof toe gaan, kan u verwag dat:
Die aanklaer -
benewens ander faktore, u belange in ag sal neem by die besluit om te vervolg al dan nie;
u sal versoek om enige inligting bekend te maak rakende 'n besluit in verband met die vrylating van die beskuldigde op borgtog, byvoorbeeld dat die beskuldigde inmeng met getuienis of getuies, of dat die beskuldigde u of u familie intimideer of dreig, of dat die beskul­digde die verhoor gaan ontduik; en indien gepas, dat die aanklaer u sal roep om in dié verband te getuig by die borgtogverhoor;
u 'n geleentheid sal bied om u geheue te verfris deur oorlegpleging of deur u toe te laat om u verklaring te lees voordat u getuig;
met u oorleg sal pleeg voor die aanvaarding van 'n laer pleit en u sal vra om te verduidelik hoe die misdaad u of u familie geraak het. Tydens hierdie konsultasie sal u die geleentheid kry om besonderhede van enige verlies of benadeling wat u as gevolg van die misdaad gely het, bekend te maak. Die aanklaer sal hierdie omstandighede in aanmerking neem voordat hy of sy besluit oor die aanvaarding van 'n pleit op 'n laer aanklag. Die uitwerking van die misdaad op u of u familie sal aan die hof bekend gemaak word, of u sal 'n geleentheid kry om in die hof te getuig, of 'n verslag deur 'n kundige persoon sal aan die hof voorgelê word in die vonnisopleggingstadium; en u in die konsultasiestadium sal vra om enige bykomende feite bekend te maak wat nog nie in u verklaring ingesluit is nie. Indien tersaak­lik, sal die aanklaer hierdie feite voor die verhoor aan die verdediging meedeel;
indien nodig, 'n onderhoud met u sal voer en indien die verkryging van mediese bewyse tersaaklik is vir die saak, reëlings sal tref vir 'n mediese ondersoek; en so ver moontlik deurlopendheid sal handhaaf deur te verseker dat dieselfde maatskaplikediensverskaffer of vrywilliger met u werk vanaf die aanmelding van die misdaad tot die afhandeling van die saak;
Gesondheidsorgwerkers -
indien die hof (aanklaer of landdros) hulle versoek om dit te doen, u mediese rekords en enige ander inligting rakende die saak wat u aan hulle meegedeel het, aan die hof sal voorlê;
Korrektiewe Dienste-beamptes -
u sal toelaat om 'n skriftelike aansoek aan die voorsitter van die Korrek­tiewe Toesig en Paroolraad te rig om die paroolverhoor by te woon, en dat die voorsitter u in kennis sal stel van die tyd, datum en plek van die verhoor; en indien u die verhoor van die Korrektiewe Toesig- en Paroolraad bywoon, u sal toelaat om u inset mondeling tydens die verhoor te gee of 'n skriftelike inset te lewer.
DIE REG OM INLIGTING TE ONTVANG
As 'n misdaad aangemeld is, kan u verwag dat die polisie u sal inlig oor:
die aard en doel van u verklaring;
die naam en telefoonnommer van die ondersoekbeampte wat aan die saak toegewys is en die polisie se saaknommer (MAS of Misdaad Admin­istratiewe Stelsel-nommer);
die moontlikheid om op u eie koste 'n private vervolging in te stel in­dien die Direkteur van Openbare Vervolging weier om in die saak te vervolg; en op versoek, die besonderhede rakende die volgende:
a. Die inhegtenisname van 'n verdagte b. Of u 'n uitkenningsparade moet bywoon, en die datum van die parade c. Die hofsaaknommer d. Die datums van borgverrigtinge e. Die uitkoms van die borgverhoor (of die verdagte op borgtog vryge­laat gaan word)
f. Die vordering met die ondersoek en vervolging van u saak g. Enige besluit om die aanklagte terug te trek of substansieel te verander h. Of u die hofverrigtinge sal moet by woon, en die datum of datums van daardie verrigtinge
Die verhoordatum en die finale uitkoms j. Die datum van vonnisoplegging en die uitkoms k. Of die beskuldigde appèl aangeteken het teen die skuldigbevinding of vonnis en die uitkoms van die appèl l. Hoe en wanneer gekonfiskeerde eiendom teruggeëis kan word m. Watter dienste beskikbaar is om in u besondere behoeftes te voorsien en hoe om van hierdie dienste gebruik te maak.
