Geagte Seremoniemeester
Verteenwoordigers van verskillende organisasies wat 'n bydrae gaan lewer
Laat my toe om sommer heel aan die begin vir almal wat vandag hier teenwoordig is dankie te se vir bereidwilligheid om hierdie konferensie saam met ons by te woon.
Dit is vir ons 'n teken dat u saam met ons besorgd is oor die welstand van ons mense op die platteland en dan veral met betrekking tot alkohol en dwelm misbruik. Hierdie konferensie is 'n voortvloeisel van die pad waarop ons begin loop het toe ons in 2004 aan bewind gekom het en gesluit het dat veral plaaswerkers se nood op vele terreine pertinente aandag moet kry. Meeste van u weet dat die gevolg hiervan die strategiese plan vir plaaswerkers is wat in Desember 2005 deur die Kabinet van die Wes-Kaap goedgekeur is. Ons het onsself daartoe verbind om die lot van plaaswerkers en die hele plaaswerker gemeenskap te verbeter en ons is elke dag doelgerig daarmee besig onder leiding van die Sub-program plaaswerker ontwikkeling binne die Departement van Landbou in die Wes-Kaap.
Vir ons as regering in die Wes-Kaap is die welstand van die mense wat hier woon die belangrikste. Ons sê die menslike element is die beginpunt van alle aktiwiteite in ons strewe om 'n tuiste vir almal te skep. Dit is alom bekend dat die Departement van Landbou in die Wes-Kaap 'n baie hoë premie plaas op die lewensomstandighede van die plaaswerker gemeenskap.
Ek is besorg oor die morele verval wat daar onder ons plaaswerker gemeenskap is. Ons het dit die afgelope 36 maande ons taak gemaak om by die plaaswerkers self te hoor wat die probleme is waarmee hulle worstel en hulle het alkohol misbruik ook as een van die knelpunte op die agenda geplaas.
Baie van u wie vandag hier teenwoordig is, is reeds op een of ander manier saam met ons by die implementering van die strategiese plan betrokke en sommige van u organisasies kry op een of ander wyse steun van die Departement af om 'n verskil aan plaaswerkers se lewe te maak.
Hoekom is dit belangrik dat ons 'n konferensie soos hierdie moet hou? Dit word bereken dat die ekonomiese koste van alkohol misbruik in die Wes-Kaap meer as R1 Biljoen jaarliks oorskry en dat meer as 'n kwart van mense wat alkohol oor naweke in die Wes-Kaap gebruik die normale risikovlakke oorskry.
Die invloed wat alkohol op jou en my lewe en die ekonomie het, kan in die volgende syfers gesien word: As gevolg van alkohol misbruik bereik slegs 65% van werkers hulle volle potensiaal in die werkplek. Mense wat alkohol misbruik is 4 keer meer in ongelukke betrokke as ander mense en is meer as 5 keer meer afsiek as mense wat nie alkohol misbruik nie. Tussen 40 en 60 % van mense wat in ongelukke sterf is onder die invloed van drank gewees.
Ons kan voortgaan om vele ander syfers vir u aan te haal, maar ek glo dat u 'n idee het waarvan ons praat.
Ons kan egter alkohol misbruik oorwin net soos ons in die verlede ander gesondheids gebreke oorkom het. Voorkomings en vroeë behandelingsprogramme onder misbruikers van alkohol sal ons help om die verskil te maak daar waar dit die belangrikste is, naamlik in die huishouding.
Daar is vandag al baie organisasies wat met baie kundigheid in hulle midde rondgaan wat bereid is om betrokke te raak en ons sal beslis daaraan moet dink om 'n formele aksie aan die gang te kry. Vroeë diagnose en nuwe behandelingstegnieke, mediese behandeling, opvoeding en bewusmaking en huisvesting kan geaffekteerde persone in staat stel om produktiewe lewes te ly en sodoende miljoene rande te spaar wat weer benut kan word teen die siekte asook vir armoede verligting.