Indien die saak hof toe gaan, kan u verwag dat:
Die hofpersoneel -
waar moontlik en op u versoek, u sal toelaat om 'n hofsaal te sien voor­dat die saak begin, sodat u weet wat om te verwag; en sal verseker dat duidelike aanwysings in die hof verskaf word en vir u aanwysings na die hofsaal sal gee. Waar beskikbaar, sal die Hulp/Inligting/Adviestoonbank u inlig oor die hofsaal waar u getuienis aangehoor sal word;
Die aanklaer wat aan u saak toegewys is -
u werkgewer in kennis sal stel van enige verrigtinge wat u afwesigheid van die werk sal vereis;
u sal inlig as die Direkteur van Openbare Vervolging besluit het om nie in die saak te vervolg nie, dat u 'n private vervolging kan instel en oor die prosedure wat in dié verband gevolg moet word;
in staat sal wees om u vrae oor hofprosedures te hanteer en as daar vertragings is, vir u sal kan sê min of meer hoe lank u sal moet wag voordat u moet getuig;
wanneer nodig, aan u 'n geleentheid sal bied vir behoorlike oorlegple­ging voor besluite oor die saak;
u sal inlig oor uitkoms van die borgtogverrigtinge en oor enige spesiale borgtogvoorwaardes wat gestel is, en die implikasies van sulke borg­togvoorwaardes sal verduidelik;
u sal beskerm teen oormatig aggressiewe, skadelike en vernederende kruisondervraging; en u sal inlig oor die uitkoms van die saak en of daar 'n appèl is teen die skuldigbevinding of vonnis.
u regte en die prosedures wat gaan volg, sal verduidelik;
op versoek, u sal help om die saak deur die stelsel te volg;
indien moontlik, voor die verhoor saam met u na die hof sal gaan om u vertroud te maak met die hofsaal en sy omgewing; en steun en berading vir u sal aanbied of u na professionele berading en steundienste sal verwys.
As 'n gesondheidsorgwerker by die saak betrokke is, kan u verwag dat hy of sy:
inligting aan u sal verstrek oor die ondersoek- of behandelingsprose­dures waaraan u onderwerp gaan word;
op versoek, vir u 'n afskrif van u mediese rekords sal gee; en u sal inlig oor beskikbare gemeenskapsteundienste en tersaaklike hulplyne.
Beamptes van onderwysdienste sal -
u op versoek inlig oor tersaaklike skoolgebaseerde slagofferdienste wat in die gebied beskikbaar is.
As die oortreder tot gevangenisstraf gevonnis is, sal die Departement van Korrektiewe Dienste:
u op versoek in kennis stel wanneer die oortreder oorweeg gaan word vir vrylating op parool;
op versoek of indien nodig, tydens die Paroolraad se verhoor u inlig oor beskikbare steun- en beradingsdienste;
u skriftelik in kennis stel van enige veranderinge aan verhoordatums of uitstellings, van die uitkoms van die Paroolraad se verhoor en van alle voorwaardes wat gestel is;
as u gevra het om die Paroolraad se verhoor by te woon, sal die voor­sitter u in 'n taal wat u verstaan, inlig oor die prosedures tydens die verhoor en wat van u verwag word; en op versoek en met die instemming van die beskuldigde, u in kennis stel van die ontwikkelingsprogramme wat die beskuldigde ondergaan het en/of besig is om te ondergaan om sy of haar gedrag te verbeter.
DIE REG OP BESKERMING
Wanneer 'n misdaad by die polisie aangemeld is -
en u 'n getuie is en u of 'n lid van u familie bedreig word of u lewe in gevaar is, moet u die aangeleentheid onmiddellik by die polisie of by senior staatsaanklaer by die hof aanmeld en aansoek doen vir getuie­beskerming, in welke geval u kan verwag dat -
die bedreiging teen u deur die polisie ondersoek sal word;
indien die bedreiging bevestig word, u 'n ooreenkoms met die Getuiebeskermingseenheid sal moet aangaan voordat u in die Getuiebeskermingsprogram opgeneem sal word;
as u in die Program opgeneem word, u al die reëls moet na­kom soos in die ooreenkoms uiteengesit. Die inligting in hierdie ooreenkoms sal vertroulik wees;
as u nie die ooreenkoms nakom nie, u 'n risiko vir u self skep en u uit die Getuiebeskermingsprogram verwyder kan word;
daar voorsiening gemaak kan word vir die betaling van toelaes terwyl u in die Program is, soos deur die Wet op die Beskerming van Getuies en die regulasies bepaal;
u al u finansiële besonderhede aan die beamptes van die Getuie­beskermingsprogram sal moet verstrek sodat die korrekte toelaes bepaal kan word;
wanneer u in die Program opgeneem word, u in 'n veilige plek geplaas sal word en u onder geen omstandighede u adres aan enigiemand mag verstrek nie, selfs nie aan familielede nie;
nadat u getuig het, 'n kennisgewing aan u beteken sal word om u in kennis te stel dat u binne 'n redelike tydperk uit die Program verwyder gaan word; en u met die ondersoekbeampte by die polisiestasie of die senior staatsaanklaer mag skakel vir enige verdere inligting oor die Ge­tuiebeskermingsprogram;
as u nie wil hê dat die beskuldigde u persoonlike besonderhede te wete moet kom nie, kan u die ondersoekbeampte en/of die aanklaer skakel en versoek dat die inligting van die beskuldigde weerhou word;
sal 'n verantwoordelike beampte te alle tye verseker dat enige eiendom wat aan u behoort en wat vir doeleindes van bewyslewering gehou word, in goeie toestand gehou word en aan u terugbesorg word sodra dit nie meer nodig is nie; en as u die klaer in 'n saak van gesinsgeweld is en dit vir 'n polisiebeampte blyk dat daar redelike gronde is dat u bedreig kan word as gevolg van 'n oortreding van die beskermingsbevel deur die respondent-
kan u 'n beëdigde verklaring aan die polisie aflê waarin die omstandighede van die skending deur die respondent geskets word; en sal die polisiebeampte die respondent onmiddellik in hegtenis neem vir die oortreding van 'n verbod ingestel deur die hof kragtens artikel 7 van die Wet op Gesinsgeweld, No. 116 van 1998.
Indien die saak hof toe gaan, kan u verwag dat:
Die aanklaer -
u sal inlig dat, as die beskuldigde voor die hof jonger as 18 jaar is, u moontlik nie toegelaat sal word om die verhoor by te woon nie tensy u teenwoordigheid noodsaaklik is of deur die hof gemagtig is; of waar 'n getuie jonger as 18 jaar is, dat u nie toegelaat sal word om na die getuienis van daardie getuie te luister nie;
u sal inlig dat die hof in sekere omstandighede die publikasie kan ver­bied van enige inligting (insluitende die identiteit van die klaer of 'n getuie) rakende die verhoor of enige deel daarvan wat agter geslote deure gehou word; en waar gepas, u sal inlig dat enige persoon wat onwettig enige inligting publiseer of onwettig die identiteit van 'n getuie openbaar, 'n misdryf begaan en vervolg kan word;
stappe sal doen om te verseker dat u of u familie nie aan risiko bloot-gestel word of in gevaar verkeer nie;
Gesondheidsorgwerkers -
enige geval waar 'n misdaad vermoed word, by die polisie sal aan­meld.