Ek wil u versoek om van hierdie konferensie gebruik te maak om na oplossings te soek eerder as om beskuldigings te slinger. Ek wil hê u moet vir uself die vraag afvra watter bydrae kan u organisasie verder lewer binne spanverband eerder as wat u op u eie wil probeer om alles te vermag. Somtyds is ons besig om ons kragte te vermors met duplisering van programme terwyl ons van mekaar se kundigheid gebruik kan maak en dus meer tyd en energie kan spaar wat ons met verdere onwikkelings programme en navorsing kan doen.
Die vraag is hoeveel mense bereik ons werklik en op hoeveel mense se lewens maak ons 'n impak. Hoeveel gemeenskappe leef nie maar van dag tot dag sonder hoop nie en soek uiteindelik hulle hoop deur die nek van 'n bottel of die tuit van 'n papsak nie.
Watter programme stel ons tot mense se beskikking sodat hulle hulle tyd meer effektief kan deurbring. Watter vorme van tydverdryf is daar binne ons gemeenskappe wat mense weghou van verveeldheid en uiteindelike vergrype aan drank en dwelms.
Ons kan dit slegs doen as ons vennote het wat elke dag saam met ons werk om hulle toe te rus om soos mense te leef wat hoop het op 'n beter toekoms. U wie vandag hier is, is hierdie tipe vennote wat daagliks aangaan met u programme om by skole, op plase en dorpe en elke moontlike geleentheid mense bewus te maak van die probleem, omdat u saam met ons die lewensomstandighede van al ons mense wil verbeter en omdat u glo in die mensemateriaal van die Provinsie.
Daar is egter ook 'n ander aspek wat ek wil aanraak en dit is ons geestelike lewe en die rol van die kerk.
Veral in Landbou is 'n mens elke dag deeglik bewus van jou afhanklikheid van die Skepper en u wat meestal ook op plase werk sal weet dat die daar baie faktore buite ons beheer is wat 'n rol speel in die sukses van boerdery, waar ons totaal uitgelewer is aan die genade. So kan jy die wonderlikste oes op die land hê, maar dit kan in 'n oogwink uitgewis word deur 'n haelstorm of ons kan die beste planne hê, maar as die reën wegbly dan vrek die vee van dors of is daar nie water om mee te besproei nie.
So praat die Bybel op baie plekke oor die landbouer en die saad wat op goeie en slegte grond gesaai is, wat opgekom het en mooi gegroei het en van ander saad wat deur die dorings verdring is. Dit praat ook oor die arbeider wat sy loon werd moet wees en oor ons verhouding as werkgewer en werknemer teenoor mekaar. So praat die Woord ook oor hoe ek as ouer teenoor my kind moet optree en hoe ons as man en vrou teenoor mekaar moet optree. Dan is daar ook die groot boodskap oor Liefde van God vir ons as mense en die Hoop wat Hy aan ons gee en die mooi boodskap dat ons nie as hopelose mense moet leef nie, maar soos mense wat vol hoop is vir die toekoms. Ek wil vandag vir die kerk vra om asseblief ons hande te vat in die poging om ons mense te bevry van die slawerny van drank en algehele morele verval. Kom word u ook deel van ons poging om ons mense op te hef. Help ons om die grond voor te berei en die saad te saai.
As minister in die Wes-Kaapse regering moet ek vir u sê dat ons as ANC Regering werklikwaar hoop vir ons mense vir die toekoms wil gee. President Mbeki het verlede jaar in sy openingsrede van die Parlement gesê dat ons as Suid-Afrikaners 'n tydperk van hoop tegemoet gaan.
Ek wil weereens 'n beroep op u doen dat ons hierdie konferensie sal gebruik om oplossings te vind en planne op die tafel te plaas sodat ons wel vir ons mense hoop vir die toekoms kan skep.