Korrektiewe Dienste
As u versoek het om op hoogte gehou te word van die uitdien van die vonnis deur die beskuldigde, sal Korrektiewe Dienste u in kennis stel as die beskuldigde uit aanhouding ontsnap het en van enige oorplasing van die beskuldigde en die besonderhede daarvan.
Veral in sake van verkragting en seksuele mishandeling kan die Parool­raad bepalings in die beskuldigde se paroolvoorwaardes insluit as dit nodig blyk om te voorkom dat hy of sy ongewenste kontak met u maak.
DIE REG OP BYSTAND
U kan verwag dat die polisie u sal bystaan -
deur middel van verwysings na ander diensverskaffers vir die nodige ondersteuning en krisisintervensie op die toneel, byvoorbeeld mediese (nood)hulp;
deur polisieprosedures te verduidelik;
deur u in te lig oor u regte;
deur u veiligheid as 'n prioriteit te hanteer;
deur getuienis te bewaar;
deur vir u advies oor misdaadvoorkoming te gee; en deur die geweld op die toneel van die misdaad te stop.
As die saak hof toe gaan, kan u verwag dat -
die aanklaer die saak vir die staat sal voordra en u belange in ag sal neem;
u die saak met 'n prokureur van u keuse kan bespreek, veral as u beoog om 'n siviele eis in te stel vir vergoeding vir skade of liggaamlike of sielkundige beserings;
voorsiening gemaak sal word vir tolke en dat inligting toeganklik ge­maak sal word vir persone met gestremdhede, waar gepas;
persone met gestremdhede die nodige ondersteuning gegee sal word, waar beskikbaar;
sake rakende seksuele misdrywe in gespesialiseerde howe aangehoor sal word waar sulke howe beskikbaar is;
die aanklaer en die polisie u sal inlig dat, as u jonger as 18 jaar is en getuienislewering by die verhoor vir u oormatige geestespan­ning of lyding sal veroorsaak, die hof op aansoek deur die aanklaer 'n tussenganger (persoon wat as tussenganger optree) kan aanstel om u in staat te stel om u getuienis te lewer deur bemiddeling van daardie tussenganger of kan gelas dat u getuig deur die gebruik van 'n geslote­baantelevisie;
die voorsittende beampte, as 'n tussenganger aangestel is, sal verseker dat alle vrae wat aan u gestel word, deur middel van die tussenganger gestel word;
die voorsittende beampte u sal meedeel dat die tussenganger die al­gemene betekenis van enige vraag wat aan u gestel word, aan u kan oordra, tensy die hof anders gelas;
die voorsittende beampte, as 'n tussenganger aangestel is, u kan gelas om u getuienis te lewer op enige plek wat -
a. informeel ingerig is om u op u gemak te laat voel;
b. so geleë is dat enige persoon wie se teenwoordigheid u kan ontstel, nie deur u gesien of gehoor kan word nie; en c. die hof en enige persoon wie se teen woordigheid noodsaaklik is by die betrokke verrigtinge, in staat stel om u asook die tussen­ganger gedurende u getuienis te sien en te hoor, hetsy regstreeks of deur enige elektroniese of ander toestel;
sake waarby kwesbare slagoffers betrokke is, so ver moontlik bespoedig sal word; en as 'n geslotebaantelevisiekoppeling gedurende die hofverrigtinge ge­bruik word, die aanklaer sal verduidelik hoe die toerusting werk of waar moontlik u en u ouers of voog sal toelaat om voor die verhoor 'n demonstrasie van die toerusting te sien.
Maatskaplikediensverskaffers sal, waar moontlik en beskikbaar -
berading en praktiese ondersteuning verskaf;
u bystaan deur die dienste van maatskaplikediensverskaffers of proef­beampte beskikbaar te stel; en
Die volgende verskaf -
a. hulp om familie of vriende te kontak b. bystand as u simptome van posttraumatiese stres ondervind c. 'n verduideliking van die proses wat gevolg gaan word d. hulp om met die SA Polisiediens en die aanklaer te skakel e. verwysing na 'n professionele beradings diens as traumatiese reaksies erg is f. toegang tot inligting en dienste, veral op plekke waar die beskikbare dienste 'Hofsteun' insluit, in sluitende -
hulp om u die hofproses te laat verstaan;
'n verduideliking aan u wat in die hof gaan gebeur as u as 'n getuie geroep word;
'n beskrywing aan u van wie in die hof gaan wees en watter rol hulle gaan speel, asook hulp sodat u die hof kan kry; en iv. voorbereiding vir u om getuienis in die hof te lewer en bevorder­ing van oorlegpleging met die aanklaer.
Van beamptes van Korrektiewe Dienste kan u verwag dat:
u op versoek ingelig sal word van wysigings of veranderings aan von­nisse van korrektiewe toesig; die Paroolraad se funksies; u rol in die verhoor van die Paroolraad; en wat om tydens die verhoor te verwag;
indien nodig, voorsiening gemaak sal word vir 'n tolk tydens die ver­hoor van die Paroolraad;
hulle op versoek bemiddeling tussen u en die beskuldigde sal fasiliteer wanneer die behoefte ontstaan; en op versoek of waar nodig, byvoorbeeld as u 'n slagoffer is en in aan­houding verkeer of as dit tydens die verhoor van die Paroolraad blyk dat u ondersteuning nodig het, u na gepaste diensverskaffers verwys sal word vir berading of steundienste.
U kan verwag dat 'n gesondheidsorgwerker sal verseker dat:
waar toepaslik, 'n mediese sertifikaat vir afwesigheid van die skool of werk aan u uitgereik sal word.
DIE REG OP VERGOEDING
Vergoeding" beteken 'n bedrag geld wat 'n strafhof aan u toeken as u verlies van of skade aan eiendom (insluitende geld) gely het as gevolg van 'n misdaad of versuim deur die persoon wat skuldig bevind is aan die pleeg van die mis­daad. Die vergoedingstoekenning is bedoel om die ontvanger daarvan weer in die posisie voor die verlies of skade te stel.
As die saak hof toe gaan, kan u verwag dat:
die aanklaer en die polisie, in gepaste gevalle, u sal inlig dat u teen­woordig mag wees in die hof op die datum van vonnisoplegging en dat u die aanklaer kan versoek om by die hof vir 'n vergoedingsbevel aansoek te doen;
in gepaste gevalle, die hof 'n vonnis kan opskort op voorwaarde dat die beskuldigde u vergoed vir verlies of skade aan eiendom wat u gely het as gevolg van die misdryf;
die aanklaer u sal inlig en dat die klerk van die hof so 'n toekenning sal afdwing;
die klerk van die hof of die aanklaer, in gepaste gevalle, u sal inlig dat waar geld van die persoon wat skuldig bevind is, by inhegtenisname van hom of haar geneem is, die hof kan gelas dat betaling uit sodanige geld onmiddellik aan u gedoen moet word;
die aanklaer u sal inlig dat indien 'n vergoedingsbevel in u guns nie tydens die strafverhoor gegee word nie, u 'n siviele geding teen die beskuldigde kan instel;
die aanklaer of die voorsittende beampte (d.i. die landdros of regter) u sal inlig dat 'n toekenning deur die hof die uitwerking van 'n siviele aksie teen die beskuldigde het en dat u die bevel kan opdwing;
die voorsittende beampte u sal inlig dat indien 'n toekenning in u guns gemaak is, u sestig dae het om sodanige toekenning skriftelik van die hand te wys of te weier en indien u dit doen, u enige geld wat reeds deur die griffier of die klerk van die hof aan u betaal is, moet terugbetaal;
die voorsittende beampte u sal inlig dat indien u versuim om die toekenning binne 'n tydperk van sestig dae van die hand te wys, u nie 'n siviele aksie teen die beskuldigde kan instel nie; en indien u by die hof aansoek doen om vergoed te word vir mediese uitgawes ten opsigte van liggaamlike beserings wat opgedoen is as gevolg van misdadige optrede, die gesondheidsorgwerker wat u ondersoek het, u aansoek sal kan staaf deur in die hof te getuig en ter­saaklike inligting aan die hof te verstrek, insluitende mediese rekords.
DIE REG OP HERSTEL
Herstel" beteken gevalle waar hof na 'n skuldigbevinding beskuldigde gelas om die eiendom of goedere wat wederregtelik van u geneem is of wat wederregtelik beskadig is, aan u terug te besorg ten einde die posisie te herstel waarin u voor die pleging van die misdryf was.
Indien die saak hof toe gaan, kan u verwag dat die aanklaer:
u sal inlig dat u in gepaste gevalle die oortreder kan versoek om billike herstel aan u, u familie of afhanklikes te doen;
u sal inlig dat sodanige herstel die teruggawe van eiendom of goedere of die herstel van beskadigde eiendom of goedere sal behels; en u sal inlig dat u versoek in dié verband deur die hof afgedwing kan word en dat u in gepaste gevalle toegelaat sal word om so 'n versoek aan die hof te rig.
MEGANISMES VIR KLAGTES
Al die departemente, instellings en agentskappe wat by die saak betrokke is, poog om 'n hoë standaard van diens te verskaf, maar soms kan dinge skeef loop. As dit gebeur, wil die departemente, instellings en agentskappe weet wat gebeur het. Hierdie deel van die dokument sê vir u wat u kan doen as u nie tevrede is nie met -
a. die manier waarop u behandel is;
b. die inligting wat u ontvang het; of c. besluite wat geneem is.
U kan 'n klagte oor 'n polisiebeampte of 'n polisiediensbeleid, -praktyk of -prosedure indien deur aan die stasiekommissaris van die betrokke polisiestasie te skryf.
As u klagte handel oor u eiendom wat verlore geraak het of beskadig is terwyl dit in die polisie se besit was, kan u op vergoeding aanspraak maak. Rig enige navrae aan die Stasiekommissaris.
As u nie tevrede is nie, kan u ook die Areakommissaris van die betrokke polisiestasie nader met besonderhede van u eis.
As die klagte steeds nie tot u tevredenheid hanteer word nie, kan u die Kantoor van die Openbare Beskermer nader.
As die klagte dan nog nie tot u tevredenheid hanteer is nie, kan u die Onafhanklike Klagtedirektoraat nader, maar let asb daarop dat dié kantoor genader kan word slegs met klagtes rakende gevalle van beweerde mis­dadige optrede of wangedrag teen lede van die Metropolisiediens en lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat versuim het om hulle pligte te verrig.
Aanklaers:
Die hof waar die saak hanteer is, kan die meeste klagtes oplos. As u 'n klagte het, kan u skryf aan of 'n afspraak met die senior staatsaanklaer by die hof wat die saak hanteer het. As die plaaslike aanklaerskantoor egter nie tot u tevredenheid aandag aan u klagte gee nie, kan u by die hoofaanklaer in die gebied kla. As u klagte steeds nie bevredigend hanteer word nie, kan u by die Direkteur van Openbare Vervolging in die gebied kla. Hy of sy sal 'n onafhanklike ondersoek instel. As die klagte dan nog nie bevredigend hanteer is nie, kan u die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging nader.
As die klagte steeds nie tot u tevredenheid hanteer is nie, kan u die Kantoor van die Openbare Beskermer nader.
Let egter daarop dat dié Kantoor net met klagtes oor administratiewe optrede genader kan word. Die Kantoor van die Openbare Beskermer kan kragtens wet nie besluite van die hof ondersoek nie.
Die howe:
As u klagte oor die optrede van 'n voorsittende beampte handel, kan u skryf aan of 'n afspraak maak met die Geregtelike Hoof van die distrik. U kan die adres en telefoonnommer by die plaaslike landdroskantoor kry.
As u ontevrede is met die reaksie van die Geregtelike Hoof, kan u skryf aan of 'n afspraak maak met die Geregtelike Groepshoof van die bepaalde streek.
As u klagte oor 'n streekhof handel, kan u skryf aan of 'n afspraak maak met die Streekhofpresident van die betrokke gebied. U kan die adres en telefoonnommer by die plaaslike landdroskantoor kry.
As u klagte oor 'n regter van die Hoërhof handel, kan u skryf aan of 'n afspraak maak met die Regter-president van die betrokke Afdeling. U kan die adres en telefoonnommer by die plaaslike landdroskantoor of die hoë hof kry.
As u ontevrede is met die reaksie, kan u aan die Landdrostekommissie skryf as u klagte oor 'n landdroshof handel, of aan die Regterlike Dienskommis­sie as die klagte oor 'n Hooggeregshof handel. As die klagte steeds nie tot u tevredenheid hanteer word nie, kan u die Kantoor van die Openbare Beskermer nader.
As u klagte oor hofpersoneel handel, byvoorbeeld klerke of tolke, kan u skryf aan of 'n afspraak maak met die hofbestuurder. As u ontevrede is met die reaksie van die hofbestuurder, kan u aan die Direkteur van hofdienste of die Direkteur-Generaal skryf.
As u klagte oor 'n beampte van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling handel, kan u aan die hoof van die betrokke kantoor skryf. As u ontevrede is met die reaksie, kan u aan die hoof van die streekkan­toor of provinsiale kantoor skryf, asook die nasionale kantoor.
As u steeds nie tevrede is nie met die reaksie wat u van 'n staatsamptenaar gekry het, kan u ook met die Raad vir Maatskaplikediensberoepe of die kantoor van die Openbare Beskermer skakel.
Gesondheidsorgwerkers:
As u nie tevrede is nie met die diens gelewer deur 'n gesondheidsorg­werker in die openbare gesondheidsektor, moet u eers kla by die persoon wat u gehelp het. As u klagte egter nie tot u tevredenheid opgelos is nie, kan u die klagte verwys na die hoof of bestuurder van die openbare gesondheidsfasiliteit waar u ondersoek of behandel is.
As u geen reaksie ontvang nie of ontevrede is met die manier waarop u klagte hanteer is deur die hoof of die bestuurder van die openbare gesondheidsfasiliteit, kan u die klagte na die betrokke provinsiale departe­ment van gesondheid verwys. As u ontevrede is met die manier waarop die provinsiale departement van gesondheid u klagte hanteer het, kan u die betrokke beroepsraad, soos die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika, versoek om die aangeleentheid te ondersoek.
Beamptes van onderwysdienste:
As u klagte handel oor 'n opvoeder of enige ander personeellid by 'n bepaalde skool of opvoedkundige instelling, kan u met die hoof van daar­die skool of instelling skakel. As die klagte oor die hoof handel, kan u met die onderwysdistrik of streekbestuurder skakel.
As u nie tevrede is nie met die wyse waarop u klagte hanteer is, kan u met die hoof van die departement van onderwys in die bepaalde provinsie skakel.
As die klagte steeds nie bevredigend hanteer is nie, kan u die LUR vir Onderwys of die nasionale Departement van Onderwys nader.
Beamptes van Korrektiewe Dienste:
As u klagte oor 'n beampte van Korrektiewe Dienste handel, kan u dit skriftelik aan die Nasionale Kommissaris van Korrektiewe Dienste of die inspekterende regter stel. By ontvangs van u skriftelike klagte sal die Kom­missaris dit na die betrokke kantoor verwys vir aandag.
Alternatiewe klagtemeganismes:
As u steeds ontevrede is met die wyse waarop u klagte deur die rolspelers of diensverskaffers in die strafregproses hanteer is, kan u gebruik maak van die dienste wat gelewer word deur organisasies soos:
a. Die Kantoor van die Openbare Beskermer b. Die Suid-Afrikaanse Mense-regtekommissie c. Die Onafhanklike Klagtedirektoraat d. Die Kommissie vir Geslagsgelykheid e. Die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika f. 'n Prokureur van u eie keuse en op u eie koste.
As u meer inligting verlang oor enige kwessie wat in hierdie dokument vervat is, kan u die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling se Gelsagsgelykheids Direktoraat by die volgende nommers skakel:
Tel.: 315 1670
Faks: 315 1960
Die dokument Minimumstandaarde vir Dienste vir Slagoffers van Misdaad is deur die Gelsagsgelykheids Direktoraat van die Departement van Justisie en Staatkundi­ge Ontwikkeling opgestel in samewerking met die Departemente van Maatskaplike Ontwikkeling, Korrektiewe Dienste, Onderwys, en Gesondheid, asook die Nasionale Vervolgingsgesag van Suid-Afrika, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie, die Suid-Afrikaanse Menseregtekom­missie, die Kantoor van die Openbare Beskermer, die Onafhanklike Klagtedirek­toraat, lede van die Landdroskommissie en die Regterlike Dienskommissie en lede van Tshwane Metropolisie.
Die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling betuig graag sy opregte waardering vir die bydrae tot die ontwikkeling van hierdie dokument deur verskeie nieregeringsorganisasies.
DIE DIREKTEUR-GENERAAL
Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling
Privaatsak X81
PRETORIA
DIE DIREKTEUR-GENERAAL
Departement van Onderwys
Privaatsak X895
PRETORIA
DIE DIREKTEUR-GENERAAL
Departement van
Maatskaplike Ontwikkeling
Privaatsak X901
PRETORIA
DIE KOMMISSARIS
Departement van
Korrektiewe Dienste
Privaatsak X136
PRETORIA
Polisiediens
Privaatsak X94
PRETORIA
DIE DIREKTEUR-GENERAAL
Departement van
Gesondheid
Privaatsak X828
PRETORIA
Die Nasionale
Vervolgingsgesag
Privaatsak X752
PRETORIA
DIE SEKRETARIS
Landdroskommissie
Posbus 9096
PRETORIA
Nasionale Direkteur van die Getuiebeskermingsprogram
Nasionale Vervolgingsgesag
Privaatsak X655
Die Kantoor van die Openbare Beskermer
Privaatsak X677
PRETORIA
Nasionale Direktoraat
PRETORIA
Raad vir
Die Registrateur
Privaatsak X2
Die Onafhanklike
Klagtesdirektoraat
Privaatsak X941
PRETORIA
Menseregtekommissie
Privaatsak X2700
Posbus 15803
Kommissie vir
Geslagsgelykheid
Posbus 32175
Raad vir
Posbus 205
PRETORIA
Regterlike Dienskommissie
Die Sekretaris
Posbus X258
DEEL I
DEEL I: U REGTE AS 'n SLAGOFFER VAN MISDAAD
DEEL II
DEEL II: DIE PROSESSE EN VERANTWOORDELIKHEDE VAN DIE BETROKKE DEPARTEMENTELE ROLSPELERS BINNE DIE STRAFREGSTELSEL
DEEL III: DIE PROSESSE EN VERANTWOORDELIKHEDE VAN DIE
BETROKKE DEPARTEMENTELE ROLSPELERS BINNE DIE STRAFREGSTELSEL
DEEL I
DEEL IV: MEGANISMES VIR KLAGTES
MEER INLIGTING
LYS VAN NUTTIGE ADRESSE
NOTAS
Privaatsak X81
Pretoria, 0001
Pretoria, 0002
